40 jaar later

16 08 2017

2017 is die 40ste herdenking van Elvis se dood en nog steeds is daar mense wat glo dat hy nie dood is nie.  Ek het geen idee waar daardie neiging vandaan kom nie.  Van waar ek sit, is hy maar so goed soos altyd dood.  Hy was immers al jare lank dood toe ek gebore is.  Wat ook nie heeltemal waar is nie.

Sien, wat Elvis van enige man onderskei wat in 1977 dood is, is dat hy vandag nog bekend is.  Daar is nog steeds honderde (indien nie duisende) mense wat ‘n lewe daaruit maak deur Elvis te na-aap.  Sy dogter het blykbaar net $1 miljoen geërf na sy dood.  Met haar pa se naam en haar ma se ondernemingsgees staan sy glo so $300 miljoen sterk.

So van Lisa Marie gepraat . . . dit het al baie gebeur dat dogters saam met hulle bekende pa’s liedjies opneem.  Daar was Nancy Sinatra wat saam met Frank Sinatra Something Stupid gesing het.  Daar was al baie vrae gewees oor die geskikheid van die duet en hulle bloedverband.  Natalie Cole wat jare na haar pa se dood saam met hom Unforgetable gesing het.  En dan is daar hierdie weergawe van “In the ghetto.”

Wat dink julle daarvan?

Dink julle dat Elvis wel op 16 Augustus 1977 dood is?  Gestel hy was vandag ‘n 82 jarige oom wat met ‘n haelgeweer op Graceland se stoep gesit het, sou hy nog steeds gewild gewees het?  Of sou hy dalk iewers Graceland moes verkoop het om aan die lewe te bly?