Do you speak English?

6 09 2017

Xena A. Phoenix het baie vaardighede, maar tale is nie een van my talente nie.  Ek het byvoorbeeld baie jare op skool Zoeloe gehad, maar moenie my vra om een sin in Zoeloe te sê nie.  Soos julle weet is my Afrikaans nie perfek nie, my Engels is om van naar te word, maar my Snert is uitmuntend.

Met my onlangse besoek aan Frankryk, moes ek ‘n paar basiese sinne leer.  Die absolute minimum om oor die weg te kan kom.  Die meerderheid gesprekke in Frans het geëindig met “Do you speak English?”

Dit het my natuurlik vreeslik vermaak, want elke keer het ek aan die lied van Carike Keuzenkamp en Johan Stemmet gedink.

In die liedjie loop twee vreemdelinge mekaar in Brasilië raak en knoop ‘n gesprek aan.  Die taal is ‘n bietjie van ‘n probleem, want die meisie kan nie Frans, Duits of Italiaans praat nie.  Sy kan wel Engels praat en dan gaan verf hulle Rio rooi.  Sy dink buitelandse mans het die kuns vervolmaak om ‘n meisie sag te maak en hy reken buitelandse meisies is duur.  Later vra sy hom van waar is hy nou eintlik.  Nylstroom.  Baie gerieflik vir ‘n meisie van Naboomspruit.

Goed, ek weet 2 minute en 49 sekondes gee nie juis veel tyd vir ‘n lang storie nie.  Buitendien is dit mos sonde om ‘n goeie storie met feite te bederf.  Maar regtig?  In my ervaring is “Van waar is jy?” gewoonlik een van die heel eerste vrae wat gevra word.  Buitendien, was die aksente nie baie bekend nie?

Nogtans ‘n baie amusante liedjie wat nie verdien om vergeet te word nie.

Onthou julle dit nog?

 





40 jaar later

16 08 2017

2017 is die 40ste herdenking van Elvis se dood en nog steeds is daar mense wat glo dat hy nie dood is nie.  Ek het geen idee waar daardie neiging vandaan kom nie.  Van waar ek sit, is hy maar so goed soos altyd dood.  Hy was immers al jare lank dood toe ek gebore is.  Wat ook nie heeltemal waar is nie.

Sien, wat Elvis van enige man onderskei wat in 1977 dood is, is dat hy vandag nog bekend is.  Daar is nog steeds honderde (indien nie duisende) mense wat ‘n lewe daaruit maak deur Elvis te na-aap.  Sy dogter het blykbaar net $1 miljoen geërf na sy dood.  Met haar pa se naam en haar ma se ondernemingsgees staan sy glo so $300 miljoen sterk.

So van Lisa Marie gepraat . . . dit het al baie gebeur dat dogters saam met hulle bekende pa’s liedjies opneem.  Daar was Nancy Sinatra wat saam met Frank Sinatra Something Stupid gesing het.  Daar was al baie vrae gewees oor die geskikheid van die duet en hulle bloedverband.  Natalie Cole wat jare na haar pa se dood saam met hom Unforgetable gesing het.  En dan is daar hierdie weergawe van “In the ghetto.”

Wat dink julle daarvan?

Dink julle dat Elvis wel op 16 Augustus 1977 dood is?  Gestel hy was vandag ‘n 82 jarige oom wat met ‘n haelgeweer op Graceland se stoep gesit het, sou hy nog steeds gewild gewees het?  Of sou hy dalk iewers Graceland moes verkoop het om aan die lewe te bly?





Presies 40 jaar later en nog steeds ‘n treffer!!

31 10 2015

 





Toeka Tokkel 7: Almal dra jeans

6 02 2015

Scrapy se onderwerp die week is klere / mode.  Of jy nou ‘n modepop, fat of ‘n droeë bokkom is, almal dra denims.  In plein Afrikaans is dit sommer jeans, alhoewel die HAT reken dit is jannas.  Dit is seker ook die veelsydigeste kledingstuk van almal.  Dit doen om in die huis te werk, maar kan ook opgetert word vir iets meer formeel.  Dit kan sommer mos stukkend ook wees.

Maar hoekom sal ek die deugte van ‘n denim besig?  Daar is soveel mense wat dit beter as ek doen.

Goed, goed – die “Hippy Hippy Shake” het seker niks met ‘n jeans uit te waai nie, maar ek kon die Swinging Blue Jeans nie met die inskrywing ignoreer nie.

Wanneer gaan iemand sing van ‘n Adonis in Blue Jeans?  Met of sonder ‘n hemp.  Wag, ek dwaal af.

Wel, ek hoef seker niks meer te sê nie.

Denims is mos amper sinoniem met rockers.

Voordat ek van seksisme aangekla word.

Ek neem aan hy is nie meer so oulik nie, maar ek sou graag saam met David Dundas in sy jong dae gaan motorfiets ry.

Die beste word natuurlik vir laaste gebêre.  😉

Hoe hou jy van jou jeans?  Is daar nog jeans liedjies waarvan ek nie weet nie?  Het ek jou gunsteling jeans liedjie gespeel?  Hou Afrikaanse sangers nie van jeans nie?

Breinvasbrand:  Vir watter handelsmerk was Jeans On geskryf vir hulle advertensie?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Hazard Analyses and Critical Control Points.





Sing asof niemand kyk nie

24 01 2015

Let op hoe sedig waai hy elke nou en dan asof hy nog nooit van Taylor Swift gehoor het nie.





Carpe Diem

22 11 2014

Daar is ‘n advertensie op die radio waar ‘n vrou afgerig word om die dag te gryp.  Nadat sy onder andere gebrul het soos ‘n leeu, word sy los gelaat om die dag aan te gaan durf.  Die advertensie reken egter dat dit baie makliker en meer effektief is om ‘n sekere plek se ontbyt te gaan gryp.

Ek weet dat ontbyt die belangrikste ete van die dag is, maar daar is beslis makliker maniere om jou alie in rat te kry vir enige dag.  Ek meen, om ontbyt te gaan koop, moes jy al reeds uit die bed geklim het en ten minste darem jou tande geborsel het.  Tensy die ontbyt self agter jou aandraf, doen dit niks om jou uit die bed te kry nie.  Dit raak dan ‘n taak, iets op ‘n doen-lysie – nog iets waarvoor jy in die bed wil uitkruip.

Maar ek dwaal (alweer) af . . . Ek wil praat van die goed wat jou tande vir die dag slyp en sommer ook die hele dag ‘n glimlag op jou gesig hou.  Dit span sommer ‘n dak oor jou battery waarop niemand die dag kan pieps nie.  Dit is natuurlik net musiek wat dit kan regkry.  Veral as jy dit onverwags hoor . . .

Dus in geen spesifieke volgorde nie, bied ek ‘n onvolledige lys Carpe Diem liedjies aan.

Proud Mary – Tina Turner

Paint it Black- Rolling Stones

Sisters are doin’ it for themselves – Annie Lennox en Aretha Franklin

I love Rock ‘n Roll – Joan Jett

Thunderstruck – AC/DC

Wat maak jou soggens die koning / koningin van die planet?  Julle beurt om die lys volledig te maak.





Why don’t you get a job?

6 04 2014





Onsekerheid Onheil

21 02 2014

Ek het al in die verlede daaraan geraak.  Party liedjies is stories, ander van hulle smeek net weer ‘n storie om saam met hulle te gaan.  Ek is nie die enigste een wat daarmee gefasineer word nie.  Dit word soms songfics genoem.  Ek het my al lankal voorgeneem om meer daarvan te doen, maar ek sal seker vinger moet trek om dit ‘n realiteit te maak.  Dus – hier is nog ‘n songfic poging.  Laat weet my wat julle daarvan dink.

Daar is geen veiligheid in onsekerheid.

