Ek het al genoem dat ek ‘n kamermaat het. Baie van julle weet selfs dat my kamermaat ‘n bloedverwant van my is. Tegnies gesproke was ek 8 jaar oud toe ek die kamermaat gekry het. Die kamermaat het egter weer by my ingetrek toe sy klaar was met universiteit.
Ons kan seker praat van ‘n kamermaatooreenkoms. Dit is beslis egter nie op skrif nie en dit dek beslis nie goed soos parallel wêrelde en reis in tyd in nie. Dit is basies ‘n mondelinge verstandhouding oor wie wat betaal, onkostes wat gedeel word en ‘n (wens-) lys om huishoudelike take te verdeel. Daar is egter heelwat goed wat baie vaag is.
Soos byvoorbeeld toiletware. Ek dink ons het altyd aanvaar dat elkeen haar eie koop, maar dit is nogal gerieflik as jou sjampoe onverwags opraak om gou by die badkamer langsaan te gaan steel – ek bedoel leen. Om een of ander rede staam my tandepasta haar meer aan as haar eie. Twee badkamers se voorrade is ook ‘n bonus vir wanneer die tannie met haar rooi karretjie kom kuier.
Goed in die kombuis is ook maar allemansgoed. Ek het al ‘n aanmaning gekry dat ‘n sekere soort koffie afgemerk is en dat ek dit moet gaan koop. Netso land daar gereeld pakkies koekies of ander lekkergoed in die kas wat nie in my inkopiemandjie geland het nie. Boeke, DVD’s en CD’s is ook maar om en ewe – wel, tot een uit die huis uit verdwyn. Dan is die hel los totdat dit terug in die huis – in die regte houer – is.
Daar is nie veel oor klere te sê nie, ons dra verskillende grotes. Dieselfde geld vir skoene. Sokkies is egter veel geduldiger. Dit het heel onskuldig begin. Ons koop by dieselfde plekke klere en die eienaarskap van sokkies was dikwels betwis. Ek is tot vandag toe nie seker hoe iemand wat nooit sokkies koop nie, kan sokkies hê nie. In elk geval: na menige oor en weer gestelery van sokkies, het ons maar min of meer volstaan by “jou sokkies is my sokkies en my sokkies is jou sokkies”. Onthou – bloedverband.
Nou ek het net een kamermaat, maar my kamermaat het ook ‘n ander kamermaat. Sy het basies twee adresse. So van tyd tot tyd land daar ‘n vreemde paar sokkies tussen ons sokkies op. Ek sien dit beslis nie as ‘n gedeelde sokkie nie – daar is geen bloedverband met die regmatige eienaar nie. Dit is in elk geval maklik genoeg om dit een kant te plaas om aan die regte eienaar terug te besorg. Dit kan nog verduidelik word.
Wat my egter pienk kielie is die kindersokkies onder ons sokkies? Dit is nie asof een van ons ‘n kind vir ‘n kamermaat het nie? Of dat een van ons se voete in ‘n kind se sokkies kan kom nie.
Nou wonder ek? Deel haar ander kamermaat ook in ons sokkies?
Dalk moet ek vir die wis en die onwis nuwe sokkies gaan koop en duidelik merk.
Wie runnik saam?