Sou nooit kon droom nie

20 04 2018

Trattoria

My ma het ‘n staaltjie wat sy altyd vertel van die priester wat verlief raak en trou.  Siende dat hy nie meer ‘n priester kon wees nie, moes hy maar gaan sing vir sy kos.  Dit was natuurlik ‘n Rooms Katolieke priester.

Dus was dit nogal ironies dat dit in Rome moes gebeur het.

In die land van Rome, maak jy soos die Romeine; en glo my – hulle is ietwat ongewoon.  Daar is byvoorbeeld een prys vir ‘n cappuchino wat jy by die kroeg drink en ‘n aansienlike duurder prys vir ‘n cappuchino by ‘n tafel.  Enige artikel oor Italië maak dit duidelik dat dit sonde is om ‘n cappuchino na 11 in die oggend te drink.  Hulle kos is ook baie streeksgebonde.  Net omdat jy iets in Rome geniet het, beteken dit nie dat jy dit in Milan ook gaan kry nie.

Die grootste skok vir ons Suid-Afrikaanse gestelle is dat jy vir absoluut alles betaal.  Daar is ‘n fooi vir die tafeldoek, ‘n fooi vir die brood op die tafel, ‘n fooi as daar lewendige musiek is ens.  Toegegee, jy betaal nie fooitjies nie, maar jy hoes vir absoluut enige iets anders.  (Ek het Sofia van Golden Girls soveel beter verstaan nadat ek ‘n draai in Italië gemaak het).

Gelukkig is ek en Google op goeie voet en ek was ten volle voorberei en uitgehonger vir ‘n aand in ‘n trattoria.  ‘n Trattoria is ‘n eenvoudiger restaurant wat gewoonlik deur ‘n familie bedryf word.  Daarteenoor kry ‘n mens ‘n ristorante, wat ‘n meer formele (en dus duurder) restaurant is.  Voorberei – in die sin dat ek weet daar gaan vreemde fooie wees en ek seker gemaak het ons het genoeg kontant.  Kredietkaarte is net so uit as cappuchino in die aand.

In elk geval, daar aangekom, is daar ‘n oom (vermoedelik die pa van die familie) wat kitaar speel.  Nadat hy moeg is, stuur hy sy hoed om en daar gaan hy.  Wel, die eienaar is nog nie klaar gemusiek nie.  Daar begin hy die enigste Engelse lied speel wat hy ken.  Country roads.  Hy dring boonop daarop aan dat almal moet saam sing.  As ons nie genoeg sing nie, maak hy sommer sy eie woorde op.  Gewoonlik:  “I don’t know English” op maat van die musiek.  En ja – benewens die koor van Country Roads, kon hy en sy gesin nie Engels praat nie.

So daar sit ek – op ‘n sypaadjie in die hartjie van Rome – en sing kliphard Country Roads vir my kos.  Iets wat ek nooit in ‘n 1000 jaar sou droom ek ooit sal doen nie.

Elke keer as iemand nuuts opdaag, word nog ‘n tafel sypaadjie toegesleep en dan sing ons weer.  Een van die kliente het later “Country Roads” met “House of the rising sun”

Ons moes wel betaal het vir ons kos (tafeldoek, brood ens), maar die oom het so lekker kitaar gespeel, dat hy nooit neergeskryf het wat ons bestel het nie.  Ons moes hom weer wys wat ons bestel het.  Ons het darem ‘n paar euro afslag gekry.  Na ‘n gratis loopdop, het ons vir oulaas in Rome “Country Roads” gesing, nogal spyt dat ons die volgende aand nie weer kon kom nie.

Wat moes jy al doen wat jy nooit verwag het jy sal doen nie?