Hoor die blye engele sing

23 12 2014

 

Hier is ons nou in die 4de week van Advent, of anders gestel die laaste paar dae voor Kersfees.  Op die Advent krans was die 4de kers aangesteek.  Julle sal onthou dat die engele kers is wat vrede simboliseer.

Vrede is nogal iets wat baie mense in die Kerstyd sien.  Dit is dikwels die tyd waarop familie vetes begrawe word of wanneer daar ‘n hand van vriendskap na die uitgeworpendes uitgesteek word.  Ongelukkig is dit nog iets wat soms gekaap word om deur ‘n gewetenlose tot die maksimum uitgebuit word.  Mens kan seker ook die ironie sien dat verskeie vetes oor Kersfees ontstaan.

Jesus se eie woorde staan natuurlik in skrille kontras hiermee:  “Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie maar die sward.”  Daar was al in die verlede bloedige oorloë oor geloof gevoer.  Daar was ‘n tyd wat mense met ernstige geweld gedreig is om ‘n Christen te wees.  Waar pas vrede in die prentjie in?

Self is ek baie dinge, maar nie ‘n passifis nie.  Ek is ook geen teoloog nie en ek het geen planne om ‘n enkele vers uit ‘n hele Bybel uit verband te ruk nie.  Persoonlik glo ek dat ‘n mens aktief na vrede moet soek, maar nie teen alle koste nie.  Daar is ‘n lyn waar jy bereid moet wees om vrede op te offer.  Die vraag is wat is daardie lyn?  Die lyn waar ‘n Christen nie om vredesonthalwe verby kyk nie?

Is dit waar geloofsvryheid onttrek word?  Met die verstande dat geloofsvryheid nie net vir Christenne bedoel is nie?

Is dit waar mense se menslikheid aangetas word?

Of is dit daar waar liefde ontbreek?  Praat ons hier nie maar net weer dat ‘n mens moet goed doen en nie moet wegkyk om die vrede te bewaar nie.  Evil conquers where good men do nothing?

Wat dink julle?

Breinvasbrand: Watter Evangelie beskryf glad nie die geboorte van Jesus nie?

Breinlosbrand:  Die 12 dae van Kersfees begin op Kersdag.





Herders op die ope velde

15 12 2014

Ek herinner my vandag (goed, ek weet, dit is ‘n dag laat) aan iets wat ‘n predikant jare gelede gesê het:  “As jy nie poësie verstaan nie, sal jy nie die Bybel verstaan nie.  Dit laat nie veel hoop vir iemand soos die uwe wat so vlak soos ‘n paashaas is nie.  Seker weer ‘n geval van skoenmaker, hou jou by jou lees.  ‘n Leek met ‘n Bybel in die hand is ‘n gevaarlike ding.  Lees dus maar op eie risiko verder.

Van almal wat beskikbaar was om die nuus van Jesus se geboorte aan te hoor, was herders gekies om die nuus heel eerste te ontvang.  Hoekom juis die herders?  Was hulle al wat daardie tyd van die nag wakker was?  Het hulle dalk net die engele gehallusineer na ‘n paar kapsies te veel?  Dalk was hulle die groep wat die vinnigste die verste kon gaan skinder?  Was ek maar ‘n digter, kon ek dalk uitgebrei het oor die verband van Jesus die goeie herder en die groep waarmee Hy homself vereenselwig het.  Herders was destyds nie juis veel meer werd as die skaap bollie op hulle voete nie.  Hulle het hulleself ook nie beter as dit gedra nie.  Dalk het die Engele eerste aan hulle verskyn omdat hulle beeld die eerste was wat deur Jesus tot iets goed bekeer is.

Op aarde sal ons net oor die hoekom kan spekuleer.  Kom ons spekuleer eerder oor die simbool van ‘n herder.  ‘n Herder is ‘n bewaarder.  Hy / sy moet na iets (iemand) omsien. Ons almal is op die ou einde ‘n bewaarder van iets en/of iemand.  Ons almal is dus ook herders.  Net die blote feit dat jy ‘n herder is, is niks om op trots te wees nie.  Daar is slegte herders.  Daar is baie slegte herders.  Ons moet poog om goeie herders te wees.

Die derde Sondag van Advent verteenwoordig ook blydskap.  Ek praat jaarliks hieroor, maar dit bly iets wat aangespreek moet word.  Kersfees is vir baie mense ‘n tyd van mishandeling, pyn en lyding.  Heel dikwels ook aan die hand van die persoon wat hulle moes bewaar of ten minste moes beskerm het.  Dit is ‘n skande dat die Heilige dag nie immuun teen onheile is nie.

Aan die ander kant, sou die slegte herders daarmee kon wegkom as die goeie herders nie ander kant toe gekyk het nie?  Het ‘n goeie herder net ‘n verpligting oor sy / haar kudde?  Sal ‘n goeie herder verby ‘n skaap in nood loop wat nie tot sy / haar kudde hoort nie?  In die tyd van liefde, omgee en uitreik is dit nie ons plig om vir ‘n ander op te staan nie?

Wat dink julle?  Wat staan ‘n goeie herder te doen?

Breinvasbrand:  Op waste dag begin die Twaalf dae van Kersfees?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Saulus.





Daar ver in ‘n krippie

7 12 2014

Dit is vir my interessant dat die tweede Sondag ‘n voorwerp verteenwoordig.  Al die ander kerse verteenwoordig lewendige goed.  Ook interessant dat die krippie ‘n simbool van liefde is.  Die krippie.  Nie Maria wat ingestem het om ‘n ‘surrogaatma’ te wees nie.  Ook nie Josef wat by haar gestaan het terwyl sy ‘n kind wat nie syne was nie verwag het nie.  Maar ‘n krippie.

Sou dit nie meer van pas wees dat die krippie nederigheid simboliseer in plaas van liefde nie?  Nou nie dat ek met ‘n Bybel onder die arm rondloop nie, maar dit is dalk in die geval (ons berei onsself mos voor vir Christus se geboorte) om na die Bybel se beskrywing van die liefde te gaan kyk.  Ek verwys natuurlik na 1 Korintiërs 13.

In vers 1 – 3, vertel Paulus dat selfs die wonderlikste dade en vermoëns niks beteken as dit nie deur liefde onderskryf word nie.  “Al praat ek die taal van mense en Engele . . .”; “Al het ek die gawe van professie en ken ek al die geheimenisse en al besit ek al die kennis, en al het ek al die geloof om berge te versit . . . ” en “Al deel ek al wat ek het aan ander uit, en al gee ek my liggaam pry om my daarop te beroem . . .”  Let op hoe egosentries die gedagtes is:  Kyk wat doen ek, dit maak my wonderlik.  Die stellings is almal die teenoorgesteelde van nederigheid en word telkens voorgehou dat dit sinneloos is as daar nie liefde is nie.  Sou daar liefde in die handelinge gewees het, sou dit sekerlik nie om “ek” gedraai het nie.

Maar ek is geen teoloog nie, dus is dit gevaarlik vir my om verskuilde menings in die Bybel te gaan soek.  Paulus gaan verder (vers 4 -6) en beskryf wat die liefde nie is nie.  Die liefde is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig (in teenstelling van vers 1 – 3) nie, is nie verwaand nie, soek nie sy eie belang nie.  As die liefde niks van die genoemde goed is nie, dan is die liefde mos seker nederig.

Ek het al voorheen genoem dat daar geen goedkoper woord as liefde is nie.  Snaaks hoe ek nie dadelik liefde in nederig gesien het nie?  Eers toe ek daaroor begin wonder het, kon ek die verband sien.

Die Bybel noem ook iewers dat God liefde is.  Dikwels wanneer mense in God se bestaan twyfel haal hulle voorbeelde van kindermishandeling, oorlog en moord aan.  Alles dade wat ondaan van enige liefde is.  Dit is dus moeilik om God in die dade te sien.  Aan die ander kant, as ons almal in liefde opgetree het, wat ‘n Godlike opdrag is, sou boosheid vatplek op die aarde gekry het?  Sou mense God makliker kon herken?

Volgens Matt 22:39 “. . . ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself’.  Dit word dikwels vertaal as “doen aan ander wat jy aan jouself gedoen wil hê”, maar geimplementeer as “behandel ander soos hulle jou behandel”.  Die tweede nuwe gebod maak jou die meetsnoer en jou optrede het niks met ‘n ander te doen nie.  JY moet mense liefhê / behandel soos JY jouself liefhet of behandel wil word.  Die handelinge van ander het niks met die gebod te doen nie.  Die vraag is nou wat gebeur as jy jouself nie liefhet nie?  (Retoriese vraag).

Maar kom ons gaan terug na Paulus.  1 Kor 13:8 “Die liefde vergaan nooit nie, maar die gawe an profesie sal verdwyn, die gawe om ongewone tale en klanke te gebruik, sal ophou, en die van kennies sal uitgedien raak.”

Hoewel daar mense is wat hulle beroep daarop dat hulle profete is of in tonge kan praat, is dit gawes wat on ongebruik geval het.  Selfs kennis het met die kom van die internet minder belangrik geword.  Die klem is deesdae om inligting te bekom en dit reg toe te pas.

Bly daar dan iets anders as die liefde oor?

Laat die Kersseisoen vir ons ‘n uitdaging tot liefde wees.

Breinvasbrand:  Wat was Paulus se naam eerste gewees?

Breinlosbrand:  Olga was reg met





Hoop, Liefde, Vreugde, Vrede en Lewe

30 11 2014

Charlize Theron het al in haar (on)wysheid gaan verkondig dat Suid-Afrikaners nie Kersfees vier nie.  Duidelik ken sy nie baie Suid-Afrikaners nie.  Kersfees word deur die meerderheid Suid-Afrikaners hard en duidelik gevier.  Kerskultuur is dalk ‘n ander storie.

Wag, wag – dit is (nog) nie nodig om verontwaardig te wees nie.  Ja, Suid-Afrikaners vier Kersfees en daar is wel Kerstradisies.  Maar daar is nie ‘n ‘vasgestelde’ Kerstradisie wat op Suid-Afrikaners as ‘n geheel van toepassing is nie.  Ons het nie ‘n groot boom wat op ‘n vasgestelde dag ten aanskoue van duisende aan gesteek word nie.  Ons het nie optogte nie, ons het nie spesifieke gebruike nie en ons het nie sekere vasgestelde “moet” datums nie.  Met die aantal kulture in SA kan ‘n mens nie juis iets anders verwag nie.  Maar selfs in Kerk- en agtergrond verband is daar beslisde verskille.  Kerskultuur is ‘n familie ding en nie ‘n gemeenskap ding nie.  Daar is mense wat van Januarie af vir Kersfees voorberei, ander wat in Oktober begin, maar daar is ook diegene wat inderhaas op 24 Desember doen wat gedoen moet word.

Wat ookal vir jou werk is goed.  Persoonlik hou ek van die idee om Advent te vier.  Advent word deur baie lande en kerke gevier.  Advent skop die vierde Sondag voor Kersfees af.  Dit is ‘n tyd om geestelik voor te berei, ‘n tyd om die Christus-kind weer opnuut te kan ontvang.

Toegegee, daar is verskille tussen die Advent kranse, maar die basiese idee is dieselfde.  Ek hou nogal van die kranse met die 5 kerse – waarvan 3 van die kerse pers is, 1 pienk en een wit.  Die eerste kers word met die eerste Sondag aangesteek (in 2014, begin Advent op 30 November), en met elke daaropeenvolgende Sondag word daar nog ‘n kers aangesteek.

Daar is simboliek in elke element van die Adventkrans.  Die krans is rond, d.w.s daar is geen begin of eindpunt nie.  Dit simboliseer God wat verewig is.  Die krans word met immergroenkranse gevleg, ‘n simbool van ewige lewe.  Brande kerse simboliseer die lig van God.

Die eerste kers staan bekend as die Profeetkers en dit simboliseer hoop.  Jesaja veral het die koms van Jesus voorspel.  Die tweede kers is die Krippiekers en dit simboliseer liefde.  Die derde kers is die Herderskers en dit simboliseers vreugde.  Die vierde kers is die Engelekers en dit simboliseer vrede.  Laaste is die wit kers wat op Oukersaand aangesteek word.  Dit is die Christuskers en simboliseer lewe.

Die eerste, tweede en vierde Sondag word met ‘n pers kers gevier.  Pers simboliseer koninlikheid en om die Koning te verwelkom.  Terselfde tyd simboliseer dit ook pyn en lyding.  Met die kleur kers vier ons nie net die koms van Jesus nie, maar word ons ook herinner waarom Hy aan ons gestuur is.  Die pienk kers simboliseer weer geluk en vreugde.  Die pienk kers word op die derde Sondag gebruik.  Die wit kers simboliseer weer reinheid en Heiligheid.

Hiermee wens ek iedere en elk ‘n geseënde Advent toe.

Breinvasbrand:  Wat beteken Jesaja?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Nasri.





Kersgeskenke

17 12 2013

Met die wat Olga so ywerig geskenke koop en toe draai, moet ek seker ook ‘n plan maak.

Ek het dit goed gedink om vanjaar ‘n Kersgeskenk op my blog beskikbaar te stel.  Sommer net om te wys dat ek nog sterk skop, al is dit nie noodwendig in die onmiddelike omgewing nie.

Ek is seker van die meer siniese lesers het nou dadelik aan die sogenaamde geskenke, belonings en pryse gedink waarmee telebemarkers tyd steel.  Ek belowe op my erewoord dat ek nie probeer om iets wat julle nie wil hê by julle keel af te druk nie.  Dus verklaar ek dat julle self die geskenk (Afrikaanse A 4 kalender) sal moet druk of laat druk.  Jy kan darem eers kyk voordat jy daardie besluit neem.

Kalender 2014 blog

Ek hoop julle hou daarvan.





Tyd van liefdadigheid

1 12 2013

Ek het skaars my oë geknip en hier is ons weer:  die eerste Sondag van Advent.  Of anders gestel, ons is op die vierde Sondag voor Kersfees.

Wel eintlik moes ek dit sien kom het. Ek het al in Augustus die eerste aanmaning gekry dat Kersfees die tyd van gee is.  Ek was weer herinner dat daar baie kinders is wat nie op Kersdag ‘n geskenk gaan kry nie.  Ek is nie heeltemal seker hoe dit my verantwoordelikheid geword het nie.  Dit is nie asof ek kinders gemaak het vir welsyn tjek nie.

Ek weet ek klink nou net soos die Scrooge van A Christmas Carol.  Ek moet seker die Kersfees Spook te wagte wees om my die Kersfese van die verlede, hede en toekoms te wys.  As ek nie dood neerval van skrik nie, wonder ek of die Kersfees Spook sal luister dat dit nie te wyte aan inhaligheid of suinigheid is nie.

Die Spook is dalk net so sinies soos ek.  Hy wys my dalk ‘n tyd in die verlede wat die Kersfees vrygewigheid teenoor die minderbevoorregtes ‘n plesier was.  Iets wat in die gees van Kersfees geinspireer is.  Iets wat ‘n mens uit die goedheid van jou hart gedoen is.  Teenoor die hede, waar dit geëis word.  Amper soos E-tol wat jy teen wil en dank moet betaal, want iemand het besluit dat dit gedoen word.  Liefdadigheid gaan seker in die toekoms gegryp word.  Elke organisasie gaan hulle pond vat en jy moet seker hoop dat daar iets vir jou gaan oorbly.

Punt is ek hou nie daarvan om verplig te word om iets te doen nie.  ‘n Vriendelike verpligting maak dit nie minder van ‘n verpligting nie.  Maar kom ons wees eerlik:  Liefdadigheid gaan nou nie tot ‘n stilstand kom oor die aalmoese wat ‘n Bitterbek soos ek na hulle kant toe stoot nie.   Veral nie as ek dit met so ‘n houding gee nie.

Ek, soos die meeste ander mense, doen myself nie in met die krummels wat ek ook Kersfees (of enige ander tyd) na liefdadigheid gooi nie.  Siende dat dit my keer om geld te mors tot my nadeel, behoort ek die een te wees wat dankbaar is.  Ek kan nie juis die sleutel van die stad verwag of ‘n enkelkaartjie hemel toe nie.  Ek doen maar net die minste, dus het ek geen rede om suur om ‘n paar rand uit te deel oor Kersfees nie.

Nou die dag was daar op die Christmas Wishlist was daar iets wat my nogal laat dink het.  Hulle het op ‘n vrou gefokus wat haar flou sukkel om kos op die tafel te sit.  Haar man het vir maande lank nie ‘n werk gehad nie en daar was ook nog ‘n operasie waarvoor hulle moes betaal.  Genoeg probleme van haar eie sal mens dink, dit is nie ‘n piekniek om 6 magies vol te hou nie.  Die vrou het egter ‘n ma en 3 kinders ontdek wat in ‘n parkie gebly het.  Hulle was dus haweloos.  Sy het hulle huis toe geneem en die bietjie wat daar was nog verder gerek.  Dit is nou iemand wat haar kan roem oor die liefdeswerk wat sy doen.

Dit laat my dink aan die storie in die Bybel van die vrou wat 2 sent in die kollekte gegooi het.  Die offer wat vir God meer as die ander beteken het, want dit was al wat sy gehad het.

Dus, durf ons roem op skenkings vir minderbevoorregtes as dit ons nie juis iets kos nie?  Of doen ons net wat die hand vind om te doen?  Dit wat God van ons verwag om te doen?  Ons is immers Sy instrumente op aarde.  Nie net oor Kersfees nie, hoewel dit seker ‘n geldige begin is.

Breinvasbrand:  Wie het A Christmas Carol geskryf?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Tom Clancy.





Kersvreugde

24 12 2011

Light the Advent candle four

Think of Joy forever more

Christ child in a stable born

Gift of love that Christmas morn.

Ek is mos agter met my Advent reeks en as ek dit nie nou afhandel nie, is dit te laat.

Kom ons mymer oor vreugde.  KersFEES is ‘n tyd om te vier, nie te wroeg nie.  Dit is ‘n tyd van blydskap en vreugde.  Die koms van die Christuskind wat ons kom red het van sonde.  Christus wat in sy dood ons nie net vry gemaak het nie, maar ook hemelkinders gemaak het.

Ek kry altyd die gevoel dat die mensdom skaam is om bly te wees.  Blydskap word weggesteek of verberg.  Dit is so amper asof vreugde onvanpas is.  Ons lewe in ‘n samelewing waar depressie hooggety vier.  Ja, daar is mense wat ‘n toestand het wat depressie genoem word ly.  Dit is niks om oor snedig te wees nie.  Tog is daar mense wat graag aan depressie WIL ly.  Hoekom?

Is dit net ‘n poging om aandag te soek (let wel – ek praat nie van mense wat regte depressielyers is nie)?  Kry mense wat regtig bly is minder aandag?

Wat sou gebeur as ons besluit om bly te wees?  Om al die vreugdes wat die lewe ons bied te geniet en aan te gryp?  Ons sal self gelukkiger wees en dit sal ons meer positief instel.

Op die vooraand van Kersfees, kom ons verheug ons in die Here.  Dan sal dit oorspoel in die res van ons lewe.





Vrede

18 12 2011

Ek weet, ek het iewers ‘n week agter geraak.  Ek hoop dat ek dit iewers sal kan opvang – hopenlik voor Kersfees.  Die een in 2011.

Light the Advent candle three
Think of heavenly harmony
Angels singing “Peace on Earth”
At the Blessed Savior’s birth.

 Een van die simbole wat dikwels met Kersfees gebruik word, is ‘n engel.  ‘n Engel het vir Maria die blye tyding gebring dat sy die redder van die mensdom in die wêreld gaan bring.  Dit boonop sonder dat sy met ‘n man omgang gehad het.  Na Christus se geboorte het die Engele ook die boodskap aan die herders gaan oordra.

Meestal is Engele in die Bybel as boodskappers aangewend.  As ek dit nou reg kan onthou, was daar ‘n engel gestuur om Bileam om die lewe te bring, tot sy donkie hom gered het.  Engele voer dus ook opdragte van God uit.  Ons dink ook dikwels aan Engele as beskermers.  Dalk omdat God die Engele gestuur het om Jesus te versorg aan die einde van sy woestyn versoeking.

Daar is ook ‘n beeld van ‘n Engel wat op jou een skouer sit en jou op die goeie, nou paadjie wil hou.  Ongelukkig smyt die Engel nie die duiwel van jou ander skouer af nie.  Dan is daar die idee van beskermengele.  Een engel wat jou moet oppas en beskerm teen die wêreld.  ‘n Baie vertroostende gedagte.

Maar helaas!  Daar is soveel mense wie se beskermengele oor Kersfees moeg raak.  Kersfees is vir baie ‘n tyd van vrees en hartseer.  Die blyste van alle tye is vir ander ‘n tyd van vernedering en pyn.  Gesinsgeweld gaan oor die Feesseisoen toe.  Meer mense ly die tyd van die jaar aan depressie en selfmoorde is meer.  Dit is ook die tyd van die jaar wat duisende mense in ongelukke sterf.  Ironies dat die Engel van Kersfees vrede verkondig het en dit vir baie mense juis nie vrede is nie.

Dit is die probleem beskrywing.  Vraag is hoe los mens dit op?  Aanvaar jy dit en stop jouself dik aan kalkoen?  Of reik ‘n mens na die ongelukkiges uit en probeer vir hulle ‘n engel wees?  Is ons ooit nog vandag ontvanklik vir Engele?  Is ons nog roepbaar deur die Engele?





Bo Blink

4 12 2011

Vandag is die tweede Sondag van Advent.

 Light the Advent candle two
Think of humble shepherds who
Filled with wonder at the sight
Of the child on Christmas night.

Ek het – soos baie ander mense seker – altyd ‘n prentjie gehad van edelmoedige, saggeaarde herder, met ‘n lammetjie in sy arms om die prentjie volledig te maak.  Dit is moontlik ‘n voortvloeiing van die beeld van Jesus wat altyd aan ons voorgelê is.  Tog, in die tyd van Jesus was dit nie hoe die gemiddelde herder gelyk het nie.

Die herders was die uitvaagsels van die samelewing.  Hulle was geweldenaars wat gelieg, bedrieg en gesteel het so ver hulle gegaan het.  Hulle moes gewees het, net om te oorleef.  Almal het op die herders neergesien en daar gemiddelde ordentlike mens sou beslis nie ‘n tafel met hulle gedeel het nie.

Tog was die groep, die groep wat verkies was om eerste van Jesus se geboorte te hoor.  Meer as dit, dit is ook die beeld wat Jesus vir homself toegeëien het.  Die goeie herder was eintlik in skerp kontras wat van die herders verwag is.  ‘n Treffende beeld beslis, siende dat ons dit vandag nog ken al is herders nie meer deel van ons bestaan nie.

Hoekom dan juis die herders?  Ek weet nie – ek kan teologie skaars spel en ek het nie insae tot dit wat verborge is nie.  Tog reken ek dat daar vir ons ‘n boodskap verskuil is.

Dit is vir my so opvallend hoe baie christenne dink hulle is God self.  Hulle veroordeel summier links en regs, maar draai nooit ‘n veroordeelde vinger na hulle self nie.  Hulle weet wie hemel toe gaan en wie nie.  Hulle het genade vir niemand nie.

Ek weet die ideaal is om God na te streef, maar dit beteken nie dat ‘n mens dit durf waag om Sy rol oor te neem nie.  Wees jy maar die beste mens wat jy kan wees, maar wees bedag dat dit nog lank nie volmaak is nie.  Moet jouself nooit verhewe ag nie.

Daar was 2000 jaar gelede goeie Isrealiete gewees, mense wat verwag het om hemel toe te gaan en wat ‘n goeie lewe dikteer het.  Tog was Jesus aan die uitvaagsels bekend gemaak.  Dalk omdat hulle die Goeie Nuus geglo het, wat die Isrealiete verwerp het?  Omdat hulle waarheid, nie by die Waarheid gepas het nie.

Bly nederig.

 





Om te wag

27 11 2011

Kan julle glo dat ons vandag 4 Sondae weg van Kersfees af.  Die advent seisoen het afgeskop en daarmee ook die afwagting vir Kersfees.  Vir eeue lank het die mense gewag op die koms van die Verlosser.  Hoe geredelik is ons vandag bereid om te wag?

Light the Advent candle one

Now the waiting has begun

We have started on our way

Time to think of Christmas day

Hoe bereid is ons vandag om te wag?

Nie so lank gelede moes mens vir bykans enige iets wag.  Wag vir ‘n rekening om op te daag en wag in ‘n tou om elke liewe een te betaal.  As jy met iemand moes praat wat nie naby was nie, moes jy ‘n brief skryf en wag op ‘n antwoord.  Sou jy ‘n meisie of ‘n ou ontmoet wat jou hormone ophol jaag, moes jy wag tot jy ringe geruil het.  Dit kon eers geskiet wanneer die man kon bekostig om huis op te sit.  As jou hart tjoklits pomp vir ‘n kar, sou jy moes sente omdraai en spaar tot jy dit kon bekostig het.  Dit klink amper onwerklik.  Vandag betaal jy vooruit, ontvang jou rekeninge per epos en betaal op die internet.  Jy het nie eers ‘n verhouding nodig as lus jou dryfkrag is en met epos, Facebook en Skype kan jy binne minute met enige iemand kontak maak.  Jy kan enige iets wat jou hart begeer dadelik op skuld koop.

Gerieflik beslis en ek raak seker heel eerste van my verstand af as dit more moet verdwyn.  Tog, as ‘n mens daaroor dink, het dit met ‘n prys gekom.  Geduld, afwaging en hoop.  As iets nie dadelik gebeur nie gee ons op of krap alles anders deurmekaar.  Daar is nie die voldoening om iets waarna jy lank uitgesien het uiteindelik te kan ontvang nie.  Hoop, die verwagting en geloof dat iets gaan kom, is amper oorbodig.

Dit is dus seker geen raaisel dat so baie mense deesdae in wanhoop is nie.  Maak nie saak hoe modern en slim ons raak nie, sekere dinge kom net met tyd.  Mens kan net mooi niks daaromtrent doen nie.  Dit lyk onmoontlik om daardeur te kom:  behalwe wanneer die nodige geduld en hoop aan die dag gelê word.  Eienskappe wat ons met elke verbygaande dag besig is om te verleer.

Dit laat my dink – sou ons vandag in blydskap vir Jesus kan wag?  Of gee ons bloot net op omdat dit nie volgens ons tyd geskiet nie?  Hoeveel meer het die onmiddelike vervulling ons van beroof?