Verskil, maar bly beskaaf

24 03 2017

6346894242_37cd3c0645_o

Ek het niks teen ‘n goeie argument of debat nie.  ‘n Groot deel van my beroep behels om ‘n sienswyse of punt te beredeneer en mense na die logiese kant te oorreed.  Ek moet erken, ek geniet dit nogal.  Die argument, nie soseer die uitkoms van die argument nie.  Ek gaan stry soms ‘n verlore saak net vir my vermaak.

My wapens in enige argumente is feite en statistieke.  En ja, ek is al baie gevloek of gedreig.  Dit hou gewoonlik nie water met feite nie, maar dit laat die verloorder belangrik en sterk voel.  Nou nie dat ek my laat intimideer nie, maar dit is die meerderheid se terugval taktiek wanneer hulle kennis en inligting nie jou logika kan weerspreek nie.

Ek weier egter om tot daardie vlak te daal.  Soos iemand eendag gesê het:  “Never argue with an idiot.  They will only bring you down to their level and beat you with experience.”  Oom Mark Twain het ook gesê:  “Never argue with a fool, onlookers may not be able to tell the difference.”  Wyse woorde.  ‘n Argument met iemand wat nie na feite wil luister nie, is ‘n mors van tyd en energie.

Ek het eendag iewers iets gelees dat ‘n vloekery eintlik ‘n teken van ongeletterheid is.  Mense wat hulle self na behore kan uitdruk, het nie nodig om op vloek terug te val nie.  Hoe dikwels sien ‘n mens dit nie?  Mense wat op sosiale media matrose laat bloos om hulle weersin in iets te beklemtoon.  My insiens is dit ‘n geval van speel die speler en nie die bal nie.

Dan is daar diegene wat altyd alles wil gaan reg timmer.  Gewoonlik diegene wat nie eers van ‘n bed kan afbliksem nie, maar glo almal anders reggebliksem het.  Regtig?  Is daar vandag nog plek daarvoor?  Natuurlik is daar altyd die sot wat daad by die woord wil voeg.  Gewoonlik het hulle nie veel te wys vir die aggressie nie.  Behalwe diegene wat oënskynlik bewe van vrees, maar waarskynlik skud van die lag.

Die vloekers en sogenaamde bakleiers is gewoonlik skadeloos.  Die grootste skade wat hulle veroorsaak is om hulle eie name met ‘n plank te slaan.  Ek sien egter deesdae ‘n neiging waarmee ek nie gemaklik is nie.

Het julle opgelet hoe daar met elke gekleurde storm in ‘n koppie doodsdreigemente vlieg?  Dit wissel van kom ons roei die hele ras uit as een van hulle nie die ‘verontregte’ ras kan respekteer nie.  As iemand as ‘n rassis (homofobies / seksisties / gelowig) in die media skuldig bevind word, is daar letterlik honderde mense wat dit op hulle self neem om die beskuldige met die dood te dreig.

Ons grondwet verbied die staat om ‘n verraaier, reeksmoordenaar, verkragter of pedofiel met die dood te dreig.  Sekerlik is dit ook onwettig vir die mense om rassiste, homofobe, seksiste ens met die dood te dreig?  Die wet rondom noodweer is baie spesifiek.  Jy mag jouself byvoorbeeld nie verdedig as die aanval verby is nie.  Wraak is teen die wet.  Wat maak die selfaangestelde vervolgers verhewe bo die wet?

Ek het dit al van te vore gesê, maar ek sal dit nou weer herhaal:  Dit is sinneloos om teen barbare op te tree terwyl jyself ‘n barbaar is.  As jy dan so gesteld is op ‘n ander se menswaardigheid, moet jy seker die voorbeeld vir menswaardigheid stel?

Hoe voel julle hieroor?

Advertisements

Aksies

Information

14 responses

24 03 2017
Hier "blok" Elanè

my sentiment ook!!

24 03 2017
Xena Phoenix

Hoor Hoor

24 03 2017
Toortsie

Bravo! Maar ek kan lekker baklei as dit moet! 🙂

24 03 2017
Xena Phoenix

😉 Trek jy hare of byt jy?

24 03 2017
Toortsie

Praat lelik. Maar dan moet jy my regtig kwaad maak.

