Nie so maklik soos dit lyk nie

8 02 2012

Ek het nou die dag Dolphin Tale gaan kyk.  Die een karakter het planne om ‘n kompetiewe swemmer te word.  Hy gaan weermag toe met die idee dat hy binne maande vir hulle gaan swem en niks anders gaan doen nie.  Dan tref aktiewe diens hom en hy doen ‘n ernstige besering met sy een been op.  Daarmee word sy drome verpletter en skuld die wêreld hom iets. 

My onmiddelike reaksie was om te dink watse whimp die mannetjie is.  Hoe tipies Amerikaans en watse melodrama.  (Dit was terloops nie waaroor die fliek gegaan het nie).  Ek het dadelik die vergelyking getrek na Natalie du Toit.  Sy het voort geswem nadat sy haar been verloor het en mense op hulle neuse laat kyk.  As sy dit kan doen, hoekom nie ook die whimp nie?  O ja, sy is Suid-Afrikaans en hy nie. 

En eintlik is dit bitter onregverdig van my.  Geen wonder ek kon die gedagte nie heeltemaal opsy gooi nie.  Wat ek so effens uit die oog verloor het is dat al het Natalie du Toit dit maklik laat lyk, was dit dalk nie heeltemaal so maklik nie. 

Natalie het al as ‘n 14 jarige internasionaal meegeding.  Sy was 17 toe haar been geamputeer was na ‘n ongeluk.  Natuurlik moes haar drome ook flenters voor haar voete geval het.  Sy het seker al planne gehad om eendag vir Suid-Afrika in die Olimpiese Spele te verteenwoordig.  Op die punt moes sy nie net aanvaar het dat haar liggaam gebrekke het nie.  Sy moes besef het dat die Olimpiese Spele nou nie meer ‘n werklikheid kan word nie.  Daar was wel die paralimpiese spele, maar dit moes maar na ‘n slegte tweede prys gelyk het.  Die ag shame prys vir al die afvlerk voëltjies. 

Anders as Oscar Pistorius – wat bitterklein was toe sy bene afgesit was en net moes leer om daarmee te lewe en voluit te gaan – moes Natalie die keuse maak tussen lê en opstaan.  Niemand sou haar blameer het as sy bly lê nie.  Mense met kleiner teleurstellings het gekies om te lê.  Sy het nie, sy was binne 3 maande terug in die swembad aan die oefen vir die eerste gestremde byeenkoms.  Sy het begin naam maak, al was dit nie met die kompetisie wat sy as kind ingedagte gehad het nie.  Tweede viool is seker beter as om glad nie in die orkes te speel nie.  Toe eendag tref dit haar dat sy wel mense met twee bene se gatte kan skop.  Selfs moontlik op Olimpiese vlak. 

Dit kon nie maklik wees nie.  Tog sal ons seker nooit presies weet hoeveel werk dit geneem het nie.  Hoeveel bloed, sweet en trane daar was nie.  Hoeveel keer daar geval is en maar weer probeer was nie. 

Wanneer ‘n mens ‘n breukdeel daarvan besef, besef ‘n mens eers hoeveel respek Natalie eintlik verdien.  Nie as ‘n gestremde atleet nie, maar iemand wat haar beste bly doen ten spyte van vele terugslae.  En dit boonop maklik laat lyk.

Breinvasbrand:  Wanneer het Natalie du Toit die Laureus World Sportsperson of the Year with Disability gewen?

Breinlosbrand:  Sonlig was eerste reg met Bennie Boekwurm.





Baie Geluk

30 01 2012

Klein Merrie Phoenix is gister aand gebore.  Sy is 50 cm lank en weeg 3.1 kg.  Alles is 100 % met haar en Mamma Selene.





Toedraai Klagtes en Gedagtes

22 12 2011

Ek probeer elke jaar by die ware betekenis van ‘n Christusfees uitkom, maar ek is vlak genoeg om ten volle in die kommersiële kant vasgevang word.  Ek koop geskenke vir ‘n plek en ‘n wen.  Ons is immers ‘n baie groot familie.  Dit bring my tot die dilemma van toedraai.

