‘n Nuwe Engel vir Kinderlaggies

22 08 2014

Daar word gesê “Imitation is the ultimate flattery”.  Ek is baie gesteld op my oorspronklikheid, maar daar is een besliste uitsondering.  Ek het dit dalk nooit uitgespel nie, maar dis geen geheim dat Laviga op Liewe Heksie gegrond word nie.  En sonder Verna Vels, was daar geen Liewe Heksie nie. 

Dit is dus met leedwese dat ek vanoggend van haar afsterwe verneem het. 

Verna Barbara Robertson Vels is op 13 Junie 1933 in Reitz gebore.  Sy het by die Universiteit van Pretoria met ‘n BA graad gegradueer.  Daarna het sy vir die SAUK begin werk.  Sy was betrokke in Radio, Televisie en was die eerste vroulike streeks organiseerder. 

Blommie die Kabouter het in 1961 sy verskyning op Siembamba op radio gemaak.  Liewe Heksie was ‘n bykarakter in sy storie.  Gou-gou het die heks alles oorgevat.  Seker ook maar net omdat sy op die maan was.  Verna Vels was die skepper van die Liewe Heksie stories.  Soos julle weet was dit nie net op radio uitgesaai nie.  Daar is verskye Liewe Heksie boeke en sy het ook twee seisoene op televisie geniet.  Liewe Heksie het ‘n bekoring vir kinders van alle ouderdomme. 

Verna Vels was by die SAUK verantwoordelik vir joernaalprogramme, wat kinderprogramme ingesluit het.  Danksy haar was nie net Liewe Heksie op televisie nie, maar ook Kraaines en Wielie Walie.  Sy was die stem agter Liewe Heksie, Blommie Kabouter, Kwaaitjie Kabouter en Bennie Boekwurm.  Sy was selfs na haar aftrede (in 1993) nog by 7de Laan betrokke. 

Waar dit Afrikaanse kindervermaak aangaan, het sy groot spore gelos wat nie gevul sal word nie. 

Verna Vels is in Januarie vanjaar gediagnoseer met inflammatoriese borskanker.  Dit het daarvandaan na haar brein versprei.  Sy het die stryd dapper gestry en het selfs terwyl sy chemo gekry het, steeds haar gesig op 7de laan se stel gaan wys. 

So ver my kennis strek, het Verna Vels nooit getrou nie en het sy ook nie kinders gehad nie.  Net nog ‘n bewys dat jy nie noodwendig kinders moet hê om hulle te kan verstaan nie. 

Ek weet ek is nie bevoeg om te besluit wat met die afgestorwenes gebeur nie.  Ek hoop egter dat Verna Vels ‘n plek tussen die engele gaan kry wat kinderharte gelukkig moet maak. 

Rus in vrede.





Rus in Waarheid

9 12 2013

Die dood bly die een skuld wat almal moet vereffen.  Selfs Nelson Rolihlahla Mandela (1918 – 2013) wat deur miljoene tot heilige verklaar is, kon sy afspraak met die Skoppensboer nie vermy nie.  Hy was 95 jaar oud, hy was al amper ‘n dekade lank afgetree en die doodsengel sit al maande lank en wag vir sy siel.  Internasionale joernaliste kamp al maande lank in sy omgewing vir die oomblik wat Mandela sy laaste asem uitblaas.

Een van die grootste leuens ooit is dat almal in die dood gelyk is.  Ons almal het geweet dat Mandela se dood die grootste gebeurtenis sal wees wat Suid-Afrika ooit sal sien.  Dit sou lei na die Begrafnis van alle begrafnisse, met die sirkus wat daarmee saamgaan.  Dit was te wagte.  Soos iemand na Madiba se dood genoem het: ‘n Boabob het geval.

Ek glo daaraan dat ‘n mens die duiwel moet gee wat hom toekom, maar net wat hom toekom.  Ek kan verstaan dat mense Nelson Mandela sien as ‘n simbool van versoening.  As hy wraak gesoek het, het hy seker die wêreld se seën gehad om sy ‘onderdrukkers’ uit te moor.  Sy nederigheid was iets om te bewonder.  Ek sal altyd onthou hoe hy ‘n jaarlikse Kerspartytjie vir die kinders van Qunu gereël het en nie vir hom ‘n luukse woning met belastingbetalers geld gebou het nie.  Hy het goed gedoen met sy liefdadigheid organisasie.  Hy het ‘n fyn humorsin gehad – ek kan sien hoe hy die grap van Obama, Bush, Clinton en Carter op een vliegtuig waardeer.

Bo alles het Madiba die vermoë gehad om die regte ding op die regte tyd te doen en /  of sê.  Hy het geweet hoe om harte te wen.  Dink aan sy Ingrid Jonker aanhaling in sy inlywings toespraak of sy nommer 6 trui in die 1995 Wêreldbeker.  Die dade het hom geliefd gemaak onder miljoene mense wat vandag sy heengaan betreur.

Nogtans was Mandela nie altyd ‘n man van vrede nie.  Hy het nie die wysste besluite in sy termyn as president gemaak nie.  Hy was dalk die geliefde van miljoene, maar hy hy daardie liefde van sy familie gehad?  Was hy net hulle kaartjie tot roem?  Almal wat nou die een langer krokkodil trane as die volgende wil huil.

Op die ou einde van die dag was hy maar net ‘n ou man wat genoeg van die lewe gehad het.  Een wat geen kans het om in vrede te rus nie.  Almal, van politieke partye tot sy familie, is besig om sy nalatenskap te verkrag vir eie gewin.  Ek gaan dus nie my asem mors deur hom ‘n vreedsame rus toe te wens nie.

Ek het egter nog nooit gehoor dat iemand onthou wou word vir iets wat hulle nie was nie.  Ek het al vandat sy dood stront omtrent hom gehoor wat eintlik maar net ‘n geliegtery is.  Hy het nie vigs infeksie gestop nie, hy het beslis nie apartheid beëindig nie en dus ook nie Suid-Afrika weer internasionaal in sport laat deelneem nie.  Dit is nie sy nalatenskap nie.

Dus wens ek Nelson Rolihlahla Mandela ‘n rus in waarheid toe.  Dat die nageslagte hom onthou vir wat hy was en dit wat hy self gedoen het.  Nie as ‘n fiktiewe karakter wat mense om hom geskep het nie.  Die Nelson Rolihlahla Mandela wat hy self sal erken as hy hom teëkom.

Breinvasbrand:  Watter gedig van Ingrid Jonker het Nelson Mandela aangehaal nadat hy ingesweer was as president?

Breinlosbrand:  Rider was reg met Charles Dickens.





No Retreat, No Surrender

9 04 2013

As iemand my in die middel van die nag wakker maak en vra wie die Britse Eerste Minister is, gaan ek antwoord Margaret Thatcher.

Nie omdat ek nie weet wie die huidige eerste minister is nie.  Dit is David Cameron en ek hou nogal van hom.  Nogtans gaan ek heel eerste aan die Ystervrou dink en dan onthou sy is al jare lank nie meer die leisels vas nie.  My kop het nog nie die skuif gemaak nie.

Ek dink nie haar dood gaan dit verander nie.  Margaret Thatcher was ‘n ysteraster en ek sal altyd respek vir enige ysteraster hê.

Dit blyk dat niemand koud gelaat is deur Margaret Thatcher nie.  Mense het haar of bewonder of gehaat.  Daar is tot mense wat verheug is met haar dood.  Dit 23 jaar nadat sy afgetree het.  Daar is natuurlik ook die ape wat geen idee het wie Margaret Thatcher is nie.  Jammer dat daar geen pille vir onkundigheid nie en nee, dit is nie iets om op trots te wees nie.

Margaret Thatcher het gestaan en geval waarin sy geglo het.  In 1974 het mynwerkers gestaak in protes teen haar vryemark stelsel.  Hulle het Britanje omtrent lam gelê, maar sy het vasgestaan by haar ideologie.  Ander voor haar het gevou.  Die staking was beëindig sonder dat sy een toegewing gemaak het.

Iets wat ek wens iemand in Suid-Afrika wil doen.

Deesdae word omtrent elke vrou in politiek as ‘n ystervrou besing.  Ek dink die een wat die opregte Ystervrou se skoene kan voorstaan, moet nog na vore kom.  Tot dan, is daar net ‘n paar swak na-apers.  Veral in Suid-Afrika.

Breinvasbrand:  Voltooi:  “If you want something said, ask a ___________; if you want something done, ask a _________.

Selene se vraag:  Olga was reg met Judge Dredd.





Michael Clarke Duncan

4 09 2012

As ek ‘n lys moet maak van die mees hartverskeurende tonele in flieks, sal “The Green Mile” ten minste twee plekke op die lys moet kry.  Die een toneel is waar hier reusagtige, growwe swart man – John Coffey – tussen twee bebloede dogtertjie lyke sit en huil soos ‘n baba.  Huil omdat hy hulle nie kon red nie.  Die tweede toneel is waar die stadige, maar merkwaardige Coffey se straf voltrek word.  Al het hy gevra om van die pyn van die wêreld verlos te word en al is daar soveel haat teen hom – die onskuldige man; is hy nogtans bang vir die donker.  Hy vra dan die hoofbewaarder, Paul Edgecomb, met ‘n bewende lip om nie die mus oor sy kop te trek nie, want hy is bang vir die donker. 

‘n Sagmoedige reus, beide fisies en geestelik.  Een wat van die onheiligste misdaad verdink kan word, maar wat geen onskuldige siel kwaad sou kon aandoen nie.  Die rol wat Michael Clark Duncan ‘n bekende gesig gemaak het.  Duncan was vir ‘n Oscar genomineer vir sy rol en wat welverdiend sou gewees het.  Helaas het hy nie daardie erkenning gekry nie. 

Nou sal hy vir altyd as John Coffey onthou word.  Duncan is gister dood nadat sy hart ingegee het.  Hy was 54 jaar oud. 

Rus in vrede.





One small step

28 08 2012

Die naweek het Neil Armstrong op die ouderdom van 82 jaar die aarde vaarwel geroep.  Nou nie die eerste keer wat hy die aarde verlaat het nie, maar die keer sal hy nie weer in die stoflike vorm terug keer nie. 

Neil Armstrong was die eerste man wat in 1969 sy spore op die maan gelaat het.  Hy was op die missie vergesel gewees deur Buzz Aldrin en Michael Collins – die laasgenoemde wat die ruimteskip moes oppas.  Armstrong was 38 ten tye en was ‘n baie ervare vlieënier gewees.  Hy was die een wat die roemryke woorde – One small step for man, one giant leap for mankind – geuiter het en daarmee ook homself in die Geskiedenisboeke gevestig het. 

Blykbaar was dit nie sy eie filosofiese gedagte nie.  Daar was vooraf besluit wat hy gaan sê sou hulle wel op die maan land.  Ten spyte van die ervaring (hallo, die eerste man op die maan), was Armstrong nie juis lus vir die roem wat daarmee saam gekom het nie.  Hy het gevoel dat alles net om geld gedraai het, en het hom meestal onttrek uit die publieke oog.  Hy het later ingenieurswese gedoseer by die Universiteit van Cincinnati. 

Was dit maar net nederigheid van ‘n man wat maar net sy werk gedoen het?  Of was dit skaamte en die onvermoë om blatant te lieg?

Amerika het die ruimtewedloop verloor, deurdat Rusland die eerste land was wat ‘n man in die ruimte gehad het.  Hulle moes iets beters doen om die Russe te klop en hulle name in ere te herstel.  Teen enige prys – waarvan integriteit nie juis hoog is as jy in politiek speel nie. 

Daar is tot vandag toe mense wat aanvoer dat die maan verskriklik baie soos die omgewing van Houston lyk.  Buitendien, waar sou die wind op die maan vandaan gekom het waarin die Amerikaanse vlag gewapper het?  As daar nie atmosfeer op die maan was nie en ook nie iets tussen die aarde en die maan nie, hoe sou daar klank en beeld na die aarde oorgedra kon word.  Ek het selfs eendag ‘n teorie gehoor dat die beeld materiaal wel in Houston geskiet is, net ingeval die maan nie bereik was nie.  Daar was glo ‘n krisis met die beeld materiaal en die voorstelling is gebruik.  😉 Buitendien kon almal sien die maan is nie van kaas gemaak nie. 

Interessant genoeg het niemand sedert 1976 die maan besoek nie.  Seker ‘n aanduiding dat dit nie die aanvanklike koste en moeite werd was nie. 

Maar dit verklaar nog steeds nie – was Neil Armstrong regtig die eerste man op die maan?   

Ek moet erken dat ek heeltemal bereid is om die amptelike Amerikaanse weergawe te glo.  Al was dit dalk net ‘n goeie storie.

Wat dink jy?

Breinvasbrand:  Waarmee het Neil Armstrong op die maan geland?

Breinvasbrand:  Olga was reg met CJ Langenhoven.





Robin Gibb

21 05 2012

22 Desember 1949 – 20 Mei 2012





Koningin van Disco

18 05 2012

31 Desember 1948 – 17 Mei 2012

Ladonna Adrian Gaines was as een van 7 kinders in ‘n baie gelowige familie gebore.  Van kleinsaf was sy baie lief daarvoor gewees om te sing.  Haar debut was immers in die kerk toe sy net 10 jaar oud was en die een sanger het nie opgedaag nie.  Donna het veral naam gemaak met Disco musiek.  Sy het haar verhoog naam gekry nadat sy in 1974 met Helmuth Sommer getroud is.  Hulle het ‘n dogter saam gehad, maar is geskei nadat sy ‘n affair met Peter Mühldorfer gehad het.  Sy het die Sommer verengels na Summer. 

 Donna Summer kon gewis sing en sy het grense geskuif wat verseker ‘n paar mense na hulle harte laat gryp het.  So het sy onder andere ‘n groot treffer met Love to Love you Baby in 1975 gehad.  ‘n Liedjie wat radiostasies vandag nog huiwerig is om te speel.  Die liedjie klink basies na iemand wat ‘n orgasme het.  Musikaal baie goed en die mense was mal daaroor.  Neil Bogart het byvoorbeeld gevra dat hulle die snit langer maak, sommer die hele een kant van ‘n plaat. 

 Daar kan seker geskimp word dat Donna gewild geraak deur omstredenheid, maar die tannie kon wragtig sing.  Blykbaar (ek het dit iewers gelees) het sy later berou gehad vir haar meer gewaagde liedjies.  Sy het gevoel dit was nie Christelik nie. 

Donna se gewildheid het in die 80s begin taan, maar toe het sy reeds ‘n titel gehad wat geen ander van haar kon afvat nie. 

Die koningin van Disco is gister dood na ‘n lang stryd teen longkanker.  Summer het geglo dat sy die kanker opgedoen het weens die giftige deeltjies wat sy ingeasem het na die Twin Towers aanval is.  Hoe dit ook al sy, die engele het ‘n stem gekry waarop hulle opreg trots kan wees.





Milla Louw

2 04 2012

Milla Louw is Sondagaand in die St Georges Hospitaal in Port Elizabeth oorlede.  Sy was 89 jaar oud. 

Milla Louw was ‘n veteraan aktrise in Suid-Afrika, ‘n tydgenoot van Anna Neethling-Pohl.  Die twee dames was inderwaarheid selfs vriendinne.  ‘n Baie bekende gesig, al was haar mees onlangse rol die van Tannie Schoeman in 7de laan.  Sy was ook agter die skerms doenig waar sy veral met stemafrigting gehelp het. 

Louw het in 2009 afgetree – of uitgetree soos sy dit gestel het.  Sy het op daardie stadium selfs oorweeg om spraak terapie te gaan swot, juis omdat sy nie kon stil sit nie. 

Sy laat  vier kinders, tien kleinkinders en ses agterkleinkinders agter. 

Van die os op die jas.  Dit is ‘n skande dat daar van een van ‘n baie bekende aktrise skaars ‘n foto op die internet is, wat nog te sê inligting.  Ons Suid-Afrikaanse vermaaklikheids sterre, sangers en skrywers word regtig afgeskeep as dit by inligting op die internet kom.  Vraag is hoe gaan dit aangespreek word?





Whitney Houston

12 02 2012

Whitney Houston 9 Aug 1963 – 11 Feb 2012.

Whitney Houston se lewe kan seker as tragies beskryf word.  Eens het miljoene aan haar voete geswymel en toe kom daar ‘n slegte man en dwelms.  Die pop prinses het geval tot pateet.  Die regte tragedie is seker dat sy nooit weer haarself kon herwin nie.

Nou in haar dood, sal haar aanhangers haar altyd op haar beste kan onthou.

 





Amy Winehouse

23 07 2011

They tried to make me go to rehab, I said, “No, no, no”
Yes, I’ve been black but when I come back you’ll know, know, know
I ain’t got the time and if my daddy thinks I’m fine
He’s tried to make me go to rehab, I won’t go, go, go

(Amy Winehouse 14 September 1983 – 23 Julie 2011)

Daar sal miskien eendag ‘n tyd kom wat ek sal ophou om Love Story se openingssin te misbruik, maar vir vanaand is dit weer my openingshoek.  Wat kan jy van ‘n meisie sê wat 27 was en dood is?

Van die een, nogal baie, maar dit sal maar net ‘n beklemtoning van ‘n tragedie wees.   ‘n Joodse Meisie wat die rekord hou van die meeste wenne van ‘n vroulike kunstenaar by die Grammy’s in een aand.  Dit was in 2006 toe sy van 6 nominasies 5 Grammy’s gewen het.  Sy was toe maar net 24 en die wêreld het vir haar gewag. 

Amy was helaas meer bekend vir haar vergryping aan drank en dwelms.  Sy is ook in 2008 behandel vir longprobleme, wat as ‘n vroeë vorm van emfiseem beskryf is.  Sy was ook ‘n paar keer vir aanranding gearresteer gewees.  Verder het sy dit omtrent ‘n loopbaan gemaak om haar naam met ‘n plank in die openbaar te slaan. 

Konvensioneel was seker die laaste woord wat gebruik kan word om haar te beskryf.  Nie so seer om aandag te soek soos die ander gekwelde siele van haar tyd nie.  Sy het bloot net nie omgegee wat mense van haar gedink het nie.  Sy het gedoen wat sy wil en bogger die res. 

Sy het grense oorgesteek waarvoor min ander mense die moed voor het.  Daar is ‘n ongeskrewe reël dat Nelson Mandela die held in elke bekende se lewe moet wees.  Amy het soos menige ander kunstenaars by sy 90ste verjaarsdagpartytjie opgetree.  Aan die einde het almal bymekaar gekom om “Free Nelson Mandela” as ‘n eerbetoon te sing.  Amy ook, maar sy het “Free Blake Fielder-Civil” gesing, haar man wat ten tye in die tronk was. 

Amy was vanmiddag dood in haar huis gevind.  Die dood word deur die polisie as onverklaarbaar beskryf.  Mens kan net wonder wat sy kon bereik het as sy op haar loopbaan gefokus het.  Sy was ‘n tragiese figuur, maar in haar dood sal verewig word vir dit wat haar kop en skouers bo die ander laat uitstaan.  ‘n Briljante sangeres.  Een wat min nagelaat het, maar wat sy nagelaat het was van die beste.  Haar stem sal verewig lewe.