Frankryk het baie aantreklikhede, maar hulle kom met ‘n prys. Ek praat nou nie net van die toegangskoste nie, alhoewel, jou hart gaan staan elke keer wanneer dit dit omsit in rand. Daar is ook gewoonlik toue wat jou laat dink aan die verkiesing in 1994 in Suid-Afrika. (Raad van die dag – bespreek sover as wat jy kan kaartjies aanlyn. Dit maak die toue aansienlik korter, waarvoor jou bene en humeur baie dankbaar gaan wees).
Gelukkig is daar genoeg in Frankryk om te sien sonder dat dit jou noodwendig ‘n fortuin kos. Mens kan oopbek, gratis en verniet na die Eiffeltoring staar. Van verskillende hoeke in die stad. Dit is ook gratis om langs die Seine te stap of sommer net hier en daar vir mense te kyk. Daar is baie om te sien en te beleef. Helaas, een of ander tyd gaan Moeder Natuur roep.
Nou, vir diegene wat nog nooit in Europa was nie. Jy betaal vir alles – selfs om te gaan piepie. Natuurlik kan jy gratis piepie in museums, maar jy betaal eers deur jou ore om by die museum in te gaan. Verder is dit maar goed om ‘n sak kleingeld te hê, as ‘n nood jou onverhoeds betrap.
Soos ek die storie verstaan, was toilette in Frankryk in die verlede . . . wel, iets om jou oor te skaam. Blykbaar was dit met tye letterlik net ‘n gat in die grond. Hoorsê natuurlik, ek het dit nou nie persoonlik self gesien nie. Frankryk het hulle nietemin geskaam en besluit om iets aan die saak te doen.
Van daar die openbare toilette wat orals is waar jy toeriste kan verwag. Dus, as jy moet knyp en jy sien ‘n soldaat, kan jy maar ontspan. Daar is ‘n toilet naby.
Helaas kan net een persoon op ‘n slag die toilet gebruik. Verder vat dit nogal ‘n rukkie vir die toilet om homself skoon te maak. Jip, jy het reg gelees. Die toilet was maak outomaties skoon van bo tot onder elke keer wanneer iemand dit gebruik het. Dit was blykbaar selfs die vloere. Die beste van alles? Dit is gratis en mens kyk nooit ‘n gratis piepieplek in die gesig nie.
Hoe voel jy oor betaal toilette? Onder watter omstandighede en voorwaardes sal jy dit oorweeg? Die Amerikaners reken dit is die toppunt van Yankverneukery. Hulle glo nie aan betaal toilette nie. Dit is egter iets wat meer en meer in Suid-Afrika kop uitsteek.
Breinlosbrand: Watter trein verbind Parys en London?
Breinlosbrand: Olga was reg met sjokolade croissant.
Wie runnik saam?