In Frankryk doen jy soos die Franse doen

3 08 2017

Ek is Xena A. Phoenix en ek gaan beslis nie oorsee om te eet soos ek by die huis eet nie.  Ek gaan nie eers Kaapstad toe en eet dan soos ek by die huis eet nie.  Mens gaan tog oorsee om ‘n ander kultuur en leefwyse te beleef.  Goed, goed; jy gaan oorsee om goed te sien wat jy nog nie van te vore gesien het nie, maar ‘n mens moet tog eet ook.  Hoekom dan nou nie eet soos die inwoners in die land eet nie?

Toegegee, daar is wragtig iewers ‘n streep.  Ek gaan beslis nie ‘n tweede keer iets bestel as ek dit gehaat het nie.  Daar is beslis ook nie ‘n manier wat ek iets gaan eet wat ek nie in Suid-Afrika sal eet nie (dink afval, lewer ens).  Nuwe goed probeer – beslis.  Binne perke.

Nou kyk, die Franse mag dalk wyn soos koeldrank drink, maar hulle het maar ‘n paar vreemde idees oor kos.  Die vreemde idees is dalk as gevolg van die wyn.  Daar is foie gras, steak tartare, escargot en natuurlik cuisses de grenouille.

Nou kyk, slakke (escargot) het ek al by die huis geëet.  Ek sal nou nie sê dat dit my gunsteling is nie, maar ek sal dit sonder klagtes eet.  Ek het nie ‘n probleem met rou wors nie, dus sal ek seker steak tartare (rou steak wat fyn gemaal is) ook eet al gril ek vir die rou eier.  Helaas het dit nie in Frankryk my pad gekruis nie.  Foie gras (vetgemaakte ganslewer) is ‘n besliste NEE.  Selfs al het ek lewer geëet, staan die geforseerde voer van ganse my nie aan nie.  Dit is ‘n praktyk wat uitgeroei moet word.

P1400890 - Copy

Dit laat ons dus met die cuisses de grenouille.  Watter kant van die streep val paddaboudjies? Soos enige gemiddelde Suid-Afrikaner beskou ek paddas as iets wat in geen hoedanigheid in die kombuis hoort nie.  Alhoewel, terwyl ek navorsing oor Frankryk gedoen het, het dit hier en daar opgeduik.  Mense het dit as lekker beskryf, iets wat ‘n mens moet probeer.  Wel, dit lyk amper soos hoendervlerkies en alles proe mos altyd soos hoender.  Hoekom dit dan nou nie?

P1400884

Eerstens, verkoop nie elke restaurant in Frankryk paddaboudjies nie.  Dit is onwettig om in Frankryk paddas te vang en te slag.  Daar is nie paddaplase in Frankryk nie.  Die paddas moet dus ingevoer word.  Dit beteken paddaboutjies is dus nog meer gesog en uiteraard baie duur.  Ons het toevallig een aand ‘n restaurant gekry en besluit om oë toe te knyp (vir die prys) en dit te probeer.

(Noudat ek daaraan dink – dit was toevallig ‘n vaste prys ete gewees en daar sou ‘n ekstra bedrag gehef geword vir die paddaboudjies.  Dit was nooit gehef nie.  Ons klein wyn (450 ml) het verskriklik baie na 750 ml gelyk.  Ons het egter net die klein prys betaal.  Boonop gee ‘n mens nie in Frankryk ‘n fooitjie vir die kelner nie.  Soveel vir die tourist trap wat ons ‘n myl ver gesien het.)

Die paddaboutjies is glad nie sleg nie, al proe dit glad nie na hoender nie.  Die tekstuur is meer visagtig, maar fyner.  Die porsie was besonders groot en ek het elke boudjie geëet.  Dit is ek daardie – Xena, die vraat.  Die enigste ding(etjies) wat gepla het is die bene.  Baie, baie, baie, baie, baie bene.  Kleiner en fyner as hoender vlerkie bene, maar grote vis grate.  Dit is nogal baie moeite om die boudjies te eet.

Sal ek dit weer eet?  As ‘n voorgereg (wat hopelik aansienlik minder bene het) dalk.  Die dalk het egter niks met die smaak van die bene te doen nie.  Ek mag nou nie besonders groen wees nie, maar ek het ‘n gesonde respek vir ekologie.  Die padda is aan die kroon van die ekologie.  Die paddas was verorber word is wilde paddas wat in ‘n vlei iewers ‘gejag’ word.  Die aarde kan nie bekostig dat daar met die ekologie gemors word nie – daar is immers ‘n rede hoekom Frankryk nie toelaat dat hulle eie paddas gejag word nie.  Tweedens wonder ek wat van die res van die paddas geword het van die berg wat ek verorber het.  Kap hulle het die agterbene af en gooi die res weg?

Is julle dapper genoeg om paddaboudjies te probeer?

Breinvasbrand:  Wat is ‘n Pain au chocolat?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Emmanuel Macron.