In Frankryk doen jy soos die Franse doen

3 08 2017

Ek is Xena A. Phoenix en ek gaan beslis nie oorsee om te eet soos ek by die huis eet nie.  Ek gaan nie eers Kaapstad toe en eet dan soos ek by die huis eet nie.  Mens gaan tog oorsee om ‘n ander kultuur en leefwyse te beleef.  Goed, goed; jy gaan oorsee om goed te sien wat jy nog nie van te vore gesien het nie, maar ‘n mens moet tog eet ook.  Hoekom dan nou nie eet soos die inwoners in die land eet nie?

Toegegee, daar is wragtig iewers ‘n streep.  Ek gaan beslis nie ‘n tweede keer iets bestel as ek dit gehaat het nie.  Daar is beslis ook nie ‘n manier wat ek iets gaan eet wat ek nie in Suid-Afrika sal eet nie (dink afval, lewer ens).  Nuwe goed probeer – beslis.  Binne perke.

Nou kyk, die Franse mag dalk wyn soos koeldrank drink, maar hulle het maar ‘n paar vreemde idees oor kos.  Die vreemde idees is dalk as gevolg van die wyn.  Daar is foie gras, steak tartare, escargot en natuurlik cuisses de grenouille.

Nou kyk, slakke (escargot) het ek al by die huis geëet.  Ek sal nou nie sê dat dit my gunsteling is nie, maar ek sal dit sonder klagtes eet.  Ek het nie ‘n probleem met rou wors nie, dus sal ek seker steak tartare (rou steak wat fyn gemaal is) ook eet al gril ek vir die rou eier.  Helaas het dit nie in Frankryk my pad gekruis nie.  Foie gras (vetgemaakte ganslewer) is ‘n besliste NEE.  Selfs al het ek lewer geëet, staan die geforseerde voer van ganse my nie aan nie.  Dit is ‘n praktyk wat uitgeroei moet word.

P1400890 - Copy

Dit laat ons dus met die cuisses de grenouille.  Watter kant van die streep val paddaboudjies? Soos enige gemiddelde Suid-Afrikaner beskou ek paddas as iets wat in geen hoedanigheid in die kombuis hoort nie.  Alhoewel, terwyl ek navorsing oor Frankryk gedoen het, het dit hier en daar opgeduik.  Mense het dit as lekker beskryf, iets wat ‘n mens moet probeer.  Wel, dit lyk amper soos hoendervlerkies en alles proe mos altyd soos hoender.  Hoekom dit dan nou nie?

P1400884

Eerstens, verkoop nie elke restaurant in Frankryk paddaboudjies nie.  Dit is onwettig om in Frankryk paddas te vang en te slag.  Daar is nie paddaplase in Frankryk nie.  Die paddas moet dus ingevoer word.  Dit beteken paddaboutjies is dus nog meer gesog en uiteraard baie duur.  Ons het toevallig een aand ‘n restaurant gekry en besluit om oë toe te knyp (vir die prys) en dit te probeer.

(Noudat ek daaraan dink – dit was toevallig ‘n vaste prys ete gewees en daar sou ‘n ekstra bedrag gehef geword vir die paddaboudjies.  Dit was nooit gehef nie.  Ons klein wyn (450 ml) het verskriklik baie na 750 ml gelyk.  Ons het egter net die klein prys betaal.  Boonop gee ‘n mens nie in Frankryk ‘n fooitjie vir die kelner nie.  Soveel vir die tourist trap wat ons ‘n myl ver gesien het.)

Die paddaboutjies is glad nie sleg nie, al proe dit glad nie na hoender nie.  Die tekstuur is meer visagtig, maar fyner.  Die porsie was besonders groot en ek het elke boudjie geëet.  Dit is ek daardie – Xena, die vraat.  Die enigste ding(etjies) wat gepla het is die bene.  Baie, baie, baie, baie, baie bene.  Kleiner en fyner as hoender vlerkie bene, maar grote vis grate.  Dit is nogal baie moeite om die boudjies te eet.

Sal ek dit weer eet?  As ‘n voorgereg (wat hopelik aansienlik minder bene het) dalk.  Die dalk het egter niks met die smaak van die bene te doen nie.  Ek mag nou nie besonders groen wees nie, maar ek het ‘n gesonde respek vir ekologie.  Die padda is aan die kroon van die ekologie.  Die paddas was verorber word is wilde paddas wat in ‘n vlei iewers ‘gejag’ word.  Die aarde kan nie bekostig dat daar met die ekologie gemors word nie – daar is immers ‘n rede hoekom Frankryk nie toelaat dat hulle eie paddas gejag word nie.  Tweedens wonder ek wat van die res van die paddas geword het van die berg wat ek verorber het.  Kap hulle het die agterbene af en gooi die res weg?

Is julle dapper genoeg om paddaboudjies te probeer?

Breinvasbrand:  Wat is ‘n Pain au chocolat?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Emmanuel Macron.

Advertisements

Aksies

Information

16 responses

3 08 2017
rondomtaliedraai

Nee wat ek eet nie eers pampoen nie waarom moet ek nou allerhande vreemde goed eet!

4 08 2017
Xena Phoenix

Sal nou ook nie sê pampoen is my gunsteling nie. Ek eet dit darem wel.

3 08 2017
Toortsie

Ek wonder nog oor daai laaste vraag. Die ganslewer klink baie lekkerder.

3 08 2017
Toortsie

Kyk net die heks se fansy sandles!

4 08 2017
Xena Phoenix

Sy het glo te warm gekry vir haar pienk booties. 🙄 Maar haar tjarlie wou sy dra.

4 08 2017
Toortsie

Ek verstaan dit heeltemal. Hekelwerk is nou hoog mode en Parys is immers die modestad van die wêreld!

4 08 2017
Xena Phoenix

Persoonlik dink ek eerder dat dit aan haar vasgegroei het.

3 08 2017
travel460

Paddaboudjies. Nie gedink ek gaan vanaand met só ń vraag gekonfronteer word nie. Dit is ook net die Franse…, nee, nou judge ek. Julle was braaf. Ek sou nie. Nie omdat ek gril nie, of selfs oor nie ekologie gedagte nie. Maar die Paddaprins storie! Die prinses en die padda fabel! My kindertyd!🤗Heerlik by jou gelees.

4 08 2017
Xena Phoenix

Jy sal verbaas wees. Die Italianers eet ook paddaboudjies en blykbaar is dit ook ‘n gewilde dis in onder meer Louisiana.

3 08 2017
Olga

Dalk ‘n ou tjoklit wat jou maagpyn gee? Ek sal paddaboudjies probeer. Een van die wettertjies het my mos jare gelede nat gepie. Dit sal mos nou wraggies poetic justice wees. Daar isdarem niks groen aan daardie boudjie nie.

Dis ‘n sjokolade broodjie of pasteitjie dalk ‘n sjokolade croissant?

4 08 2017
Xena Phoenix

Ek sidder oor die arme hondjies en katjies wat al op jou gepiepie het. 😆 Het jy vratjies gekry van paddapiepie?

21 08 2017
Olga

Nie eers amper nie. Die honde, katte, dogtertjies en seuntjies wie al op my gepieps het, is veilig. 😉

19 08 2017
Nikita

Nie in my wilste drome nie. Ek moet vol ek gaan enige minuut omkap van hongersnood, dan miskien. Gee my boerpampoen en ek sal kg’e daarvan opeet! Daar’s niks so lekker soos pampoen nie – enige pampoen, jy sal my eerlikwaar treat! 🙂

19 08 2017
Nikita

Jammer vir die fout: ‘wildste’ drome.

19 08 2017
Xena Phoenix

Ek sal jou paddaboutjies eet as jy my pampoen eet. 😉 Toegegee, ek eet dit geredelik, maar is nou nie my gunsteling nie.

19 08 2017
Nikita

Dis ‘n deal, enige tyd, Ek sal almal se pampoen eet! 🙂

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s




%d bloggers like this: