Toiletpapier se dae getel?

12 09 2017

the-end-of-the-toilet-paper-as-we-know-it

Daar is niks verkeerds om jou sente om te draai nie.  ‘n Klein bietjie hier en ‘n klein bietjie daar kan nogal ‘n groot bedrag aan die einde van die jaar maak.  Vra maar enige een wat hulle kleingeld in ‘n emmer gegooi het en later gaan bank het.

Die vraag is net hoe ver moet ‘n mens gaan om ‘n paar sent (deesdae rand) te spaar?  Daar is deesdae selfs mense wat ophou om toiletpapier te koop om hulle beursies te laat rus.  Nie almal gaan steel toiletpapier by die werk, skool of openbare toilette om oor die weg te kan kom nie.  Daar is regtig mense wat sonder toiletpapier klaar kom omdat hulle te suinig is om daarvoor te betaal.  In hierdie geval gaan ek op suinigheid konsentreer en nie armoede nie.

So, hoe werk dit?  Basies, jy kry vir jou en jou gesien ‘n spul sagte lappies.  Babadoeke werk glo ideaal.  Jy vee dan daarmee af wat afgevee moet word en sit dit in ‘n wasgoedsak tot jy dit kan was.  Dit help glo om die lappie so effens nat te spuit voordat jy vee.  Wanneer dit wasdag is, gooi jy dit saam met jou handdoeke in en was dit soos altyd.  Jy laat dit droog word en sit dit terug in die badkamer vir verdure gebruik.

Ek praat hier nou net vir myself, maar ek glo nie toiletpapier gaan ooit so duur wees nie.  Ek gaan eerder sonder koffie of so iets.  Ek is egter aan die lui kant.  Ek kan net dink hoe die toiletsakkie moet stink en ek het ‘n vermoede dit gaan nie so maklik skoon kom soos wat voorgegee word nie.  Sterinappi emmertjie dalk, maar selfs dit gaan nie vir my werk nie.

As ‘n mens dalk nie van toiletpapier wil afsien vir jou sak nie, sal jy daarvan afsien vir die omgewing?  Ek het ‘n paar interessante statistieke gehoor by my vriendin Google.  Blykbaar gebruik ‘n gemiddelde Amerikaner 23.6 rolle toiletpapier ‘n jaar.  Ek vermoed ons kan maar aanvaar dat ‘n gemiddelde Suid-Afrikaner dieselfde hoeveelheid gebruik, al voel dit effens min.  Dit neem glo omtrent 6.8 kg houtpulp, 140 liter water en nog ‘n klomp bleikmiddels.

Een bloekomboom gee glo 1000 toiletrolle.  Suid-Afrikaners sal dus in ‘n jaar ongeveer 1.3 miljoen bome deur hulle gatte trek.  Toegegee, die bome sal almal vervang word met ander bome.  Wat gaan gebeur as bome nie meer gebruik word nie?  Dit sal seker moet plek maak vir nog ‘n inkopiesentrum of behuisingkompleks.  Wat op die lang duur nie regtig bome gered het nie.

Ons het egter die laaste jaar of wat besef dat ons nie met water moet mors nie.  In ‘n jaar neem die vervaardiging van jou gemiddelde persoonlike toiletpapier 3304 liter water in beslag.  Dit is omtrent 9 liter ‘n dag per persoon of 500 miljoen liter per dag vir die land.  Behoort ons die water te spaar?

Ek sal dit kan oorweeg, maar beslis nie met ‘n lappie of 10 nie.  Daar is iets soos ‘n bidet waarmee jy die nodige kan was na gebruik.  ‘n Bidet neem glo ‘n halfliter water op ‘n slag.  Jy sal dus 18 keer ‘n dag moet gaan pottie om gelyk te breek met jou toiletpapier.  ‘n Gesonde persoon gebruik glo 4 – 10 keer ‘n dag die toilet.  ‘n Mens kan dus tussen 4 en 7 liter ‘n dag spaar sonder toiletpapier.

Is dit iets wat jy sal oorweeg?  Vir jou sak en / of die omgewing?  Maak dit vir jou enigsins sin?

Ek is bevrees, dat ek nogsteeds eerder toiletpapier sal koop.





Do you speak English?

6 09 2017

Xena A. Phoenix het baie vaardighede, maar tale is nie een van my talente nie.  Ek het byvoorbeeld baie jare op skool Zoeloe gehad, maar moenie my vra om een sin in Zoeloe te sê nie.  Soos julle weet is my Afrikaans nie perfek nie, my Engels is om van naar te word, maar my Snert is uitmuntend.

Met my onlangse besoek aan Frankryk, moes ek ‘n paar basiese sinne leer.  Die absolute minimum om oor die weg te kan kom.  Die meerderheid gesprekke in Frans het geëindig met “Do you speak English?”

Dit het my natuurlik vreeslik vermaak, want elke keer het ek aan die lied van Carike Keuzenkamp en Johan Stemmet gedink.

In die liedjie loop twee vreemdelinge mekaar in Brasilië raak en knoop ‘n gesprek aan.  Die taal is ‘n bietjie van ‘n probleem, want die meisie kan nie Frans, Duits of Italiaans praat nie.  Sy kan wel Engels praat en dan gaan verf hulle Rio rooi.  Sy dink buitelandse mans het die kuns vervolmaak om ‘n meisie sag te maak en hy reken buitelandse meisies is duur.  Later vra sy hom van waar is hy nou eintlik.  Nylstroom.  Baie gerieflik vir ‘n meisie van Naboomspruit.

Goed, ek weet 2 minute en 49 sekondes gee nie juis veel tyd vir ‘n lang storie nie.  Buitendien is dit mos sonde om ‘n goeie storie met feite te bederf.  Maar regtig?  In my ervaring is “Van waar is jy?” gewoonlik een van die heel eerste vrae wat gevra word.  Buitendien, was die aksente nie baie bekend nie?

Nogtans ‘n baie amusante liedjie wat nie verdien om vergeet te word nie.

Onthou julle dit nog?

 





Moeder Teresa

5 09 2017

stmotherteresa

Vandag is 20 jaar na Moeder Teresa se dood.

Ek onthou dat baie mense – Protestant en Katoliek – na haar opgesien het terwyl sy gelewe het.  Mense het geglo dat sy ‘n engel was, iemand wat haar lewe opgeoffer het om die armstes onder die armstes te dien.  Sy was immers ‘n rykmansdogter, iemand wat haar lewe in luukse kon deurbring.

Deesdae, is daar meer en meer mense wat haar kritiseer.  Diegene wat aanvoer dat sy mense in hulle lyding probeer bekeer het.  Ander voer weer aan dat sy mense opsetlik laat ly het omdat sy gedink het lyding en armoede is mooi.

Ek is nie seker of die kritici net hulle eie afleidings maak en of hulle daar was toe sy haar werk gedoen het nie.  Ek onthou wel hoe Indië haar met haar afsterwe geloof het.  Volgens hulle het sy goeie werk gedoen.

Wat dink julle?





Tronkstatistieke

4 09 2017

jail-thumb

Die reg is rassisties.

Ek het ‘n paar jaar gelede na die onderwerp in ‘n pendelvoertuig geluister terwyl ek van die lughawe na my hotel vervoer was.  Vir die doel vir die bespreking moet ek noem dat ek ten tye van die gesprek in Amerika was.  Dit was dus Amerikaanse inligting wat onder bespreking was.  Dit is dalk ook nodig om te noem dat dit voor Trump was.

Blykbaar is die meerderheid van gevangenes swart, vreemd aangesien swartes in Amerika ‘n minderheidsgroep is.  Navorsing het bevind dat swartes in die reg benadeel word.  Hulle is minder geneig om borgtog te kry en meer geneig om tronkstraf of selfs die doodstraf te kry as die meerderheidsgroep in Amerika.  Om dinge te vererger, is hulle ook die groep wat ekonomies die slegste af is.  Die verskyning was dalk nie te blameer op rassisme as sulks nie, maar op ekonomiese diskriminasie.  Wat ook op rassisme neerkom.

Die praatjie het my nogal laat dink.  Eerstens onthou ek iewers ‘n les dat ‘n sinvolle hipotese direk afhanklik is van die regte vrae wat gevra moet word.  As die hipotese nie reg is nie, gaan die navorsing nie waarde toevoeg nie.  Was die navorsing aangewend om rassisme in die reg te bewys?  Was ander vrae aangespreek wat rassisme in die reg sou uitskakel?  Was die vrae dalk geignoreer omdat die blote vraag rassisties was?  Hoekom word radio’s nie net vir musiek aangewend nie?  Laastens, wat is die situasie in Suid-Afrika?

In Suid-Afrika hoor ons dikwels dat die reg moet transformeer.  Dit kom basies daarop neer dat daar te veel blanke regslui is, wat dalk tot nadeel van die nie-blanke oortreders is.  Beskik die blanke regter oor die nodige agtergrond om oor ‘n nie-blanke in die beskuldige bank te oordeel?  Ek – stiksienig soos ek maar is – het altyd gedink dit gaan oor reg en verkeerd.  Die reg is veronderstel om blind te wees.

In elk geval, nadat ek jare lank gewonder het oor die prentjie is Suid-Afrikaanse tronke, het ek uitendelik die syfers gekry.   Ek kon ook bevolkingsyfers kry om my klein brein te amuseer.

Blykbaar is 79.6% van diegene in die tronk swart.  Siende dat 79.4% van die land se bevolking swart is, stem die syfers ooreen.  Dit is seker laer, aangesien ek ‘n vermoede het dat die meerderheid van buitelanders in die groep ingesluit is.  Blankes is 9.2% van die land se bevolking, maar net 1.6% van die gevangenis se bevolking.  Asiate en Indiërs is 2.6% van die bevolking, teenoor 0.6% in tronke.  Die skokgroep is die kleurlinge, wat 18.2% van die tronk bevolking is, maar net 8.8% van die landsbevolking is.

As ons nou die Amerikaanse studie volg, word daar teen kleurlinge as gevolg van ras gediskrimineer.  Wel, daar was al gesê dat die groep in die vorige regering nie blank genoeg was nie en in die huidige regering nie swart genoeg nie.

Terloops, net 2.6% van die gevangenes is vroulik.  Is ons regstelsel seksisties ook?

Ek sal afsluit dat ek net iemand is wat begin somme maak as iemand vir my twee of meer syfers gee.  Ek is nie ‘n krimiloog of ‘n maatskaplike werker nie, dus is ek nie gekwalifiseer om die data te analiseer nie.  Dit is en bly immers ‘n baie komplekse probleem wat – my insiens – verder strek as net ras.

Glo julle dat die reg blind is?