Party goed kan nie regverdig word nie

14 08 2017

025ea58a8199b0581d6c8661003175e6-d618uoq

Ek kon nog nooit die “moenie oordeel” beginsel klein kry nie.  Eerstens, is dit nie ‘n absolute reël nie.  Selfs die grootste “moenie oordeel” mense huiwer nie om oordeel uit te spreek oor goed wat hulle nie aanstaan nie.  Dit is eerder ‘n geval van moenie teen sosiale aanvaardings oordeel nie.  Wat dit ookal die dag mag wees.

Ek is wel oortuig daarvan dat perdedrolle nie vye is nie.  Sekere goed is nie reg nie en kan nooit regverdig of verdedig word nie.  Ek is nog een van die mense wat glo in ‘n reg en ‘n verkeerd.  Twee negatiewes in Wiskunde maak dalk ‘n positief, maar twee (of meer) verkeerdes kan nie ‘n reg maak nie.

Onlangs was daar ‘n geval in die nuus waar ‘n restaurant eienaar ‘n werker aangerand het.  Waar in jou lewe het jy al van so iets gehoor?  Die tyd van slawerny is mos al eeue lank verby.  Buitendien, in Suid-Afrika beter ‘n werkgewer binne die raamwerk (en prosesse) van die wet bly as hy weet wat goed is vir hom.  Buitendien kan jy mos nie alles regklap of slaan nie.

Helaas, soveel mense het simpatie met die boelie.  Daar is selfs mense wat terug verlang na die dae wat hulle plaaswerkers kon bydam.  Dan wonder mense nog waar kom die haat vir boere vandaan.  Dit is oor geslagte in werkers inge****.  Ek is egter heeltemal bereid om te aanvaar dat die meeste boere nie geweldenaars is nie.

Gaan daar ooit ‘n tyd in Suid-Afrika kom wat aksies objektief beoordeel kan word?  Of is ons gedoem tot ‘n leeftyd van panda politiek?  Reg of verkeerd behoort immers blind te wees.

Laat ek afsluit met ‘n tikseltjie nuttelose inligting.  (Dalk moet ek die breinvasbrand daarmee vervang).  Volgens Suid-Afrikaanse wetgewing, kan aanranding (onderworpe aan sekere voorwaardes) met toestemming regverdig word.  ‘n Mens gee tegnies ‘n chirurg toestemming om jou aan te rand as jy tot ‘n operasie toestem.

Daar was jare gelede (en ek praat van dekades terug) by die lughawe ‘n baas gewees wat hom liederlik vererg het vir ‘n vroulike werknemer.  Hy het haar ‘n keuse gegee:  hy kon haar of ‘n pak slae gee of hy kon haar afdank.  Sy het haar werk nodig gehad en het toe die pak slae gekies.  Hy het dit toegedien nadat sy ‘n skriftelike toestemmingsbrief geteken het.

Ten spyte van die geskrewe toestemming wat sy gegee het, was hy skuldig bevind aan aanranding.  Sy het toestemming onder vrees gegee en dit was dus nie as geldig gesien nie.

Ek beveel dit dus nie aan in die werksplek nie.  Ek wonder nou wat beteken dit as jy bang is jy gaan dood as die dokter jou nie aanrand nie.