Reg en regverdig

7 07 2016

6 jaar tronkstraf vir moord is vir baie mense ‘n bietjie dik vir ‘n daaler.  Ek is geen regskenner nie, maar ek is seker die storie gaan weer in die Appélhof draai.  Die reg sal seker sy gang gaan, maar baie mense is bitter ongelukkig daaroor.  Iemand het juis gister op Twitter die volgende kwyt geraak:  “Dear Black Child.  Don’t go killing others thinking you are #OscarPistorius, you’ll NOT get a lighter sentence than 15 years in jail.” 

Daar is baie te sê oor die tweet (en ander in dieselfde lyn), maar dit verander nie die persepsie wat daar tans heers nie.  Die reg is inherent rassisties.  Dit is terloops nie net ‘n plaaslike persepsie nie.  Ek is te lui om nou te gaan soek, maar daar was in Amerika navorsing gedoen wat gewys het dat gekleurdes deurlopend swaarder strawwe as hulle ligte tydgenote kry.  Dit is natuurlik ook ‘n ekonomiese vraagstuk, maar dan word daar weer rede gesoek oor hoekom gekleurdes in ‘n slegter finansiële posisie is.

Vraag is egter:  “Word ‘n 6 jaar tronkstraf gekoop met ‘n ligte vel, ‘n gestremdheid of ‘n sak vol geld?”  Feit is dat die gelukkige oortreder finansieel geruïneer is.  Dit is iemand wat skatryk was voor die moord en wat uit ‘n ryk familie gekom het.  Goeie regspersone is nie goedkoop nie en is nie vir elkeen beskore nie.

Kom ons neem vir Pieter (‘n kelner), Fatima (‘n klerk), Thando (‘n motorwerktuigkundige) en Avatar (‘n persoon met ongespesifiseerde ras en geslag).  Maandagaand het hulle elkeen in afsonderlike gevalle aan hulle buurman se deur geklop, ‘n pistool teen die man se kop gedruk en die sneller getrek.  Hy het in die voorval gesterf en die beskuldige is met bloed op sy/haar hande in hegtenis geneem.  Elkeen se motief is dat dit ‘n donkermaan was.

Vraag is nou wie gaan die lankste trunk toe?  Wie kry die vinnigste parool?  Met die beskikbare feite en ‘n regverdige regstelsel, behoort elkeen ewe lank tronk toe te gaan en ewe gou vir parool in aanmerking te kom.  Is dit regtig die geval?  Wie gaan die minste simpatie kry?  Sou daar ‘n verskil gewees het as die slagoffers wit was?  Wat daarvan as die slagoffers swart was?  Wie sou dan die grootste vark in die verhaal gewees het?

Kom ons veronderstel dat die reg regverdig is en dat Pieter, Fatima en Thando elkeen lewenslank tronk toe gestuur is.  Avatar het egter ‘n kelder vol Krugerrande.  Hy huur die beste advokaat in die land.  Die advokaat gaan argumenteer dat Avatar vas geglo het hy skiet ‘n spook.  Hy haal presedente aan van soortgelyke gevalle waar die oortreder vrygespreek is.  Verder het hy ‘n wêreldbekende wat getuig dat die fases van die maan ‘n mens se goeie oordeel kan belemmer.  Na ‘n 3 jaar lange saak, het Avatar nie meer een Krugerrand oor nie, maar hy/sy kry tronkstraf van 8 jaar.

Is Pieter, Fatima en Thando regverdig behandel?  Hulle het immers presies dieselfde misdaad gepleeg as Avatar?  Word regverdigheid net met geld gekoop?  Sou Avatar se velkleur die skaal se gewig geaffekteer het?

Hoeveel vertroue kan jy in die reg stel?

Breinvasbrand:  Waar is die hoogste Hof van Appél in Suid-Afrika gesetel?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Bud van sy gunsteling bier, Budweiser, en Spencer van sy gunsteling akteur, Spencer Tracey.


Aksies

Information

16 responses

7 07 2016
ekmyselff

Nee wat ek weet ook nie meer nie, ek stem nie saam met die 6 jaar nie, maar Oscar is aan die klok gehang, baie verkragters en mense wat ander mense op plase wreed vermoor kom ook maar baie lig daarvan af, kom uit die tronk en doen dit maar net weer en weer. Ek dink nie dit gaan oor swart of wit nie, maar n regstelsel wat ons vaal.

7 07 2016
Xena Phoenix

Partykeer gooi die regters seker maar ‘n dobbelsteen. Ek verstaan eintlik hoe gevangenes straf werk nie. Hoe op aarde kan ‘n minimum straf verminder word – minimum beteken mos die minste. Verder, lewenslang beteken mos eintlik tot die einde van iemand se dood. Wat in 25 jaar beteken lewenslank? Hoekom kan mense mediese parool kry as jy veronderstel is om in die tronk dood te gaan?

8 07 2016
ekmyselff

Ek verstaan ook nie en soms dink ek dit is beter so, maar ek dink as so iets aan jou voordeur klop dan vat dit aan jou en dan maak jy seker jy “probeer” verstaan.

7 07 2016
Korrelkop Kahuna

Alles is manupileerbaar, ook die reg; en geregtigheid is ‘n grap. Geregtigheid is te koop aan die een met die diepste sakke en/of hoogste sosiale status.
Die appélhof is in Bloemfontein.

7 07 2016
Xena Phoenix

Wos- oops, wat is jou naam nou?😉 Korrel!!!!! Long time no see!!!

Soos die ou mense gesê het: Geld wat krom is. Geen wonder so baie mense glo dat prokureurs almal reguit hel toe gaan nie. Beslis nie ‘n edele beroep nie.

7 07 2016
ekmyselff

Many people are saying they can’t understand how two men who robbed Vuyo Mvoko & his crew got 15 years last month, while Oscar Pistorius was today sentenced to six years for murdering Reeva Steenkamp. What are your thoughts?

7 07 2016
Xena Phoenix

Weet jy, roof kon in die verlede met die dood gestraf word. Dit is en bly ‘n ernstige misdaad. Die vonnis is in die geval seker gepas. Die moordvonnis is die probleem. Ek glo nie die staat gaan die storie daar los nie.

8 07 2016
ekmyselff

Ek glo ook nie hulle gaan dit los nie.

7 07 2016
Olga

Ek dink ek is net bly dit is verby, sesjaar minus die twaalf maande (soos die regter dit genoem het) is beter as die tien maande wat hy agter tralies deurgebring het. Ek het al gese wat ek dink daardie nag van 14 Febr 2013 in daardie huis gebeur het en ek volstaan daarby. Tot sy verdediging kan ek egter se, baie deure het vir die oorledene oopgegaan nadat sy aan die atleet se arm opgemerk was. Sy het volgens familie en vriende baie gekla en gese hoe bang sy vir hom was. Wel, niemand weet hoekom sy gebly het nie. Maar nou ja nou weet ons almal sy het gebly totdat ‘n dief in die badkamer was.

7 07 2016
Xena Phoenix

Die vet tannie is nog nie eers op die verhoog nie, sy het dus nog lank nie klaar gesing nie.

Dieselfde kan seker gevra word van vrouens wat bly by die mans wat hulle sleg behandel. Swaarkry is seker lekker.

7 07 2016
Heila

21190 dae is baie lank. Volgens familie was sy bang vir hom? ‘n Dertigjarige bang vrou gaan kuier op Valentynsdag op haar eie by ‘n gestremde man vir wie sy bang is en slaap by hom? Langer tronkstraf sou nog nie die negatiewe mense stil gemaak het nie.

7 07 2016
Xena Phoenix

Hi Heila,

Welkom in die bos.

21190 dae is 58 jaar. Niemand wil hom so lank tronk toe stuur nie. Dit gaan ook nie oor negatief of positief nie. Eerder oor reg en verkeerd. Wat sy daar gesoek het, beteken nie dat sy verdien het om doodgemaak te word nie.

7 07 2016
Heila

Hi Xena.

Jammer, 2191 dae.

7 07 2016
rondomtaliedraai

As mense met dieselfde toewyding waarop hulle hierdie saak gevolg het hulle werk doen en omgee vir hulle naaste sal die wêreld ‘n beter plek wees.

7 07 2016
Xena Phoenix

Soos hulle in Chicago sê: Murder is entertainment. 😉

8 07 2016
rondomtaliedraai

Ongelukkig nê!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




%d bloggers like this: