Reg en regverdig

7 07 2016

6 jaar tronkstraf vir moord is vir baie mense ‘n bietjie dik vir ‘n daaler.  Ek is geen regskenner nie, maar ek is seker die storie gaan weer in die Appélhof draai.  Die reg sal seker sy gang gaan, maar baie mense is bitter ongelukkig daaroor.  Iemand het juis gister op Twitter die volgende kwyt geraak:  “Dear Black Child.  Don’t go killing others thinking you are #OscarPistorius, you’ll NOT get a lighter sentence than 15 years in jail.” 

Daar is baie te sê oor die tweet (en ander in dieselfde lyn), maar dit verander nie die persepsie wat daar tans heers nie.  Die reg is inherent rassisties.  Dit is terloops nie net ‘n plaaslike persepsie nie.  Ek is te lui om nou te gaan soek, maar daar was in Amerika navorsing gedoen wat gewys het dat gekleurdes deurlopend swaarder strawwe as hulle ligte tydgenote kry.  Dit is natuurlik ook ‘n ekonomiese vraagstuk, maar dan word daar weer rede gesoek oor hoekom gekleurdes in ‘n slegter finansiële posisie is.

Vraag is egter:  “Word ‘n 6 jaar tronkstraf gekoop met ‘n ligte vel, ‘n gestremdheid of ‘n sak vol geld?”  Feit is dat die gelukkige oortreder finansieel geruïneer is.  Dit is iemand wat skatryk was voor die moord en wat uit ‘n ryk familie gekom het.  Goeie regspersone is nie goedkoop nie en is nie vir elkeen beskore nie.

Kom ons neem vir Pieter (‘n kelner), Fatima (‘n klerk), Thando (‘n motorwerktuigkundige) en Avatar (‘n persoon met ongespesifiseerde ras en geslag).  Maandagaand het hulle elkeen in afsonderlike gevalle aan hulle buurman se deur geklop, ‘n pistool teen die man se kop gedruk en die sneller getrek.  Hy het in die voorval gesterf en die beskuldige is met bloed op sy/haar hande in hegtenis geneem.  Elkeen se motief is dat dit ‘n donkermaan was.

Vraag is nou wie gaan die lankste trunk toe?  Wie kry die vinnigste parool?  Met die beskikbare feite en ‘n regverdige regstelsel, behoort elkeen ewe lank tronk toe te gaan en ewe gou vir parool in aanmerking te kom.  Is dit regtig die geval?  Wie gaan die minste simpatie kry?  Sou daar ‘n verskil gewees het as die slagoffers wit was?  Wat daarvan as die slagoffers swart was?  Wie sou dan die grootste vark in die verhaal gewees het?

Kom ons veronderstel dat die reg regverdig is en dat Pieter, Fatima en Thando elkeen lewenslank tronk toe gestuur is.  Avatar het egter ‘n kelder vol Krugerrande.  Hy huur die beste advokaat in die land.  Die advokaat gaan argumenteer dat Avatar vas geglo het hy skiet ‘n spook.  Hy haal presedente aan van soortgelyke gevalle waar die oortreder vrygespreek is.  Verder het hy ‘n wêreldbekende wat getuig dat die fases van die maan ‘n mens se goeie oordeel kan belemmer.  Na ‘n 3 jaar lange saak, het Avatar nie meer een Krugerrand oor nie, maar hy/sy kry tronkstraf van 8 jaar.

Is Pieter, Fatima en Thando regverdig behandel?  Hulle het immers presies dieselfde misdaad gepleeg as Avatar?  Word regverdigheid net met geld gekoop?  Sou Avatar se velkleur die skaal se gewig geaffekteer het?

Hoeveel vertroue kan jy in die reg stel?

Breinvasbrand:  Waar is die hoogste Hof van Appél in Suid-Afrika gesetel?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Bud van sy gunsteling bier, Budweiser, en Spencer van sy gunsteling akteur, Spencer Tracey.