Almal het een. Selfs die luiste, mees nuttelose huisvrou wie se enigste huislike hoedanigheid is dat sy in ‘n huis woon. Daardie een ding wat reg moet wees ten alle koste. Al moet ‘n mens dit self doen. Die een ding wat jou in die oog steek en uitgeroei moet word. Alles anders kan maar sien kom klaar. As daardie een ding reg is, kan alles anders geignoreer word.
Sal ons dit die ononderhandelbare noem?
Dit is ook gewoonlik waar die kopstampery in die gesin vandaan kom. Pa kan alles oorsien, mits hy ‘n skoon beker kan kry. Ma kan weer met ‘n berg skottelgoed lewe, maar bewaar die gesin as die vloer vuil is. Sus kan nie stof uitstaan nie en Boet het vrede solank hy die TV kan sien.
Ek is maar ‘n passiewe mens en huishoudelike takies is beslis nie iets wat passie in my kan opwek nie. Ek moes egter daarmee vrede gemaak het dat ek die simpel feetjie is wat my berg skottelgoed sal moet aandurf. Ek maak dus baie seker dat ek nooit met ‘n berg skottelgoed sit nie. Eintlik is dit om en ewe – skottelgoed sal jy skottelgoed moet was. Jou keuse is maar beperk – jy was verskeie kere ‘n paar goedjies op ‘n slag of jy was op een slag al jou breekgoed. Maar die vet weet, as daar eers ‘n berg is, blaas dit summier my wiele af.
Wat is die een ding wat jy moet doen voordat jy ‘n oog opmekaar kan sit? Daardie een ding wat reg moet wees voordat jy jou voete by die huis kan uit sit?
Wie runnik saam?