En . . . mis!!!

19 08 2015

Oe!  Ek het al soveel kere getoeka tokkel met TV Programme, dat ek nie weet wat om te sê nie.  Toegegee, dit was nie voorheen vir Scrapy gedoen nie.

Televisie is maar ‘n slinkse karakter.  Niemand hou mos van televisie.  Dit is maar aan omdat die kinders / man / vrou kyk.  Dit is dalk net aan omdat ‘n mens ‘n bietjie agtergrond geraas soek.  Jy kyk nou nie regtig nie, maar tog gebeur daar iets wat jou aandag vang.  Dit fassineer jou, walg jou of irriteer jou.  Wat dit ook al is, jy moet net weet wat verder gebeur.  Terwyl jy dit probeer vastel, vang iets anders jou.  En goodness gracious, voordat jy weet, is nog iemand op die paal (wel, is jy die slaafse volgeling van een of ander program).

Dit is natuurlik.  Dit is ook snaaks hoeveel ‘n mens in die verbygang kan optel terwyl jy met die een oog televisie kyk.  Jy leer die breë storielyne ken en al die karakters se agtergronde.  Jy weet wie met wie getroud is en wie elk een se skelmpie is.  Jy weet hoekom die spesifieke persoon week na week op die rooi tapyt afgeneem word.  Dit is goed en wel.  Ten minste bou dit jou algemene kennis.  Dit kan egter net gebeur as jy iewers ‘n oog op ‘n televisie het.  Verkieslik op die regte kanaal.

Op hoërskool, het die televisie maar ver tweede gekom.  Ek was amper elke middag op straat en het ook naweke gewerk.  Ek het wel saans die programme gevolg, ook maar net toe ek koshuis toe is.  Ja, ons het toegang tot ‘n televisie gehad, maar dit was gewoonlik diegene wat eerste daar was se reg om te kies.  Party meisies het nooit die TV kamer verlaat nie, hulle het letterlik die een sepie na die ander gekyk.  Ons was oor die algemeen nie veel gepla nie, ons het beter dinge gehad om te doen as om oor ‘n program te baklei.

Ek het toe ek begin werk het, nie ‘n televisie gehad nie.  Ek het op ‘n stadium my broer se televisie geleen, maar ek het eers toe hy dit weer nodig gehad het, daaraan gedink om ‘n televisie te koop.  Dit is nou vir die aande wat ek wel by die huis was.  Miskien, as daar iets wat die moeite werd is om te kyk.  Ek dink DSTV is belaglik duur (ek koop eerder DVD’s en boeke), dus het ek net die gewone kanale.  Tot tyd en wyl my TV vir openbare uitsending geskik is.  Nie dat ek sal treur nie, daar is letterlik niks wat ek wil kyk nie.

Punt wat ek wil maak, is dat jy nogal kan mis as jy nie toegang tot ‘n televisie het nie.  Goed en wel, jy kan nie mis wat jy nie ken nie.  Jy lyk maar net dom as jy verward rondpik oor McDreamy of McSteamy (ek het eers in die 8ste seisoen daarmee opgevang – nie op TV nie).

Dit is nie al wat ek gemis het nie.  Ek het geen idee waaroor die ophef van Friends of Dawson Creek is nie.  Dit het nog nooit oor my TV stel gekom nie.  Ek het gehoor Orange is the new Black is briljant.  Ek aanvaar maar die mense se word daaroor.  House was blykbaar ook briljant, maar ek kon met die paar episodes wat ek daarvan gesien het dit nie insien nie.  Hoeveel hospitaal reekse kan daar wees?  Ek het net gehoor van Scrubs, ER en Binnelanders.

Het ek gemis?  Ek het geen idee nie.  Ek kyk gewoonlik die programme wat mense my in bloed belowe briljant is.  Ek het so onlangs met Dexter begin.  Ek vang alles in ‘n paar weke op (ipv jare as jy dit op die televisie volg).  Soos in letterlik alles.  Ek kyk met die een oog en as iets my kielie vra ek my goeie vriendin google.  Wanneer ek dus met ‘n reeks klaar is, is daar niks wat ek nie daarvan weet nie.

Ek is nie een van daardie mense (tot almal wat dit waag om saam met my TV te kyk) wat in spanning my naels afkou tot alles oopgegooi word nie.  Ek kan lewe met kunsmatige spanning, nie met nuuskierigheid nie.

Waar laat dit my?  Dalk ‘n obsessiewe TV kyker, al is dit nie noodwendig uitgesaaide TV wat ek kyk nie.  Ek het persoonlik niks teen TV kyk nie, mits dit iets is wat my kan amuseer.

Breinvasbrand:  Ek het ‘n aanhaling van Vetkoekpaleis in die die stuk gebruik.  Watter karakter se gevleuelde woorde was dit?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Diane Kohler-Barnard.





Ek kry net my slippertjies, dan kom ek ook

12 08 2015

Scrapy praat die week oor pantoffels.

Op die oog af klink pantoffels half opgesmuk.  Dink ‘n bietjie daaroor.  Dit is veronderstel om skoene te wees wat jy dra wanneer jy nagklere aan het; dus oppad is om te gaan slaap.  Wanneer laas het jy met skoene aangeslaap?  Is daar dan enigsins nut aan pantoffels?  Ek meen, as jou voete koud kry of jy wil dit skoon hou, keer niks jou om die eerste, beste paar skoene (selfs onpaar as jy will) te gryp nie.  Dit sal ook die doel bereik.  ‘n Paar sokkies kan dit ook tegnies gesproke doen.

Tog, ons sou net ‘n tweedag week gewerk het as ons net gekoop het wat werklik nodig is.  Pantoffels skree gemak op die knusste, warmste manier.  Buitendien is pantoffels heel prettige skoene.  Dit moet wees as hulle die binnekant van die Herriemerrie stal wil sien.

Dit is genoeg om by swart, bruin en dalk room te bly vir wanneer jy in die openbaar gesien word.  Hier en daar kan jy uitspattige kleur aan jou voete verdra.  Die meeste van ons is hopeloos te inkennig om soos reënboë rond te loop.  As jy nie ‘n fat is nie, gaan dit waarskynlik belaglik lyk.

Daar is nie sulke drama waar dit by pantoffels kom nie.  Ek gooi sommer bedsokkies daarby in.  Hoe bonter, hoe beter.  Pantoffels is soos ‘n goeie vriend en watter goeie vriend het nie ‘n naam nie?  Ja, ek weet dat dit simpel is om skoene te doop, maar wie kan dit weerstaan as die pantoffels ‘n gesiggie het?  Op die oomblik hou my Maya’s my voete saans warm.  Wie kan raai hoe Maya lyk?

Mense kan nogal heel puntenerig raak was dit by hulle pantoffels kom.  Ek is nie groot in die somer op pantoffels nie.  Kaalvoet is soveel beter.  Buitendien skop ek gewoonlik my skoene by die deur uit.  Dit staan dan mooi reg as ek Laviga en Lispiek moet gaan smeek om in te kom.  Kaalvoet is lekker en kaalvoet is gesond, maar ek verkies nie om in die donker met my kaalvoete op ‘n padda te trap nie.

In die winter, moet my pantoffels my warm hou.  Dit is natuurlik gaaf as dit groot genoeg is om my bootie (bedsokkie) en / of pantoffelsokkie te kan akkomodeer.  My hakke moet toewees, wie soek net ‘n halwe warm voet.  Dit is ook besonders gaaf as die sole vir meer as een winter kan hou.

Hoe kies jy jou pantoffels?





Mengelmoes

5 08 2015

Scrapy wil die week van ‘n mengelmoes weet.  Wel, laat die gedagtes begin spat.

Kom ons begin met die nuus wat die wêreld tot in hulle skoene in geskok het.  Die dood van Cecil die leeu.  Daardie tandarts kan sê wat hy wil, maar die idioom is nie verniet lieg soos ‘n tandetrekker nie.  Dit is net baie minder moeite om ‘n geblikte leeu vir ‘n ryk Yankee nader te sleep as om ‘n bekende leeu uit ‘n reservaat te lok.  Ek vermoed hy het betaal om spesifiek vir Cecil te skiet.

Die gemiddelde (en etiese) jagter beteken veel meer vir die ekologie as ek wat met my kamera jag.  Die natuur is beslis nie meer op so ‘n vlak dat dit sonder menslike inmenging kan voortbestaan nie.  Wel, dalk as al wat ‘n mens is van die aarde verwyder word nadat alle heinings plat geslaan is.  Ek sien dit nie gebeur nie.  Diere se getalle moet beheer word en as iemand wil betaal vir die werk, des te beter.  Daardie jag en geld beskerm spesies.

Terselfde tyd moet ek nogal erken dat ek noudie dag lekker gekry het toe ‘n jagter ‘n armadillo (gordeldier in Afrikaans) geskiet het en die dier se skudde die koeël terug na die jagter gestuur het.  As jy wil uitdeel, moet jy kan ontvang ook.

Die hele Cecil storie is hartseer.  Hartseerder is dat dogtertjies uit hulle huise gelok word om verkrag te word voordat hulle verewig stil gemaak word.  Dit gebeur daagliks.  Hoekom is die dood van ‘n leeu ‘n groter tragedie?  Net om een voorbeeld te noem.

Cecil het ons darem ‘n breek gegee met die hele “love wins” sepie.  In die eerste plek, “love win” al sedert 2006 in Suid-Afrika.  Hoekom die groot vreugde / afgryse as jy nie self in Amerika bly nie?  En ja, mens kan simpatiseer met die twee ooms van in hulle 80’s wat in Texas hulle liefde kon formaliseer het.  Is dit regtig ‘n geval van liefde wat oorwin het?  Of is dit eerder ‘n geval van “Everything you can do, I can do better?”

Laat ek verduidelik:  in SA was die kopseer nie so seer om twee mense van dieselfde geslag te laat trou nie.  Die eintlike pyn was hoe om hulle weer te kon skei.  Daar was nie net ‘n stormloop om eerste getroud te kom nie.  Ek onthou een artikel baie goed van ‘n gay paar wat baie trots daarop was dat hulle heel eerste kon skei.  Hulle het spesifiek met die doel gaan trou.

Dit is seker ‘n menseregte saak.  Na die opspraakwekkende referendum in Ierland het iemand nogal ‘n baie interessante vraag gevra:  Behoort die meerderheid oor die regte van ‘n minderheid te besluit?  Is dit reg?

Ek moet sê dat ek vreeslik geamuseerd is dat baie mense wat die instelling van die huwelik verag, voorstaanders van homoseksuele huwelike is.  Ek sien nie die logika nie.

Die laaste twee jaar is dit asof gayregte die hoogste prioriteit geniet waar dit mense regte aangaan.  As jy nie daarvoor staan nie, is jy so goed soos ‘n bloedafstammeling van Hitler.  Ek meen, in ‘n wêreld waar mense nog doodgemaak word oor hulle geloof, van hongerte sterf, nie kan lees of skryf nie, waar mense (of hulle organe) verkoop word of sommer net soos diere behandel word, is dit regtig die hoogste prioriteit?  Om te kan trou (en skei)?

Paulus word dikwels in die gay debat ingesleep.  Ek is nie self ‘n aanhanger nie, maar hy het soms groot wyshede kwyt geraak.  Dit is goed om te trou, maar beter om nie te trou nie.  As jy pro-gay huwelike is, geluk.  Dit is egter nie nodig om daarop aan te dring dat almal na die partytjie moet kom nie (verskoon die anglisisme en pun).  As jy anti-gay is, die goeie nuus is dat jy nog steeds kan trou met wie jy wil trou.  Jy hoef nie met iemand dieselfde geslag as jy te trou nie.

Ek wonder regtig soms wat van ‘n vrou se vryheid van denke en beweging word as ‘n man betrokke is.  Kan jy werklik gelukkig wees om te spring elke keer wat iemand sy vingers klap?  Wat is die sin daarin om jou persoonlikheid te verander om ‘n vent te plesier?  Hoekom het nie meer vroue rugprobleme nie?  Daardie agtertoe buig kan regtig nie goed vir die liggaam wees nie.

Jacaranda het my gunsteling program van die lug afgehaal.  Dit is beslis nie meer lekker om na hulle te luister nie.  Ek het altyd Andrew se speletjies geniet.

Van speletjies gepraat, die LUR van onderwys in Gauteng het alweer nie gepoep toe hy moes nie.  Hy het op sy nalatenskap besluit en dit gaan glo “Twining” wees.  Model C skole (wat meestal deur die ouers befonds word) gaan met ‘n arm, swak presterende skool moet ‘saamsmelt’.  Hulle sal een begroting hê (alles natuurlik van die model C skool sal kom) en een beheerliggaam (wat ten minste 50% van die arm skool sal insluit).  Natuurlik weer ‘n geval vat van die een wat goed doen en bogger nog ‘n skool op.  Dit is terloops dieselfde man wat onlangs verklaar het dat township skole nou beter toegerus is as van die land se voorste skole.

Wel, ons moet toegee.  ‘n Standard 2 van ‘n township skool is goed genoeg om van jou ‘n president te maak.  Aan die anderkant, dit was daardie tyd ‘n heel ander standard as wat vandag in die onderwys was.  Dit maak jou nou net nie ‘n goeie president nie.  Het die man enigsins iets goeds in sy termyn gedoen?

Het ek iewers tone gemis? Wel, ek kan dit seker met ‘n volgende skrywe bykom.

Breinvasbrand:  Wie het Mengelmoeskardoes gesing?

Breinlosbrand:  Olga was reg met André van der Merwe en Frank Graewe.

 





Riller van Teaters

22 07 2015

Ek het dit al van te vore gesê en ek sê dit weer:  hospitale is gevaarlike plekke.  Dit is nie toevallig dat so baie mense in ‘n hospitaal doodgaan nie.  Moenie jou laat flous nie.  Dit is nie net  bloot omdat siek en beseerde mense in ‘n hospitaal gestop word nie.

Waarskuwing:  hou eerder verby as jy binnekort ‘n operasie moet ondergaan.

Wat is die eerste ding wat hulle doen as jy jou kranklike voete in ‘n hospitaal sit?  Hulle dwing jou om ‘n vrywaringsvorm te teken.  ‘n Stukkie papier wat hulle basies toestemming gee om jou aan te rand.  Ek praat onder korreksie, maar ek dink amper toestemming vir ‘n aanranding wat onder vrees (of dreigement) gegee is, nie geldig is nie.  Kyk maar hoe pers hulle jou af!  As jy ons nie toelaat om jou aan te rand nie, sal jy sterf, siek bly, gestermd wees of die res van jou lewe in pyn deurbring.  Is daardie vrywaringsvorm dan regtig vrywillig?

Nog voordat die ink van jou handtekening droog is, word die kaartmasjien nader gesleep.  Hulle gaan jou beslis nie uit die goedheid van hulle hart help nie.  Baie dinge kan met jou gebeur voordat jy die hospitaal verlaat en hulle wil nie wag op boedels wat beredder word voor hulle betaal word nie.  Netnou kry hulle net ‘n ons van die pond vleis wat hulle wil hê.

Nou het jy hulle nie net toestemming gegee om jou aan te rand nie, jy het hulle boonop betaal om dit te kan doen.  Het julle al opgelet dat daardie vrywaringsvorm nogal wyd en algemeen is?  Dit gee hulle nie net toestemming om jou appendiks uit te haal of om net aan jou linker duim te werk nie.  Probeer hulle net administrasie rompslom vermy?  Ek twyfel.

Dan word jy aan die genade van ‘n slagter dokter oorgelaat.  Wat reeds betaal is en toestemming het om met jou te maak wat hulle lus het.  Dokters weet hulle is volmaak.  Ons wil hulle graag glo en sommer aanvaar dat hulle eerbaar is.  Helaas is dit nie (altyd) die geval nie.  Jy is gerieflik bewusteloos en kan nie keer as dinge handuitruk nie.

Mense het al ingegaan om hulle blindederms te verwyder en dan met ‘n bobbejaan vir ‘n maaksel wakker geword.  Goed, mens kan seker nie Tolla se word daarvoor aanvaar nie.  Daar is egter duisende (miljoene?) stories waar ‘n gesonde been afgesit is in die plek van die een met gangrene.  Waar iemand dink hulle kry prosedure X en wakker word na prosedure Y.  Sommer goed oor te gebruik wat lankal weggegooi moes word.  Waar ‘n dokter net hande in die lug gooi en iets / iemand anders blameer.

Hoekom sal hy gesteur wees daardeur?  Nie net is hy reeds betaal en het hy volle toestemming om jou aan te rand soos hy wil nie, hy kan jou nou nog meer vra.

Natuurlik net as jy nog kan kla.  Des te beter as hy jou kan begrawe.  Heelwat minder ongerief.

Dit is ‘n dapper mens wat vir ‘n operasie kans sien.  Dit is beslis ‘n dobbelspel met hulle lewe.

Breinvasbrand:  Wie is die dokters wat verantwoordelik vir die eerste penis oorplanting in 2014 was?

Breinlosbrand:  Hogwarts School of Witchcraft and Wizardry.





Familie Goete

15 07 2015

Die week se Toeka Tokkel is familie.

Daar is nou nie veel skandes in ons familie nie.  😉  Die wat daar is, kan ek ongelukkig nie met julle deel nie.  Mens praat mos nie buite die familie nie.

Ek het ‘n outjie geken wat graag gespog het dat hy 9 niggies en nefies het.  Ek is nie seker in watter grot hy groot geword het nie, maar hy het graag met sy groot familie gespog.  Eendag het hy weer met sy groot familie gespog en uitgevis hoe groot ander se families is.  Ek het hom geëwenaar met 9 niggies en nefies.  Sy oë het groot gerek en ek het amper net daar een van sy familie geword.  Hy kon nie glo dat nog iemand 9 niggies en nefies kan hê nie.  Twee minute later moes hy sy definisie van ‘n groot familie gaan hersien.

Sien, ek het niggies en nefies aan my pa se kant van die familie.  Daardie tyd het ek 20 niggies en nefies aan my ma se kant van die familie gehad.  Hy wou natuurlik weet of ek kreatiewe berekeninge gedoen het.  Ek het nie.  Ek het verwys na die eerste geslag kinders wat uit my ouers se broers en susters gebore is.

Dit laat my nou dink aan ‘n familiesaamtrek wat lank terug gehou is.  My oupa was een van 13 kinders.  Almal het nouwel nie voortgeplant nie, maar ander het met mening volk gebou om vir die wat enkel gebly het op te maak.  Die een vrou het met groot oë gewonder wat sou gebeur as daar ‘n ondertrouery onder die nageslag sou gebeur het.  Die familie was ver genoeg uitgebrei dat jy nou nie met elke vertakking kon kontak hou nie.

Dit is natuurlik nou hier waar die familienaam-voorstaanders vernaam hulle koppe skud.  As almal in die familie dieselfde naam het, dan sal daar mos gevaarligte begin flikker as jy iemand met ‘n bekende naam ontmoet.  Wat maak dit tog saak as elke tweede persoon se naam Adriana Magrieta is?  Dit beteken net dat die familieboom goed gegroei het.

Goed en wel – maar dit bied nie juis veel in terme van individualiteit nie.  Ironies genoeg, as ‘n mens familienaam direk vertaal, verwys dit na van.  Iets wat tradisioneel net deur die manlike lede van ‘n familie voortgedra word.

Nie te lank terug nie, praat ek met verskeie vroulike kollegas.  Die dames het gewone (familierige) name soos Susan, Marie, Alice ens.  Die gesprek het gegaan oor hulle identiteit te behou na hulle troue.  Een en almal van hulle het hulle nooiensvanne behou na hulle troues.  Klink maklik, maar daar is glo uitdagings wanneer hulle amptelik as moeders vir hulle kinders met ‘n ander van moes optree.

Ek kon nie help om te grinnik nie.  Met ‘n naam soos Xena, het ek nie ‘n van (familienaam) nodig nie.

En ‘n ondertrouery?  Dit is nie so dramaties soos mense hoop nie.  As daar geen ander genade is nie, is daar nog so iets soos DNS toetse.  Siende dat daar so iets soos sperm- en eierskenkers is, is DNS dalk nie so ‘n mal idee nie.

Breinvasbrand:  In Suid-Afrika, mag ‘n niggie en ‘n nefie wettig met mekaar trou?

Breinlosbrand:  Scrapy was reg met Gujarat.





Kleure

8 07 2015

Scrapy gorrel die week oor kleur.

Daar is ‘n ou studente grappie dat die verdekselse appel nooit op Newton se kop moes geval het nie.  Die boom moes.  Geen Newton, geen gravitasie.  Geen wette van Newton nie.  Dus geen Fisika nie.  Of ons natuurlik vandag dieselfde lewenstyl met al ons moderne geriewe sou kon geniet het, is natuurlik ‘n ander vraag.  Aan die anderkant, Newton se bewegingswette is ook onafhanklik op ‘n Wiskundige manier gedefinieer.  Daar sou dus geen ontsnapping gewees het nie.

Hoe dit ook al sê, Isaac Newton was maar ‘n moeilike kalant om te te dood.  Nadat sy universiteit uit vrees vir die Groot Plaag gesluit het, het hy nie soos enige goeie student leeg gelê nie.  Nee, hy moes opsluit wetenskap gaan herontdek het.  In die tyd wat die universiteit gesluit was, het Newton Calculus, optika en gravitasie gaan oopkrap.  Vergeet die appel, mens sou dink die Groot Plaag sou ‘n beter werk kon doen.

Wat het dit met kleur te doen?

In 1666 het Newton met glasprismes gespeel en ontdek dat wit lig kan opbreek in die verskillende kleure.

Daar het intussen baie water in die see ingeloop, maar wat vir die meeste mense net iets cools vir ‘n paar minute se vermaak sou gewees het, was op ‘n stadium die voorpunt van wetenskap gewees.

Die mensdom strompel dikwels oor ‘n stukkie briljantheid.  Die sleutel lê daarin om dit te herken.  Dit help natuurlik ook as jy dit kan verduidelik en kan toepas.

En dit is hoekom party mense stinkryk raak en ander net voortploeter!





Passie in die onderwys

1 07 2015

Eish!  Ek wou nog iets sê oor drama, maar Scrapy se Toeka-Tokkel trek nou al by onderwys.

Hoekom word daar van ‘n leerling (leerder as jy wil) verwag om stukke Shakespeare te onthou, maar dieselfde word nie verwag van ‘n leerling se Afrikaanse voorgeskrewe boeke nie?

Hierdie was iets wat my pla vandat ek die Lady Macbeth se monoloë te doen gekry nie.  Nou nie dat ek noodwendig stukke Afrikaanse prosa wou memoriseer nie.  Dit het net altyd vir my onregverdig geklink.  Vandag, etlike jare later, is dit tog net Macbeth se hekse wat ek met tye sal aanhaal.

Niemand kon my al ooit geantwoord het nie.  Vet weet hoekom, maar daar is baie mense wat ‘n ding vir Shakespeare het.  Wanneer ‘n mens iets oor en oor sien of oor en oor lees, hak daar maar iets in jou brein vas.  Dit is dan gereed vir gebruik vir waar iemand dit nodig vind.  Daar was dan seker ‘n paar onderwysers wat Shakespeare vir ontbyt gehad het.  Hulle het hulle passie met hulle studente gedeel tot dit vandag nog ‘n verwagting is waar Shakespeare op die lessenaar geland het.

Daar kom ek nou met ‘n wye draai by passie uit.  Iets wat te dikwels in onderwys makeer.  Hoeveel mense betree regtig die onderwys omdat hulle ‘n besonderse liefde vir ‘n vakgebied met skoliere wil deel?  Dikwels is die onderwysers net so lusteloos en verveeld met hulle vakgebied as die kinders self.  Dit lok nou nie regtig ‘n gesonde belangstelling nie.

Kom ons neem Geskiedenis as ‘n voorbeeld.  Hoeveel onderwysers lees die les woord vir woord uit die handboek uit?  Geen vakboek word ooit geskryf om boeiend te wees nie.  Dus, Geskiedenis is ‘n dooie vak wat geen doel dien nie.  Dit is soveel meer werd om te gaan kyk hoe die gras groei.

Ons st. 3 Geskiedenisjuffrou het altyd vir ons stories vertel.  Die stories het heeltemal ooreengekom met wat in ons Geskiedenis boeke gestaan het.  Nogtans het dit beter in ons koppe vasgehak omdat ons nie eers agter gekom het ons leer nie.  Geskiedenis was ‘n boeiende vak, iets wat ons amper te bang was ons mis.  Sy het ‘n passie vir haar vak gehad, iets wat ek seker is in talle van haar leerlinge inslag gevind het.

Sy was egter in die minderheid.  Die vrou het Afrikaans ook aangebied en sy was beslis ook daaroor passievol gewees.  Helaas het ons haar nie op hoërskool gehad nie.

Ek dink die groot rede hoekom ons nooit aangemoedig was om aanhalings van ons voorgeskrewe boeke te onthou nie, is omdat die onderwysers nooit self die waarde daarin gesien het nie.  Amper asof daar niks waardevols is wat uit Afrikaans uit aangehaal kon word nie.  Daarmee saam is die idee dalk gekweek dat Afrikaans minderwaardig is, al was jy gereeld vertel watse mooi taal dit is.  Jy was dit egter nooit gewys nie.

Voel julle onderwysers het genoeg passie vir hulle vakgebiede?

Breinvasbrand:  Wie se gevleuelde woorde is dit:  Nou vang baas vis in ‘n pispot?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Frank Farian.





Toeka Tokkel: Omgewing

17 06 2015

Scrapy praat die week oor die omgewing.

Een van die eerste wetenskaplike terme wat ‘n mens leer is habitat.  Habitat beteken omgewing, hoewel dit nie heeltemal so wyd as omgewing is nie.  ‘n Habitat is basies die omgewing waarin ‘n organisme gevind word.  Die omgewing het ook ‘n impak op die organisme, in die sin dat die organisme sekere eienskappe ontwikkel om by die omgewing aan te pas.

Dit is dan seker ook net gepas dat die mens die organisme is wat die moeilikste by ‘n nuwe omgewing kan aanpas.  Dit is immers net die mens wat die mag het om die omgewing te misbruik, mismaak en vernietig.  Al die ander lewe ly daaronder.  Tog is die mens die weerloosste van al die lewe op aarde.  Daar word tans gevrees dat die lewe in die see deur die mens uitgewis gaan word.  Ek dink dat lank voordat die laaste vis vrek, gaan daar beslis nie meer mense op aarde wees nie.

Dit is nou al jare lank dat daar gemaan word dat die mens die aarde vernietig.  So graag as wat ‘n mens dit as bangmaakstories of wetenskapfiksie wil afmaak, kan ‘n mens dit nie heeltemal ignoreer nie.  Die menslike bevolking word nie heeltemal deur die natuur beheer nie.  Nogal ironies, soveel as wat die mens die natuur wil beheer, is daar ‘n groot deel wat hulle nie kan beheer nie.  Nogtans is die aanwas van die mens te vinnig.  Hoe meer mense daar is, hoe meer hulpbronne word benodig.  Hulpbronne wat van die aarde af moet kom, hulpbronne wat (nog) nie terug geploeg kan word nie.

Lewe op ander planete is dalk moontlik.  Die kanse dat die Amerikaners (of dalk die Russe) ons almal op hulle ruimteskippies gaan laai is maar skraal.  As 7 biljoen mense nie eers gevoer en gehuisves kan word nie, wat is die kans dat hulle almal na ‘n beter heenkome geneem kan word?  Hoe lank sal dit wees voordat daardie planet ook deur die mens se stert getrek word?

Die alternatief is seker om die vernietiging om te keer.  Dit sal natuurlik ‘n hele lewensstyl en lewensstandaard verandering verg.  Dit is nou as daar nie reeds al te veel skade is nie.  Ek sal egter nie my koningkryk daarop verwed nie.

Die enigste hoop is dat wetenskaplikes ‘n manier kry om die skade om te keer.  Om die nodige hulpbronne vir die mens te kry, sonder om dit uit die aarde uit te pers.

Eendag as ons groot is.  Miskien.

Breinvasbrand:  Wie was die vervaardiger wat Boney M gestig het?

Breinlosbrand:  Olga en Scrapy was reg met Burma.





Toeka Tokkel: Grootword wenk

11 06 2015

Scrapy se onderwerp die week is Grootword.

Ek het raad vir almal wat met groot word sukkel.  Moet nooit jou klere te groot koop nie.  Jy gaan verseker dit ingroei.

Dit is dan seker ook geen verrassing dat die omgekeerde nie werk nie.  As klein word so maklik was, het niemand gesukkel nie.  Helaas gaan klere wat te klein is, te klein bly.  Groei is mos immers vermeerdering en nie vermindering nie.

Hierdie logiese, wetenskaplike feit word gratis aan julle gebring.

 





Toeka Tokkel op studeer

3 06 2015

Scrapy soek die week stories oor Studente.  Been there, done that and got at least a 1000 T-shirts.  Goed, goed – ek oordryf oor die T-hemp hoeveelhede, maar net ‘n knippie.  Julle hoef nie te vrees nie, ek sal julle nie weer oor met al my studente stories verveel nie.

Daar is twee uiterstes waar dit naskoolse kwalifikasies aangaan.  Die eerstes dring daarop aan om iemand anders se kwalifikasie plat te slaan as onbenullig.  Die tweede groep moet opsluit weer hulle kwalifikasies in almal se kele afdruk.  Altwee is genoeg om ‘n mens na die toilet te jaag.

Ek gee toe dat ek meer na arrogant as nederig neig.  As iemand my vra of ek na skool gaan studeer het, sien ek geen rede om nie te antwoord nie.  ‘Ek het ‘n graad en ek is tans besig om aan my tweede graad te werk.’  Daar is mos niks verkeerds daarmee nie.  Ek het verskeie ander kwalifikasies ook, maar dit is te veel om op te noem.  Ek doen dus nie eers die moeite om daarna te verwys nie.

So dikwels staan iemand dan gereed om my my plek te wys.  “Ek het ook ‘n graad.  ‘n MA graad.” O, wee!!!  Party mense kom ook nooit oor die feit dat hulle swanger geraak het en skielik tot ‘n moeder verhef is nie.  Party vrouens sal selfs op die titel van vader aandring as niemand anders dit opeis nie.  Die blote feit dat jy iemand in die lewe gebring het, maak nie van jou ‘n goeie ma nie.  Dit is waar dat ‘n mens nie ‘n graad nodig het om ‘n goeie ma te wees nie, maar terselfde tyd verander ‘n graad nie die tipe ouer wat jy sal wees nie.

Die grappie is oud en was nog nooit regtig snaaks of skerp nie.

Mens kry ook die mense wat dink dat ‘n stukkie papier (of ‘n handvol papiere) hulle al die kennis en mag gee.  Die ironie is natuurlik hoe verder ‘n mens studeer, hoe kleiner raak die toepassingsgebied.  Dit maak jou ‘n spesialis of ‘n kenner van ‘n baie klein punt in ‘n baie groot skildery.  Jy weet beslis nie alles van die hele vakgebied nie en dit maak jou nie ‘n kenner op alles nie.  Al het jy 7 jaar studeer om ‘n dokter te word, beteken dit nie dat jy ‘n huis kan ontwerp nie.  Dit beteken nie eers dat jy ‘n hospitaal kan ontwerp nie.  Dit beteken eintlik net dat jy ‘n ietsie van snykunde en ‘n ietsie van medisyne weet.

Die ironie is natuurlik dat die mense wat hulle PhD’s en ander gevorderde grade op hulle voorkoppe dra, gewoonlik nie veel meer as dit het nie.  Hulle hoop natuurlik om almal so te intimideer, dat niemand agter kom dat die stukkie papier op wind gebou is.  Die wat regtig die aansien verdien, styg ver bo hulle papiere uit.

Breinvasbrand:  Waarna verwys Ivy League?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Thuli Madonsela.