Rugby Sake

28 10 2010

Pretoria is eintlik ‘n doodrustige plek, tensy jy gaan moeite doen kan jy vergewe word as jy vergeet dat jy in Pretoria is.  Daar is egter twee uitsonderings.  Eerstens as die Jakarandas bloei en tweedens wanneer dit groot rugbytyd is.  Jy word dan so met ‘n dosis Pretoria geklap, dat jy sommer verstaan hoekom daar met ‘n gedeelde matras en ‘n gedeelde kombers na Pretoria opgeruk is.  Noudat ek daaraan dink – dit is seker geensins toevallig dat die Curriebeker finaal gewoonlik in die jakaranda tyd is nie.

Groot rugby beteken nie juis veel wanneer die ossies nie speel nie.  Kyk, wanneer die osse deurdring, is die plek ‘n rugby ondersteuner hemel.  Nie net noodwendig met Baberton Daisies, horings en eiers wat aan motors hang nie.  Daar is meer as genoeg ondersteuners van watter span die Ossies moet aandurf en hulle word nie verswelg nie.  Tog, hoe kan ‘n mens nou skoor met ‘n span wat nie die finaal gehaal het nie.  Dit is lekker om die sout in te vryf, maar dit raak ook maar gou vervelig.

Die week was Pretoorsdorp so stil, ‘n mens vergeet amper dat daar groot rugby die naweek gespeel word.  Van die oor en waar draakstekery, beledigings en weddery het niks die jaar kop uitgesteek nie.  Ek dink mense beplan maar om aandag aan hulle tuine te spandeer en om die swembad skoon te maak.  Die meeste van hulle in elk geval.

Punt is, dit is die naweek die Curriebeker finaal!

Siende dat ek onder die plaaslike spanne net vir WP en almal wat teen die Bokkoms speel skree, is dit nou nie juis ‘n raaisel vir wie ek duim vas hou nie.  So styf, dat ek selfs vir die eerste keer in jare nie eers my reputasie of geld op die spel geplaas het nie.  Ek hoop dat my weerhouding van dobbel die knoop sal deur hak vir die Manne van die Kaap.  😉

Vir wie skree jy?  Of moet ek eerder vra weet jy wat ‘n lynstaan is?  Hoe voel jy oor die algemeen oor rugby?  Gaan jy rugby kyk?  Gaan jy ‘n riel dans as WP wen?

Breinvasbrand:  Waar sal ‘n mens die Internasionale Rugby Raad (IRB) se hoofkantoor kry?

Breinlosbrand:   Olga was reg met Dogmatix.