As jy nie wil verdwaal nie, bly by die huis

31 07 2017

P1400587

Baie mense is vreesbevange dat hulle gaan verdwaal.  In ‘n vreemde land, in ‘n vreemde stad in ‘n vreemde taal . . . enige redelike mens kan daardie vrees insien.  Dit is genoeg om baie mense by die huis te laat bly.  Ander weier weer om ‘n voet te versit tensy iemand hulle hand gaan vashou buite die hotel.  Alles teen ‘n prys natuurlik.

My filosofie, as iemand dit wil hoor is, spandeer geld op goeie kos, lekker slaap en om elke nuuskierige sel te bevredig.  Nie op vrees nie.  Jy gaan verdwaal! Dit is deel van die pret om oorsee te gaan rondploeter.  Jy sal dit oorleef.  As jy nou regtig geskroef is, maak seker jy weet waar jou hotel is en dat jy genoeg geld vir ‘n taxi het.  Ek was nog nooit so erg verdwaal dat ek ‘n taxi moes nader hark nie.

Google maps is natuurlik ‘n wonderlike ding – as Google maps dieselfde uitgang as jy ingedagte gehad het.  Dit help natuurlik ook as jy vinnig genoeg ‘n straatnaam kan opspoor om jou met Google te koordineer.  Ongelukkig weet Google nie wanneer stasies gesluit is nie.  Google kan ook net ander planne maak as daar Wifi of iets dergliks is.  Dit help in elk geval net as Google die openbare vervoer kon uitpluis.

Dit geld natuurlik vir enige plek in die wêreld en nie spesifiek vir Frankryk nie.  Ek wil eintlik ‘n paar woorde sê oor die ‘ongeskikte’ Franse.  Ons het almal al gehoor om eers in Afrikaans jou saak te stel om die asprise Franse hulle Engels te laat onthou.  Ons het egter besluit om eerder ‘n sin of twee Frans te gooi en dan oor te skakel na Engels.  Selfs dit was nie eers nodig nie.

Toegegee, nie almal in Frankryk ken Engels nie.  ‘n Paar basiese terme gaan nogal ver en bedoel nou regtig die eerste 10 min van een beginner Franse les basies.  Nogtans is die mense nogal bereid om te help.  Ons het soms maar net verdwaald gelyk en iemand sou aanbied om te help.  Ironies genoeg was dit gewoonlik met Google Maps.

Die Metro is egter ‘n wonderlike ding.  As jy 5 minute spandeer om dit uit te pluis, gaan jy kort voor lank soos ‘n plaaslike inwoner rondrits.  Jy gaan kom waar jy wil wees wanneer jy daar wil wees.

Breinvasbrand:  Wat is die geldeenheid in Frankryk?

Breinlosbrand:  Aspaai was reg met 14 Julie.





Franse Week

30 07 2017

P1400757

Hiermee verklaar ek amptelik die week as Franse week.  Dit behels natuurlik dat ek elke dag iets sal moet gorrel.  Nie net gorrel nie, maar iets in die lyn van Frankryk.  Ek wonder of ek nog daagliks ‘n blog kan skryf?  Ons sal seker die week uitvind.

Daar word gesê:  “See Paris and die.”  Ek kon nog nooit die bekoring met Parys klein kry nie.  Dalk omdat dit die stad van liefde is, liefde is mos vir die voëls.  Hoe romanties kan ‘n mens nou in elk geval raak in ‘n vuil plek vol vuil en onbeskofde mense?  Mense wat boonop soos skoorstene rook, met wyn tande borsel (as hulle tandeborsel) en paddaboudjies vreet?  Alles vir ‘n hoop staal wat vir ‘n wêreld tentoonstelling gebou is en eintlik al lankal afgebreek moes geword het?

Nee, Frankryk was nog nooit op die lys van plekke gewees wat ek wou gaan sien het nie.  Buitendien was ek mos al in Parys sonder om in Parys te wees.  Ek het dalk net op die lughawe gewag vir my vlug, maar ek het nog steeds die Eiffel Toring deur die vliegtuig se venster gesien.  So ‘n hoop staal in die nag is nogal iets om te aanskou.  Punt is dat ek die Eiffel gesien het, dus was daar niks anders wat my Parys toe getrek het nie.

Die lewe loop egter soms vreemde draaie.  Toevallig moes ek Frankryk toe foeter en waarom dan nou nie ook toeris speel nie?  Wat het dit my in die sak gebring?

Eerstens het ek Frankryk baie meer geniet as wat ek ooit gedroom het ek sou.  Ek het eerlik geen idee waar die hulle sê hulle opvattings van Frankryk kry nie.  Die mense is nie vir my ongeskikter of vuiler as Suid-Afrikaners voorgekom nie.  Terloops, hoekom dink ons Suid-Afrikaners is so vriendelik?  Die diens is nie so sleg soos verkondig word nie.  Buitendien, hoe kan enige Suid-Afrikaner vinger wys oor vuil stede of dorpe?  Parys het my eerlik nie as vuil getref nie.

Ek sal nou nie sê dat my hart in Parys agter gebly het nie, maar ek sal beslis spring as ek die kans kry om terug te gaan.

Terloops, hoe het Afrikaans Paris Parys gemaak?

Breinvasbrand:  Wanneer word Bastilledag gevier?