24 03 2017
HesterLeyNel

Die mob mentaliteit waar almal mekaar opsweep en aanmoedig tot geweld, is iets wat my lankal fassineer. Dis presies wat gebeur het onder leiding van die Führer (en nog ‘n hele paar leiers na hom ook). Is dit deel van ons menslike gene om almal soos ‘n trop skape in dieselfde put te spring? Sosiale media maak dit natuurlik makliker en blaas die vuurtjie aan, want daar is dit so maklik om saam te stem en te kyk wie met die pittigste neerhalende opmerkings kan uitkom.

24 03 2017
Xena Phoenix

Mob mentaliteit! Dit is ‘n euwel. Mense dink nie self nie, maar volg blindelings die hardste, sjarmantste stem.

Moraliteit het die afgelope 10 jaar verander. Snaaks genoeg is dit diegene wat die hardste skree dat hulle nie geoordeel mag word nie, wat sonder genade ander veroordeel wat hulle kodes verbreek het. Hoe sê die Bybel – haal die balk eers uit jou eie oog het. As jy nie geoordeel wil word nie, moenie oor ander oordeel nie (wat snaaks genoeg ook uit die Bybel kom).

24 03 2017
travel460

Ek wil baie graag my mening lig, maar ek is só nie ñ “fighter” nie. Ek verstaan nie die binnekant van iemand wat tot die dood toe wil baklei nie. Dit verveel my, om die eerlike waarheid te sê. Hoekom wil mense mekaar van hul standpunt en siening oortuig, en hoekom wil jy deelneem. So, ek kan nie my mening gee nie, want eintlik is ouens wat met woorde baklei teen wat ook al, vir my totaal vervelig.

24 03 2017
Xena Phoenix

I am a fighter and not a lover. Ek is beslis nie ‘n passifis nie.

Iewers het ek in iemand ontaard wat alewig met ander se woorde ploeg. Daar word gesê dat as jy vir niks staan nie, sal jy vir niks val nie. Daar is beslis sake waarvoor daar baklei moet word en ek sal daarvoor baklei tot my laaste asem. Ek glo egter ook dat die pen magtiger as die swaard is.

24 03 2017
travel460

Dalk omdat ek nou ouer is, en vir baie jare ook maar moes baklei teen en vir dinge. Ek is dankbaar vir diegene wat met hul woorde namens die res van ons baklei. Dit moet gedoen word. Maar die barbaarse manier, ek stap só weg daarvan.

24 03 2017
Olga

As die skrywe is na aanleiding van wat ek dink dit is, sy het gegee beter as wat sy gekry het. Ek verstaan van die ooggetuies het (selfde ras as die “slagoffer”) het erken sy het eerste onbeskof geword. Die “rassis”het glo baie beleef met haar gepraat. Dis natuurlik die deel wat Spur so gerieflikheidshalwe uitgelaat het. Weereens ‘n blerrie tsunami in ‘n pispot.

Ek kan ook goed my kant bring. Ek hou egter nie van bekgevegte nie. Ek is ook seker maar ongeletterd. Tog moet ek ‘n lansie vir myself breek. Ek vloek net terug. Ek vloek oor die algemeen nie eerste terug nie.

25 03 2017
Xena Phoenix

Ek praat eintlik oor die reaksie op die tsunamie in n teekoppie. Daar is meer as een person wat voel dat die rassis end sy held dam we ganse uitgeroei moet word. Iets in die Lyn van “only once we start killing them will they start to respect us”. Duidelike haatspraak. n Man (volgens die gemeenskapskoerant) wat verkeerdelik as die rassis aangesien is, het meet as 500 dreigoproepe gekry.

25 03 2017
Olga

Dis regtig om van siek te word. Ek sal ook tot my kind se verdediging kom. Ons het eendag by die Wimpy gesien hoe groter swart seun ook ‘n wit dogtertjie afknou. Die wit ma het na die swart ma gegaan en gekla neem ek aan. Die ma het ook begin gil. Toe het die (swart) kelnirin tussenbeide getree. Wat toe gese was, sal ek nie weet nie, maar die (swart) ma het haar kind gaan weghaal. Hy was aan die groot kant en toe heel inskiklik aan tafel by sy ma gaan inkleur.

29 03 2017
neil

as jy jouself nie kan verdedig nie omdat die duiwels jou uitgeslaan het en jy kom by en hulle is BC bedig om jou vrou/kind/ouer aan te rand of jou kluis oop te maak en jy slaan n dief dan our die kop en hy vrek. us dit dan ook wraak? ek wil baie graag weet.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s




%d bloggers like this: