Persoonlike ondervinding en giftonge

22 07 2012

Hier’s ek weer, hier’s ek weer, met my Merrie voor jou deur.  En tipies, die oomblik wat ek my rug draai is daar toe so ‘n bietjie drama.  Nie dat ek iets teen drama het nie, allermins.  Hier is die opmerking:

Ek het in my lewe nog nooit na so ‘n klomp gemors geluister nie. Wie is enige van julle om klippe te gooi? Meeste van julle het nie eens ‘n krieseltjie clue waarvan julle praat nie. Hoe durf julle veralgemeen? Ek is skaam om julle my medemens te noem. Soveel veroordeling! Wat as die rolle omgekeerd was en julle was in daardie situasie en het deur daardie emosionele tyd geworstel?

Ek was 25 toe dit met my gebeur het. Niemand sou my ooit vir my situasie kon voorberei nie. Ek mis my kind elke dag, maar ek weet ook dat sy in goeie hande is. Sedert dit gebeur het , was ek nooit weer dieselfde nie.

Ons mense is te geneig om te vinnig te oordeel en hul los venynige menings met almal wat wil luister, te deel. Al ooit gewonder, jy wat so op jou pedestal sit en ander veroordeel, watter seerkry julle ongevoelige en oningeligte menings aan ander veroorsaak.

Praat oor onderwerpe waarvan julle persoonlike ondervinding het. Andersins bly stil. Die wat so uitwei oor hoe hulle nooit kan lief wees vir ‘n ander se kind nie, ek hoop dat ‘n aanneemkind of enige kind daar buite wat in nood is vir ‘n liefdevolle familie nooit oor jou pad gestuur word nie.

Rene, Rene – jy het my op “let’s agree to disagree” en “elkeen het ‘n reg tot ‘n mening” gehad tot jou laaste paragraaf.   Ek verwys nie nou na “Die wat so uitwei oor hoe hulle nooit kan lief wees vir ‘n  ander se kind nie” mening nie.  Hoewel ek dink dit doen aansienlik minder skade om vooraf te erken dat jy nie ‘n aangenome kind jou eie kan maak nie.  Voordat jy ‘n baba se lewe verwoes deur voortegee om iets te wees wat jy nie is nie.  Ek dink egter ek het reeds my mening in daardie onderwerp gegee.

Ek wil eintlik gesels oor “Praat oor onderwerpe waarvan julle persoonlike ondervinding het.  Anders bly stil.”  Is jy nou wragtig ernstig?  Dink jy nou regtig dat persoonlike ondervinding die alfa en omega is?

Jy is terloops heeltemal reg, ek was nog nooit in my lewe dat ek moes besluit het wat van my baba moet word nie.  Net so was ek nog nooit in die posisie waar ek ‘n kleuterhandjie in ‘n pot warm olie gedruk het nie.  Ek het nog nooit nodig gehad om my praatwerk met my vuiste te doen nie.  Ek het nog nooit ‘n pistool teen iemand se kop gedruk en die sneller getrek nie.  Ek het nog nooit my dierlike drange op iemand afgedwing of ‘n vrou (of selfs ‘n man) verkrag nie.  Ek het nog nooit gemaak of ek slaap sodat my man ongesteurd my kind sy hoer kan maak nie.  Ek ook nog nooit ou mense se pensioen gesteel om ryk te word nie.

As ek volgens jou idee van moenie bly stil as jy nie persoonlike ondervinding moes lewe, sal ek kindermishandeling moet goedkeur.  Ek sou moord, verkragting, kindermolestering en diefstal moes goedkeur.  Ek sou moes terugsit en die wêreld laat boser en boser word, want ek het nie persoonlike ondervinding nie.

Wat beteken  dit in elk geval?  Verkeerd is nie meer verkeerd as ek dit persoonlik gedoen het nie?

Punt is, self in ‘n lewe waar die grense daagliks vervaag, is daar nog ‘n reg en verkeerd.  As ek ‘n prentjie kan teken, die lewe is eintlik wit en swart, al raak die grys tussen in by die dag meer.  Die grys word basies misbruik omdat mense nie die verantwoordelikheid van hulle dade wil dra nie.  Hulle wil nie erken dat hulle verkeerd gedoen het nie en soek dan nog regverdiging vir hulle optrede in ander.  As hulle dit nie nie kry nie, moet die ander die blaam dra (vinnige oordeel ens.) sodat die sondaar nie sondig voel nie.

Want jy sien, Rene, as mense soos jy die verantwoordelikheid van julle besluite wil dra, sal dit nie vir mense soos ek nodig wees om julle kastaiings uit die vuur vir julle te kom krap nie.  As daar meer mense is wat onthou van reg en verkeerd, gaan daar heelwat minder vet in die vuur wees.

Kom ons kom terug na jou beswaar.  Ek was nog nooit swanger nie.  Juis omdat ek verantwoordelikheid geneem het vir my dade het ek nie drooggemaak en met gevolge gesit wat ek nie kon hanteer nie.  Ek sal wel ‘n ander se kind my eie kan maak.  En ironies genoeg sal ek ‘n vrou kan verdedig wat wel haar baba opgegee het.  Want ek kan wel die ander kant insien.

Punt is, as jy in jou hart geweet het jy het die regte besluit geneem, sou niemand se uitsprake saak gemaak het nie.  Jy sou die verantwoordelikheid van jou besluit kon dra en eendag aan jou dogter kon verdedig het.  Geen ander “regter” maak tog saak nie.  Nogtans wil jy jou verantwoordelikheid ander s’n maak.

In die geval kan jy my van ‘n giftong beskuldig.  Ek het egter die vermoede dat jy persoonlike ondervinding van ‘n giftong in jou mond het.

Breinvasbrand:  In Sonkring, watter karakter se ma het haar by haar pa gelos om van die man ontslae te raak?

Breinlosbrand:  Ek sien nou eers ek het soos my gat gevra.  Ek het Cecil John Rhodes se broer gesoek wat Herbert Rhodes was.





As jy nie seker is nie, GOOGLE

2 07 2012

Ek het die liedjie een oggend bitter vroeg gehoor.  So in die verbygang, sonder om regtig op te let.  Tot die lirieke my laat stik het – met spesifieke verwysing na die koor.  Dit gaan so iets:

Soos Bonnie en Clyde,

Jekyll en Hyde,

Romeo en Juliette,

kom wys vir my hoe lief jy my het. 

Regtig?  Goed, ek weet ek is geen kenner nie en dit is seker veronderstel om vreeslik romanties te wees, maar weet die skrywers enigsins iets van Jekyll en Hyde af?  Behalwe nou dat dit gerieflik met Clyde rym?  Weet die sangers nie van beter nie?  Van almal wat die liedjie vervaardig het, het niemand geweet wie Jekyll en Hyde is nie?  En as iemand wel weet, dink hulle die mark is te onnosel om te besef wie Jekyll en Hyde is?  Of is almal veronderstel om so verblind te wees met die sangers dat niemand tweekeer sal dink nie? 

Romeo en Juliette het tot vandag toe geen bekendstelling nodig nie.  Hulle sal seker tot die einde van tyd die grootste van romantiese helde wees.  Bonnie en Clyde se lewe was dalk nou nie so romanties as wat dit uitgemaak word nie, maar die mensdom is geneig om van hulle ook ‘n romantiese tragedie te maak.  Dit kan ek insien.  Maar Jekyll en Hyde? 

Om mee te begin was Jekyll en Hyde een en dieselfde persoon.  Twee uiterste persoonlikhede in een liggaam vasgevang.  Dr Henry Jekyll is ‘n goeie ou, wat skaam is oor die donker kant van sy karakter.  Hy is ‘n pilaar van die gemeenskap, een waarna almal opsien.  Edward Hyde weer is die boosheid waarteen almal gewaarsku word.  Hy slaap met prostitute, breek in as hy wil en hy huiwer nie om ‘n moord te pleeg nie.  Jekyll word later van tyd heeltemal deur die “jonger” Hyde oorgeneem. 

Net mooi niks romanties daaroor nie.  As jy vir jou geliefde vertel jy hoop julle is soos Jekyll en Hyde, wat op aarde bedoel jy?  Dat een van julle die goedheid van self is en die ander die boosheid van self?  Of dat jy jouself in twee gedeel het? 

Dit is nogal ‘n jammerte.  Ek het intussen opgelet die liedjie word dikwels op radio gespeel en vir ‘n Afrikaanse lied het dit nogal potensiaal.  Dit begin met ‘n haastige troue, waarna armoede aan die deur klop en liefde wil-wil ontsnap deur die agterdeur.  ‘n Liedjie met storie.  Wat dit nou net nie vir die totaal onsinnige koor nie. 

Breinvasbrand:  Wie was die skrywer van “Strange case of Dr Jekyll and Mr Hyde” wat in 1886 uitgegee is?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Jessie (Jesica)





Melkkoei met bitter pis

31 05 2012

Ek weet nie, dalk is dit maar net omdat ek die berig gelees het voordat ek wakker geword het.  Miskien het ek vandag net ‘n besonderse suinige dag.  My persoonlike verklaring is dat ek GATVOL is. 

Kgosientso Ramo­kgopa of die mense in die Ooste van Pretoria melkkoeie is omdat hulle die munisipaliteit se sosiaal-maatskaplike projekte subsidieer?  Ramokgopa het erken dat dit daarop neerkom, maar dit te regverdig dat hy ook in die Ooste bly en dus ook gemelk word.  Die mense moet glo waarde vir hulle geld kry.  In ‘n ander artikel word daar vertel hoe geregistreerde behoeftiges maandliks 12 kF water en 100 kWh elektrisiteit gratis kry en nie eers eiendomsbelasting hoef te betaal nie. 

Dit is net hier waar my . . . e . . . melk bitter word.  Goed en wel, Suid-Afrika het ‘n groot maatskaplike las wat van iewers gefinansier moet word.  Dit is vir my skreiend dat daar vandag nog mense – insluitende kinders – is wat honger gaan slaap.  Ek voel skuldig wanneer ek sien wat basiese goed kos en dan dink aan hoe armes hulle gesinne voer.  Ek dink behoorlike sanitasie en skoon water behoort ononderhandelbaar te wees.  Ek gun elkeen selfs elektrisiteit.  Maar, genugtig, hoeveel moet ek nog gee. 

Ons gebruik maandeliks in die omgewing van 100 kWh elektrisiteit ‘n maand.  Vanoggend toe ek die lig aansit, toe wonder ek outomaties hoeveel ek daarvoor betaal.  Watter persentasie van wat ek betaal is vir my gebruik en hoeveel was om ‘n ander mens se lig te finansier?  Gaan die meerderheid van wat ek betaal vir my eie gebruik of is dit ‘n onbeduidende aandeel?  Hoeveel ander ligte se gebruik borg ek?  En hoekom sal hulle wil spaar as dit gratis is? 

Noem my ‘n selfsugtige teef wat nie ‘n snars vir die minder bevoorregtes omgee nie.  Maar iewers moet daar ‘n lyn getrek word.  Suid-Afrika is een van die lande wat die meeste op maatskaplike toelaes spandeer.  Dit opsigself is nie volhoubaar nie.  Ek is een van die belastingbetalers wat dit voed.  Jaarliks word daar na nog maniere gekyk hoe die sogenaamde rykes die armes kan befonds.  Ek dink nou aan Nasionale Gesondheid Versekering.  Die belasting betaler gaan meer moet opdok vir ‘n diens waarmee hy/sy swakker af gaan wees.  Dit blyk soms (my mening) asof die regering nie werkskepping wil aanmoedig nie.  Suid-Afrika is nie ‘n vriendelike land teenoor werkgewers of produksie nie. 

Intussen is die middelklas aan die verarm.  Verhogings hou bloot net nie tred met ander finansiële verpligtinge nie.  Verpligtinge wat nie gesubsideer kan word nie, want dit is ‘n sogenaamde ryke (aldus ‘n belasting betaler).  Hulle gesinne moet met minder klaar kom (en ek praat nie nou noodwendig van luukses nie) terwyl hulle die armes moet befonds.  Om dit kras te stel – gesinne word te kort gedoen om ander te finansier.  Nie dat hulle bedank word vir die opoffering nie.  Nee, daar word bloot net meer en meer geëis. 

Wat is die oplossing?  Ek weet nie.  Ek dink daar word te veel gegee en te min verwag.  Ek wonder hoekom word HOP huise weggegee.  Dit maak vir my meer sin dat die munisipaliteit eienaarskap behou en die huise goedkoop (gratis) beskikbaar stel.  Huiseienaarskap is tog ‘n luukse.  Net een voorbeeld.  Die antwoord is seker aggressiewe werkskepping.  Skepping – nie die een se werk afvat vir ‘n ander nie. 

Wat dink julle?  Kla ek met ‘n kaaskoek en ‘n cappuchino?  Moet ek eerder bly wees om ‘n ander te help?  Wanneer is genoeg genoeg?

Breinvasbrand:  Wie is Pretoria se stadsbestuurder wat ‘n salaris van R3.2 miljoen kan verwag?

Breinlosbrand:  Marcus





Noodbaan Misbruikers

4 05 2012

Enige Gautenger weet dat daar sekere tye van die dag is waar die verkeer op die nasionale paaie bitter stadig beweeg.  Dit word spitstyd genoem en as jy enigsins ‘n keuse het vermy jy die paaie die tyd van die dag.  Hoe fyner jou beplanning, hoe minder is die aantal tyd wat jy in jou kar spandeer. 

Jy verwag egter nie dat die N1 na 10 in die aand in ‘n parkeerarea gaan verander nie.  Flitsende rooi en blou ligte in die verte – ‘n paar meter van die volgende afrit – bevestig jou grootste vrees.  ‘n Ongeluk en dit kan lank wag.  Daar is nie veel wat jy kan doen nie, behalwe om jou motor af te skakel en te wag tot die pad weer oopgemaak word. 

Wel, as jy ‘n greintjie ordentlikheid in jou het.  Daar is die sotte wat teen die spoed van witlig in die noodbaan sal verbyjaag.  Hulle moet mos sake voor waar die opeenhoop begin is gaan vererger.  Ek meen, as jy al klaar vir 20 minute lank bankvas staan, dan behoort jy te kan raai die pad is toe.  Die Forensiese Patologie bakkie, wat verby sukkel, behoort ook vir jou ‘n aanduiding te wees dat dit nie net ‘n bufferstamp storie was nie. 

Natuurlik gebeur die onafwendbare – die noodbaan gaan staan ook stil.  Nou is daar geen plek vir noodvoertuie om verby te kom nie.  Al skree die sirenes, hulle is ook nou vasgevang in ander se selfsug.  Eendag sal Pick n Pay seker verstand verkoop maar tot dan sal ‘n mens seker maar tande moet kners.  Ongeluk beteken daar is mense wat hulp nodig het.  Mense wat jou vriende of familie kan wees.  Die hemele behoed, maar dit kan eendag jy wees wat in die pad lê en wat dringend na ‘n hospitaal geneem word.  Ek is seker jy gaan dan dankbaar wees as mense noodvoertuie ruimte gee om hulle werk te doen. 

Toe die noodbaan onbegaanbaar raak, probeer die metropolisie toe tussen die die karre op die snelweg deurdruk.  Wat basies beteken die een loop tussen die karre deur en blaf vir almal om te skuif dat hulle kan ry.  Nou nie dat ek wil snaaks wees nie, maar as mens jou kar kon wegtoor, was daar nie ‘n verkeersopeenhoping nie.  Op een of ander manier word daar tog plek gemaak, die noodbaan word skoon en hulle is deur. 

Hier en daar is daar weer ‘n idioot wat ‘n kans op die noodbaan vat.  Dan hoor jy weer sirenes en wonder of jy nie maar eerder ‘n uiltjie moet knip nie.  Dit is dan egter die grootste idioot van almal.  ‘n BBP bloulig kar wat deur gejaag word.  Want hulle is in elk geval bo lewe en dood verhewe.  Dit is dan sommer wat jy wens dat iemand by hulle wil kom spook.  Hulle is tog dienaars van die publiek en behoort so op te tree.  Wee jy!

Natuurlik kan jy niks daaromtrent doen nie.  Behalwe kla sover jy kom.  Al suig dit om amper ‘n uur lank doodstil te staan, al frustreer mense se selfsug en magsvergrepe jou, kan jy dankbaar wees dat jy nie betrokke by die ongelukstoneel is nie.  Wanneer jy uiteindelik verby die hoop rommel wat voorheen ‘n kar was ry, besef jy dit ten volle. 

(Volgens Beeld:  Net voor die New Road oprit was daar ‘n ongeluk met 3 voertuie.  Een man is dood en 5 ander is beseer.  Een van die beseerdes moes met ‘n helikopter vervoer word en al die bane op die N1 Noord is daarvoor gesluit.  Nou wonder ek of die noodbaan misbruikers gehoop het om die helikopter te misbruik om hulle eers by die huis te gaan aflaai voordat hulle die beseerdes help?)

Breinvasbrand:  Wat is die noodnommer vir selfoon gebruikers?

Breinlosbrand:  Lolipop





Vir die bevrediging van Mamon

10 04 2012

Vandag is daar weer ‘n berig oor ‘n renoster wat gestroop is.  Weereens ‘n kalfie wat getraumatiseerd by sy ma se karkas staan en selfs probeer om aan haar te drink.

Dit maak ‘n mens sommer moedeloos.  Ons is 100 dae in 2012 in en daar is reeds 164 renosters gestroop.  Asof die 443 van verlede jaar nie erg genoeg is nie.  Oral begin mense al hoe harder pleit dat renosterhoring handel gewettig moet word.  As die horings wettig ge-oes kan word en aan die Ooste verkoop word, is daar geen rede hoekom dit gestroop kan word nie.

Die stadslegende deel van my brein wonder so effens die wettiging van handel nie wel oor die renosterhoring gaan eerder as oor die oorlewing van renosters nie.  Daar was al verskillende wildsboere en selfs veeartse aangekeer oor renosterhoringsmokkel.  As die mense nie huiwer om ‘n bedreigde spesie te offer vir geld nie, wat van die leek op straat?

Punt is dat renosterhoring nie impotensie of kanker kan genees nie.  As dit kon, sou naels kou ‘n gesonde aktiwiteit gewees het.  Die stropery is nie net onwettig nie, maar ook onmenslik.  Ek kan nie insien hoekom die idee eers lugtyd moet kry nie.  Dit kom vir my neer op toegee vir boelies en dit is nooit ‘n gesonde stand van sake nie.

Dit kom tog daarop neer dat die “stropers” horings eis.  As dit nie vir hulle te koop aangebied word nie, sal hulle dit vat en niemand gaan hulle keer nie.  Wat waar blyk te wees.  Dus word daar nou boedel oorgegee en die stropers kry hulle horings – wat terloops nie werk soos hulle hoop nie.

As die taktiek met renosterstropery sukses behaal, hoekom nie ook met ander smokkelary van die samelewing nie.  Dink aan dwelmsmouse.  As dwelms in groot maat gekoop en verkoop kan word, is die dwelmbase magteloos.  Die verbruikers van dwelms kan beter gereguleer word.  Wat maak dit saak hoeveel mense lewens word verwoes.

Dieselfde geld vir wapens.  As wapens in ‘n vryemark verkoop kan word – bedoelende enige land of groep kan soveel wapens as wat hulle wil hê om te gebruik soos hulle wil – gaan hulle nie oneties te werk gaan om die wapens te kry nie.  Almal wat wapens vervaardig, kan goed geld maak en boonop gaan baie werksgeleenthede geskep word.

Dit is dalk ook die antwoord op oorbevolking.  As ‘n gesin meer kinders maak as wat hulle kan behartig, hoekom mag hulle nie die kinders verkoop nie?  Die middelman wat die gesin bevark word uitgeskakel en die wêreld kry hulle slawe en prostitute.  Daar gaan mos nie meer dwelmhandelaars nodig wees nie.

Ek dink enige mens kan sien dat dit nie die antwoord is.  Net om iets wettig te maak, maak dit nie noodwendig reg nie.  Die kern van die probleem moet gesoek en uit die weggeruim word.  Nie beloon word vir hulle intimidasie nie.

Ek meen, watter beter argument is daar teen stropery as dat die diere gaan uitsterf?

Breinvasbrand:  Hoeveel horings het ‘n swart renoster?

Breinlosbrand:  Maankind was reg met Fiela





Tolnaarheid

4 04 2012

Die Nuwe Testament het talle verwysings na tollenaars – verwysings wat gewoonlik daarop neerkom dat hulle die duiwel in menslike gestaltes is.  Soos alles in die Bybel moet ‘n mens die perspektief ingedagte hou voordat jy heeltemal die dam onder die eend uitruk.  Ek ken immers net 10 woorde latyn en geen woorde in Hebreeus nie.  Ek verduidelik dit net soos dit aan my oorvertel is. 

Die tollenaars in die Bybel se tyd was nogal ‘n korrupte spul wat nie gehuiwer het om mense uit te buit nie.  Eerlikheid was nou ook nie ‘n hoofvereiste as jy besluit het om ‘n tollenaar te word nie.  Verder het hulle geen genade geken nie en hulle tol (wat dit ook al die dag was) sou jy met of sonder bloed betaal het.  Gewoonlik was daar ook ‘n vet komissie wat maar so van persoon tot persoon gewissel het.  Kortom, tollenaars was bullebakke.  Netsoos belastinggaarders, maar dit is ‘n ander storie. 

Hier sit ons vandag 2000 jaar later en daar is wragtig wetgewing op hande om magtiger te maak as wat hulle verdien om te wees.   Wetgewing is voorgelê waar volgens SANRAL jou kan teister as dit hulle behaag.  Hulle kan aandring om jou lisensie te sien, asook enige dokumente wat jou van tolgeld kan kwytstel.  Hulle kan jou kar deursoek vir ‘n e-skyfie.  Hulle kan op jou volledige kontakbesonderhede aandring as hulle wil.  Hulle is eintlik veronderstel om jou van die snelweg aftejaag as jy nie betaal nie, maar hulle kan jou lisensie en selfs jou kar konfiskeer as hulle dit nodig vind.  Hulle soek tande om doodtebyt as dit daarop neerkom. 

Dit laat my nogal wonder oor die administratiewe sy van sake.  Daar is immers ‘n wet wat vereis dat ‘n voertuigeienaar binne 21 dae die lisensie owerheid in kennis moet stel as hulle addres verander.  Mens moet jaarliks jou lisensie hernieu en jy moet elke 5 jaar jou bestuurslisensie hernieu.  Heelwat geleenthede om jou te vra wanneer beplan jy om jou tolgeld te betaal. 

Maar dit is nie die bullebak manier van doen nie en die SANRAL beamptetjie gaan nie soos ‘n Rambo voel nie.  Net dalk het die huidige stelsel te veel slaggate of word die verbruiker te veel beskerm.  Anders is die administratiewe rompslomp nie vir die aggressiewes lekker nie. 

Hoe dit ook al sê – tot tyd en wyl hulle ‘n rede kry om op vars lug en sonskyn ‘n heffing te plaas, gaan hulle tolgeld hef.  Hulle gaan geld om elke hoek en draai uit die middelklas pers.  Redelik of onredelik.  Want hulle kan!

Net ‘n interessante iets wat ek raak gelees het.  Taxi’s is mos vrygestel van tolgelde, maar hulle slurp omtrent 70% van die Padongelukfonds op.  In Gauteng gaan dit jou R300 kos om profesionele publieke bestuurspermit kry.  Heelwat minder as die maksimale R550 wat jy ‘n maand gevra kan word. 

Breinvasbrand:  Hoe oud moet jy wees om ‘n publieke bestuurspermit vir passasiers te kry? 

Breinlosbrand:  Olga was reg met Michael Dell.





Karnar irritasies

5 03 2012

Elke Suid-Afrikaner behoort daaraan gewoond te wees.  Goed, maar die gewoonte het nou afgesaag geword en om eerlik te wees, ek raak by die dag meer geirriteerd met die mense wat op elke openbare parkeerplek rondstaan en kastig die karre oppas.  Karre oppas my voet!

Dit is ‘n pyn in die anus.  Veral as jy noodgedwonge moet parkeer om iets af te handel waarvoor jy nie noodwendig betaal nie.  Jy gaan pos gou ‘n brief, lewer iets af of gaan haal iets.  Dit neem jou ‘n maksimum van 30 sekondes, maar wanneer jy by jou kar kom, is daar ten minste een karnar wat jou kom oortuig hoe mooi hy na jou kar gekyk het.  Wat dan ‘n eenvoudige storie uitrek, met ‘n draai na ‘n kitsbank.  Daarna gaan jy iets koops wat jy nie wou hê nie, net om dit die nodige R2 te kry om iemand wat toevallig in die omgewing was te vergoed. 

Op die punt kan daar uitgewys word dat dit jou eie skuld is as jy in die slagyster trap.  As jy onnosel genoeg is om sonder kleingeld jou kar te verlaat, moet jy tevrede wees om jou tyd te verspil.  Jy behoort tog te weet dat jy orals waar jy kom ‘n karnar sal moet vergoed.  Ek was nog nie met ‘n R2 gegooi nie, maar daardie dag kom.  Ek weier egter om ‘n noot of selfs ‘n R5 uit te haal vir ‘n paar minute se rondstaan.  Nadat ek ‘n keer of wat probleme in die middestad opgetel het daarmee, gaan soek ek liefs ‘n parkeer garage.  Waar ek sonder intimidasie dikwels gratis kan parkeer. 

Dit is egter nie die betaling wat my ontstel nie.  Ek betaal met ‘n glimlag as die wag my nader wanneer ek uit my kar klim en nog in die omgewing is wanneer ek terug kom.  Deesdae wonder ek meer en meer of hulle mens nie van die uitgang uit nader nie.  Jy sien nêrens een wanneer jy stilhou nie.  Hulle is skoonveld wanneer jy jou pakkies bêre.  Wanneer jy egter jou trollie gebêre het en in jou kar wil klim, verskyn een soos ‘n skim.  Bakhand omdat jou kar nog is waar jy verwag het dit moet wees. 

Dit irriteer ook die wit waks uit my uit as ‘n snotkop van skaars twee bakstene my kar moet oppas.  Goed en wel, die seuna bedel darem nie.  Maar wat gaan ‘n 7 jarige nogal doen as my kar gesteel word.  Gaan enige iemand hulle aan die kleintjie steur?  Onder 15 mag in elk geval nie werk nie en ek voel dat ‘n mens nie die gedrag moet aanmoedig nie. 

Daar is verseker ‘n mark vir karnarre.  Met die werkloosheid syfer soos dit is, kan ‘n mens nie ‘n ander verkwalik wat op ‘n eerbare manier hulle kinders se magies wil vol maak nie.  Hulle lewer ‘n diens en bedel nie net nie.  Soos ek verstaan, word die gemiddelde karnar ook lekker uitgebuit.  Hulle moet gewoonlik die bestuur betaal om in die kille weer ander se karre op te pas.  Dit laat my rooi sien. 

Ek wil nog ‘n inkopiesentrum sien wat sonder besoekers kan oorleef.  Dit is juis die besoekers wat betaal vir die elektrisiteit, die water en op die einde van die dag die brood op die tafel.  Hoekom moet die besoeker dan nog ekstra betaal vir sekuriteit?  Dit behoort by die bedryfskostes ingereken te word.  Gee die mense wat kom karre oppas ‘n aanvaarbare loon en spaar die kliente die irritasies.  Ek kan verstaan dit iemand wat 8 ure parkeer die stelsel uitbuit, maar is ‘n uur of twee gratis parkering te veel gevra? 

Die situasie gaan natuurlik voortduur vir solank as wat Jan Publiek gedwee saamspeel.  Dalk moet ons begin om net plekke te ondersteun wat veilige, gratis parkering bied in ruil vir besigheid.  Een hand was mos immers die ander en so kom beide skoon.

Hoe voel jy oor karnarre?  Hoe bepaal jy ‘n regverdige fooitjie vir hulle diens?  Kry jy ook soms die gevoel dat hulle uit die bloue lug val die oomblik wanneer jy wil ry?

Breinvasbrand:  Wat was die eerste werkende parkeer meter wat in 1935 deur Holger George Thuesen en Gerald A. Hale ontwerp was genoem?

Breinlosbrand:  Olga was eerste reg met Sarah Brightman.





Enkel en goed so

23 02 2012

Ek is enkellopend.  Dit pla my nie, maar die vet weet, dit pla baie mense daar buite.  Hoekom sal ek nou nie weet nie.  Dit is mos nou nie dat hulle my enkellewe moet lewe nie.  Hulle is diep beswaard daaroor en maak dit my probleem.  Dit is genoeg om van te kots. 

Ek moet alewig hoor:  “Wanneer kry jy nou ‘n outjie?”  Ander weer sal my tot vervelens toe vra:  “Hoekom is jy nog nie getroud nie.”  Dan is daar ook die:  “Wil jy dan nie trou nie?”  Die ergste is dat almal dink hulle bedoel dit goed en dan boonop in die gesig gevat voel as jy hulle ‘n antwoord gee wat die vrae verdien.  Dit is nou nie asof dit enigsins hulle besigheid is nie. 

Hier is die nuusflits.  Dit reën nie mans nie en hulle is ook nie in PnP te koop nie.  Dit het net nog nie gebeur nie.  Geen bisarre, versteekte skandaal nie, jammer om julle teleur te stel.  Ek het bloot nog nie ‘n man ontmoet wat my voete onder my uitgeslaan het nie.  Nie dat ek verbaas is nie, goeie goed is mos skaars. 

Dit behoort tog die logiese gevolgtrekking te wees, maar helaas.  Al teken jy vir mense prentjies sal hulle weer en weer vra.  Dit laat my dink aan ‘n grappie wat ek eendag gehoor het.  Die vrou vertel hoe al wat ou tannie was altyd op troues haar in die ribbes gepomp het en vertel het sy is volgende.  Hulle het vinnig die strooi gestaak toe sy dieselfde met hulle op begrafnisse begin doen het. 

Teenstrydig met wat al die bemoeisiekes dink, is ek nie een of ander freak nie.  Ek ken baie mense van my ouderdom en ouer wat ook enkellopend is.  Dit is baie meer algemeen as wat hulle glo.  Anders as hulle dink ek nie dat ‘n baba in jou tienerjare iets is om oor huistoe te skryf nie.  Die tyd wat hulle op hulle rug onder ‘n man deur gebring het, was ek in die skoolbanke of universiteit gewees.  Ek is heeltemal instaat om myself te onderhou, self asem te haal en om iemand te betaal om die goed te doen wat ek nie self kan / wil doen nie. 

Ek het dus nie ‘n man nodig nie.  Die dag dat daar een in my lewe sal wees, gaan dit ‘n man wees wat ek daar wil hê.  Met geen ander bybedoelings nie.  As daardie dag nooit kom nie, so what? 

Die volgende een wat my vra vertel ek sommer dat ek gay is.  Dit sal ten minste ‘n nuwe been wees om aan te kou.  Solank hulle net nie begin kerm oor wanneer ek nou eendag ‘n meisie kry nie.

Breinvasbrand:  In watter fliek van Debra Messing huur sy ‘n manlike metgesel om haar na ‘n troue te vergesel? 

Breinlosbrand:  Satï





Injury by the insult

10 02 2012

Daar is seker ‘n mate van vernedering met enige verhouding wat verbreek word.  Maar dan, ‘n mens het ook darem wragtig jou trots. 

Niemand het seker ooit gedink die verhouding tussen Demi Moore en Ashton Kutcher gaan verewig en vir altyd gelukkig saam wees nie.  In Hollywood word die term in elk geval net vir die silwerdoek gehou.  Dit is nie ‘n goeie beginsel om jou werk huis toe te neem nie, dus is die regte huwelik gewoonlik maar kort en intens.  Niemand verwag dat dit gaan hou nie. 

In Moore en Kutcher se geval was dit nog meer gedoom.  Eerstens is hy net ‘n paar jaar ouer as haar kinders.  Baie mans los hulle vroue wat reeds ‘n paar jaar jonger is, is vir jonger vroue.  Wat se kans het ‘n vrou aansienlik ouer as haar man is, wanneer hy sulke jeuke kry.  Kutcher sou vroeër of later wel begin rondkyk het.  Meer as een mens het seker verwag dat hy op die ou einde met ‘n Mej Willis gaan opeindig. 

Moore kan haarself seker gelukkig ag dat dit ‘n betreklike vreemdeling was.  Nogtans moes dit ‘n skop in haar ego se tande gewees het.  Ek meen, daar sit jou man kaal in ‘n jacuzzi saam met 4 vroue.  En dit is nie waar dit gebly het nie.  Boonop weet die hele wêreld en hulle weet ook dat dit nie die eerste keer is nie.  Genoeg vir enige mens om onder die bed te gaan wegkruip en om nooit ooit weer daar uit te kom nie. 

Onder die bed wegkruip is een ding, die hele wêreld sien jou nie daar nie.  Om egter ineentestort en ‘n vars skinder storie oor dwelms te begin is iets anders.  Nou is dit nie net Moore se bokkie het groener weivelde gaan soek nie.  Nee, nou word daar nog bespiegel dat die bokkie haar amper vernietig het.  Dat sy nie sonder hom voort kan gaan nie en haarself daaroor vernietig.  As dit nie die absolute toppunt van vernedering is nie, wat is?

Demi Moore was op ‘n tyd die bes betaalde aktrise in Hollywood.  Mens sou verwag dat sy ten minste kan voorgee om meer waardig te kan optree.  Sy het al die vaardighede in die gebied.  Maar dan, was daar geen nuus van haar nie en dus ook geen publisiteit nie. 

Genoeg om enige mens naar te maak.  Hoe voel julle hieroor?

Breinvasbrand:  Wie was Demi Moore se eerste man?

Breinlosbrand:  Gerda was reg met Clive Owen.





Klein en ongetryn

1 02 2012

Ek is nou die dag daarvan beskuldig dat niemand ooit weet waarvoor ek staan en waarvoor ek val nie.  Seker maar ‘n skimp dat ek ‘n draadsitter van die eerste water is.  Ek gaan vandag dit reguit sê dat ek teen Nazikampe is.  Die enigste diktatorskap wat ek goedkeur, is die diktatorskap waar EK die diktator is. 

Lang storie, maar ek bedoel eintlik ek hou nie van die DBV nie.  Hoe meer ek van hulle hoor, hoe sekerder raak ek dat die D staan vir diktatorskap.  Ek moet toegee dat hulle dikwels goeie werk doen.  Daar is beslis ‘n plek vir hulle in die samelewing.  Ek wil persoonlik egter niks met hulle te doen hê nie.  Ek mishandel nie diere nie en gaan hulle beslis nie uit my eie uit nader nie. 

Iewers het daar ‘n seepskissie ontstaan dat almal asseblief tog eerder ‘n dier by die DBV (of iets soortgelyks) moet aanneem.  Aanneem, die DBV gee glo nie diere weg nie en hulle verkoop hulle ook nie.  Jy moet glo R500 betaal vir die dier se regmaak, inspuitings, identifisering ens.  Die dier is gratis – mits die diktators tevrede daarmee is dat jy volgens hulle vir die dier kan sorg.  Dit is blykbaar makliker om ‘n huis te koop as om ‘n dier aan te neem.  Ek verneem dat daar tot blykbaar in jou salaris gekrap word. 

Ek trek daar die streep.  Dier aanneem is vir liefdadigheid, nie sodat die diktators seker kan maak my onderklere het nie dalk gatjies nie.  Enige lus vir liefdadigheid vlieg by die deur uit met die Nazikampe.  Sou ek buitendien eendag ‘n troeteldier wil aanskaf, soek ek nie ‘n ander se mishandelde diere nie.  Ek soek verkieslik iets wat klein genoeg is om na my hand te leer of nie.  Deel van ‘n troeteldier is tog om hulle babadae te geniet. 

Dit laat dus koerante, supermark advertensies, kennisse, telers en helaas natuurlik ook troeteldierwinkels.  Alles euwels erger as die duiwel volgens die seepkissie mense.  Ek keur nie “puppy/kitten mills” goed nie, maar ek dink darem nie dat iemand wat hulle diere af en toe toelaat om kleintjies te kry, satan se bloedfamilie is nie.  Daar is niks fout met een of twee keer se kleintjies nie, maar dan behoort daar ‘n dik streep getrek te word. 

Nou terwyl ek nie van diktators hou nie, hou ek nog minder van mishandelaars.  Wat die keuses nogal beperk.  Die basies idee is seker mos maar om te loer wat daar is en wanneer jou sokkies op en af rol, te gaan kyk wat beskikbaar is.  Jy kan dan aan die toestand van die teef / wyfie en die omgewing sien of die mense mooi na hulle diere kyk.  Hulle kyk jou dan sommer ook uit.  Jy maak jou keuse, betaal en staan dan ma vir die dier. 

Tog is daar niks wat sokkies anker soos pryse nie.  Nie dat ‘n mens omgee om ‘n goeie prys vir ‘n goeie dier te betaal nie.  Dit gee die verkoper boonop die versekering dat die dier se nuwe eienaar ernstig oor die aankope is.  Nou die dag doen ek so liggies navorsing oor telers.  Net so om ‘n gevoelente te kry.  Natuurlik gee niemand jou ‘n prys nie, dit sal mos banaal wees.  Na ‘n rukkie bel ek toe sommer een net om ‘n idee te kry.  R8000!!!  Anders gestel, ‘n salaris waarop mens al moet belasting betaal. 

Dit bring ‘n mens terug na supermarkte, koerante en kennisse.  Terwyl jy liggies wonder waar jy dalk ietsie kan afknyp – hipoteties gesproke.  Dit is darem ‘n brak met meer papiere as jy. . .

Hoe behoort mense deesdae te werk gaan as jy ‘n opregte ras soek (gun elkeen sy snobisme)?  Hoe maak jy seker jy krap nie ‘n intelery oop nie?  Hoe maak jy seker dat die dier nie net ‘n kommoditeit is nie?  Natuurlik sonder om jou hele salaris in die dier te druk.  Jy moet immers nog begroot vir klasse, kos, veeartse, speelgoed ens.

Breinvasbrand:  Wat was Lady se man se naam?

Breinlosbrand:  Olga was reg dat Branson en vriende nuwelinge (maagde) in die besigheid was.