Sien:  die probleem is dat ek twee linkerhande het en my nie eers daaroor skaam nie.  Verder kan geen mens my daarvan verdink dat ek netjies is nie.  Geskenkpakkies is goed en wel vir verjaarsdag, maar wat is Kersfees nou sonder ‘n berg geskenkpapier wat weggegooi moet word?  Buitendien voel mens mos te jammer om die geskenksakkies weg te gooi en te “goedkoop” om hulle weer aan te wend.  Dieselfde geld nie met gewone toedraai manier nie.

Ek  was dus ‘n paar jaar gelede verheug toe daar hier en daar toedraaistasies deur liefdadigheidsorganisasies begin het.  Tot my groot vreugde het die idee versprei en deesdae is daar geen rede hoegenaamd hoekom ek enigsins moet poog om self iets toe te draai nie.  ‘n Wen-wen situasie as daar al ooit een was.  My goed word vir my toegedraai en so word daar sommer ‘n geldjie vir ‘n goeie doel ingesamel.  Dit is wragtig die idee wat gesnydebrood onttroon het.

Tot van die organisasies gulsig geraak het.  Dit het subtiel en redelik begin.  In die plek van ‘n donasie, is daar ‘n sekere bedrag vir ‘n sekere grote geskenk gevra.  Ek kan die rede insien, daar is mense wat ‘n huis en alles wat daarin moet kom laat toedraai en dan net ‘n R2 skenking sal gee.  Dit is nie regverdig nie.  Daardie toedraaiers staan soms die heeldag daar en verdien om ‘n ordentlike bedrag in te samel.  Buitendien het die pryse jou ‘n goeie riglyn gegee van wat jy behoort te gee.

Maar . . . dit raak nou belaglik.  Ek boer (bly) in Brooklyn Mall en doen dan sommer meeste van my inkopies daar ook.  Hulle toedraaiers samel geld in vir Good Morning Angels.  Ek het so ‘n vermoede dat die toedraaiers ook tydelike werkers is – niks fout daarmee as dit boonop werk ook skep nie.  Ek het in die verlede dikwels my pakkies vir hulle geneem, maar die jaar het ek geweier.  Hulle toedraaipryse het by R10 vir ‘n kleinpakkie begin.  Siende dat geskenkpapier ongeveer R16 kos vir 3 rolle en hulle s’n (en die hande) geborg is, noem ek dit uitbuiting.  En nie eers vir ‘n goeie saak laat ek my uitbuit nie.

Ek het my goed alles in my kar gelaai en gery waar tannies gratis vir hulle organisasie die goed toedraai.  Die skenking is aan my oorgelaat en ek glo ek was regverdig.  Hulle doen dit al vir jare en is in elk geval netjieser as die werker van die straat.  Soos gewoonlik is my berg pakkies ook vergesel gewees met koeldrank vir die toedraaiers.

Ek het iets opgemerk wat ek dink spesiale vermelding verdien.  Terwyl ek gewag het vir my pakkies om toegedraai te word, sien ek ‘n Indiër man wat van stasie tot stasie loop.  By elk stasie gooi hy ‘n paar note in die blikkie sonder om iets te sê of te laat toedraai.  Nou dit is ‘n ware skenking vir organisasies wat dit regtig verdien.

Vandag lig ek my hoed vir diegene wat onbaatsugtige werk of skenkings in die Kersseisoen gee.  Die tannies en vrywilligers wat sonder betaling die hele dag in ‘n besige sentrum staan en pakkies toedraai.  Sonder ‘n die bemarking en “naam” wat ‘n bekende radiostasie hulle gee.  En vir al die mense wat skenkings gee sonder om iets terug te verwag.  Ek hoop hulle pluk die vrugte van hulle arbeid.

Breinvasbrand:  Van waar het Kersbome, soos ons dit vandag ken, ontstaan?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Rebecca Wells.





Naasteliefde

1 12 2011

Terwyl ek dan nou vandag op Naasteliefde is, moet ek die voorbeeld noem.

Met die wat Kersfees op hande is, probeer elkeen wat kan ‘n beroep op liefdadigheid doen.  Ek lees gister van die Princess Alice-aannemingshuis wat dringend skenkings – veral in kontant nodig het.  Hulle is terloops ook baie dankbaar vir die skenking van klere en speelgoed wat hulle gekry het, maar ongelukkig kos dit geld om die 40 jarige organisasie staande te hou.  Hulle kort ook goed om brandboudjies te voorkom.

Sulke organisasies is ook afhanklik van vrywilligers om te help met die babas se versorging.  As gevolg van die vakansie seisoen, het hulle minder vrywilligers as gewoonlik.  Almal het ‘n breuk nodig van tyd tot tyd en dit is nie onredelik dat mense die tyd van die jaar met hulle families wil deurbring nie.

Juis omdat hulle dit besef, meld daar blykbaar elke jaar die tyd ‘n groep Moslemvrouens aan om hulle dienste aan te bied.  Hulle staan dus in om vir mense ‘n kans te gee om hulle Kersfees te vier.

Persoonlik vind ek dit ‘n baie mooi gebaar en ek vir een het baie respek vir die Moslem Dames.  Dit stel die vraag of Christen Dames vir die Moslems sal instaan wanneer Eid ens gevier word?  Een hand was mos immers die ander en so word daar by alles uitgekom.





Laaste Dae

1 12 2011

Op Wêreld Vigsdag, moet ‘n mens seker ‘n woord of wat oor Vigs sê.  Die vraag is wat, aangesien ek uit ander dae se beurt ook daaroor gepraat het.  Ek het al gepraat oor die stigma van Vigs, oor die voorkoming van Vigs, die vraagstukke van Vigs en ek is seker dat ek omonwonde diskriminering teen mense wat HIV positief is veroordeel het.  Ek het selfs al sover gegaan om Vigs navorsing as ‘n selfsugtige see uit te skel wat net meer en meer en meer soek.  Dit laat maar min dinge oor wat ek nog op Rooistrikkie dag kan sê.

Toe val dit my by, iemand wat MIV positief is, gaan waarskynlik op een of ander stadium Vigs ontwikkel.  Hulle gaan een of ander tyd doodgaan.  Hulle gaan een of ander tyd so swak soos babas raak en hulle gaan versorging nodig hê.  Daardie versorging sit beslis nie in elke Jan Rap en sy maat se broek nie.

Terwyl ek op my plundertog van Google se argiewe was, het ek hier en daar ‘n skokkende foto van ‘n Vigs lyer gesien.  Dit is nie mooi, verwelkomende prentjies nie.  Veral nie terwyl jy jou ontbyt eet nie.  In die dae is die mense lelik uitgeteer.  Baie van hulle het kankeragtige vergroeisel.  Hulle het nie die krag om hulle eie monde af te vee nie.  Ek neem aan dat wanneer Moeder Natuur roep, hulle nie veel beheer oor dit het nie.

As daar nog ‘n bietjie genade vir hulle oor is, sal iemand hulle deur die laaste dae dra.  Afvee wat afgevee moet word.  Was, wat besmeer word.  Hulle voer en laat drink.  Aantrek, bad en versorg.  ‘n Werk van liefde, selfs as hulle geliefdes hulle die rug gekeer het.  Sonder die beloning dat die pasient beter gaan word en by die deur uit loop.

Vir die versorgers van mense in ‘n terminale fase van ‘n siekte – ongeag dit Vigs, Tering, Cholera, Kanker of wat ookal dit is – kan ek net my hoed voor optel.   Die familielede wat hulle eie vrese, voorbehoude of grillerigheid moet oorkom om die laaste daad van liefde te bewys.  Die verpleegsters en hospice werkers wat nie terugstaan nie.  Goed en wel, hulle word wel betaal, maar dit kan nie veel wees nie.  Buitendien kan geld nie vergoed vir die genade wat hulle aan ‘n lyer toon nie.

Wat kan’n mens nog vertel van die vrou of man wat sonder enige verpligting (hetsy deur liefde of werk) na die mense in haar (sy) gemeenskap omsien?  Kry ‘n mens groter naasteliefde as dit?  Ek glo dat daar ‘n spesiale plekkie in die hemel vir hulle is.

Breinvasbrand:  Watter Vigs groep gaan waarskynlik weens ‘n verlies aan fondse hulle werksaamhede moet staak in Januarie 2012?

Breinlosbrand:  Olga het die antwoord gegee wat ek gesoek het met Umkhonto we Sizwe.  Hoewel, Fokker is heeltemal reg dat Aboobaker Ismail die bevelvoerder was.  Oliver Tambo het die aanval goedgekeur.  Hoe de duiwel kan hy as ‘n simbool vir vrede gesien word?





Wel, wel.

23 11 2011

Ben Turok en Gloria Borman is twee name wat ek nog nie van te vore gehoor het nie.  Na vandag is dit twee name wat ek nie sommer gaan vergeet nie.  Hulle is die twee mense wat gister buite stemming gebly het oor die nuwe inligtingswet.  Beide het kort voor die stemme uitgestap.  Borman reken dit sal die stryd teen korrupsie kniehalter.  Dit sal nou natuurlik stukke beter gewees het, as hulle openlik teen die wet gestem het, maar soos dit is het hulle jare se moeilikheid.  Die ANC reken hulle is ongedissiplineerd en hulle gebruik van die media het nou nie juis die storie verbeter nie.  Die saak sal intern hanteer word.

Ek dink hulle moet by Tannie Dianne Kohler-Barnard gaan leer wat in die geval te sê.  Dit begin met ‘n F.  As jy dan in die moeilikheid moet kom, doen dit behoorlik.





Geld Beheptheid?

4 09 2011

Geen mens kan ‘n ander verkwalik omdat hulle ook maar ‘n geldjie wil maak nie.  Die lewe is duur en by die dag kom daar iets nuuts by waarvoor jy nie begroot het nie, waarvoor jy geen baat gaan vind nie, maar nogtans voor moet betaal.  Mens moet maar die rieme dun sny en jou verstand gebruik om nog geld in te bring as jy kop bo water wil hou.

Dit is seker met die agtergrond dat ‘n mens deesdae vir absoluut alles moet betaal.  As ons wil eerlik wees is dit nie net die regering inhaligheid nie.  Dit kom al ‘n dekade of twee aan.  Onthou die tyd wat ‘n kind altyd ‘n stukkie droëwors by die slaghuis oom gekry het?  In my tyd was dit eerder die uitsondering as die reël.  Net om een voorbeeld te noem.  Daardie stukkies droëwors vreet blykbaar te veel aan die wins.  Tog wonder ek of ‘n paar rand se verlies hier en daar, jou nie op die einde van die dag meer in die sak kan bring nie.

Neem gastehuise as ‘n voorbeeld.  Fyn bestuur van inkomste en uitgawes is kritiek wanneer jy wil oorleef in ‘n wisselvalige mark.  Gaste huise poog graag om ‘n huis weg van die huis te wees.  Baie moedig die gaste aan om ‘n glassie wyn of ‘n bier aan die einde van die dag te drink ook – gewoonlik in die vorm van ‘n “Honesty Bar”.  Jy skryf op wat jy drink en vereffen dit saam met jou rekening.  Ek het nie elke dag drank in my lewe nodig nie, daarom gebruik ek die “gasvryheid” nooit nie.

Een van my gunsteling gastehuise doen nie moeite met so ‘n kroeg nie.  Hulle pak ‘n verskeidenheid verversings in die yskas in die kamer en jy kan dit gebruik soos jy lekkerkry.  Weereens gebruik ek dit nie, maar ek voel baie gemakliker om keer op keer van hulle dienste gebruik te maak.  Waar ek gewoonlik eerder elke keer op ‘n ander plek sou oorslaap.

Nou die dag neem ek my een band in, omdat dit deesdae vinnig papperig word.  Die kere wat ek so iets laat na-gaan het, het dit my R50 uit die sak gejaag.  Die dag, by ‘n plek waar ek gewoonlik nie kom nie, maak hulle dit verniet vir my reg.  Raai waar sal ek voortaan my bande gaan koop?

Die norm is deesdae dat dokters ‘n bybetaling vereis – selfs nog voordat jy die dokter sien.  Al daardie R20 – R100 maak seker ‘n vet verskil op die einde van die dag.  Tog voel ek dat die dokter wat dit nie vra nie, meer in my as pasient belangstel as in my beursie.  Asof die persoon ‘n dokter geword het om mense te help en nie ryk te word nie.

Mense is geregtig daarop om betaal te word vir goedere of dienste wat hulle verskaf het.  Ek aanvaar dit so.  Daar is egter meer as net aanvaarding vir die wat nie op betaling vir alles aandring nie.  Respek dalk? Miskien net innige waardering.

Hoe voel julle hieroor?

Breinvasbrand:  Wie sing “She work’s hard for her money”?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Fikile Mbalula.





Les in Hande Tuis

30 08 2011

Hierdie is een van my gunsteling vertellinge en ek hoop ek het dit nog nie vertel nie.

Klippie se gedagtes oor geweld teen vroue het my aan dit laat dink.  Ek vertel dit oor op hoorsê en kan dus nie vir die waarheid daarvan instaan nie.  Ek het dit egter van ‘n baie betroubare bron verneem – een wat ek glo nie so ‘n storie uit die duim uit sal suig nie.

Daar was ‘n predikant in Durban gewees, ‘n blok van ‘n man.  Boonop van Duitse afkoms en met tye net so bruusk en bombasties soos ‘n Duitser kan wees.  Boonop was die man geseën met ‘n baie kort humeur.

Die Saterdagmiddag daag daar ‘n vrou op om die hoeveelste keer te kla dat haar man haar slaan.  Hy het al hoeveel keer met die man gepraat, maar as predikant het hy darem ook sy plig.  Hy nooi toe dus die vrou in, kry iemand om haar te versorg en val toe in die pad om met die man te gaan praat.

By die mense se huis klop hy nog ewe ordentlik aan die deur.  Die man het blykbaar oopgemaak en die predikant gul ingenooi.  Die predikant het blykbaar nie een woord gesê nie, maar die man ‘n opstopper gegee dat hy daar trek.

Soos ek verstaan was dit die laaste keer wat hy sy hande vir sy vrou gelig het.





Van redder tot . . .

15 08 2011

Wee jy!!! 

Ek dink ek verkeer onder ‘n wanindruk – seker die erfenis van Apartheid.  Iewers het ek die idee gekry dat Polisiemag daar is om die onskuldiges en veral die weerloses te beskerm.  As deel van die verantwoordelikheid, moet hulle diegene wat ander in gevaar stel uit die samelewing verwyder.  Sodoende word veiligheid van die wetsgehoorsame burgers gewaarborg. 

Ons weet dat dit nie heeltemal so eenvoudig is nie, veral nie in die tyd en ruimte waarin ons lewe nie.  Ons sit almal in tronke en bid elke aand opreg dat ons nie die hoofberig in more se koerant sal wees nie.  Die polisie is self ook maar goed vervuil met misdadigers en mens is amper nie meer seker wie nou eintlik gevrees moet word nie.  Net toe ek dink die polisie kan nie nog laer daal nie, verras die mense in blou my weer.

Annari du Plessis (43) van die organisasie Crossroads in Vanderbijlpark het ‘n 13 jarige meisie verlede week gered uit ‘n huis waar sy ‘n seksslaaf was.  Sy was blykbaar deur 17 mans verkrag.  Soos die wet vereis, het sy ‘n saak by die polisie aanhandig gemaak.  Soos deesdae die geval blyk te wees, het hulle geweier om die saak te aanvaar.  Hulle het wel geëis dat Du Plessis die kind in hulle sorg laat.  Sy het soos enige regdenkende mens geweier, wie weet wat hulla aan die arme kind sou doen.  Du Plessis was voorheen in die polisie.

Vrydag het die polisie vir Du Plessis gearresteer omdat sy glo die polisie in die uitvoer van hulle pligte verhinder het.  Wat op aarde?  Wat wou die polisie met die kind gedoen het?  Terug “huis” toe gevat het of net voortgegaan het waar die ander opgehou het?  Du Plessis was die hele naweek aangehou en sou gister in die hof verskyn het.  Ek wonder hoeveel van die 17 mans wat die kind verkrag het, was ook die naweek in die tronk.  Ek raai nie een nie, die polisie wat te besig om hulle toorn op Du Plessis uit te haal.

So dikwels word daar gewonder hoekom mense dikwels ‘n blinde oog draai na diegene wat hulp benodig? In plaas dat jy ‘n medalje verdien vir jou heldedaad, gaan jy tronk toe.  As die polisie dan nog beskermers is, wonder ek wie beskerm hulle?  Beslis nie die gemeenskap nie.  As dit dan die norm is en jy in elk geval tronk toe gaan, wonder ek of ‘n mens dit nie die moeite werd moet maak nie.  Reken self met die 17 rotte af en dan weet jy immers hoekom jy gearresteer is. 

Anneri du Plessis is my held vir die week.  Ek hoop sy vat ook die minister van polisie hof toe vir miljoene. 

Gaan die belaglikheid ooit einde kry?

Breinvasbrand:  Wie is in 1995 deur Nelson Mandela as die eerste Nasionale Kommissaris van die nuwe Suid Afrikaanse Polisie Diens aangewys?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Sidney Vernon.





Oog vir ‘n Oog

2 08 2011

Kyk, Shakespeare het mos iets gesê van ‘n “Faint heart never won a Fair lady”.  Die manne in Iran het nou nie lekker gehoor waar die klok lui nie, maar hulle voer nogal hulle weergawe daarvan met oortuiging uit.  Dit gebeur soms as ‘n meisie ‘n man se huweliksaansoek van die hand wys, sy met ‘n skoot suur in die gesig beloon word.  Net verlede maand is ‘n jong vrou op so ‘n manier dood.

Ameneh Bahrami was in 2004 met suur in die gesig gegooi nadat sy nee dankie vir Majid Movahedi se trou aanbod gesê het.  Altwee haar oë is deur die suur beskadig gewees.  Sy het ook lelike brandwonde aan haar gesig, kopvel en bolyf opgedoen.  Sy het aanvanklik 40% van die sig in haar een oog herwin, maar dit na ‘n tyd verloor.

Iran is nou wel nie bekend vir vroueregte nie, maar hulle neem hulle Koran ook letterlik op.  Daarvolgens het die hof in 2008 besluit dat Ameneh geregtig is daarop dat Movahedi ook sy een oog deur suur moet verloor.  Natuurlik was sy verheug oor die besluit gewees.  Haar lewe is deur die man verwoes en dit gebeur nie elke dag dat geregtigheid aan die kant van ‘n vrou is nie.  Sy hetook in Barcelona, waar sy behandeling vir haar gesig ontvang het, gesê dat dit nie so seer oor wraak gaan nie, maar om ander vroue dieselfde lot in die toekoms te spaar.

Sondag (ongeveer 7 jaar na die aanval) het haar oomblik van vergelding aangebreek.  Die straf is op die staatstelevisie uitgesaai.  Die man, vrou en dokter was in die teater waar die straf voltrek sou word.  Movahedi huilend op sy knieë en die dokter reg om die vretende suur in sy oog te drup.  Die dokter het haar gevra wat sy wou doen en toe verras sy almal om Movahedi te vergewe.  Sy oog is gered en hy is terug tronk toe tot daar aan ‘n gepaste straf vir hom gedink kan word.  Sy vra wel dat hy haar mediese kostes moet dek.

Daar is waarskynlik baie mense wat teleurgesteld is oor haar besluit, maar ek haal my hoed vir haar af.  Eerstens sou sy nie haar gesig, gesondheid of lewe kon terug kry deur hom te vermink nie.  Dit sou haar niks gebaat het nie.  Geen normale mens kan tog genot uit ‘n ander se lyding put nie.

Die oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n tand bepaling is tog wel herroep.  Die brood wat jy op die water werp gedeelte nie.  Ek glo dat as ‘n mens genade aan ‘n ander skend, sal jy eendag genade terug kry.  Indien nie, was sy nog steeds die beter mens.

Hoe voel julle?

Breinvasbrand:  Wie is Iran se president?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Freddy Mercury.