Chamber of Horrors

29 03 2012

Miskien is dit net my yskas wat ‘n plek van onheil is.  Ek wonder soms of ek nie ‘n krieketkolf byderhand moet hou as ek daarin moet gaan nie.  Daar is verseker dinge aan die broei daar. 

Ek het nou wel nie die grootste van yskaste nie en sover ek kan oordeel kwyt hy homself nogal goed van sy taak.  Dit is seker nie sy skuld dat ek soms wel groente en vrugte koop en dit dan getrou in die yskas bêre nie.  Die groot probleem is seker dat ek daarvan vergeet.  Geheel en al. 

Ek weet daar is melk en margerien in die yskas en ek het nogal ‘n vermoede dat daar jogurt ook is.  Af en toe sukkel ek om plek vir iets te kry en dan moet ek wonder hoekom die yskas so vol is.  Dit is dan wanneer ek verdroogde of bederfde groente, vrugte en selfs kaas kry (het ek dan kaas gekoop???).  En sien hoe vol stof die ding is.  Ek meen, hoe het daar stof in die yskas gekom?  Daar is ook een of ander onidentifiseerbare vloeistof.  Ek is dan skoon verbaas dat die melk nie suur is en dat ons nie een of ander vergiftiging opgedoen het nie. 

Ek moet toegee, dat die yskas nie net onaangename verrassings inhou nie.  Daar kruip soms ‘n bottel of drie sap of koeldrank weg.  Ek het onlangs selfs ‘n bottel wyn in die yskas gekry.  Weereens geen idee waar dit vandaan kom nie.  As jy diep en lank genoeg soek is die kanse goed dat jy sjokolade kan kry.  Wat net mooi niks makeer nie. 

Jy moet net dapper wees.  En hoop niks bespring jou nie.  Aan die anderkant, wat beteken ‘n skattejag sonder gevaar?

In watter toestand is jou yskas?  Hoe hou jy dit in ‘n aangename toestand?  Hoe sorg jy dat die bederflike goed gebruik word voordat dit hare groei?

Breinvasbrand:  Waarvan is die naam Kelvinator afgelei?

Breinlosbrand:  Olga was eerste reg met Nancy.





Banklenings

6 02 2012

Die advertensies wat wonderwerke gespel lenings belowe, het dit nog nooit vir my gedoen nie.  Nie dat ek glo krediet is ‘n vloekwoord nie.  Dit is ‘n goeie hulpmiddel wat baie versigtig bestuur moet word.  Sonder krediet het ek nie geswot nie en het ek met apostelperde gery.  Die ding is egter dat lenings nie vir elke bakatel aangegaan moet word  nie.  Wag, amper begin ek preek en dit was nie die doel met die skrywe nie.

Elke keer wat daar ‘n R150 000 aanbod in die pos gekom het, het ek dit fyn en flenters opgesnipper en weggegooi.  Dieselfde met elke kredietkaart wat ek aangebied was.  Ek sien glad nie wat so wonderlik is aan geld wat jy moet terug betaal nie.  Gewoonlik aansienlik meer as wat jy daarvan gekry het.  Vanaand, moet ek egter van opinie verander.

In die nuwe lening advertensie van Standard Bank sit die bankvrou lustig en werk by die klient.  Dink net, in plaas om op jou knieë voor die bankbestuurder te staan, gee hulle jou sommer gratis arbeid vir die dag.  Jy kyk hoe hy / sy jou wasgoed, skottelgoed of tuin doen, terwyl hulle jou boonop geld belowe.  Wonderlik.  Ek het net twee vrae.

  1. Hoe vinnig moet jy die geld terugbetaal voordat rente inskop?
  2. Hoe vinnig kan ek weer vir ‘n lening aansoek doen?

So ‘n geleende perd, kan ek nie in die gesig kyk nie.





