Gevaar in Frankryk

2 08 2017

P1410057

Baie beskou Frankryk as idilies.  Straatkafeetjies, goeie kos, lekker wyn en kuns.  Die Eiffeltoring in die agtergrond het niemand al ooit in die oog gesteek nie.  Ek sal nou nie vir julle jok nie, Frankryk is ‘n baie mooi land.  Daar word immers beweer dat daar nie regtig ‘n hoogseisoen (gruwelike anglisisme) in Frankryk is nie, daar is blykbaar altyd – enige tyd van die jaar – swerms toeriste.

Weet julle egter hoe word besienswaardighede in Frankryk gemerk?  Met soldate.  Waar jy ookal ‘n paar of ‘n groep soldate sien, kan jy maar weet daar is iets interessant in die omgewing.  ‘n Plek wat groot groepe mense trek en dus ‘n terroristedroom is.  Hoe meer mense, hoe groter is die terreur impak.

Die afgelope dekade, was daar amper 30 terrorisme pogings in Frankryk.  In Januarie 2015, was daar die aanval op Charlie Hebdo waar daar 17 mense dood is.  In November dieselfde jaar is 130 mense in verskeie aanvalle in Parys dood.  Net-net meer as ‘n jaar gelede is 86 mense dood toe ‘n terroris ‘n trok by ‘n skare ingejaag het terwyl Bastilledag gevier is.  In 2017 alleen was daar al blykbaar 6 aanvalle gewees.

Dit is dus nie net terrorisme in teorie nie, maar daar is ‘n wensenlike gevaar van terreur in Frankryk.  Nie dat dit noodwendig die toeriste afskrik nie, nie eers die Amerikaners nie.  Dit is amper asof ‘n mens dit vergeet, tot jy jouself orals in ‘n groep soldate vasloop.

Op die punt moet ek dalk noem dat ek heel ongeërgd oor soldate is.  Ons het op skool plakaarte van bomme gehad waarvoor ons moes uitkyk.  Ek onthou een skooltoer waar die weermag die skoolbus deur ‘n sekere gebied begelei het.  Daar was ook dae gewees waar die kommando dit nodig geag het om ons skool op te pas.  My reisgenoot het egter nie in dieselfde tyd groot geword nie en sy het die soldate se teenwoordigheid onstellend gevind.

Elke plek wat jy besoek word jou sakke deursoek vir enige plofstowwe.  By die Eiffeltoring is daar ‘n hele kas vol knipmesse wat mense van ontslae moes word as hulle by die Eiffeltoring wou op.  Ek moes selfs die heks (wat elektriese komponente het) verduidelik het.  Al wat haar gered het, is dat haar batterye lankal iewers uitgeval het.

Dit was vir my baie opvallend hoe jonk die soldate is.  Ek weet jong soldate word verkies omdat hulle vreesloos is en hulleself in dinge sal begewe wat iemand wat verstand het nie sal doen nie.  Goed en wel op ‘n slagveld.  Ons praat hier van ‘n dig bevolkte stad met miljoene onskuldige mense.  Met verskoning aan alle jong mense, daar is ‘n rede hoekom versekering vir onder 25 jariges duurder is.  Volgens statistieke is jong mense nie juis bekend vir hulle goeie oordeel nie.  Nogtans word die bloedjong siele tot by hulle tande bewapen om op die straathoeke vir terreur uit te kyk.  Dit voel vir my ‘n bietjie roekeloos, maar dan weer, iemand moet reg staan vir ISIS.

As Suid-Afrikaners is ons nou nie (meer) juis gewoond aan terrorisme nie, maar ons ken misdaad.  Ons weet van jou lewe of jou selfoon en met die een oog slaap.  Blykbaar is geweldadige misdade in Frankryk baie skaars, maar sakkerollers is blykbaar volop.  Selfs in die Louvre is daar waarskuwings om vir sakkerollers uit te kyk.

Ek wonder of een van die sakkerollers dapper genoeg was om ‘n soldaat te besteel.

Nou besef ek dat daar in hierdie hele lang relaas nie ‘n punt is nie.  Dalk net dat Suid-Afrika nie so ‘n slegte plek is nie.  Hier is ons gewoonlik veilig in skares en nie die teiken van een of ander terroris of sakkeroller nie.

Breinvasbrand:  Wie is Frankryk se president?

Breinlosbrand:  Olga en Scrapy was reg met Gaul.

Advertisements