Ek is nie groot op gadgets nie. Ek besit nie ‘n GPS nie en die laaste draagbare musiek toerusting wat ek besit het, is ‘n Walkman – iewers toe ek op laerskool was. Die enigste appels wat ek besit, is die soort wat se daaglikse gebruik die dokter weghou. Ek koop nie elke tweede jaar die nuutste kar op die mark nie, maar koop nog CD’s. Ek het nog nooit ‘n liedjie of ‘n storie op die internet gekoop nie. Ek koop ook nog boeke en verkies om dit bo ‘n skerm te lees.
Ek het nog nooit die bekoring van radiobeheerde speelgoed gehad nie. Ek kan nie omgee of dit ‘n motor, vliegtuig of trein is nie. Ek is immers ‘n boekwurm, nie ‘n man of kind nie. Speelgoed is nou nie iets wat my opgewonde maak nie. Met uitsonderings! Ek soek ‘n drone.
Dit gaan nie eintlik oor ‘n drone (wat is dit in Afrikaans?) nie, maar eerder wat ‘n mens met ‘n drone kan doen. As julle my vergewe as ek eers ‘n Kaapse draai gaan gooi?
Wat is beter om vis en tjips te eet terwyl jy oor Valsbaai uitkyk? Om dit te eet terwyl daar ‘n walvis in Valsbaai speel. Wat is nog beter as dit? ‘n Skool (of is dit ‘n trop) walvisse. Dit is genoeg om enige mens se dag, week of self maand te maak.
So sit ek eendag met my pakkie kos en wil amper uit my vel spring toe ek die groepie walvisse sien speel. Naby genoeg ver foto’s, maar nou nie foto’s om op trots te wees nie. Net genoeg om jou woord te bevestig dat jy ‘n paar walvisse gesien het. ‘n Paar weke later krap ek op YouTube rond en besef dat ek ‘n groep van 60 walvisse gesien het. Iemand het hulle drone gebruik om ‘n video te maak van die walvisse en hulle toe ook sommer getel.
Van toe af soek ek ook ‘n drone. Een met ‘n kamera waarmee ek op walvisse (of iets interessant) kan spioeneer. Daar is egter ‘n paar probleme. ‘n Drone wat ‘n halfuur lang in die lug kan bly, kos omtrent R20000. As dit nou moet kan ek dit seker oor tyd bymekaar krap.
Verder is ek nou nie juis bekend vir my hand-en-oogkoordinasie nie. Wat as ek per ongeluk my drone teen ‘n walvis vasvlieg? Of as ‘n walvis hom / haar gruwelik vererg en my drone ‘n snotklap gee? Dalk is daar ‘n walvisvraat wat gaan wonder hoe die drone nou eintlik proe? Helaas, word my geldsake deur ‘n vrou bestuur. Al die bogenoemde is gerieflike verskonings vir haar om haar voet dwars neer te sit en nee te sê.
Geen drone vir my nie. Verantwoordelikheid is ‘n bitch.
Breinvasbrand: Wie is die uitvinder van Segways?
Breinlosbrand: Olga was reg met Eurostar.
Wie runnik saam?