Spook Kamermaat

11 11 2011

Ek lees nou die dag dat Helen Zille die spoke in haar premierhuis die deur gewys het.  Ek kan nie met sekerheid sê dat die spook dalk Patricia de Lille was wat onverwags kom kuier het nie.  Wie weet, dalk was dit sommer Tannie Zille haarself wat onverwags in die spieël gekyk het.  Iedergeval, sy het groot genoeg geskrik om hulle te kom uitdryf.  Dit was blykbaar nogal freaky, die spookkenner wat kom ondersoek instel het, het hulle gekry waar ander hulle gesien het.  Nie dat ek verbaas is nie, spookstories in die premiershuis is seker ‘n staatsgeheim.

Ek wonder tog of Tannie Zille nie haarself te kort gedoen het om die spoke uit te smyt nie.  Ek meen, die premiershuis is seker groot genoeg vir mens en spook.  Buitendien skrik ‘n ystervrou mos seker nou nie vir ‘n spook nie?  (Ysterasters doen wel, maar dit is ‘n ander storie).  Politici is veronderstel om uitstekende diplomate te wees en met ‘n spook in jou hoek, kan jy nie juis verkeerd gaan nie.

Om mee te begin, roep haar opposisie gereeld die hulp van hulle voorvadergeeste in.  Siende dat Zille se voorvadergeeste Duitsers is, gaan hulle nou nie juis veel kan uitrig nie.  Veral omdat hulle sekerlik in Duitsland sit.  Sou sy nou maatjies met haar spook wees, kon sy die spook stuur om so ‘n bietjie sin in die voorvadergeeste te praat.  Hulle beskouing is gewoonlik in die verlede gesetel.  Die spook kan hulle dalk die nuwe Suid-Afrika wys en miskien leer om die internet te gebruik.  Daarmee dink die voorvadergeeste dalk ‘n bietjie verder as wat lewendige geeste kan dink.

Ek neem aan Tannie Zille moet soms minder aangename (welkome) gaste (die wat nog skop) in die premiershuis onthaal.  Soos julle weet, drink die gemiddelde Suid-Afrikaner glo 20 l skoon alkohol ‘n jaar.  In die premiershuis is die beste daarvan waarskynlik gratis beskikbaar – selfs na 11 die aand.  Ek reken dus die reël van loop wanneer die koppie koud is geld nie daar nie.  Sy wil seker ook nie onnodig tone trap net omdat sy wil gaan slaap nie (ek meen, botox gaan ook net so ver).  As haar goeie spookvriend nou net ‘n paar bottels laat vlieg, sal die gaste sekerlik sorg om hulle in die toekoms te gedra?  Dit is sal op die heelminste haar vermaak.

Ek neem aan dat met ‘n leër personeel wat na die huis omsien, is die spook se towerkragte nie nodig om ‘n handjie by te sit nie.  Behalwe nou as almal ‘n welverdiende ruskansie kry.  Dit is nou nie dat die spook uit gebuit kan word nie?  Hy sal maar te bly wees vir gratis onbeperkte verblyf.  Sou tannie Zille nou weliswaar president Zille raak, sal die spook saam met haar verhuis en dan is die premiershuis in elk geval bevry.

Om ‘n belangrike bondgenoot so in die gesig te vroetel.

Breinvasbrand:  Wat was Casper se van as mens?

Breinlosbrand:  Gerda was reg met Matthew en Marilla Cuthbert





As daar nou ingebreek moet word

20 09 2011

‘n Wekker – veral op ‘n Maandag more – is my insiens al wreed genoeg om ‘n mens uit droomland uit te haal.  Wel, sou die wekker nie sy skreewerk doen nie, is die ontwaking self nog erger.  Dit is gewoonlik op die dag wat jy dit die minste kan bekostig om laat te wees.  Dit het ook die manier om jou hele dag om te krap en daar is bloot net geen verweer nie.  Helaas is dit nie die ergste manier om uit jou sluimer gehaal te word nie. 

Ek kan my niks ergers voorstel as om wakker te word as ‘n onbekende ongenooid in jou kamer is nie.  Dit voorspel meeste van die tyd niks goeds nie.  Jy weet jy het dan moeilikheid, op ‘n tyd wanneer jy heeltemaal weerloos en aan hulle genade uitgelewer is.  Ek sal beslis nie gemaklik voel om met ‘n vuurwapen onder my kussing te slaap nie.  Met my geluk skiet ek myself heel per ongeluk van pure lompheid. 

Tog moet daar tog altyd hoop wees.  Ek dink jou aan die een episode van die Big Bang Theory.  Sheldon breek by Penny in om haar woonstel skoon te maak.  In die middel van die nag.  Natuurlik loop sy nie van vriendelikheid oor na die gebeurtenis nie, maar ek vir een sal nie omgee om langs Sheldon te bly nie.  As dit hom gelukkig maak om in die middel van die nag my gemors op te ruim, is hy meer as welkom. 

Soos ek dit sien is dit die naaste wat jy aan feetjies in mensvorm kan kom.  Julle weet mos, jy wag vir die feetjies om jou strykwerk te doen of om aandete te kook.  Die klein merries is gewoonlik nog luier as jy, hulle wys nie eers hulle gesigte van onder die stof nie.  Jy het ‘n groter kans dat die inbreker jou vuilwerk sal kom doen.  Baie skraal kans, toegegee.  Maar ek glo vas in die goedheid van mense. 

As iemand by jou inbreek, wat moet hy of sy doen (of steel) dat jy glad nie eers vies gaan wees daaroor nie?  Beter nog, sou jy ‘n inbreker in aksie vang, wat sal jy hom of haar graag wil laat doen om jou jaar te maak?

Breinvasbrand:  Wie is Sheldon se woonstel maat in “The big bang theory”?

Breinlosbrand:  As jy iemand geld skuld is hulle jou krediteur, maar jy is hulle debiteur.





My Aftreeplan

4 08 2011

Gewete te koop!!  Dit is al baie gebruik, maar is in ‘n puik werkende toestand.  Ek verstaan dat dit goed is vir jou, maar ek is onseker wat die nut is.  Dit het my gekeer om om voor my volgende verjaarsdag af te tree.  Laat ek by die begin begin. 

Ek hoor nou die dag dat die maklikste en vinnigste manier om skatryk te word, is om jou eie kultus te stig. Kyk maar na L. Ron Hubbard; die vader van Scientology. Met sy dood in 1986 was hy ten minste $ 200 miljoen sterk. Die klomp van Family Radio sukkel ook nie juis om die mas op te kom nie. Daar moet dus waarheid in die teorie steek.

Dit is eintlik verspot maklik.  Al wat jy moet doen is om die mens se onsekerhede en vrese te identifiseer.  Hoe nader jy aan die kol is, hoe makliker kan jy hulle uitbuit van jou saak oortuig.  Dit sal natuurlik ook help as jou argument logies klink en as jy ys aan ‘n eskimo kan verkoop.   (Nota aan self:  is dit dalk hoe die hoofnar aan sy miljoene kom?  Die liga kom soms soos ‘n kultus voor). 

In Suid-Afrika is dit baie maklik.  Mense vrees misdaad en hulle is onseker van die toekoms.  Met die praatjies in omloop wonder mens hoekom jy nie eerder boedel oorgee en na die plakkerskamp van jou keuse trek nie.  Dit blyk tog dat wat nie van jou gesteel word nie, uit jou genasionaliseer gaan word.  Jy sal net dankie bly kan wees as dit jou gegun word om jou laaste dae in armoede te slyt. 

Die vraag is dus hoe verseker jy mense hulle veiligheid en sekuriteit?  Dit moet iets wees wat vrees inboesem van die vyande, maar wie se gunste wel bekom kan word.  Iets onnatuurlik sal natuurlik ideaal wees.  Iets soos vreemde wesens, spoke of my held van die aand:  die tokkelos. 

Die tokkelos se beskerming kan deur gunste en gawes gekoop word.  Ek, as ‘n dierbare vriendin, sal sorg dat die gunste en gawes – verkieslik in harde kontant – by die tokkelos uitkom.  Teen kommissie natuurlik, ek moet tog kan leef ook en dit is baie werk om miljoene mense se gawes te bestuur. 

Solank die tokkelos gelukkig gehou word, sal jy veilig voorspoedig wees.  Sodoende sal jy natuurlik meer met die tokkelos kan deel.  Bewaar egter jou siel as jy inhalig is, die tokkelos sal die beskerming onttrek en jy sal dan boet.  Met ‘n bietjie ekstra kan dit natuurlik weer reggestel word. 

En net toe ek opgewonde raak, skop my gewete in.  Sug!!!  Wat ‘n jammerte.  😉

Breinvasbrand:  Watter jaar is Scientology gestig?

Breinlosbrand:  Don’t Kiss Them Good-Bye





Hiep Hiep

11 05 2011

My moermetertjie wou-wou vanoggend rooi toe skiet toe ek van die regering se planne lees om grondeise te heropen.  Bid jou aan dat hulle mense wil toelaat vir grond wat voor 1913 in hulle besit was.  Ek meen, 1913 is al 98 jaar weg.  Wie weet waar het jou voorouers 98 jaar terug gebly?  Weet is een ding, maar hoe bewys jy dit?  Ek wil nou regtig nie lelik wees nie, maar kon die “naturelle” in 1913 of selfs voor dit lees en skryf?  Hoe weet die een wat die grond toeken dat dit nie ‘n vet lieg is nie?

Toe tref die moontlikhede my.  Niemand het mos nou ooit gesê dat net “naturelle” mag eis nie.  Daar bestaan mos al jare lank nie meer ras in die land nie.  Wat van my oupagrootjie-grootjie-grootjie-grootjie se grond wat ons familie deur die jare met ‘n slenter ontval het?  Ek kan boonop nie my hand op die Bybel sit dat ek nie dalk ‘n Hottentot oumagrootjie of 2 gehad het nie.  Dit kom ons mos toe en die regering is regverdig genoeg om ons grondjie aan ons terug te besorg.  Ek behoort eintlik dankbaar te wees vir die insig van ‘n man soos Gugile Nkwinti.

My oupa het my vertel van ons voorvader wat eendag sommer net daar van sy skippie in Tafelberg geklim het om te bly.  Dit was in die laat 1700’s gewees.  Wel, Oupagroot was maar ‘n rustelose siel gewees.  Die Kaap van Storms was ‘n plek wat sy lewe weerkaats het.  Hy was nie ‘n baie ryk man nie, maar vindingryk soos min ander.  Seker al wat Oumagroot oorreed het om met hom en sy beduiwelheid te trou.

Dit is juis sy vindingrykheid wat hom die guns en vrygewigheid van een van die Hottentotstamme gewen het.  Oupa kon nie die stamleier sy naam so mooi onthou nie, hy het hom sommer Abel genoem.  Ek neem maar aan dit was sy “Europese” naam, maar dit sal seker nie so moeilik wees om sy regte naam te kry nie.

Abel se Stambul het eendag in ‘n gat geval en sy rug gebreek.  Daar was net een probleem gewees, die Stambul se pa was onlangs geslag en die Stambul het nog nie ‘n bulletjie nagelaat nie.  Sonder die bul sou Abel en sy stam nie meer erken word nie.  Oupagroot het van die dilemma gehoor, die stambul gaan melk en toe ‘n paar koeie help dek.  Die Hottentotte wou hom stenig omdat hy so onrespekvol was, maar hy het Abel oortuig om te wag.  En wragies, een van die koeie het gevat en dit was toe nog boonop ‘n bulletjie.

Abel was so dankbaar, dat hy vir Oupagroot sy waardevolste stukkie grond gegee het.

Oumagroot het gedink dat dit hopeloos te winderig is en het maar met die kinders in die stad agtergebly.  Die kinders het maar hier en daar saam met Oupagroot gaan bly op sy Bulgrond, tot daar een was wat geweier het om terug stad toe te gaan.  So is die Bulgrond (vandag bekend as Kaappunt) van een generasie na die volgende oorgedra.  Daar was een beduiwelde kind gewees wat deur die grond gekies is.  Tot rondom 1897, toe een van die voorouers net een kind gehad het, wat bloot nie beduiweld was nie.

Dit was nie ‘n krisis nie, die volgende geslag sou wel die beduiwelde een opgelewer het.  Soos die noodlot dit wou hê, was die voorouer nie juis te haastig om te trou nie en die gebied het in 1908 wederregtelik staatsgrond geword.  In 1926 was dit toe ‘n natuurreservaat verklaar.  Tot die groot verlies van die Phoenix familie.  Die beduiwelde kind was dalk laat, maar die kind het gekom.  Vandag sou dit in my besit gewees het.

Danksy ons eerbare minister sal dit binnekort wel op my boeke staan.  Ek meen: my oupa het my die storie vertel voordat ek gebore is en my ouma sê my oupa jok nooit nie.

Die minister hoef nie bekommerd te wees dat ek nie plek deur my gat sal trek nie.  Ek behou myself die reg voor om een of ander tyd ‘n kasteeltjie te bou, maar aanvanklik sal ek doodgelukkig in die gehuggie bly.

Sanparke kan nog steeds met hulle bedrywighede voortgaan, mits ek so ‘n persentasietjie van die inkomste (insluitende hekgeld) kan kry.  Dit is net regverdig.  Verder sal oortreders van my en Sanparke se reëls een keer gewaarsku word voordat hulle in die see versuip word.  Ek wil seker maak my nageslagte gaan nog die grond wat hulle toekom hê.

Wanneer open die eise?  Ek kan nie wag om my skoene op my eie grondjie gekoop met Oupagroot se vindingrykheid te gaan uitskop nie.

Ek en die minister sal ook moet praat God’s Window wat ek met bloed gekoop het, maar dit kan eers wag.

Waar het jou ouma- of oupagroot vir jou ‘n grondjie gelos wat jy deur die eerbare minister kan gaan opeis?

Breinvasbrand:  Wat is die mees Suidelike punt van Afrika?

Breinlosbrand:  Olga was reg met joernalis.





My stem te koop

7 04 2011

Vanjaar word ons mos met twee vakansiedae in Mei heuning om die bek gesmeer.  Die tweede vakansie dag, 18 Mei, word daar eintlik verwag dat jy in ‘n tou moet gaan staan om jou kruisie te gaan trek.  Jou kruisie gaan help om te bepaal wie die volgende burgermeester is en hoe die geld wat jy aan die munisipaliteit oorhandig het, aangewend gaan word. 

Plaaslike verkiesings klink na ‘n mors van tyd, maar op die einde van die dag bepaal dit dalk meer as die nasionale verkiesing hoe jou daaglikse lewe beinvloed gaan word. 

Kla oor ‘n munispaliteit sal daar altyd gekla word.  Die enigste ding waaroor die publiek hoef te kla, is dat hulle enigsins vir die dienste moet betaal.  Ek meen, ons moet nog steeds inkomste belasting betaal.  Hulle kan mos die dienste daaruit dek.  Goed, ek weet ek praat nou snert.  Die publiek behoort eintlik onbewus van die munisipaliteit te wees, munisipale dienste behoort ‘n onsigbare, ondankbare werk te wees. 

Onbewus beteken nie onsigbaar of oneffektief nie.  Die oomblik wanneer iemand die munisipaliteit wil vloek, dring die munisipaliteit hulle op ‘n onvergeeflike manier op die publiek op.  Ek verwag dus van die munisipaliteit om te werk, sonder groot drama, sodat ek vergeet dat hulle daar is.  Die oomblik wanneer hulle (0f hulle kontrakteurs) droogmaak, dan krap hulle my lewe om en dit is nie waarvoor ek hulle betaal nie. 

Ek verwag dus om altyd in die lig te sit en dat my water beskikbaar, skoon en drinkbaar moet wees.  Straatligte is nie net daar vir straatbrakke om hulle bene te lig nie, dit kan maar gerus lig vir die pad verskaf.  Verkeersligte moet altyd werksaam wees en indien dit wel die gees gee, moet daar iemand wees om die verkeer te reguleer.  Die vullis moet stiptelik met so min as moontlik ontwrigting verwyder word.  Parke behoor ‘n lus vir een en almal te wees en hulle kan sommer sypadjies skoon en netjies hou. 

Soos met elke verkiesing is my stem te koop.  Pryse is die jaar as volg:

  • ANC en alliansie vennote – R 1 miljoen en vrystelling van munisipale gelde
  • Onbekende partye – R 500 000
  • IVP, ACDP en onafhanklike kandidate – R250 000
  • VF+ – R250 000 plus ‘n dosyn lekker koeksisters weekliks
  • Uitstekende onafhanklike kandidate – Ek is oop vir oortuiging
  • DA – Gratis, Pasella, Mahala en verniet. 

Wat verwag jy van jou munisipaliteit?  Wat kos jou stem?

Breinvasbrand:  Wie is Johannesburg se burgermeester?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Brynhild Paulsdatter Storseth





Kraamverlof

2 03 2011

Hoekom kan net swanger vrouens kraamverlof kry?  4 maande van tyd by die huis om aan die nuwe baba gewoond te raak of is dit nou om ‘n verhouding met die nuwe mensie te bou?  In ander lande is kraamverlof heelwat meer as wat ons kry.  Ek dink terloops ook dat kraamverlof met volle salaris gegee moet word. 

Siende dat diskriminasie ‘n gruwelike sonde in Suid-Afrika is – dit is nou behalwe ten opsigte van kleur – behoort kraamverlof in heroorweging geneem te word.  Dit is onregverdig dat vroue wat nie babas het nie, nie ook 4 maande verlof kan kry nie.  Dit is onregverdig teenoor mans wat glad nie babas kan kry nie.  Dit is onregverdig teen babas wat nie menslik of lewendig is nie. 

Hoeveel persoonlike projekte sterf weens ‘n gebrek aan tyd?  8 ure kom die baas toe en die res van jou lewe pas doodeenvoudig nie in die oorblywende 16 ure in nie.  As slaap dalk nie ‘n noodsaaklikheid was nie, kon daar miskien ‘n plan gemaak word.  Daar 8 ure wat die baas jou besit, het in elk geval die gewoonte om die ander 16 ure op te wolf.  Die enigste hoop is om vir ‘n tyd lank heeltemaal van die baas verlos te wees.

Gestel nou jy wil ernstig ‘n poging aanwend om ‘n boek te skryf.  Jy kan dalk nie ‘n sekonde langer in jou huis oorleef nie en dit moet oorgedoen word?  Jy het dalk ‘n nuwe stokperdjie wat jy tot in die fynste besonderheid joune moet maak of ‘n nuwe troeteldier wat jy maniere moet leer.  Goed wat meer tyd vat as jou 3 weke verlof ‘n jaar en goed waaroor jy net so erg kan wees as van ‘n babatjie van vlees en bloed. 

Goed daar is ‘n ruimte van uitbuiting.  Aangesien dit gemiddelde mens 2.4 kinders glo het, kan ‘n mens dalk net 2 kraamverlofte kry – bedoelende die kraamverlof waarvoor jy nie ‘n pienkvoet kan wys nie.  Niks keer jou mos 12 regte, lewende, menslike kinders te hê as jy meer tyd nodig het nie?  2 pasella kraamverlofte oor ‘n tydperk van ten minste van 30 jaar is mos nie te veel gevra nie?  Ten volle betaal natuurlik?

Hoe voel julle?  Waarvoor sal jy jou pasella kraamverlof aanwend? 

