Moeder Teresa

5 09 2017

stmotherteresa

Vandag is 20 jaar na Moeder Teresa se dood.

Ek onthou dat baie mense – Protestant en Katoliek – na haar opgesien het terwyl sy gelewe het.  Mense het geglo dat sy ‘n engel was, iemand wat haar lewe opgeoffer het om die armstes onder die armstes te dien.  Sy was immers ‘n rykmansdogter, iemand wat haar lewe in luukse kon deurbring.

Deesdae, is daar meer en meer mense wat haar kritiseer.  Diegene wat aanvoer dat sy mense in hulle lyding probeer bekeer het.  Ander voer weer aan dat sy mense opsetlik laat ly het omdat sy gedink het lyding en armoede is mooi.

Ek is nie seker of die kritici net hulle eie afleidings maak en of hulle daar was toe sy haar werk gedoen het nie.  Ek onthou wel hoe Indië haar met haar afsterwe geloof het.  Volgens hulle het sy goeie werk gedoen.

Wat dink julle?





Die Diana Legende

31 08 2017

Een van die grootste flieks die jaar was Wonder Woman.  Natuurlik het ek dit ook gaan kyk, al kon ek nog nooit regtig die bohaai van Wonder Woman insien nie.  Ek het met Saartjie en Bienkie groot geword, nie met strokiesverhale nie.

In elk geval, ‘n mens kan seker nie ‘n superheldstorie te ernstig op neem nie.  Daar was nogtans iets wat my soos ‘n stukkie vleis tussen my tande gepla het.  Diana is die Romeinse godin van jag en ook die beskermheer van die Amasones.  Haar Griekse eweknie (of is dit haar Griekse naam) is Artemis.  Nogtans, bevind die Diana wat Wonder Woman is haar tussen Griekse opperweses.  Sy baklei byvoorbeeld teen Ares – nie teen die Romeinse weergawe Mars nie.

Nietemin, Diana is geen nuwe naam tot legendes nie.  As Romeinse godin het sy duisende jare gelede haar verskyning gemaak.  Die Amasones hoort ook min of meer in daardie tyd.  Wonder Woman het in 1941 die eerste keer haar buiging gemaak.  Diana is dus seker die naam van legendes.

So dan ook met die Diana wat op 1 Julie 1961 haar verskyning op die aarde gemaak het.  Die Diana was nie ‘n jagter nie, maar eerder een van die mees gejagde vrouens op aarde.  As ‘n mens in aanmerking neem dat sy net 36 jaar op aarde was, sou Artemis dalk ‘n meer gepasde naam gewees het.  ‘n Griekse naam vir ‘n (Griekse) tragedie.

Vandag is 20 jaar na Diana se dood, maar sy is nog lank nie vergete nie.  Ek meen daar is nou nog mense wat die koningshuis nie kan vergewe oor hoe hulle haar behandel het nie.  Die stoere aanhangers gee nie eers regtig om oor die anderkant van die storie nie.

Wat kan van Diana gesê word wat nog nie gesê is nie?  Ek hou nie daarvan om ander se menings te deel nie.  Dus sal ek Diana die rebel vier.

Diana was iemand wat nie ‘n duiwel om gegee het wat mense van haar dink nie.  Dalk moet ek dit op ‘n ander manier stel.  Sy was ‘n rebel wat nie net teen sosiale verwagtinge baklei het nie, maar dit met mening afgebreek het.

Neem maar die jong Diana Spencer.  Haar pa het ‘n graaf geword toe Diana 14 was en dus was sy toe al Lady Diana.  Die Spencers was ‘n familie van aansien – Charles het byvoorbeeld op ‘n stadium by Diana se ouer suster vlerk gesleep.  Ek neem aan die Spencers was nie te gelukkig dat Diana as ‘n kinderoppasser en bediende gewerk het nie.  Mens verwag dit mos immers nie van adelike bloed nie.

Sy het in in 1981 nie gehoorsaamheid aan haar man beloof nie, iets wat glo baie ongehoort in die tyd was.  Sy het boonop ou Charlie se name omgeruil met haar troubeloftes.  Sy het nooit weggeskram vir taboes nie – sy het nooit geskroom om aan melaatses en VIGS lyers te vat nie.  Weereens iets wat skokkend vir die tyd was.  Neem ook maar die mans met wie sy na haar egskeiding uitgegaan het.  Daar was meer as een Moslem onder hulle gewees.  (Ironies, siende dat sy nie hou van gehoorsaamheid aan ‘n man nie.)  Dalk omdat haar eks-skoonma hoof van ‘n Christelike kerk was?

Wie sal ooit weet?  Diana het haar kers hard gebrand en dus is dit vroeg-vroeg al uitgebrand.

Wie is jou gunsteling Diana legend?





Charmain Carr

19 09 2016

Daar is tydloos en dan is daar “The Sound of Music.”  Die fliek is al meer as 50 jaar oud en dit is nog steeds ‘n gunsteling van vele mense.  Dit voel half onwerklik om te dink dat die mense in die fliek aansienlik ouer is.  Goed en wel, almal weet dat Julie Andrews het verlede jaar 80 geword en Christopher Plummer word 87 die jaar.  Nogtans is ‘n mens geneig om aan die kinders te dink as – wel – kinders.  Kym Karath wat die jongste; Gretl; gespeel het, is al 58 jaar   oud.

Charmain Carr was die meisie wat as Liesl opgeëindig het.  Sy was ‘n student wat onder andere by ‘n dokter gewerk het, toe haar ma vir haar ‘n oudisie met The Sound of Music gereël het.  Sy het latere jare as ‘n binnehuise versierder naam gemaak.

Carr is die naweek aan komplikasies weens dementia oorlede.  Sy was 73 jaar oud.  Sy is as Charmain Anne Farnon gebore, maar moes ‘n ander van gekies het omdat die vervaardigers van Sound of Music geglo het haar van is te lank.

Soos julle weet, is Sound of Music gebaseer op ‘n regte Von Trapp familie.  Die ma is glo dood en die pa het ‘n goewernante gesoek omrede een van sy dogters siekerig was.  Suster Maria se sorg was uitmuntend, die dogter was in haar 90’s voordat sy gesterf.  Toevallig die laaste van die oorspronklike kinders wat gesterf het.

Georg en Maria het in Nov 1927 getrou en het saam drie kinders gehad.  Daar is volgens Wikipedia oor wanneer Maria se eerste kind gebore is – Februarie 1928 of 1929.  Hulle jongste kind, bestuur die Von Trapp Resort in Vermont.  Al 3 Maria se kinders lewe nogsteeds.

Maria is egter in 1987 op die ouderdom van 82 oorlede.





Mandoza

19 09 2016

Mduduzi Edward Tshabala 19 January 1979 – 18 September 2016

 





Garry Marshall

20 07 2016

Ek stel oor die algemeen meer belang aan die mense voor die skerm as die wat agter die skerm is.  Ek gee dus gewoonlik nie om wie die regisseur was nie.  Ek kies flieks op die storie wat dit belowe en op die akteurs en aktrises wat daarin speel.  Tog, bly ek nie heeltemal onder ‘n klip nie en het deur die jare die name van ‘n paar regisseurs opgetel.  Een van hulle was natuurlik Garry Marshall.

Hoekom juis Marshall?  Ek moet versigtig wees om net Marshall rond te gooi.  Daar is immers Penny Marshall (sy suster) en Scott Marshall (sy seun) wat regisseurs uit eie reg is.  Garry Marshall was nou nie een van daardie regisseurs wat ‘n kaggelrak vol Oscars gehad het nie.  Nogtans het hy sy merk in die vermaakwêreld gemaak en sal hy dus vir altyd onthou word.

Garry was die man wat die wêreld aan Julia Robberts bekend gestel het.  Beter nog, hy is die man wat Pretty Woman aanmekaar geklap het.  Goed en wel, Aspoestertjie in enige vorm is altyd ‘n treffer.  Dit is net dat ‘n mens nie juis verwag dat sy ‘n prostituut was nie.  Menige prostituut kon seker al vir hulle ‘n ryk man gevang het.  Hoeveel prostitute kon dit egter reg kry met die aanmoediging en respek van miljoene vroue oor die wêreld? Wie is die man wat Vivian Ward ‘n heldin gemaak het?   Einste Garry Marshall.  Glad nie sleg vir ‘n oom met ‘n vrou en drie kinders nie.

Garry het natuurlik ook ander flieks gemaak.  Van sy flieks sluit in Overboard, Runaway Bride, Princess Diaries, Valentine’s day, New Year’s Eve en Mother’s Day.  Hy het ook sy lyf rondgegooi as ‘n skrywer vir sitcom’s (Happy Days en The Odd Couple), vervaardiger en akteur.

Garry is gisteraand in Burbank oorlede aan komplikasies weens longontsteking.  Hy was in die hospitaal opgeneem vir ‘n beroerte.  Hy was 81 jaar oud.

Breinvasbrand:  Wie het in elke rolprent van Garry Marshall verskyn?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Paul Stanley.  Gene Simmons is die ander hoofsanger van KISS.





Bud Spencer

28 06 2016

Carlos Pedersoli was ‘n groot man.  Ek praat nou nie net daarvan dat hy 1.94 m lank was nie.  Die man het geweet van “Climb every mountain” en “Carpe Diem.”  Ek meen, op die rype ouderdom van 76 het hy die volgende te sê gehad:  “In my life, I’ve done everything.  There are only three things I haven’t been – a ballet dancer, a jockey and a politician.  Given that the first two jobs are out of the questions, I’ll throw myself into politics.”  Waarskynlik die loopbaan waarin hy die swakste gevaar het.

Carlos Pedersoli is natuurlik beter bekend as Bud Spencer.  ‘n Man wat in Suid-Afrika bekendheid verwerf het met die flieks wat hy saam met Terence Hill gemaak het.  Baie van die flieks het ‘n genre van hulle eie, die sogenaamde “Spagetti Westerns.”  Ek weet baie mense trek met minagting hulle neuse vir die soort flieks op.  Nogtans, moet ‘n mens die duiwel die eer gee wat hom toekom.  Die flieks is om mee te begin in Engels oorgeklank, maar het nogtans vir die akteurs internasionale name gemaak.  Dit sit nie in elke Italiaanse fliek nie.

Bud Spencer was egter nie net ‘n akteur nie.  Hy was die eerste man in Italië wat die 100 m vryslag onder ‘n minuut kon swem.  Hy het die semi-finale van die Olimpiese spele in 1952 en 1956 gehaal.  Hy was ook ‘n uitmuntende water polo speller.

Bud Spencer het ook ‘n regte werk gehad.  In die laat 40s het hy in die Brasiliaanse konsulaat in Brasilië gewerk.  Hy het ‘n graad in regte gehad en het glo verskeie patente geregistreer.  Hy was boonop ook ‘n kommersiële lugvaart en helikopter vlieënier.  Hy het sy eie lugvaartmaatskappy gehad wat hy later verkoop het vir ‘n kinderklerefabriek.  In 2007 het hy diplomas ontvang as ‘n swem- en poloafrigter.  Verder het hy ook geskryf en was hy betrokke by verskeie liefdadigheidsprojekte.

Ons sal hom seker die beste onthou as ‘n knorrige man wat iemand met net een goed gemikte hou droomland toe stuur.  My gunsteling toneel van hom is van “I am for the hippopotamus” waar ‘n man van onder die bult Bud Spencer se karakter met kung fu probeer intimideer.  So kom hy met al sy bewegintjies en geluidjies die bult op om met net een klap uitgeslaan te word voordat hy ‘n hou kon inkry.

Bud Spencer is gister in Rome vreedsaam oorlede op die ouderdom van 86.  Hy laat sy vrou, Maria (met wie hy al in 1960 getrou het), 3 kinders en verskeie kleinkinders na.

As iemand gewonder het, Terence Hill skop nog sterk.  Hy is al 77 jaar oud.

Breinvasbrand:  Hoe het Carlos Pedersoli sy verhoognaam gekies?

Breinlosbrand:  Olga was reg met John Grisham.  Dit was terloops sy debuutroman.

Spesiaal vir Olga:





David Robert Jones

10 01 2016

Ek sal huigel as ek skielik ‘n groot aanhanger van David Bowie is.  Ek verstaan hy het op sy dag grense gestoot en mense laat stik met sy streke.  Benewens Under Pressure, sal ek altyd vir David Bowie onthou met sy dood.

Kyk, rocksterre wat laat in hulle sestigs dood gaan aan kanker, kry maksimaal ‘n dag of twee bewondering (dalk is erkenning ‘n beter word).  As hulle regtig massief was, word hulle dood ‘n jaarlikse herdenking.  Ou treffers word dalk afgestof en land selfs ‘n tydjie op die treffersparade.  Dit is die normale verloop van die wêreld.

Die Jones’sie is egter die uitsondering.  Hy het op sy 69ste verjaarsdag ‘n splinternuwe album vrygestel, op ‘n tyd wat hy geweet het sy dae is getel.  Sodoende is dit nie sy ou treffers van hom wat opgeroep word nie.  Nee, hy laat eerder nuwe musiek as sy nalatenskap.

Sy groot aanhangers is glad nie verbaas hy.  David Bowie was nog nooit die norm nie.  Ziggy Stardust sou trots wees.

8 Januarie 1947 – 10 Januarie 1916





Die wit broek sit te styf

27 12 2015

Helaas!  Ek kon ongelukkig nie ‘n video oor die Witbroek kry nie.  Maak nie saak nie, ‘n rooi rok sal maar moet doen.  Ek was nog altyd mal oor die liedjie gewees.  As ‘n kleuter het ek ‘n rooi koord fluweel rok gehad.  Dit het mos met die liedjie gepas.

Rus in vrede, Randall Wicomb.

1949 – 2015





Totsiens, Ena Murray

4 06 2015

Ena Murray is vanoggend rustig in haar slaap in Mosselbaai oorlede.  Anders as wat Netwerk 24 verkondig, was sy op 27 Desember 1936 gebore en was sy dus 78.

Ek het nog altyd ‘n sagte plekkie vir tannie Ena se boeke gehad.   Ek het die meerderheid van haar boeke seker al op laerskool gelees en soos julle nou al weet is dit nie benede my om dit weer (of oor en oor) te lees nie.  Daar is soveel van haar boeke wat my al kliphard laat lag het.  Haar karakters het nogal die geneigdheid om hulle self in die vreemdste situasies in te wurm, waaroor ‘n mens net kan lag.

Ek meen, dink net aan Junior van Saal 7.  Wie steel ‘n foto van iemand, wys dit vir almal rond as jou kêrel, net om die volgende dag in die kêrel vas te loop.  Wat dan daarop aandring om jou verloofde te wees en jy kan nie juis stry nie.  Daar was Katryn wat haar vererg omdat ‘n ploert haar soos ‘n kind behandel en dan wil sy hom op sy neus laat kyk.  Net vir ‘n dag of twee, maar dan raak die ploert sommer haar voog ook.  Elke is weer ‘n pediater wat haarself ‘n trolliejoggie hou om haar oupa te leer ken.  Dan praat ons nie eers van die tweeling wat vir hulle pa ‘n vrou uit ‘n tydskrif bestel nie.  Dit is mos nie hulle skuld as hulle seker vergroeisels nie kan vergiftig nie en hy dan ‘n stiefma wil nader sleep nie.

Hoewel baie van haar stories ligsinnig was, was daar ‘n paar wat aansienlik donkerder was.  Ek sal altyd “Plekkie in die Son” as een van die beste boeke ooit in Afrikaans voorhou.  Dit sit nie in enige een se rok om al daardie trauma in 129 bladsye in te druk en dit geloofwaardig te maak nie.  Ander boeke wat ek kan vermeld onder die vandaal is “Stuur groete vir Pappa” en “Vyf vir Vreugde”.

Ek het al in artikels omtrent haar gelees dat sy ‘n tannie met ‘n vlymskerp sin vir humor was.  Sy was aanvanklik ‘n verpleegster, dit is dus die oorsprong van die vele hospitaal verhale.  (Ek wonder nogal wat sy van Grey’s sou dink.)  Sy het maar soos “people in the olden days” ge-dot-dot-dot by stomende tonele.  In 33 jaar het sy 131 boeke geskryf.  Ek het eendag gelees dat sy in die tyd nie ander boeke gelees het nie, omdat sy bang was sy pleeg dalk per ongeluk plagiaat.  Sy het afgetree toe sy artritis ontwikkel het en het uitgesien daarna om haar tyd met lees te verwyl.  Sy was tweekeer getroud, maar het nie kinders gehad nie.  (Ek skryf op geheue, skree as ek aanjaag).

Sy was verseker een van die mees gewildste Afrikaanse skrywers al sal letterkundige snobs seker hulle neuse vir haar werk optrek.  Ek hoop haar boeke tref die mark met ‘n golf, want ek het verseker ‘n paar wat ek moet gaan by koop.

Wat is jou gunsteling stories van Ena Murray?

Breinvasbrand:  Waar is Ena Murray gebore?

Breinlosbrand:  Ivy League is ‘n sport liga waaraan 8 universiteite in die Ooste van Amerika deelneem.  Die universiteite het ook ontwikkel in instellings wat bekend is vir akademiese uitnemendheid.  Olga was dus reg.





Joe Cocker

23 12 2014

‘n Groot stem het stil geword.