So dom soos ‘n voël

20 02 2017

e03e79d70a2f4b1adefa0b1cfbea9a87

Julle onthou mos nog vir Lispiek?  Ek daag mos eendag doodonskuldig by die huis op en daar het die dom heks vir haarself ‘n perd gekry.  Die perd wat enige ander mens ‘n kat sal noem.  Blykbaar het sy gekwalifiseer vir die kat en ek moet maar net met kathare op en in alles lewe.  Laviga het natuurlik ‘n perd gekry wat genoeg hare vir ‘n dieretuin het.  Siestog, die hare maak seker op vir die gebrek aan ‘n gesig.

Wel, ek was seker nie so ontwaardig oor die kat soos ek moes wees nie.  Ek het maar net gehoop Lispiek (Laviga het die naam gekies) hou die heks darem uit die moeilikheid.  Dit is nou as sy die merrie van ‘n heks kan kry om te luister.  Verder is Lispiek baie ouliker as die hare wat sy rondstrooi.

Sy maak seker dat ‘n mens nie eensaam op die toilet is nie.  Sy sus jou prrrrr-prrrr aan die slaap.  Sy maak seker dat jy elke dag ‘n bietjie oefening kry en kom vertel jou alles wat die bure aanvang.  Boonop hou sy ‘n oog oor die tuinier en vertel hom goed sy fortuin as hy skeef trap.

Lispiek hou van maatjies – mits hulle nie kinders of mans is nie.  Hulle moet ook nie rook nie.  Sy hou ook nie van tannies nie.  Man, om eerlik te wees, is haar verskoning vir ‘n neus heel puntenerig oor van wie sy eintlik hou.  Nie dat sy ‘n snob is nie.  Sy het al vir haar ‘n padda heel geduldig gehelp om by die huis uit te kom.  Nogal liggies met die pootjie op die regte pad gehou.  Sy het ook al ure lank met ‘n mot wat amper groter as sy is gespeel.  Sy het hom (lewendig) buite gevat toe sy ma geroep het.  Meestal vermaak sy haarself met die voëltjies.

Ai!

Sy kan mooi met die maatjies speel, maar dit raak nogal ‘n probleem as die maatjies haar in die gesig vroetel.  Onthou, Lispiek verwyder enige mens van uit haar sit plek.  Opgee is teen haar beginsel.  So wanneer sy nou ‘n voëltjie huistoe bring en die voëltjie daag haar uit om te stoei . . . kom ons sê maar net Lispiek doen nie tweede plek nie.  Lispiek is ook nie die een wat beseer word nie.

Ons het noual die voëltjies vertel om nie met die kat te speel nie.  Om hulle te help, het ons  vir haar ‘n groot klokkie laat dra sodat hulle weet as sy kom.  Natuurlik red ons die voëltjie wanneer ons kan.  Mens is seker die oorlewendes het hulle storie gaan deel met die res?  Het hulle egter hulle les geleer?

Aikona!

Nee, gister kry ek mos die dom goed (heks verskoon die slag) wat al om die kat paradeer.  Sy kan kies en keur.

Nou wonder ek of voëls maar ‘n selfmoord neiging het?  Geniet hulle Lispiek se geselskap?  Of is hulle te dom om te leef?





Baddag

9 11 2013

Ek eksperimenteer so ‘n bietjie.  Laat weet my of ek hiermee moet voortgaan en of ek dit eerder vir die toekomstige herrievulletjies moet hou.  Ongelukkig het ek nie op die oomblik geskikte foto’s hiervoor nie.  Sal ‘n plan maak. 

Lispiek is nie ‘n kat wat van laat slaap hou nie.  As die son uitkom, is sy reg om buitekant te gaan speel.  Dit is nie lekker om alleen te gaan speel nie en dus moet sy eers wag vir Laviga om wakker te word.  Laviga aan die anderkant word nie wakker voordat daar kos te sprake is nie.  Wel, gewoonlik nie, maar Lispiek gaan nie so maklik opgee nie.

Sy rek haarself lang uit en spring dan van haar bed op Laviga se bed.  Sy gaan byt Laviga se tone, maar Laviga trek haar voete diep onder die kombers in.  Lispiek krap haar kop, maar voordat sy aan ‘n nuwe plan kan dink, roep ouma hulle vir ontbyt.  Laviga het nie ‘n uitnodiging nodig nie.  Lispiek ook nie en hulle kom altwee gelyk in die kombuis om hulle pap te eet.

Na ontbyt sê ouma dat Laviga moet gaan bad.  Lispiek is nie ‘n vuil kat nie.  Terwyl sy op die bad se rand sit om toe te sien dat Laviga skoon was, was sy haarself.  Eers lek sy haar pootjie nat en vee haar gesiggie skoon.  Toe haar gesiggie skoon is, was sy agter haar ore en miaau dat Laviga dieselfde moet doen.  Hulle bad tot Laviga die prop uittrek.  Lispiek vertel vir Laviga om gou te maak en hol solank om buite vir haar te gaan wag.

Ouma het egter ander planne.  Sy tel vir Lispiek op voordat Lispiek by die deur kan uitgaan.  Lispiek weet hier kom moeilikheid en sy klou aan Ouma vas.  Laviga het skoon water ingetap en ouma sit vir Lispiek in die water.  “Miaau!” kla Lispiek.

“Toemaar.” troos Laviga.  “Ouma sal jou gou-gou bad.”

“Maar ek het myself alklaar gebad.” miaau Lispiek.

Soos alle hekse, kan Ouma ook verstaan as diere praat.  “Jy het, Liefie, maar soms moet jy ‘n regte bad ook kry.”

“Dit is g’n niks lekker nie.” kla Lispiek.

“Ek hou van bad.” sê Laviga.  “Dit is hoekom ek die mooiste heks is.”

Lispiek rol haar oë.  Sy moet nog ‘n mooi heks teëkom.  Ouma en Laviga bad haar dat die skuimbolle staan.  Daarna moet sy twee keer afgespoel word om seker te maak dat al die seep uit is.  Asof dinge nie erg genoeg is, moet sy drooggeblaas word.  Elke keer wat sy weg wil hardloop, vang Laviga haar en bring haar terug na ouma.

Lispiek het vas besluit dat sy gaan wegloop wanneer hulle klaar is.  Sy het haarself mos gebad.  Buitendien het sy better gebad as Laviga en Ouma het Laviga nie van vooraf gebad nie.  Niemand wil vir Lispiek luister nie en sy gluur hulle net aan.  Voordat sy wegloop gaan sy hulle ore byt as hulle slaap.

Uiteindelik is Ouma klaar.  “Laviga, jy het nie jou tande geborsel nie.” raas sy terwyl sy ‘n pienk strikkie in Lispiek se hare sit.  Laviga wil eers stry, maar sy wil nie in die hoekie staan nie.  Ouma tel vir Lispiek op en sit haar voor ‘n spieël neer.

“Kyk nou hoe lyk die mooiste kat.”

Lispiek draai dikbek na die spieël.  En daar is die mooiste kat in die wêreld.  Die bad en droogblaas het haar donsig soos ‘n droom gemaak.  Dalk is bad nie so sleg nie.  Lispiek hou baie van wat sy in die spieël sien.

“Nou het die mooiste heks die mooiste kat.” lag Laviga.