Enige verantwoordelike volwassene weet dat daar finansiële voorsorg getref moet word om ‘n sekere lewenstandaard te handaf.  Lewensversekering en ongeskikheidsdekking vir as die broodwinner nie meer die witbrood onder die arm kan verskaf nie.  Korttermyn versekering om die apostel perde in die stal te hou as jou voertuig beskadig of gesteel word.  Regsversekering vir wanneer iemand die klap kry waarvoor daar gesmeek is.  Mediese fonds vir as een in die gesin skielik ‘n hospital geval word.  Kritiese siekte versekering en verskil dekking om seker te maak die mediese fonds skiet nie te kort nie.  ‘n Nimmereindige lys van onheile wat om elke draai skuil waarvoor jy moet voorsorg tref.

Nadia Swanepoel aanvaar dit as verloop van die lewe.  Onsekerhede behoort ontleed te word, die waarskynlikhede moet opgeweeg word en stappe moet geneem word om seker te maak dat die veiligheidsnet die nodige beskerming kan gee.  Wat Nadia nooit kon klein kry is hoekom die enigste aanvaarbare veiligheidsnet vir volwassenes geld is?

Dit is tog die onsekerhede van ‘n meer persoonlike aard wat die meeste verwoesting saai.  Geld kan van ‘n verskeidenheid bronne gekry word, maar ‘n hart wat in stukkies is, bly verwoes.  Daarvoor kan jy geen versekering of dekking kry nie.  Daar word verwag dat jy die wêreld droë-oog moet aankyk en kop omhoog aangaan sonder om iemand te verontrief.  Dapperheid is nie ‘n veiligheidsnet wat geld kan koop nie.

Dit maak dus sin om die nie-finansiële onsekerhede te ontleed en te bereken.  Sou jy weet wat op jou wag, kan jy die nodige voorsorg tref.  Dieselfde beginsel as met finansiële risiko’s, maar iets wat die gemeenskap afkeur.  Ekonome mag voorspellings maak, maar diegene wat lig op jou toekoms kan werp, word ten strengste veroordeel.

Nadia weet dit alles, maar sy weier om dit te aanvaar.  Die ringe op haar linkerhand is veronderstel om haar ewige trou te waarborg.  Nogtans is daar ‘n groot gat in die middel waardeur ‘n lus maklik glip.    Hoekom nie bepaal of lus ‘n onsekerheid is waarvoor sy vroegtydige waarskuwinge in plek kan stel nie.

As dit nie reeds te laat is nie.  Derek is die afgelope paar weke nie homself nie.  Dinge is glo chaos by die werk, maar dit het nog nooit van te vore sulke afmetings geneem nie.  Voorsorg is tog beter as nasorg, dus het Nadia haar navorsing op die internet gedoen.  Nou staan sy en wag vir die kaartleser wat al meer as ‘n halfuur laat is.  Was dit nie dat diskresie gewaarborg en Madame Skoppens as een van die bestes gesien was nie, het Nadia al lankal haar besigheid elders geneem.

Maar soos dit was, moes sy behoorlik pleit vir die afspraak.  Madame Skoppens se dienste is baie gesog en dit kan nie van haar verwag word om agteroor te buig sonder behoorlike vergoeding nie.  Nadia was desperaat, dit was nie asof Derek die geld van hulle rekening sou mis nie.  Sy brein was elders.

Nadia moet haar rug styf teen die muur druk wanneer die swart slap motor by die oprit indraai.  Die bestuurder se venster is oop, net genoeg dat Nadia die bevel wat van agter af kom kan uitmaak:  “Huis, James.”

Die stem is koud en stuur rillings teen Nadia se ruggraat af.  Sy probeer verby die bestuurder kyk terwyl daar vir die hek gewag word.  Die koue stem se eienaar is gebaai in die skadu van die swart ruite.  Nadia kan net vaagweg die swart kat wat op haar skoot gekam word uitmaak.

Onseker wat van haar verwag word, loop Nadia maar betreurd agter die motor aan.  James het reeds die agterste deur oopgemaak en die lang, maer vrou – geklee in ‘n jas – klim net na die kat uit.  Met ‘n rol van die hovaardige kop word Nadia beveel om haar te volg.  Die vertrek waarheen Nadia geneem word laat haar weereens aan die wysheid van haar besluit twyfel.  Dit is donker en Nadia verstik amper in die vrou se parfuum.

Die vrou staan ondersoekend voor Nadia en strek dan ‘n maer, benerige, bleek hand uit.

“Na . . . Natuurlik.” Stotter Nadia en plaas die dik rol oranje note in die palm.

Die geld word met ‘n honende lag aanvaar, voordat dit in die jas gedruk word en die vrou die jas uittrek.  Dan, asof die honende lag haar melodie is, begin die vrou te dans terwyl sy die kerse aansteek.  Toe die klok die uur slaan, gaan sit sy skielik en haar oë priem deur Nadia.

“Sit!”

Nadia sak teenoor die vrou neer.  Dit voel of die vrou se deurskynende groen oë haar op die plek vaspen.  Nadia is bloot te swak om die kyk te kan breek.  Dit vat haar ‘n wyle om te besef dat die vrou met haar praat, dat die vrou haar hele geskiedenis aan haar skets.  Insluitende die dele wat Nadia eerder sou wou vergeet .  Selfs ‘n paar goed wat Nadia self nie geweet het nie.

‘n Pak kaarte word na Nadia geskuif met die opdrag dat sy daarop moet blaas.  Te bang om te stry, gehoorsaam Nadia onmiddelik.  Die swart kop vrou trek die kaarte terug en deel twee van bo van die pak af.  ‘n Koningin en ‘n drie.  Dit vrou begin murmer in een of ander iets wat Nadia nie kan verstaan nie.  Die volgende kaart is ‘n Boer van Klawers en skielik word Nadia se vrees met onheil vervang.    Madame Skoppens bekyk haar ook asof Nadia die duiwel self agter haar staan.  As Nadia kon, het sy nou eerder met die onsekerheid geleef.  Sy sou weghardloop, as sy net in staat was om te beweeg.

Dit is asof ‘n bose storm in die lang oomblik van stilte opbou tot die koue, afgemete stem die storm volbring.

“Die man wie jy lief is, is heimlik getrou aan iemand naby jou.  My raad is dat jy die stof van my huis van jou voete afskud en vergeet dat jy my ooit gesien het.”

Daarmee is die spel wat Nadia gevange gehou het verbreek en kan sy in die nag weghardloop na waar haar kar langs die oprit staan.  Sy spring in haar kar, met geen ander begeerte as om so ver as moontlik van die onheilsnes te kom.  Wanneer sy swak teen haar voordeur terug sak, is alles te vergeefs.  Sy kan nog steeds die dame van donkerte aanvoel.

Nadia was tot in haar murg uitgeput.  Sy gaan kruip sonder meer in haar bed en hoop dat slaap gou vergetelheid sal bring.  Maar daar is vir haar geen rus nie.  In ‘n desperate poging om van Madame Skoppens se verswelgende parfuum ontslae te raak, gaan stort Nadia.  Sy was haarself om van die ervaring skoon te kom, maar dit is vergeefs.  Toe sy terug in die kamer kom, is die parfuum nog steeds daar.

Derek is weer laat.  Te bang om alleen met haar gedagtes te wees, begin Nadia opruim.  Sy trek die beddegoed af en gooi dit in die wasgoedmandjie.  Terwyl sy die bed vars oortrek, besef sy dat die parfuum weg is.  Verlig gaan borsel sy haar tande, net om weer met die parfuum in die badkamer gekonfronteer te word.  Sy gryp die laken van die mandjie en daar is geen twyfel dat dit die bron van die parfuum is nie.

Nadia laat toe dat woede van haar besit neem.  Sy tel haar handsak op en maak seker dat alles wat sy nodig het daar in is.  Vasbeslote ry sy terug na die swart huis met die donker aura.  Die hek is oop en sy ry sonder meer in.  Daar is geen verrassing, geen skok om Derek se bakkie voor die onheilsnes te sien.

Die deur is oop en sy volg die gedoofde geluide na ‘n ander vertrek as was sy vroeër was.  Die uitgeteerde, sluwe slet is besig om al laggende Nadia se man te soen.  Hy is nie onder een of ander towerspel nie.  Dit kan Nadia duidelik sien toe sy oog op haar val en hy die brunet van hom afstoot.

Te min.

Te laat.

Die pistool in Nadia se hand tref Derek netjies tussen die oë.  Voordat die heks kan gil, ontmoet sy die Skoppensboer saam met haar minnaar.  Nooit weer sal sy kaarte uitdeel nie.

Breinvasbrand:  Na watter liedjie verwys die skets?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Pumpkin Patch. 





Kersgeskenke

17 12 2013

Met die wat Olga so ywerig geskenke koop en toe draai, moet ek seker ook ‘n plan maak.

Ek het dit goed gedink om vanjaar ‘n Kersgeskenk op my blog beskikbaar te stel.  Sommer net om te wys dat ek nog sterk skop, al is dit nie noodwendig in die onmiddelike omgewing nie.

Ek is seker van die meer siniese lesers het nou dadelik aan die sogenaamde geskenke, belonings en pryse gedink waarmee telebemarkers tyd steel.  Ek belowe op my erewoord dat ek nie probeer om iets wat julle nie wil hê by julle keel af te druk nie.  Dus verklaar ek dat julle self die geskenk (Afrikaanse A 4 kalender) sal moet druk of laat druk.  Jy kan darem eers kyk voordat jy daardie besluit neem.

Kalender 2014 blog

Ek hoop julle hou daarvan.





Ritme wat ons sien, hoor en voel

22 11 2013

Gemiddeld is nie juis iets om oor huis toe te skryf  nie.  Dit is net so . . .  wel, . . . gemiddeld.  Daarom is ek dankbaar dat ek nie gemiddeld is nie.  Ek neig gewoonlik na die een punt of die ander.  Nie dat dit noodwendig ‘n goeie ding is nie.  Die een punt sal altyd ‘n skande wees.  😉

Tannie Flits het my gevra om oor musiek te skryf.  Gewoonlik as die onderwerp op die tafel kom, kan ek nie help om te dink aan my een onderwyser wat ons altyd vertel het sy vrou is musieklik nie.  Hy het dan verder gegaan om dit baie duidelik te stel dat sy vrou geensins musikaal is nie.  Hy het Aardrykskunde doseer en het ons dus nooit die definisie van musieklik teenoor musikaal gegee nie.  So ek kan dit met ‘n rein gewete misbruik soos dit my pas.

Ek beskou musikaal as die vermoë om uiting aan musiek te gee.  Dit maak nie saak of jy musiek in beweging sit, dit in woorde vertaal of dit self skep nie.  Ek is op die punt van die skaal wat ander bid om te vermy.  Benewens die feit dat ek geen ritme het nie, is ek boonop lomp.  Dans is dus ‘n ietwat ongemaklike storie.  Ek het ‘n stem wat skepe laat staan terwyl die manskappe hulleself vrywillig verdrink.  Alles net om van die stem verlos te wees.  Ek kan beslis ook nie noot hou nie en is dalk in ‘n mate toondoof.  Dit alles beteken net mooi niks om musiek te kan skep nie.

Aan die teenpool, reken ek weer dat musieklik die term is waarmee musiek waardeer kan word.  In vergelyking met musiekaal, is ek soos ‘n politikus voor ‘n verkiesing.  Heel aan die anderkant van die spektrum.  Ek is mal oor musiek, dalk nie oor alle tipes op dieselfde manier nie, maar ek het ‘n beslisde waardeering.  Ek geniet goeie choreografie, ek geniet ‘n besonderse koor en ek bewonder die werkers wat met sang hulle dagtaak verkort.  Ek is in vervoering hoe die verskillende elemente bymekaar kan kom om mense in vervoering te bring.  Niks onderstreep die oomblik soos die regte musiek nie.

Ek besef dat ‘n artikel oor musiek simpel is.  Eintlik behoort die musiek self te praat.