Talente is soos kleure

21 08 2016

Talent is eintlik ‘n baie wye term.  Amper soos kleure – blou was nog nooit oranje of wit nie.  Alles is wel kleure, maar elkeen is individueel heeltemal verskillend.

Volgens die woordeboek is talent ‘n aangebore, natuurlike begaafdheid of aanleg.  In Merrieterme, dit wat jou goed maak met wat jy goed kan doen.  Dit waarmee jy woeker en waaroor die skoolhoof aan die begin van elke sportseisoen gepreek het.  ‘n Mens word mos deur die Bybel verplig om met hulle Godgegewe talente te woeker.

As ‘n mens mooi daaroor dink, is daar gewoonlik ‘n (wetenskaplike?) rede agter die talent.  Daardie ekstra skop wat ‘n persoon dalk bo die gemiddeld laat uitstyg.  ‘n Goeie krieketspeler het dalk ‘n uitsonderlike oog-en-hand-koördinasie.  Iemand wat akademies presteer het ‘n hoë IK of is dalk net besonders pligsgetrou.  ‘n Goeie 800 m atleet het dalk ‘n ekstra knippie testosteroon in hulle samestelling.

Ek praat nou natuurlik van Caster Semenya.  ‘n Dame wat na jare se vernedering uiteindelik laaste kon lag en ‘n goue olimpiese medalje kon los hardloop.  Natuurlik is daar baie mense en haar mede atlete wat nie te gelukkig is nie.  Caster het haarself egter nie gemaak nie.  Sy het ‘n wrede klap van die natuur gekry en sy maak die beste daarvan.  Siende dat die klap van haar ‘n beter atleet maak, woeker sy mos dus met haar talente.

Sal ek vergewe word as ek opmerk dat sy nie die enigste vrou was wat effens mannetjiesagtig gelyk het in die wedloop nie?  Dit is nou ook nie asof sy bonatuurlik goed is nie.  Sy het dalk stof geskop in die ander atlete se oë, maar sy was nie in die beste top tien tye ooit nie.  Sy het maar die vyfde beste tyd ooit by die Olimpiese Spele aangeteken.

Dit is seker te wagte dat haar teenstaanders (en hulle aanhangers) nie baie gelukkig met haar is nie.  As sy ‘n poppie was wat estrogeen gespuit het, sou hulle ook enige verskoning gebruik het om beter te vertoon.  Dit is egter nogal verbasend hoeveel van Caster se landsgenote heeltemal bereid is om die eerste Olimpiese goue medalje (seker vir die normale spele) wat ‘n Suid-Afrikaanse vrou in 64 jaar gewen het af te skryf.

Ek hoop dat Caster ‘n baie dik vel ontwikkel het of dat al die kritiek ekstra woema in haar bene sit.  Sy het immers niks verkeerds gedoen nie.

Wel gedaan, Caster.  Jy het SA trots gemaak.

#handsoffCaster

Breinvasbrand:  Vir watter land het Zola Budd in 1984 aan die Olimpiese Spele deelgeneem?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Héctor Elizondo.


Aksies

Information

6 responses

21 08 2016
rondomtaliedraai

Dis so hartseer Kan jy dink hoe is sy op skool gespot… Welgedaan ek is saam met haar trots

21 08 2016
Toortsie

Ek is bly dat sy hierdie keer ondersteun is. Die vorige keer het ek die SA Atletiek kwalik geneem, hul moes haar beskerm het, of deur nie te laat deelneem nie, of deur haar die ondersteuning te gee wat sy nodig gehad het. Hierdie keer is die huiswerk duidelik gedoen en ek gun haar haar goue medalje en is trots op haar as Suid-Afrikaner.

22 08 2016
mnrnel

Well said. Britanje

22 08 2016
Olga

al die bollie waar die kind al deurgesit is. Sy het haarself nie gemaak nie. Sy was ook nie die enigste butch atleet in die item nie. Tog was daar net op haar gepik. He he he. My skoonma het altyd graag gese “gee die duiwel wat hom toekom.” dis nou nie die duiwel nie, maar whoop whoop Caster.

23 08 2016
Korrelkop Kahuna

Die vrou wat tans die hardste huil oor hoe “onregverdig” dit is om teen Caster deel te neem het 6de geëindig. Wat verwag sy, ‘n medalje vir middelmatigheid? Go Caster, hardloop jou hart uit.

25 08 2016
scrapydo2.wordpress.com

Welgedaan, sy is n ster. Sy het gelukkig haar ore gesluit vir al die aantygings en haar beste gelewer.🙂

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




%d bloggers like this: