Buksie Kordaat

15 02 2015

Buksie Kordaat is ‘n gemmer mannetjies kat wat saam met Mamma Tessa en Pappa Stefan bly.

Pappas sê gewoonlik dat Buksie die luiste kat is wat hy al ooit gesien het. Buksie laat hom nie so in die gesig vroetel nie. Dit is harde werk om ‘n kat te wees en Buksie moet rus wanneer hy die kans kry. Sodoende het hy genoeg energie om al sy pligte na te kom.  Buitendien, dit is nie asof Pappa al die katte in die wêreld al ontmoet het nie.

Elke dag moet Buksie vroeg opstaan sodat hy vir Mamma en Pappa uit die bed kan haal. Wanneer een van hulle die deur oopmaak, moet hy gou kyk dat niemand plante of buite goed deur die nag gesteel het nie. Sodra dit afgehandel is, moet hy eers seker maak dat Mamma en Pappa se kos nie vergiftig is nie. Pappa kla altyd daaroor, maar as Mamma wegkyk, gee hy altyd vir Buksie nog ‘n happie.

Buksie moet seker maak dat Mamma mooi agter haar ore was. Hy moet ook seker maak dat Pappa sy sokkies in die wasgoedmandjie gooi as hy gaan stort. Eintlik moet Buksie ook seker maak dat Pappa sy ore was, maar Buksie hou nie daarvan om nat te word nie. Daarom sing hy maar eerder buite en jaag Pappa aan.

Wanneer Mamma en Pappa reg is vir werk, gee hulle Buksie sy ontbyt. Na al die moeite wat hy vir hulle doen, sal hulle nooit eerste sy kos proe nie. Nie dat dit Buksie pla nie. Hy hou nie daarvan om sy kos te deel nie.

Na ontbyt is dit tyd vir Buksie se oggendslapie. Die vrou wat die huis skoonmaak en regpak maak hom gewoonlik wakker met die stofsuier. Dan moet Buksie seker maak dat sy nie halwe werk doen nie.  Soms raak sy kwaad vir hom en wil hom met die besem slaan, maar hy is te rats vir haar. Buksie proe nie haar kos vir gif nie, sy is mos lelik met hom.

Sodra die huiswerker weer onthou het wie die baas van Arendlaan 9 is, is dit tyd vir Buksie Kordaat se rondtes. Hy herinner eerstens die voëltjies dat hulle nie die tuin moet verwoes nie. Partykeer jaag Buksie hulle rond. Hy wil mos nie ‘n vet kat word nie, dus moet hy sy oefening inkry. Buksie gaan kyk wat die tannies in die ander huise doen, sodat hy vir Mamma alles kan doen. Af en toe sal hy die ander katte se kos proe, maar sy kos proe soveel beter.

Buksie moet ook met die wyfie katte flikflooi. Sy regte naam is mos nie verniet Casanova, Koning van Harte nie. Die wyfies sit al van vroegdag hulleself mooi maak vir Buksie. Hulle is mal oor die sjarmante Buksie wat so mooi en sag met hulle werk. Buksie kan net ‘n kort rukkie met die meisies kuier en dan moet hy huistoe jaag om inspeksie te doen van die werk wat die bediende gedoen het. Hy maak ook sommer seker dat sy nie steel wanneer sy huistoe gaan nie.

Buksie rus dan eers weer ‘n bietjie voordat Mamma en Pappa huistoe kom. Hy moet dan saam met Mamma sepies kyk terwyl sy hom vryf. Buksie vertel Mamma al die skinderstories terwyl sy kos maak. Hy proe eers weer net om seker te maak dat dit eetbaar is en gaan speel dan buite.

Mamma vertel altyd vir Buksie dat Pappa vet raak. Daarom laat Buksie altyd vir Pappa rondhardloop wanneer hy Buksie roep om te kom slaap. Buksie hol vinnig by die huis in en spring saam met Mamma op die bed as Pappa moeg gehardloop is. Pappa sluit dan toe en raas altyd omdat Buksie op die bed is. Buksie laat hom nie so beledig nie en hy spring altyd af voordat Pappa hom kan afgooi. Hy gaan eet dan eers weer van sy kos en verjaag al die muise wat hy sien. Hy vang die goggas wat hy sien en soms sing hy vir Mamma en Pappa. Nie te veel nie, hulle is te ondankbaar daarvoor.

Wanneer Buksie moeg is, gaan lê hy tussen Mamma en Pappa om te slaap. Pappa vergeet gewoonlik dat Buksie nie op die bed mag wees nie. As dit koud is, maak hy vir Buksie die komberse oop om lekker knus te slaap.

Soos julle kan sien, wat Buksie Kordaat maar ‘n bedrywige kalant. Sy prioriteite was egter bo verdenking. Buksie het altyd tyd gehad om nuwe maatjies te maak. Eendag sien hy ‘n groepie seuns besig om teiken te skiet.

Buksie het op die muur gespring om vir hulle “Hallo” te sê. Die seuns was heeltemal ongepoets. Toe hulle vir Buksie sien, toe wou hulle nie meer teiken skiet nie. Hulle het op Buksie aangelê. Buksie het eers gedink hulle maak ‘n grappie. Soos wat Pappa maak as hy dreig om Buksie te skop. Die seuns het egter ander planne gehad.

Buksie kon nie glo dat hulle hom wou skiet nie. Gelukkig het hulle almal mis geskiet. Buksie het hulle met veragting aangekyk en weggeloop. Maar toe skiet een van die niksnutse weer en tref vir Buksie in die boud. Buksie het hard geskree en het toe sukkel-sukkel huis toe gedraf. Hy het diep gaan wegkruip en sy been probeer gesond lek. Dit was vreeslik seer.

“Buksie?” het Mamma geroep toe sy huistoe kom en Buksie nie kom hallo sê nie. Buksie het dieper weggekruip. ‘n Kat het darem sy trots. Hy kan nie vir Mamma wys dat hy soos ‘n babatjie huil omdat die stoute seuns hom geskiet het.

Mamma het egter bloed op die vloer gesien en dit het haar reguit na Buksie gelei.

“Het jy alweer ‘n muis gevang?” het Mamma kwaai gevra.

Buksie het maar eerder gemaak of hy slaap. Sy been het gepyn en sy kop was seer. Hy was nie nog lus om raas te kry nie. Mamma het gesien waar hy wegkruip en sy het hom uit die kas se hoek gehaal.

Buksie kon nie help om te skree toe Mamma aan sy been vat nie.

“Wat is fout, Seuna?” vra Mamma bekommmerd.

Sy het Buksie se been saggies gevat en toe sy sien dat hy geskiet is, het sy vreeslik kwaad geword. Amper soos wanneer Buksie sy sand uit die bak krap, net baie kwater.

Sy het vir Buksie in sy mandjie gesit en dadelik na die Tannie-Dokter gevat. Pappa het vir hulle gewag by die veearts. Hy het vir Mamma vertel dat hy die polisie gebel het. Die Tannie-Dokter het vir Buksie ‘n inspuiting gegee en toe het hy aan die slaap geraak.

Teen die tyd toe Buksie weer wakker word, was hy in ‘n hokkie, sy been was met ‘n verband toegemaak en hy het soos ‘n blommetjie gelyk met ‘n skulp om sy kop. Die Tannie-Dokter het gesien hy is wakker en het hom uit die hokkie gehaal.

“Jong, jy is gelukkig, Buksie Kordaat. Jy het ampertjies een van jou lewens ingeboet. Een van die dae is jy weer katjie van die baan.” Het die Tannie-Dokter gesê voordat sy Pappa laat roep het.

Pappa het dat Buksie op sy skoot huis toe gery. By die huis het hy Buksie op die bank gesit en Mamma het vir Buksie lekker vis gegee om te eet. Daardie aand het Pappa vir Buksie gevryf terwyl hulle TV gekyk het. Mamma het vir Buksie in die bed gesit en Pappa het nie eers gekla nie.

Buksie se been het vinnig gesond geword en kort voor lank het hy weer sy pligte nagekom. Hy was nie bang nie, maar hy het besluit dat seuns nie meer waardig vir sy aandag was nie. Dit was nie asof hulle dit waardeer het nie. ‘n Kat laat hom nie deur ‘n spul kwaadjonges vermaak nie. Hy het darem sy standaarde.

Helaas, die seuns was smoorkwaad vir Buksie. Nie net het die Polisie die gewere gekonfiskeer nie, maar hulle moes ook al hulle sakgeld gee vir Buksie se mediese onkostes. Hulle het gesweer dat wanneer hulle vir Buksie gaan vang, gaan hulle hom afslag.

Eendag kry hulle vir Buksie in ‘n hoek vasgekeer. Daar was ‘n elektriese heining en Buksie kon nie ontsnap nie.

“Nou het ons jou, Helskat!” het die grootste seun gesê en sy vingers geknak.

Een van die ander seuns het sy mes uitgehaal.

Twee van die seuns het vir Buksie probeer vang, maar Buksie was nie ‘n kat wat jy sonder handskoene kon aanvat nie. Hy het sy ruggie kromgetrek, vir die seuns geblaas en sommer vir ekstra skop ‘n klap gegee. Die seuns het verskrik agtertoe gespring.

Buksie mag nou wel net ‘n gemmerkat gewees het, maar hy hou niks van boelies nie. Toe die seuns hom wou slag, het hy ‘n groot leeu geword. Terwyl die seuns van die leeus probeer weghardloop het, het hulle in muise verander.

Dit het Buksie – verskoon my; Buks – nie lank gevat om hulle te vang nie. Hy het hulle aan hulle sterte opgetel en voor sy bek rondgeswaai.

“Asseblief. Moet ons nie doodmaak nie.” Het die muisies gehuil.

“Gaan julle ooit weer katte probeer seer maak?” het Buks gebrul.

“Nee! Nooit ooit weer nie.” Het hulle belowe.

“Wat van ander diere?”

“Nee, nee! Ons sal nooit weer iets of iemand seermaak of boelie nie.” Snik die muisies.

“Julle beter nie!” grom Buks. Hy het die muise neer gesit en die muise het stadig weer seuns geword. “Volgende keer eet ek julle op.”

Die oomblik wat die seuns weer hulle lywe terug gekry het, het hulle weggehardloop. Buks het weer sy gewone self geword en hy het agter die seuns aangehardloop om sy punt te bewys. Die seuns het verby ‘n groep kinders gehardloop. Die kinders het hulle uitgelag omdat hulle vir ‘n kat weghardloop. Hulle het ook nie van die seuns gehou nie. Hulle was boelies wat lankal op hulle plek gesit moes geword het.

Buksie het vir hulle tong uitgesteek en hy het ‘n rukkie met die ander kinders gespeel. Buksie is toe huistoe waar hy vir Mamma en Pappa gewag het.

Die seuns het word gehou. Hulle het nooit weer iets of iemand seer gemaak nie. Maar hulle het van daardie dag altyd hulle broeke natgemaak as hulle ‘n kat gesien het.

Dit is die lot van mense wat diere seermaak. Dit is mos net die dapperes wat diegene beskerm wat nie hulleself kan beskerm nie.

Fluit fluit.





Die Nat Vadoek

10 05 2012

Ek het ‘n paar dae terug die uitdaging gegee en hier is my poging.  Ek het probeer om vir ‘n verandering ‘n ligte liedjie met ‘n ligte storie te kies.  Laat weet maar wat julle dink.

*************************

Die trein kom tot stilstand en die mense peul uit.  Vandat Reynders & Jantjies hulle werknemers se treinkaartjies borg, doen niemand juis meer moeite om hulle motors middestad toe te sleep nie.  In sy haas om die trein te verlaat loop Frederik amper die fyn, donker dametjie uit die pad. 

“Jammer.” Mompel hy beskaam en storm dan na waar Reynders & Jantjies se Shuttle bussie wag.  Tot sy verbasing kom die petite poppie ook in daardie rigting.  Nou waarlik, daar klim sy ook in die bussie.  Dit is nou maar ‘n maand wat Frederik by Reynders & Jantjies werk, maar dit is die eerste keer wat hy die meisie sien. 

“Wie’s dit?” pomp hy vir Nelius in die ribbes en beduie na waar sy voor sit.

“Nat Vadoek.” Antwoord Nelius en bepaal sy aandag dadelik by sy iPhone.

“Jinne, Boet.  Is jy blind?  Jy kan tog nie dink jou iPhone is interessanter as die lekker stukkie daarvoor nie?” vra Frederik uit die veld geslaan. 

“Vergeet van haar, Frederik.” Grinnik Nelius.  “Sy val nie vir ouens van vlees en vloed nie.  Sy praat nie ‘n dooie woord met iemand nie en hou haar vreeslik hoogmoedig.  Sy sal nooit ‘n doppie saam met ons drink nie en sal ook nie een minuut oortyd werk nie.  Sy is vandag laat, dit het seker langer as gewoonlik geneem om haar hare gisteraand te was.”

Frederik wil nog meer uitvra oor haar, maar die bussie is al reeds by die kantoor en daar is ‘n wavrag sake wat vir hom wag.  Hy sal maar later moet ondersoek instel.  In die volgende paar dae vind hy uit dat die Nat Vadoek eintlik Nina Vorster heet.  Sy sit iewers in ‘n hoekie en werk met akte en goed.  Almal verseker hom dat daar nie veel meer van haar is om te weet nie, sy is maar net so vaal soos haar werk. 

Frederik probeer om haar weer onder oë te kry, maar sy is soos ‘n spook wat hom bly ontwyk.  Hy probeer vroeër werk toe kom, maar nogtans het hy weinig geluk.  Sy wys nooit haar gesig in die restaurant nie, sy woon nooit personeel vergaderings by nie, hy is nie eers seker waar haar kantoor is nie.  Die gespottery oor sy belangstelling het gou genoeg ‘n einde gebring aan sy uitvraery.  Tyd sal wel moet leer.

“Hey, Frederik!”  roep een van die meisies hom met etenstyd nader.

“Ja, Bianca.” vra hy goedig, hy is ‘n man wat die skoner geslag geniet. 

“Wil jy saam gaan ballet toe?” vra sy guitig.

“Ballet!” trek hy ‘n gesig.

“Ja man!” lag sy hom uit.

“Ek weet nie, Girls.  Ballet is nie eintlik my ding nie.”  probeer hy hom uitdraai.  Die res van die ouens staan juis en bid dat hy vir hulle uitkoms moet gee.

Sandra tree laggend toe tot die stryd:  “Komaan, Outjies.  Ons vra julle om saam met ons te gaan kyk, nie om ‘n tutu aan te trek en self te gaan dans nie.”

“Dit is by die Nelson Mandela Teater, ons het manlike beskerming nodig.” verdedig Petro die versoek. 

“Buitendien, die girls is gewoonlik baie skram geklee.” probeer Bianca hulle verder uitlok. 

“Klink amper na ‘n wen-wen situasie.” begin Nelius bres gee. 

“Amper is nog nie stamper nie!” gooi  Derek wal. 

Frederik kan nie help om te grinnik nie.  ‘n Kamer vol prokureurs en dit is die beste argumente waarmee hulle vorendag kan kom. 

“Derek, man, dink net.  Elkeen van ons gaan twee meisies aan ons sy hê.  Hoe dikwels kan jy twee girls uitneem met hulle toestemming.” terg hy die groot rugbyman goedig.

“Speak for yourself, Boet.  Ek is getroud.” brom Derek.

“Nou, dan sal jy 3 vrouens moet oppas of by die huis moet bly sodat ons ridders kan speel!” bulder Nelius.

“So dit is afgespreek?”vra Petro.

“Seker maar.” antwoord Maurice, heel ingenome met die vooruitsig.  Dit is nie of vrouens tou staan om saam met hom uit te gaan nie. 

“Waarna gaan ons kyk?” vra Derek oorwone met ‘n oordrewe sug.  “Swan Ocean of so iets?”

“Nee man, Tjop!” betig Nelius hom.  “Swan Lake.  Jis, die girls sal dink ons is te stupid vir kultuur.”

“Jammer om julle teleur te stel ouens, maar dit is ‘n Proudly South African Ballet.  Die primadonna het dit blykbaar self geskryf.” antwoord Sandra hulle half ingedagte, klaar besig om aan die bespreking te dink. 

“Plaas sê julle ons gaan eintlik sirkus toe.” lag Frederik.  “Alles wat deesdae geskryf word draai mos om politiek.” 

“Sirkus of nie, die stuk word baie hoog aangeskryf.  Daar is sprake dat hulle moontlik internasionaaldaarmee gaan toer.  So, hoeveel kaartjies moet ek kry?” vra Sandra. 

Onder die gedruis van stemme probeer Frederik aan ‘n manier dink hoe hy die Nina kan betrek, maar hy sien nie kans om voor al die meisies uitmekaar geskeur te word nie. 

“Lyk my almal gaan, tot die baas!” kondig Bianca bly aan.

“Almal, behalwe die Nat Vadoek.” beaam Jessica. 

“Sal ons haar vra?” wonder Nadia.

“Ek het reeds.” antwoord Sandra.  “Sy sal dit ongelukkig nie kan bywoon nie.”

“Jis, het jy die Vadoek iets gevra en dit oorleef?” vra Maurice.

“Ja, man.  Sy is glad nie so erg soos julle dink nie.  Sy is eintlik baie oulik.” lag Sandra.

“Vriende, dit is dan bevestig.” kondig Nelius vernaam aan.  “Die Nat Vadoek bat vir die ander span.” 

Sandra frommel ‘n stuk papier op en gooi dit na hom.  “Sy dalk, maar ek nie.  Nee, regtig ouens, sy is nie te onaardig as jy haar leer ken nie.”

“En JY ken haar?” vra Petro sarkasties.

“Nie eintlik nie.” gee Sandra toe.  “Net hier en daar ‘n bietjie met haar gepraat.” 

Daarmee moet Frederik maar tevrede wees.  Plig roep in elk geval en almal moet weer hulle geld gaan verdien. 

‘n Paar dae later tref die geluk Frederik.  Toe hy op die trein klim sien hy haar en daar is sowaar ‘n sitplek langs haar oop.  Sy is besig op haar iPad en kyk nie eers op toe hy langs haar gaan sit nie. 

“Hallo, ek is Frederik.” stel hy homself voor.  “Frederik Pienaar.  Ek werk ook by Reynders & Jantjies.”

Sy kyk gesteurd op, maar antwoord hom tog.  “Nina Vorster.”  Sy probeer ‘n gaap onderdruk en bepaal weer haar aandag by die iPad. 

“Bly om jou te ontmoet.” grinnik hy en steek sy hand uit. Sy bloos liggies, maar lê dan haar eie fyn hand in sy grote. 

Sy is skaam en nie hoogmoedig nie dink hy bly.  Hy weet nie eintlik wat om met haar te praat nie.  Die stilte is egter nie hinderlik nie en hy is bly dat sy darem nie ander sitplek gaan soek nie.  Hy gaan sit weer langs haar op die bus.  Die keer laat die gaap hom nie onderdruk nie.

“Lang aand?” vra Frederik belangstellend.

“Nogal!” antwoord sy, maar brei nie verder uit nie. 

Noudat hy weet watter trein sy neem, raak dit makliker om gereeld in haar vas te loop.  Sy moedig nooit geselsies aan nie en bly eintlik afsydig.  Tog sal sy altyd beleef antwoord wanneer sy aangespreek word.  Die Vrydag oggend kom plons hy weer langs haar neer. 

“Hallo Frederik.” groet sy hom vir die eerste keer uit haar eie uit.

“Hallo Nina.”  Die klein blykie van toegeneentheid laat hom die vraag vra wat al lank in hom huiwer.

“Ons gaan almal moreaand na die ballet in Johannesburg.  Wil jy nie saam met ons kom nie.” vra hy hoopvol.

Sy gaap eers voordat sy antwoord.  “Dankie vir die uitnodiging, maar ek het ongelukkig reeds ander planne.” 

“Wat van ‘n ander aand dalk?”  probeer hy weer. 

“Soos ek verstaan sluit die ballet moreaand.” antwoord sy sonder om van die iPad op te kyk.

Vervlaks dink Frederik.  Net sy geluk.  Dan tref dit hom dat sy nie regstreeks nee gesê het nie.  Net dalk stel sy tog so effentjies belang. 

“Ons hoef nie noodwendig na ‘n ballet te gaan nie.  Wat van ‘n ander opvoering of dalk net ‘n fliek.”

“Dit klink lekker, maar ek gaan van volgende week af op langverlof.” antwoord sy blosend.

Voordat Frederik egter kans het om haar oor die verlof uit te vra, kom die trein tot stilstand.  Nelius is op die bussie en dadelik kruip sy terug in haar dop.  Nelius eis sonder meer vir Frederik op om oor die volgende aand se vervoerreëlings te praat. 

Dit is skoon ‘n aardigheid om soveel karre by die kantoor te sien die volgende dag.  Bianca en Sandra eis Frederik vir hulle self op.  Die baas het goedgunstelik die shuttle vir die aand aangebied en daar is net ‘n paar ekstra karre nodig. 

Die luidrugtige groepie kry ‘n paar kyke, maar toe die ligte verdoof begin hulle darem soos beskaafde mense met ‘n tiksel kultuur optree.  Tot Frederik se verbasing geniet hy dit nogal.  Hy het nie regtig geweet wat om te verwag nie, maar die musiek klink nie vir hom na ‘n kattebasaar nie.  Die dansery is alles behalwe vervelig, selfs Derek se mond hang oop. 

Tydens die interval probeer die mans hulle self nie eers as macho voordoen nie.  Die aand is ‘n reuse sukses. 

“Sandra, jy sê dit is local girls daardie?” vra Maurice.

“Ja.” antwoord sy ingenome. 

“Jinne, ek wonder of mens hulle kan date.” vra Nelius.

“Hou jou in.” betig Bianca.  “Hulle is in elk geval oppad Rusland toe.”

“Hulle name. Ek sal nie ‘n oog kan toemaak as ek nie hulle name ken nie.” sug Nelius.

Laggend leun Frederik oor en leen die program van die tannie wat langs hom sit.  Sy leen dit goedgunstelik vir hom, waar dit dadelik deur Nelius afgevat word.  Amper koorsagtig begin hy die na die dansers se name soek. 

“Ah!  Hier is dit.” kondig hy aan, maar Maurice het nie tyd vir formaliteite nie en hy steel die program.

“Tiaan Scholtz, Pete –“

“Nee, jou Tjop!” teken Nelius beswaar aan.  “Nie die moffies nie, die girls.  Veral die hoofdanser.”

“Ballerina.” wys Petro hom tereg.

“Hulle is aan die ander kant.” keer Maurice.  “Nina Vorster, Tanya – “

Weer word hy hard en duidelik geonderbreek.

“Wat?” vra die meisies.

“Wat nou” vra Derek. 

“Dit is die Nat Vadoek.” spel Petro dit uit.

“Onmoontlik!” besluit Bianca.  “Sy het dit nie in haar nie.  Sy kon nie dit geskryf en gechoreografeer het nie.”

Frederik voel hoe sy mond droog word en sy kop begin draai.  Genadiglik verdoof die ligte en bring ‘n einde aan die gestryery.  Dit maak perfek sin.  Sy werk nie oortyd nie, want sy moet oefen.  Sy kuier nie saam met die kantoor nie, want sy moet optree.  Sy is soggens moeg, want die optredes hou laat aan.  Net sy geluk!  Om op ‘n hoogaangeskrewe ballerina verlief te raak. 

Die tweede helfte verbeel hy hom dat sy net vir hom dans.  Dat hy die vlerke aan haar voete is.  Watter sot is hy nie om haar nie dadelik te erken nie.  By hom is daar geen twyfel nie.  Dit is sy. 

Na die vertoning is dit ‘n stryd om sorgloos voor te kom.  Is ballerinas nie veronderstel om handtekeninge uit te deel nie?  Nie dat hy kans kry om uit te vind nie, die ander is haastig om by die huis te kom. 

Die Maandagoggend soek hy haar te vergeefs op die trein.  Sy sit seker klaar in Rusland.  Hy hoop die Russiese mans haat ballet.  Op die bussie word daar nog steeds bespiegel of Nina die mooi Ballerina ook bekend is as Nina die Nat Vadoek.  Niemand merk eers op dat Frederik stiller as gewoonlik is nie. 

Die ontvangsdame roep hom terug toe hy met ‘n halfhartige groet verby haar loop.  Sy hou die A 4 koevert na hom uit wat hy in sy kantoor eenkant op die lessenaar gooi.  Hy sit voor sy lessenaar en trek dan tog die koevert nader.  Hy is tog nie lus om met werk te begin nie. 

Binne is daar daar ‘n getekende foto van ‘n ballerina. 

“Liewe Frederik

Dalk kan ons gaan fliek wanneer ek terug is.

Liefde, Nina”

*************************

As julle nog nie die liedjie geraai het nie, ek het Nina Pretty Ballerina (1973) van ABBA gebruik. 





Een tiran minder

3 05 2012

Donker rogmeel.  Hoe maklik kan dit wees?

Sy gooi die laaste koppie meel in en sien weer sy grysende gesig voor haar.  So trots op homself!  Die genadelose bewaarder van tienersedes.  

Sy gooi ‘n handvol van die rooierige meel in.  Huiwer ‘n oomblik en gooi dan nog ‘n handvol in.  Dit behoort te werk.  Soos die internet belowe het raak dit onsigbaar onder die res van die meel.   

Dit is nou al weke lank die debat op alle sosiale media.  Riaan Mostert:  Beskermer of Monster.  Paar weke gelede was hy genader om ‘n swanger meisie toe te laat om eksamen te skryf.  Hy het haar ouers nie geweier nie.  Wel van haar ‘n voorbeeld in die skoolsaal gemaak en dit het die verwagte rippels veroorsaak op Facebook en BBM.  Almal weet van haar skande, dit is die grap van die jaar.

Sy gooi die gismengsel by en knie dit tot dit glad is.  Dan word dit in ‘n donker hoekie gelaat om te rys.  Sy haal haar handskoene versigtig af en plaas dit sorgvuldig eenkant. 

Sy ken nie die kind nie.  Sy ken nie eers die boelie wat die titel skoolhoof dra nie.  Sy hou net nie van magtige bliksems nie.  Die wat kan maak en breek en dan nog boonop tot helde verhef word nie.  Iemand is tot heks verklaar en tot die brandstapel gevonnis.  Dit gaan dekades neem vir die gloeiende kole om as te word. 

Die minute tik stadig verby.  Dit moet perfek wees anders vou alles plat.   

Magtig beteken nie onbereikbaar nie.  Dit beteken veral nie onaantasbaar nie.  Riaan Mostert gaan nie huistoe vir middagete nie.  In stede daarvan koop hy elke dag ‘n broodjie oppad skool toe.  Altyd dieselfde.  Donker rogbrood met tuna mayonaise.  So voorspelbaar met alles wat hy doen.  Net voor sluitingstyd bring die sekretaresse vir hom sy broodjie en koffie.  Hy doen dan die laaste afkondigings en sluit af met gebed.  Hy geniet middagete en begin dan om deur sy administrasie te werk. 

Sy trek die handskoene weer versigtig aan.  Knie die mengel deur en sit dit in die broodpan.  Sy sal ‘n plan moet maak met die brood wat oorbly.  Die oond is net reg en sy druk die pan in. 

Hy moes boet, voor ‘n volgende kind deur sy grootsheid vernietig word.  Vraag is hoe?  .22 klink ideaal, maar die aankope los baie duidelike spore.  Boonop sou sy moes gaan oefen wat haar nie juis onopsigtelik maak nie.  Boonop laat ‘n .22 geen onduidelikheid oor wat gebeur het nie. 

Die reuk is baie verleidelik.  Jammer Mostert kan nie hier kom staan en kwyl nie.  Hy lyk na ‘n man wie se maag sy hart uitgewerk het. 

Om die luis met haar kar om te ry, laat die beslommernis met paneelkloppers.  ‘n Fisiese aanval sal ook nie deug nie, ‘n groot rugbyman sal vinnig van haar kleingeld maak.  Nee, dit moet skoon, effektief en half per ongeluk wees. 

Sy trek die pan uit die oond en dop die brood uit.  Perfek!  Dit moet nou net eers afkoel. 

Na aande, weke op die internet het die oplossing gekom.  Claviceps purpurea!  Vroeër die uitbraak van vele epidemies, maar deesdae net ‘n interessantheid van die verlede.  Danksy goeie keuring en verwerking, maar glad nie onbekombaar nie.  As jy weet waar om te kyk en sy kon uitvind. 

Sy haal die gekoopte broodjie uit die yskas.  Neem die een helfte en haal dit laag vir laag uit mekaar uit.  Niks moet hom waarsku nie.  Hy moet verdwaas wonder wat hom getref het. 

Lyding is gewaarborg, verlossing nie.  Wanneer hy moreaand alleen in sy herehuis sit, kan uit uitsien na maagwerk, spasms en verlamming.  Dit sal natuurlik vergesel wees van hoofpyn, naarheid en maniese aanvalle.  Goedso, dan kan almal sien dat hy van lotjie getik is.  Dit kan erg genoeg wees dat hy van sy verstand afgedryf kan word.  Van sy ledemate kan gangreen kry wat tot verminking kan lei.  Hopelik is die dosis hoog genoeg dat hy wel die aarde gaan verlaat.  Anders gaan hy hom tog net in ‘n martelaarsrol begewe.  Dit is wat mans soos hy maak. 

Sy sny die brood; dit sal die deug nie.  Dit is skeef!  Die derde poging gee die perfekte winkelbrood snye.  Sy soek die regte kleur blaar in die sak met gemengde blaarslaai.  Sit dit op saam met die vismengsel.  Sy pak dit versigtig in die toebroodjiehouer wat sy so terloops kon neem by die winkel.  Sy het net een plakker, sy beter dit nie opmors nie.  Sy haal diep asem om haarself te kalmeer en plak dit op.  Perfek.  Sy kan maar gaan slaap.

Makliker gesê as gedaan.  Wat as hy more siek is en nie skool toe gaan nie?  Wat as een van die kinders sy laaste maaltyd steel?  Wat as hy vir ete genooi word?  Mense is tog so lief vir gatkruip.  Wat as iemand haar betrap?  Wat gaan sy tog met die res van die brood maak?  Is sy seker daar is geen van haar vinger afdrukke op die pakkie nie?  Sy sal dit more weer moet skoon maak.  Dalk moet sy eerder met die bus ry.  Of gaan daar te veel getuies wees?  Dalk moet sy eerder net alles laat vaar. 

Die volgende oggend kom tog en daarmee die besef dat ‘n tiran nie verdien dat sy een uur slaap verloor nie.  Sy sal maar fietsry, dit is wel ver, maar sy is gelukkig fiks.  By die skool is die hek oop om die leerlinge vir die dag binne te laat.  Sy stap nonchalant die kantoor binne, net een in ‘n miernes van bedrywigheid.  Ongehoord maklik kom sy by die yskas waar sy moeiteloos die broodjie kan omruil.  Stemme in die gang laat haar hart amper staan, maar hulle loop net ongeërgd verby. 

Sy neem haar fiets en ry terug huistoe.  Sy sal moet wikkel as sy betyds vir werk moet wees.  As sy nie haar simpel val vanaf hierdie mal perd nie, gaan sy lank en gelukkig lewe. 

Die volgende oggend is daar niks in die koerante nie.  Dalk het die ergot in die bakproses vernietig.  Dalk was al die spanning vergeefs.  Dalk was dit nie bestem nie en moet sy daarin berus. 

Die oggend daarna basuim al wat ‘n lamppaal is dat die die Hoof van Goeie Sedes dood is.  Sy kan nie vinnig genoeg ‘n koerant koop nie.

Riaan Mostert (43), hoof van Hoërskool Jacob Zuma, is dood in sy huis gevind.  Daar word vermoed dat Mostert aan akute voedselvergiftiging dood is.  Geen gemene spel word verhoed nie. 

Dit het gewerk!  Een minder diktator.  Sy blaai na die volgende bladsy.  ‘n Kinderverkragter wat los gekom het.  Nog ‘n magtige bliksem.  Polokwane registreer sy sy tuisdorp.  Hmmm . . .





‘n Geheim

31 05 2011

Daar is net een probleem met ‘n geheim.  “Vertroulike inligting – hoogs geheim” is dalk ‘n beter uitdrukking.  Die probleem is dat dit dikwels te goed is om vir jouself te hou.  Iemand moet weet hoe betroubaar, uitgesoek en sommer net briljant dit jy is.

Ten spyte daarvan is daar goed wat jy liefs saam met jou graf toe moet neem.  Jy wil nie die “net een persoon vertel” bal aan die rol sit nie en net jou stilswye kan dit verhoed.  So skryf jy maar jou geheim in ‘n boek neer en steek dit sorgvuldig in ‘n verlate grot weg.  Eendag gaan vertroulikheid nie meer saak maak nie, maar daar sal dalk iemand wees wat jou daad kan bewonder.

Ek het die moord van die millennium gepleeg en daarmee weggekom.  Dit voor dosyne professionele fotograwe wat alles in ‘n oogwink aan die media kon uitlap.  Almal dink dit was net ‘n tragiese ongeluk.  Daar word soms beweringe van moord gefluister, maar niemand het dit ooit ernstig opgeneem nie.  Dit is maar net ‘n strooihalm waaraan die desperates geklou het.

Wat ‘n goeie ding is . . . die waarheid is meer bisar as enige fiksie.

My storie begin in 1989.  Ek het nou nie juis ‘n kantoor waarmee gespog kan word nie.  Diskresie is my middelnaam en my kliente waardeer hulle privaatheid.  Solank daar kontant betaal word, respekteer ek dit.

Die nat, mistroostige dag was my klient ‘n dame met ‘n burka gewees.  Haar uitstekende Engels het my nie verstom nie, ek kry dit baie.  Die koudbloedigheid van die dames verbaas my lankal nie meer nie.  Ek verstaan ten volle.  Eeue lank moor mense vir vryheid.

Met ‘n koninglike grasie en selfversekerheid het die dame voor my kom sit.   Ek kon sien hier kom groot geld.

“Ek verstaan jy is die beste huurmoordenaar beskikbaar.” het sy saaklik gesê.

Ek is ook al lankal gewoond daaraan dat daar nie doekies omgedraai word as my dienste benodig word nie.  Waar daar in die wêreldmagte se raadsale rondom die punt gedans word, is daar nie tyd vir mooi praatjies wanneer jy my vir jou vuil werk soek nie.

“Ek soek ‘n 50% deposito voordat jy een woord verder sê.  Die res is betaalbaar wanneer die taak voltooi is.” Het ek bruusk geblaf.

“Nie wat ek in gedagte gehad het nie.” Het sy geantwoord.

“Jammer Dame, hier speel ons volgens my reëls.” Ek het sommer ook opgestaan om haar die deur te wys.  Die beste in die besigheid is nie juis verleë oor bones nie.

“Jy maak ‘n fout, Meneer.” Het sy skouers opgehaal.  “Dit is my manier of die hele MI 6 is binne sekondes hier.  Jy is natuurlik welkom om dit te toets, maar dan sal ek na die tweede beste moet gaan soek.  Dit sal ‘n jammerte wees.”

Ek is nie die soort wat my deur ‘n gemaskerde teef aan die neus laat lei nie, maar ek was ook al lank genoeg in my veld om te weet dat enige iets moontlik is.

“Moenie my dreig nie!” het ek geknor, maar self geweet dat ek uitoorlê is.  As ek saam speel kon ek dalk weer die wenhand kry iewers.

“Ek sal jou vooruitbetaal vir jou dienste, ek verstaan jy is ‘n man wat hou by wat jy voorgeskryf is.” Het sy ongestoord voorgegaan.

Ek het belangstellend vorentoe geleun en gevra wie die teiken is.

“Ek” het sy kalm geantwoord.

“Ekskuus?” Julle moet verstaan, ek is ‘n huurmoordenaar.  Nie iemand wat sterwendes uit hulle lyding verlos nie.

“Ek.  Natuurlik nie vandag nie, maar wel voordat dit te laat is.”

“U sal moet verduidelik.” Het ek gefrons.

“Marilyn Monroe sal altyd ‘n legende wees.  Een van die redes daarvoor is dat sy nooit ooit in die publieke oog oud geword het nie.  Sy is met haar jeugdige gelaatstrekke verewig.  Juis daaroor sal sy nooit vergeet word nie.  Ek wil dieselfde doen.”

Ek kon nie help om die sarkasme krane oop te draai nie.  “Dame, u weet dat Marilyn Monroe bekend was voor haar afsterwe?  ‘n Tragiese dood maak u nie summier ‘n legende nie.”

“Dit is my afdeling, nie joune nie.” Het sy my koel meegedeel.

“Hoekom pleeg u nie net selfmoord nie?”

“’n Selfmoord gaan van my ‘n tragiese figuur maak.  Ek wil as die Koningin van Harte verewig word en dit sal ek nie kan regkry as mense dink ek het ineengestort nie.”

“Wat verwag u van my?”

“Ek verwag dat u my betyds moet doodmaak.  Voordat Moeder Natuur haar tol eis, maar op so ‘n manier dat die wêreld dekades lank oor my sal treur.  Ek wil verewig onthou word en daarmee moet jy my help.”

Terwyl sy praat sit sy ‘n tas op die tafel neer, knip dit oop en swaai die inhoud na my toe.

“Ek neem aan dit sal genoeg wees.  Ons kan die bedrag jaar na jaar opstoot, tot die tyd ryp is.”

“Wanneer sal die tyd ryp wees?” van alles wat ek al in my lewe moes gedoen het, het die een die koek gevat. In enige ander beroep sou ek ‘n boek daaroor kon skryf.

“Jy sal weet.  Solank ek in die publiek se goeie boekies is en ‘n goeie lewe gehad het.”

“Ek is nie heldersiende nie, Mevrou.  Ek moet darem seker weet wanneer u gereed is en waar om u te kry.”

Die dame lag eers honend en haal dan die burka af.  “Almal weet wie ek is en elke koerant basium uit waar ek is.”

Een kyk na haar blonde hare, steeds netjies nadat die burka af is en haar baba blou oë en ek moet haar gelyk gee.  Ek bevind my in die teenwoordigheid van een van die bekendste, gewildste en geliefste mens op aarde.  Een wat geroem word oor haar liefdadigheids werk in teenstrydigheid met die koue vrou wat ek leer ken het.  Een wat inderdaad die hele MI 6 in ‘n oogwenk op my kan sit.

“U majesteit.” Stotter ek verleë

“Die eintlike term is ‘U hoogheid’, maar dit daargelaat.  Ek neem aan u aanvaar die aanbod?”  Nog voordat ek kan antwoord, was sy by die deur uit.

Ek het nooit gehoor hoe sy van my te wete gekom het nie.  Getrou aan haar woord is my voorskot jaar na jaar verhoog, sonder dat ek weer met ‘n besoek vereer is.  Om my werk na behore uit te voer, moes ek elke tydskrif, elke koerant en elke biografië van haar my eie maak.

Af en toe wanneer ek dit die minste verwag het ek ‘n oproep gekry, sommer net ‘n bevestiging van die ooreenkoms tussen ons.  Hoe leër die uurglas geloop het, hoe kouer het my voete geraak.  Mens bestudeer nie iemand so lank in soveel besonderheid sonder om iets te voel nie.  Die meeste van my teikens het afsku en woede ontlok.  Sy het niks gedoen wat ‘n teregstelling regverdig het nie.

Later het ek van desperaatheid gedreig om media toe te gaan.  Dit was met die minagting behandel wat dit verdien het.  Wie sou my ooit geglo het?  Tussen al die ander spekulasies sou dit gou vervaag het in die lig van ‘n nuwe skandaal.  Nie dat enige skandaal ooit haar onskuld kon besoedel nie.

Die eerste keer wat sy ontevrede was met my diens was kort na haar egskeiding.  Ek het gevoel dat daar nog soveel is wat sy kon doen, maar sy het gevrees dat haar status daarmee heen is.  Ek was bekommerd oor haar twee jong seuns.  Sy het my verseker dat sy ‘n gesonde grondslag gelê het en dat hulle alles het waarvoor ‘n kind kan smag.  Die oppassers het hulle meer gesien en gehelp as wat sy.

Daar was die keer wat sy by haar berader ‘n ineenstorting gehad het.  Sy was woedend vir my dat ek toegelaat het dat sy die vernedering moes smaak.  ‘n Paar dae later het die woede oorgewaai na ‘n besoek aan ‘n landmynkamp waar ‘n paar foto’s met slagoffers weer harte gewen het.  Dit het egter die patroon van die laaste paar jaar geword.  Sy het gevoel dat sy op die afdraende pad is, maar ek het geweet sy sou weer hoër kon uitstyg.

In 1997 het ek weer ‘n oproep ontvang.  Soos altyd was dit nie nodig dat sy haarself moes identifiseer nie.

“Jy moet nou ‘n plan maak, die kontrak sal nie weer verleng word nie” het sy moeg gesê.

“Wat van jou kinders” het ek weer die holruggeryde, maar tog effektiewe verskoning probeer gebruik.

“Ek is besig om vir hulle ‘n verleentheid te word.  Ek wil eerder weg wees voordat hulle hulleself vir my kan skaam.”

“Ek dink nog steeds dit is drasties – “

“As jy dit nie wil doen nie, sal ek iemand anders kry”.  Ek kon hoor dat sy haar vererg het en het in gegee.  Ek was al jare terug betaal gewees en ek kon dit net so wel afhandel.

“Wanneer?”

“Net wanneer jy wil, maar verkieslik wanneer ek in die buiteland is.”

Dit was die laaste keer wat ek met haar gepraat het.

As ‘n laaste guns aan haar, sou ek die blaam vierkantig op die skouers van die papparazzi plaas.  Ek sou my een man moes opoffer.  Oor die pierewaaier saam met haar was ek minder bekommerd.  Sover ek kon vasstel het hy min gedoen buiten suurstof steel.

Ek het geweet die aasvoëls sou op hulle toesak die oomblik wat hulle die restaurant verlaat.  Natuurlik het my man alles in die stryd gewerp om hulle af te skuld, maar dit was soos verwag te vergeefs.  In die tonnel van die Pont de l’Alma pad in Parys het hy teen ‘n hoë spoed teen die versperring vasgejaag.  Niks meer was nodig nie.

In die vroeë oggend ure van Sondag, 31 Augustus 1997 het ek my eienaardigste opdrag afgehandel.  Die Koningin van Harte was weer aan die toppunt van die gewildheidsleer.  Die wêreld was in rou gedompel en sy is verewig in almal se harte vasgemessel.

Die hartseer het vergaan, maar die gedagtenis aan haar het nie.  Elke mylpaal wat haar seuns bereik, onthou die aardlinge haar weer.  Sonder skande en pragtig soos wat sy nou altyd sal wees.

(Die storie is heeltemaal fiktief, hoewel daar ooreenkomste met die waarheid is.)





Foto van die week

7 05 2011

Sommer net een van my foto’s waaroor ek mal is.  Wat dink julle?





Aan die Neus Rondlei

8 10 2010





Groot Skoene om te vul

1 08 2010

Almal ken die uitdrukking van groot skoene wat gevul moet word.  Die lewe is ‘n proses om jou spore agter te laat.  Sommige spore is op sand en waai weg.  Ander is in modder waar dit vir ‘n tyd sigbaar sal wees, maar tog sal vervaag.  Min spore is op sement waar dit verewig sal word.  Die bewys van waar jy was en wat jy bereik het.

Vraag is:  Gaan iemand eendag jou skoene kan vul?  Of gaan dit te groot wees om ooit te vul?

Breinvasbrand:  Vir watter skoene is David Kramer bekend?

Breinlosbrand:  Olga was reg met global positioning system.





Michael

25 07 2010

‘n Blonde kleuter in nood
Micheal
Lang, swart, onversorgde naels
Afskeepskind
Blou bloedbelope ogies
Dood
‘n Broodjie in handjies saamgepers
Te min
Groot mense wat al weer nie help
Versaak
‘n Dag in die dieretuin
Useless
Hoe voel jy vandag?
Kwaad!





O die donkie

2 05 2010

Die donkie is voorwaar ‘n wonderlike ding
Een wat sonder skroom voorspoed bring
Dra masker as ‘n hardwerkende kneg
‘n Kneg by wie die baas pleit na hopelose veg
Want die donkie is die een wat bepaal
Waarheen, hoelank en vir wie hy sal nael
Goed bewus van wat sy waarde maat
Hy’s die enigste dier wat in die Bybel praat
Met ‘n kombers van nederigheid omvou
Trots met die wete van die Heiland se trou
Dra swanger Maria met met geduldige waak
Hy is ook die een wat haar Vrug Koning maak.
Die donkie is voorwaar ‘n wonderlike ding
Een wat sonder skroom voorspoed bring




Graskop se Afskeepskatte

17 01 2010

Die Natuurlike Brug

Klein Valletjie by die Natuurlike Brug

Die Rotstoring

Waterval agter die Rotstoring

Breinvasbrand:  Waar was Percy FitzPatrick gebore?

Breinlosbrand: 4  Oktober 1929