Breinvasbrand:  Tot hoeveel persent van hulle salaris is Suid-Afrikaanse vroue geregtig tydens hulle kraamverlof?

Breinlosbrand:  Windows 92 (Jammer, JWW).  Office 92 (Office 3.0)





Tyd vir nog ‘n ek

14 02 2011

Almal ken seker daardie dae wanneer jy soos ‘n bord eetgoed voel.  Almal soek jou en pluk jou in ‘n rigting weg van die ander af.  Met die klem op ALMAL.  Jy word so verrinnepluk en verrinneweer dat jy skoon geboelie voel.  Oud voor jou tyd.Julle ken mos daardie dae wat almal jou soek, jy het net een stel hande om by alles uit te kom en ‘n dag het net 24 uur.  Die versoeking is dan nogal groot om ‘n tweede weergawe van jouself te soek.  Klonering is mos met ‘n rede uitgevind, nie waar nie?

Daar is egter net een klein tegniese probleempie.  Jy het ten minste 18 jaar en 9 maande nodig voordat jy jouself kan gebruik om die lewe vir jouself makliker te maak.  As jy met ‘n vloekskoot jouself die eerste keer reg kloon (jy kan dan maar wag vir jou Nobel prys), moet jy eerstens gebore word.  Dit vat nege maande gewoonlik.  Daarna moet jy nog 18 jaar lank wag voordat jy mondig is.  Wat help die ander jy tog as jy jouself nie kan stuur om stont te gaan teken of doen nie?

Dit lei na die volgende probleem, wat glad nie so klein en maklik oorkombaar is nie.  18 jaar en 9 maande van nou af, is jy natuurlik 18 jaar en 9 maande wyser, slimmer en meer ervare as die ander jy.  Jy sal dus die ander jy met baie geduld moet lei en met ‘n lepeltjie voer om die regte ding te doen.  Dit is nou natuurlik as die ander jy oop is vir hulp en leiding.  Neem maar jouself, hoeveel keer moes jy hard jou kop gestamp het voordat jy die boodskap sou kry?

Jy gaan ook die fisiese aftakeling van 18 jaar en 9 maande ouer dra.  Blykbaar is die ander jy dieselfde genetiese ouderdom as jy, maar hy/sy gaan soos ‘n student lyk.  Jy gaan soos die ouer of selfs grootouer lyk.  Dit is dan nie so maklik om die ander mense te oortuig dat die ander jy, jy is nie.  Boonop gaan die anderjy nie noodwendig presies soos jy lyk nie.  Hy/Sy hou dalk van oefen, het heelwat meer / minder letsels as jy hê, gaan in ‘n ander omgewing grootword wat ander omgewingsfaktore tot gevolg gaan hê.

Wat maak die uiterlik tog saak?  Die kersie op die koek is dat die ander jy glad nie soos jy gaan wees nie.  Die mens is maar ‘n produk van karakter en omstandighede.  Die omstandighede beinvloed wie of wat jy op die einde van die dag gaan wees.  Ander jy gaan dalk deur die dagmoeder mishandel wees, die hond gaan hom/haar nie byt waneer hy/sy 3 jaar oud is nie, Sannie gaan nie haar of sy se beste maatjie wees nie ens.

Hier sit jy met ‘n ander jy, wat eerstens hopeloos te laat gaan opdaag, hopeloos te jong gaan wees, wat nie op ‘n druppel water soos jy lyk nie en wat boonop nie soos jy gaan dink of redeneer nie?  Waar laat dit jou?  Met ‘n pyn in die agterwêreld natuurlik.

Goed-goed, ek hoor ek is te tegnies.  Jy gaan net ‘n fotostaat van jouself maak wat dadelik net so slim en oulik soos jy gaan wees.  Wat gaan jou eerste opdrag aan die ander jy wees?  Hoe gaan jy die ander jy aanwend?  Hoeveel ander jy’e gaan daar wees?  Hoe seker is jy dat die ander jy gaan doen wat jy sê?  Erger, hoe gaan jy seker maak die ander jy volg nie ook ander mense blindelings nie?

Breinvasbrand:  Wat was Suid-Afrika se eerste gekloonde kalfie se naam?

Breinlosbrand:  Demoerin was reg met Basalt klippe.





Mediese Martel

7 02 2011

Het julle al opgelet hoe word kinders wat mediese dokters word altyd in stories of boeke beskryf?  Dit gebeur soms ook in die geval waar ‘n dokter se kinder jare beskryf word.  Hulle is blykbaar altyd aan die werk om diertjies te opereer en te ontleed.  Sadisties, as jy my vra, maar dit is beslis ook nie net blote toeval nie.  Hulle word mediese dokters om hulle sadistiese neigings in vrede en welvaard voort te sit.

Julle glo my nie?  Regtig, as hulle nie agter ‘n titel weggekruip het nie, was hulle aanklabaar vir verskeie misdade.  Sommige sou growwe oortredings van basiese mense regte wees.  Boonop betaal jy hulle baie goed om jou te steek, sny, ruk en pluk soos hulle lekker kry.  Geen wonder almal wil so graag ‘n sadis . . . bedoel dokter word nie.

Eerstens mag ‘n dokter jou in die gesig vroetel soos hulle lekker kry.  Hulle mag jou vertel dat jy dik is of dat jou vel in ‘n toestand is.  Hulle kan jou lewenswyse bevraagteken, kritiseer en veroordeel.  Doen ‘n gewone mens dit, kan hulle ‘n klag van naamskending in die gesig staar.  Hulle mag soveel van jou bloed vat as wat hulle lekker kry.  As ek iemand lukraak gaan laat bloei, gaan ek van aanranding aangekla word.  Hulle kan sommer vir nog ekstra geld naalde in jou druk, jou met ‘n mes bykom of sommer net rondstamp en seermaak ook.

Dit is nie al nie.  Deesdae mag jy nie eers sê iemand is mooi sonder om vir teistering aangekla te word nie.  As jy egter ‘n goue plaatjie het wat verkondig dat jy ‘n dokter is, mag jy betas soos jy lekker kry.  Net waar jy goed dink en die pasient kan nie kla nie.  Jy kan selfs, veral as jy jouself ‘n ginekoloog noem, die pasient teen volle betaling verkrag.  Hulle kan kla, maar moet dit net verduur.  Daar is mos een of ander mite dat dit goed is vir hulle.

Selfs oorlogsmisdadigers het meer regte as die gewone pasient.  Een of ander sadis het mos ‘n allergie toets ontwikkel.  Dit behels basies dat jy stukkend gekrap word en goed in die wonde geplaas word om te sien wat die ergste reaksie veroorsaak.  Die mediese personeel kan jou selfs elektriese skokke toe dien soos dit hulle behaag.  Die sogenaamde tandartse boor selfs in jou soos ‘n normale mens in ‘n muur boor.  Om van dokters wat sommer ‘n naald in jou oog druk nie te praat nie.  In enige ander veld word dit martel genoem, waaroor die hof in Den Haag nogal kwaai frons.

Die mediese bende skroom nie eers om jou heel-heel basiese regte te ontneem nie.  Die minste is seker dat hulle van jou verwag om op bestelling te piepie (of te ‘melk’ as jy ‘n man is).  Persoonlik is my blaas nie so inskinklik soos ek nie.  Hulle verwag van jou om allerhande mengsels te drink en selfs vreemde voorwerpe te sluk.  Niemand sal tog ‘n vinger na hulle wys nie.

Dit is nie net onregverdig nie, dit is mishandeling van die laagste graad.  Het ek al genoem jy word nie net uitgebuit nie?  Nee, nee, NEE!!  Jy betaal om soos afval behandel te word.

Breinvasbrand:  Wat word ‘n voet dokter genoem?

Breinlosbrand:  Olga was reg met weduwee Douglas.