Geen Wonder nie

14 01 2012

Ek lees gister dat Suid-Afrika die derde vriendelikste land is.  Interessant genoeg volg Suid-Afrika net na Nieu-Seeland en Australië. 

Verbaas my glad nie.  Dit is natuurlik van al die Suid-Afrikaners dat Nieu-Seeland en Australië vriendelike plekke geraak het. 😉

Wys net, jy kan ‘n Suid-Afrikaner laat wegtrek, maar in hulle hart bly hulle kaalvoet sonskyn kinders. 





Kom ons maak daardie fliek weer

11 01 2012

2011 was ‘n jaar waar daar bittermin op die silwerdoek gebeur het om my opgewonde te maak.  Vir iemand wat op ‘n tyd omtrent weekliks gaan fliek het, kon ek amper op my een hand aftel hoeveel keer ek gaan fliek het laasjaar.  Seker maar luiheid aan die eenkant en verbrande 3D flieks aan die anderkant, maar daar was weinig wat my gelok het.  Die een hoogtepunt was Burlesque wat ek baie geniet het.  Ek het nogal uitgesien na Puss in Boots, maar dit was ‘n teleurstelling.

Goeie, briljante, uitsonderlike of bloot net lekker flieks lyk my word elke jaar net skaarser.  Dit is asof Hollywood stoom verloor het.  Kyk net aan die aantal flieks wat oorgemaak word.  Daar is The Italian Job, wat ek baie geniet het, maar ek het nooit die oorspronklike gekyk nie.  Die wat weet reken jy kyk die nuwe weergawe vir die aksie en die oorspronklike vir Michael Caine se sarkasme.  Daar was Freaky Friday en Fame.  Ek hoor hulle gaan die Spiderman van 10 jaar gelede met Toby Maguire oormaak.  Tans draai die 2011 weergawe van die 1984 fliek, Footloose.

Ek gee toe dat daar op die 1984 weergawe verbeter kon word.  Ek sal nogtans verby hou – hulle wou die fliek meer modern maak en het van die liedjies ‘n nuwe baadjie aangetrek.  Iets wat selde ‘n goeie idee is.  Net om hulle ‘n regverdige kans te gee, het ek Holding Out for a Hero gaan opsoek.  So verkrag ek wragtig nie my ore nie.

Ek is ‘n voorstaander van oorspronklike werk.  As oorspronklikheid makeer, neem dan ten minste ‘n paar verskillende konsepte en maak dit jou eie.  Of maak flieks van mense waarvan daar nog nie flieks gemaak is nie.

Flieks is gewoonlik losweg op een of ander boek gebaseer.  Gewoonlik kom die fliek maar sleg tweede.  Dit is vir my regtig een van die groot ironies van die lewe.  ‘n Prent is veronderstel om ‘n 1000 woorde te wees, maar tog gaan die besonderhede van ‘n boek altyd in ‘n fliek verlore.  Wat jy nie altyd besef as jy eers die fliek kyk, geniet en dan die boek gaan opsoek nie.  As jy die boek meer geniet as die fliek, is daar nie ‘n teleurstelling nie.

Met die wat daar so baie flieks oorgemaak word, kan ons seker ‘n paar voorstelle maak van flieks wat oorspronklik deur ‘n regisseur se gat getrek is.  Ek dink byvoorbeeld nou aan Fiela se kind.  Iemand kan wragtig beter werk daarvan maak as die weergawe wat nou bestaan.  Dalk kan dit saam met die ander bosboeke in ‘n reeks omskep word waar al die gebeur chronologies plaasvind.  Wag, eerder nie.

Watter flieks voel jy kan oorgedoen word?  Wat in die fliek behoort hulle meer aandag aan te gee?  Watter flieks moet eerder maar klassiek word en as sulks waardeer word?

Breinvasbrand:  Wie het Holding Out for a Hero in die 1984 Footloose gesing?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Onse Vader.





Skoert met ‘n F

10 01 2012

Ek lees vanoggend verheug oor die munisipaliteit se planne om Pretoria se middestad ‘n bietjie reg te ruk.  Soos ek verstaan gaan daar meestal op geboue gekonsentreer word.  Ons sal maar sien of dit die middestad weer sal omskep tot ‘n plek waar ‘n mens wil wees.

Daar word gesê dat eerste indrukke blywend is en ek reken dit is veral van toepassing in dorpe en stede.  Ongeag die algemene dorps gevoel of inwoners, gaan niemand juis ondersoek instel as die dorp se voorkoms nie iemand roep nie.  So kan ‘n mens deur klein plekkies ry met die doel om dit so ver as moontlik agter te laat.  Tog is daar dorpies waar jy net MOET deur en dan word jy geroep om ‘n koffietjie te drink.  Op die heelminste merk jy die dorp om in die toekoms dit met die hand te kom groet.

Die roepstem spreek verskillend van mens tot mens.  Skoert met ‘n F gespel is dieselfde in al die amptelike en nie-amptelike landstale.  Party plekke verbloem dit dalk net beter of dra maskers wat bo die blink wys.  Nogtans help dit net tydelik.  Mense is nie almal blind nie en vroeër of later gaan die vrot uitbars.  Daar is dalk ‘n onweerstaanbare trekpleister, maar ‘n vrot dorp laat ‘n week besoek na ‘n naweek krimp.

Ek wil eintlik oor die vrotkolle praat.  Die eerste ding wat my summier ‘n gly in ‘n dorp gee is slaggate.  Wat help die mooiste dorp onder die son as jy te hard op die pad moet konsentreer om die mooiheid raak te sien.  ‘n Dorp wat nie toeganklik is nie, wys duidelik dat hulle nie besoekers soek nie.

Vuil sypadjies maak my ook sommer dadelik vies.  Bestaan daar nog iets soos straatveërs?  Ek verstaan in die eerste plek nie hoe moeilik dit is om jou rommel in ‘n blik weg te gooi nie.  Tog, vir die gebreklikes en vertraagdes wat dit nie wil doen nie, is dit regtig ‘n onbekostigbare uitgawe om iemand aan te stel om skoon te maak?

Straatstalletjies kan oulik wees, maar te veel en die wat sypadjies verberg of oorvloei is ‘n doring in die oog.  Straatsmouse en karwagte kan maklik intimiderend raak.  Weereens maak hulle ‘n plek iets wat liefs vermy moet word.

Vervalle en leë geboue wys dat daar net spoke is en dat die wat hulle lewe lief het gewaai het.  Ek het al dikwels gewonder of ‘n gebou wat sê twee jaar leeg staan nie liefs gesloop moet word nie.  Die klein dorpies wat met besoekers oorstroom word, wys dit gewoonlik met liefde aan die ou geboue.  Hulle verf, restoureer en gebruik dit wat dorpie met die nodige sorg sjarmant kan maak.

Wat in ‘n dorp spel vir jou skoert met ‘n F?

Breinvasbrand:  Wat beteken Paternoster?

Breinlosbrand:  Die butler wat Niles





Is dit jou beste Prys??

23 12 2011

Noem my maar ‘n k-woord, maar daar is min dinge so lekker as om minder as die gelysde prys te betaal.  Geld is immers geld en kan nie op ‘n klip geteken word nie.  ‘n Besparing hier en daar is nie te versmaai nie.

Die informele sektor verstaan dit nogal goed en mens kan altyd daar ‘n paar sent spaar.  Dit hang seker ook af oor hoe goed jy kan onderhandel en hoe ongeërgd jy daaroor is.  Helaas is die meeste plekke van die soort van betaal wat jy sien of los dit.  Dit is nie asof enige verkoper of diensverskaffer verleë is oor jou nie.  Jy is tog die een wat iets gesoek het.

Daar is wel maniere – dalk nie heeltemal eerlik nie, maar in Suid-Afrika maak mens seker soos die Suid-Afrikaners.  Ek het lank nadat ek klaar geswot het met my studentekaart rondgeloop en gewaai vir enige plek waar ek daarmee kon wegkom.  Op ‘n stadium het ek seker maar lui geraak wat ook maar goed is.  Soos ek verstaan het Tukkies mos ook hulle kaarte verander.

Ek ken weer iemand wat haar maklik as ‘n skoolkind uitgee.  Anders as studente, word daar nie ‘n studentekaart gevra nie.  Boonop kry sy dan meer afslag as ‘n gewone student.  Wanneer sy dalk iets alkoholies wil drink, moet sy wel gewoonlik ‘n ID uitpluk.  Dit is maar ‘n klein prys om te betaal vir goeie afslag.

Ek het al gehoor van manlike studente wat vroeg die oggend gaan fliek.  Met die volgende vertoning wissel hulle van teaters, sonder ‘n ekstra kaartjie.  So kyk hulle alles wat wys met net een kaartjie.

Ek het eendag ‘n wille kans gevat in ‘n curioshop.  By die kassiere het ek gesê ek is plaaslik en ek weier om die toeriste prys te betaal.  Na ‘n vinnige gesprek met die eienaar het ek ‘n 25% afslag gekry.  Wys net hoe loop hulle toeriste in.

Met die vakansieseisoen, tel elke sent wat jy kan spaar.  Op watter maniere het jy al weggekom om so effens minder te betaal?





Suip vir die Dood

19 12 2011

Die jaar tel ek ‘n groter bohaai van die Matriekvakansie op as ooit van te vore.  Beeld het juis ‘n reeks wat hulle daaroor beplan en blykbaar het die matrieks geen probleem daarmee nie.  Dit blyk selfs dat hulle trots daarop is.   ‘n Epidemie wat nie net onder matrieks bestaan nie.

Iewers het daar ‘n siening ontstaan dat alkohol gebruik sinoniem met ‘n lekker tyd is.  Hoe meer jy jouself geniet, hoe meer drink jy.  Daar is blykbaar geen rede om die geleentheid te onthou nie.

Ek het onlangs gekuier saam met ‘n vriendin en haar vriendin – kom ons noem haar Marie.  Marie is ‘n Geleentheidsbeplanner vir haar maatskappy en woon baie partytjies by.  Dit val so reg in die partytjiedier se kraal.  Sy het die geselskap oorheers en die heeltyd vertel hoe lekker sy by die of die partytjie gekuier het.  Dit het basies behels van hoe dronk sy gehad het en hoeveel sy gekots het.  Soos sy die een partytjie na die ander se drokenskap opgehaal het, het ek haar jammer gekry.

As kinders was dit altyd vir ons baie vermaaklik om van die ou dae te hoor.  Van wat ons ouers gedoen het.  Die heeltyd wat ek na haar stories geluister het, het ek gewonder wat gaan sy eendag vir haar kinders vertel?  Hoe sy haar naam partytjie na partytjie vergat het in haar drokenskap? Op wie sy al almal gekots het as gevolg van drank en / of dwelms?

Sy was absoluut geskok omdat ek nie een storie gehad het van dronkenskap nie.  Volgens haar waardes is ek iemand wat nie pret kan spel nie en en ‘n nat vadoek.  Ek het haar laat begaan.  Punt is ek het nog nooit vals moed uit ‘n bottel nodig gehad om pret te kan hê nie.  Om dronk rond te val klink in elk geval nie na pret nie.

Dit bring my weer terug na die groep matrieks waarvan Beeld praat.  Gaan dit vir altyd hulle idee van pret of ‘n lekker tyd wees?  Gaan hulle eendag net stories van dronkenskap kan vertel?  Gaan die aankope van drank / dwelms altyd die belangrikste punt op hulle begroting wees?

Shame!

Met Kersfees en Nuwejaar, het die meeste mense reeds besluit hoe hulle gaan suip.  Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek geniet self ‘n drankie op sy tyd.  Tog is dit altyd ‘n bysaak en nie die hoofrede om sekere goed te vier nie.

Hoe voel jy oor drankstories?

Breinvasbrand:  Is Whiskey van Ierse of Skotse oorsprong?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Angelina Jolie en Johnny Depp.





Weer Sulke Tyd

14 12 2011

Ek kan dit skaars glo, maar dit is weer tyd dat Gauteng leeg loop en die kusbewoners weer kan begin kla oor hulle besoekers.  Ek het nog altyd net my oë gerol wanneer die klaagliedere aangehef word.  Genugtig, dit is nou ook nie dat die Gautengers se geld onwelkom is nie.  Ek is redelik seker dat baie besighede se bestaan van die Gautengers met jeukerige gatte afhang.

Tog, nadat ek onlangs in ‘n kusdorpie gesien het hoe Gautengers optree, verstaan ek die misnoeë beter.  Party mense smeek doodeenvoudig om in die see versuip te word.  In die geval was daar ‘n restaurant wat regtig nie hoef terug te staan vir die wat stede kan aanbied nie.  Die spyskaart is interessant, die pryse redelik, die diens vriendelik en vinnig en die porsies vrygewig.  Wat meer soek ‘n mens op jou vakansie?

Die tafel langs my het twee ouerige paartjies van Gauteng gehad (nee, ek is nie doof nie).  Hulle was blank, die verkeerde kant van 60, oorvol van hulle christelikheid en Afrikaanssprekend.  Die heeltyd was hulle baie neerhalend teenoor die kelner en bestuurder.  Elke gereg op die spyskaart was met afgryse ontleed en gekritiseer.  Hulle besteling was ten minste 4 keer verander.  Die een vrou het selfs daarop aangedring om eers die sous te proe voordat sy bestel.  Ek het later gedink as die kelner te beskaaf is om in haar kos te spoeg, sal ek.

Ewenwel – baie binnelanders se tasse is gepak en hulle is reg vir ‘n paar weke van sonskyn en die groot blou dam.  Ek glo die meerderheid sal hulle chips by die huis los sodat hulle skouers mooi egalig kan verbruin.

Hoe voel julle oor toeriste of vakansiegangers?  Hoe ‘n toeris of vakansieganger is jy?  Geniet jy die nuwe omgewing of is jy die heeltyd onvergenoegd?

Breinvasbrand:  Wie het die hoofrolle vertolk in die fliek: “The Tourist”?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Jakaranda Lugdiens.

Ek wil graag vir almal wat vandag klaar maak, ‘n veilige reis en ‘n aangename vakansie toewens.  Mag julle ‘n baie geseënde Kersfees hê en mag 2012 vir julle ‘n jaar wees waar julle kan bekostig om windgat te wees.

En nee, helaas geen vakansie vir die Herriemerrie nie.  Dalk ‘n bietjie afskaal, maar die blog gaan die feestyd oop wees.

 





Ek sien ‘n nuwe aarde kom

8 12 2011

Ek doen nie juis moeite om die Gierigheidsberaad in Durban te volg nie.  Ja, gierigheid!  Aan die een kant is dit die sogenaamde ryk lande wat voel dat hulle ekonomie te veel geknou gaan word as hulle effens groener gaan wees.  Dit is nie onderhandelbaar nie.  Aan die ander kant is daar die arm lande wat geld eis sommer net omdat hulle oral waar hulle kom geld eis.  In die geval is dit oor die sogenaamde skade wat die ryk lande aan hulle doen met hulle besoedeling en die onreg van kolonialisme.  Dit is nie onderhandelbaar nie.

Die groenes soek minder.  Verkieslik moet daar geen nywerhede, myne of industrieë wees nie.  Almal kan dan gaan betoog vir ‘n lewe en om hulle besig te hou.  As daar dan nie ‘n bevolkingsontploffing gaan kom nie, weet ek nie.  Sonder industrieë sal daar nie iets soos kondome of voorbehoedpille wees nie.  Ek dink baie van die groenes sal verkies dat mense voor die voet uitgesit word.  Weereens is hulle eise nie onderhandelbaar nie.  Mense wil natuurlik oorleef en dit is ook nie onderhandelbaar nie.

Net om ‘n paar nie-onderhandelbares te noem.  Met alles waaroor daar nie geonderhandel kan word nie, weet ek nie hoekom daar ‘n beraad moet wees nie.  Almal wil praat en niemand wil luister nie.  Almal gaan in elk geval hulle eie agendas deurvoer, dus is die beraad net ‘n mors van hulpbronne.  Volgens die omgewingsbewustes, is die aarde gedoem.  Aan die een kant het ons almal seker maar daardie vrees – die wat-kan-en-nie-wil-nie seker ook.

Toe die aankondiging dat daar moontlik ‘n planeet soortgelyk aan die aarde is.   Daar is ‘n ster, G5, wat baie soortgelyk aan ons son is.  Die planeet, Kepler 22b, is min of meer op ‘n bewoonbare zone van die son af en is waarskynlik rotsagtig soos die aarde.  Daar is ‘n oppervlaktemperatuur van 22ºC en die moontlikheid van lopende water is nie uitgesluit nie.  Dit is wel onseker of daar lewe op die planeet is.

Ons sal seker gou genoeg uitvind – deur iets of iemand te stuur om te gaan kyk.  Die Keplers moet hulle nou maar regmaak.  As die planeet enigsins bewoon kan word, gaan ‘n paar aardlinge (of selfs nasies) dit gaan bewoon.  Die mens was mos nou een maal nog nooit bereid om gelukkig te wees met wat hulle het nie.  Na die Tweede Wêreld Oorlog is landlus meer beperk, maar die lagie van beskawing is mos maar baie dun.  As lande op die aarde nie meer gegryp kan word nie, wat keer hulle om lande op ander planete te gaan gryp?

Waarskynlik net geld en vaardighede.  Goed wat relatief maklik bymekaar gekrap kan word.  Gieraads wat die aarde se stof finaal van hulle voete sal skud.  My innige simpatie aan die Keplers.  Ek wonder tog. . .  Gaan hulle dood ons brood wees?

Wat dink julle?

Breinvasbrand:  Watter superheld is as baba aarde toe gepos toe sy planeet, Krypton, op die punt was om vernietig te word?

Breinlosbrand:  Olga was reg met E-Tv








Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 188 other followers