
Photo by Skitterphoto on Pexels.com
Julle weet teen die tyd al dat die HAT ‘n foto van my as die definisie van nuuskierig het. Verder, word ek dikwels verwyt dat ek te maklik veroordeel (judgemental). As daar nou een ding is wat ek nie kan weerstaan nie, is dit om foto’s te neem waar ek nie mag nie.
Sit nou ‘n mens soos ek in Amsterdam (Nederland) en jy kan verseker wees dat ek in die rooiligdistrik gaan rondneus. Om die rooiligte nou behoorlik te beskou, is ons na donker in die berugde distrik in. Na so ‘n paar draaie, is ons nogal half teleurgesteld. Geen rooi ligte nie. Ons onderneem om net nog om die hoek te gaan kyk, en daar is dit.
Ek het nou nie veel nut vir die dames nie. Nogtans het ‘n paar dinge my die aand geskok. Die mans maak regtig die deur oop om die besigheid daar en dan te beklink. Daar is heelwat van die stalletjies met toe gordyne. Diegene wat op skou was, is baie ongeërgd. Hulle speel op hulle selfone of gesels met hulle kollegas soos ‘n mens maar tydens ‘n stil oomblik by die werk maak. Die skokkendste van alles is dat ek nie ‘n foto wou neem nie.
Dit is debateerbaar dat prostitusie die oudste beroep op aarde is. Dit mag dalk nie die oudste wees nie, maar dit is beslis een van die eerste beroepe vir vrouens. Dit was vir eeue lank die enigste manier vir vrouens om ‘n inkomste te verdien as sy nie ‘n manlike figuur gehad het wat vir haar gesorg het. Dit bestaan vandag nog, in alle lande en in alle sfere.
Prostitusie word dikwels met minagting bejeën. Hoe regverdig is dit?
Ek is nie seker of daar mense (daar is immers manlike prostitute ook) is wat prostitute wil word nie. Dit is egter ‘n feit dat baie (die meerderheid?) mense daar ingedwing word. Soms fisies – sonder dat die slagoffer enigsins ‘n keuse het; soms deur desperaatheid. Wat is immers die grootste sonde? Om jou lyf te verkoop of om jou kinders te laat doodgaan van die honger as jy hulle kon help?
Durf ons neersien op prostitute? Behoort ons nie eerder dankbaar te wees dat ons nie in dieselfde posisie gedwing is nie? Daardie nag in Amsterdam het ek besef dat as ek ‘n foto sou neem van een van die vrouens, buit ek haar ook uit. Watse reg het ‘n mens om ‘n ander uit te buit?
Sê ek dat prostitusie ‘n aanvaarbare beroep is?
Kan enige een ‘n oordeel vel oor wat aanvaarbaar is om te oorleef?
In ‘n ideale wêreld sal niemand in die posisie ingedwing word nie. Die omstandighede wat mense in prostitusie indwing, is was onaanvaarbaar is. Dit is wat uitgeroei moet word. Nie die mens wat ‘n slagoffer van hulle omstandighede is nie.
Wat dink julle?
Breinvasbrand: Wie was die prostituut in die Bybel wat Joshua gehelp het om Jerigo te ontsnap?
Breinlosbrand: Olga was reg met Charles Moore?
Wie runnik saam?