Gevaar in Frankryk

2 08 2017

P1410057

Baie beskou Frankryk as idilies.  Straatkafeetjies, goeie kos, lekker wyn en kuns.  Die Eiffeltoring in die agtergrond het niemand al ooit in die oog gesteek nie.  Ek sal nou nie vir julle jok nie, Frankryk is ‘n baie mooi land.  Daar word immers beweer dat daar nie regtig ‘n hoogseisoen (gruwelike anglisisme) in Frankryk is nie, daar is blykbaar altyd – enige tyd van die jaar – swerms toeriste.

Weet julle egter hoe word besienswaardighede in Frankryk gemerk?  Met soldate.  Waar jy ookal ‘n paar of ‘n groep soldate sien, kan jy maar weet daar is iets interessant in die omgewing.  ‘n Plek wat groot groepe mense trek en dus ‘n terroristedroom is.  Hoe meer mense, hoe groter is die terreur impak.

Die afgelope dekade, was daar amper 30 terrorisme pogings in Frankryk.  In Januarie 2015, was daar die aanval op Charlie Hebdo waar daar 17 mense dood is.  In November dieselfde jaar is 130 mense in verskeie aanvalle in Parys dood.  Net-net meer as ‘n jaar gelede is 86 mense dood toe ‘n terroris ‘n trok by ‘n skare ingejaag het terwyl Bastilledag gevier is.  In 2017 alleen was daar al blykbaar 6 aanvalle gewees.

Dit is dus nie net terrorisme in teorie nie, maar daar is ‘n wensenlike gevaar van terreur in Frankryk.  Nie dat dit noodwendig die toeriste afskrik nie, nie eers die Amerikaners nie.  Dit is amper asof ‘n mens dit vergeet, tot jy jouself orals in ‘n groep soldate vasloop.

Op die punt moet ek dalk noem dat ek heel ongeërgd oor soldate is.  Ons het op skool plakaarte van bomme gehad waarvoor ons moes uitkyk.  Ek onthou een skooltoer waar die weermag die skoolbus deur ‘n sekere gebied begelei het.  Daar was ook dae gewees waar die kommando dit nodig geag het om ons skool op te pas.  My reisgenoot het egter nie in dieselfde tyd groot geword nie en sy het die soldate se teenwoordigheid onstellend gevind.

Elke plek wat jy besoek word jou sakke deursoek vir enige plofstowwe.  By die Eiffeltoring is daar ‘n hele kas vol knipmesse wat mense van ontslae moes word as hulle by die Eiffeltoring wou op.  Ek moes selfs die heks (wat elektriese komponente het) verduidelik het.  Al wat haar gered het, is dat haar batterye lankal iewers uitgeval het.

Dit was vir my baie opvallend hoe jonk die soldate is.  Ek weet jong soldate word verkies omdat hulle vreesloos is en hulleself in dinge sal begewe wat iemand wat verstand het nie sal doen nie.  Goed en wel op ‘n slagveld.  Ons praat hier van ‘n dig bevolkte stad met miljoene onskuldige mense.  Met verskoning aan alle jong mense, daar is ‘n rede hoekom versekering vir onder 25 jariges duurder is.  Volgens statistieke is jong mense nie juis bekend vir hulle goeie oordeel nie.  Nogtans word die bloedjong siele tot by hulle tande bewapen om op die straathoeke vir terreur uit te kyk.  Dit voel vir my ‘n bietjie roekeloos, maar dan weer, iemand moet reg staan vir ISIS.

As Suid-Afrikaners is ons nou nie (meer) juis gewoond aan terrorisme nie, maar ons ken misdaad.  Ons weet van jou lewe of jou selfoon en met die een oog slaap.  Blykbaar is geweldadige misdade in Frankryk baie skaars, maar sakkerollers is blykbaar volop.  Selfs in die Louvre is daar waarskuwings om vir sakkerollers uit te kyk.

Ek wonder of een van die sakkerollers dapper genoeg was om ‘n soldaat te besteel.

Nou besef ek dat daar in hierdie hele lang relaas nie ‘n punt is nie.  Dalk net dat Suid-Afrika nie so ‘n slegte plek is nie.  Hier is ons gewoonlik veilig in skares en nie die teiken van een of ander terroris of sakkeroller nie.

Breinvasbrand:  Wie is Frankryk se president?

Breinlosbrand:  Olga en Scrapy was reg met Gaul.

Advertisements

Aksies

Information

12 responses

2 08 2017
seegogga

Ja dit gaan maar soms sleg by alle lande, nie net by ons nie.

3 08 2017
Xena Phoenix

Gras is mos groener van wee die uitermatige misbemesting.

2 08 2017
Toortsie

Nou praat die heks seker Frans!

3 08 2017
Xena Phoenix

Moet haar nie aanmoedig nie. Jy weet mos hoe voor op die wa sy is.

3 08 2017
Toortsie

Sy is deesdae so stil, ek wonder of sy enigsins nog kán praat, haar batterye is dan ook al uitgehaal. Klink na heksemoord, as jy my vra!

3 08 2017
Toortsie

Ek sal graag haar weergawe van Frankryk ook wil lees.

2 08 2017
rondomtaliedraai

Ai mens besef dit nie werklik as jy rustig jou blyplek de seur toegetrek het nie

3 08 2017
Xena Phoenix

Aan die ander kant, hulle is darem veilig in hulle eie huise. Ons vat maar ‘n kans as ons gaan slaap. 😉

2 08 2017
Olga

Emmanuel Macron
In Suid Afrika moet sommige mense hulle tonge ingee om vrede te bewaar. Net, almal is te slapgat om daardie opdrag te gee.

3 08 2017
Xena Phoenix

SA het ‘n staande mag. Ek wonder soms hoeveel is hulle werd.

9 08 2017
hoendersop

Ek is besig om my bloglees op datum te kry! Hierdie laat my dink aan wat verlede jaar met my oudste en sy vrou in Frankryk gebeur het toe hulle daar was om ‘n tv-reeks te verfilm. Ouboet het op een goeie dag met die drone (waarvoor hy ‘n permit en die boer se toestemming het) oor die chateau gevlieg om die omgewing te verfilm. Die foto waarmee die veiligheidspolisie (in 6 voertuie en ten volle bewapen) by die chateau opgedaag het, wys die twee kaalkoppe (albei in swart geklee en met donkerbrille op – nou kan jy raai watter leefstylprogram hulle verfilm het) wat staan en opkyk na die drone – blykbaar is die foto geskiet vanuit ‘n satelliet. Dit het baie mooipraat gekos om die polisie te oortuig hulle verfilm regtig ‘n tv-program. Natuurlik het nie ‘n enkele polisieman Engels gepraat nie maar gelukkig was die een aanbieder nog daar en hy kon tolk. Maar hulle moes tot vir die polisie van die vorige reeks se episodes op die rekenaar wys voordat hulle geglo het hierdie is net ‘n onskuldige kookprogram.

19 08 2017
Nikita

Deesdae moet jy in die hele Europa jou ‘back watch’ – kyk nou vir Spanje en Finland. Dis ‘n narigheid. Soveel onskuldige mense. Ek vertrou nie meer ‘n wit ‘van’ nie. As ek hom sien, dan wonder ek net…

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s




%d bloggers like this: