Wie nie ore het nie . . .

13 06 2016

Elke mens het seker maar een makabare plesiertjie.  Myne is dan seker om kommentaar op nuusberigte te lees.  Aan die een kant sukkel ek om te verstaan hoe iemand kan verwag om ernstig opgeneem te word as hulle skryf (spelling, taalgebruik) of redeneer soos ‘n kind.  So dikwels moet ek met afgryse onthou dat dit mense is wat geregtig is om te stem wat so dink.  Geen wonder dat Churchill gesê het:  “The best argument agains democracy is a 5 minute conversation with an average voter.”

Soos altyd het ek sommer al by my inleiding van die punt af gedwaal.  Ironies dat ek wil blog.  Dit is seker ‘n sprekende voorbeeld om die splinter in ‘n ander se oog raak te sien.  Waaroor ek eintlik wil teef is die regverdiging wat mens vir die booshede van die wêreld het.

Pretoria het byvoorbeeld die jaar ‘n paar aanvalle in reservate en Klapperkop gehad.  Soos klokslag word die verwyt geuiter:  “Wat het hulle in die eerste plek daar gesoek.”  Dus, omdat jy as ‘n belastingbetaler gedurf het om ‘n reservaat wat jy onderhou te probeer geniet, verdien jy om aangerand, beroof, verkrag en selfs vermoor te word.  Die reservate behoort aan struikrowers, aanranders en moordenaars.  Jy, as ‘n vrye burger van die land, beter eerder by die huis te bly.

Onlangs was daar ‘n geval van ‘n pa wat sy 20 jarige seun met ‘n staalstaaf doodgeslaan het.  Goed en wel, ‘n 20 jarige hoort nie in graad 11 nie en sy vingers behoort nie in sy ma se handsak nie.  Regverdig dit egter die pa om hom dood te slaan?  Dit maak my siek hoeveel mense vir die pa simpatie het.

Die naweek was daar weer ‘n massaskieter wie se kop in Amerika uitgehak het.  Die vent was gegrief daarmee nadat hy twee gay mans in die openbaar sien soen het.  Iewers het hy by ISIS aangesluit.  Saterdagaand is hy met ‘n outomatiese wapen na ‘n gay nagklub waar hy 50 mense doodgeskiet het en meer as 50 beseer het.  Dadelik was iemand reg om dit te regverdig met “Om gay te wees is sonde.”  Gee dit nou regtig iemand die reg om met ‘n masjiengeweer op mens los te bars?

Ongelukkig kan goeie oordeel nie gekoop word nie.  Hoe voel julle?

Breinvasbrand:  Florida het nog steeds die doodstraf.  Die ter dood veroordeelde mag kies hoe hulle ter reg gestel moet word.  Wat is hulle keuses?

Breinlosbrand:  1933


Aksies

Information

15 responses

13 06 2016
Toortsie

Soos altyd, UITSTEKEND geskryf. Soos jy sê, goeie oordeel kan nie gekoop word nie.

13 06 2016
Xena Phoenix

Dankie.

Die wêreld sal seker baie vervelig gewees het met goeie oordeel. 😉 Wonder wat sou die mensdom dan aangevang het.

13 06 2016
Toortsie

Steeds dieselfde! Want selfs dié met die goeie oordeel haak soms uit.

13 06 2016
ekmyselff

Ai die wereld is vol hartseer en onreg en sonder goeie oordeel.

13 06 2016
Xena Phoenix

Dit is waar. Mense is glad nie so intelligent soos hulle glo hulle is nie.

13 06 2016
HesterLeyNel

Dodelike inspuiting of elektriese skok. Ek is bly om te hoor dat daar nog iemand is wat die kommentare lees – sommige daarvan is absoluut belaglik en dan is daar ‘n hele spul skape wat saamstem. Aan die ander kant is daar diegene wat nie saamstem nie en net daar is die vet in die vuur; die beledigings vlieg heen en weer, tot so ‘n mate dat die oorspronklike beriggewing heeltemal uit die oog verloor word. *sug en skud die koppie*

13 06 2016
Xena Phoenix

Ek het my blogtande gesny op kommentaar. Ek was daardie stroomop karakter wat teen die massa se konserwatiewe kommentaar gegaan het. Mense het gedreig om my nek om te draai en gebid dat ek onder ‘n bus moet beland. Ironies genoeg, ek het ‘n tweeling, drieling en ‘n kloon onder die vyande gekry. (Ja, ons verskil vandag nog daaroor).

13 06 2016
HesterLeyNel

Haha, nee wat, ek soek nie onnodig skoor nie, maar ek laat my ook nie strooi vertel nie.

13 06 2016
seegogga

Dis mos wanneer ek mense se intellgensie bevraagteken. Soos hier op ons eige dorpie waar hulle Anneen Booysen veroordeel omdat 1, sy onder ouderdom in ‘n kuierplek was, 2 laataand alleen wou huis toe loop. maw dit s haar eie skuld dat sy verkrag en vermoor is, die moordenaar en verkragter is onskuldig.

13 06 2016
Xena Phoenix

Mense het nie juis genade met ander nie. Nie eers met kinders nie.

13 06 2016
rondomtaliedraai

Dis ook omdat elke program op tv wemel met gemene mense … en dit hou glad nie op nie Is daar nie iets goeds in elke persoon nie.

15 06 2016
Xena Phoenix

Ek verstom my altyd aan Grey’s Anatomy. Daar is eintlik weinig regtig min mense met goeie imbors – hulle het almal voete van klei. Tog, nie een van die hoofkarakters diskrimineer teen voorheen benadeeldes (vroue, swartes of gays nie). Regtig? Soos hulle mekaar in die rug steek of sleg sê, hoekom gaan nie een van hulle vir die maklike teiken nie. Dit is nie asof hulle van edelheid oorloop nie.

15 06 2016
rondomtaliedraai

Hulle maak of daar geen regstelsel is nie en geen skelm kom in die tronk of eers in die moeilikheid nie

13 06 2016
Olga

Tv wemel nie net van gemene mense nie, maar ‘n mag der menigte verskillende maniere van moord pleeg. Geen wonder mense hou van eksperimenteer nie. Juis soos met die arme Anneen se geval.

Ek hou ook daarvan om die kommentare te lees. Maar nou ja, soos jy se, mense hou van oordeel en napraat. Ek wens dikwels dit was moontlik om met ‘n “rooipen” die spelfoute en grammatikale foute reg te maak. Die mense neig maar om soos Olga te wees, lang, rammelende kommetare wat hulle idiotisme baie duidelik wys. (Waar kan ek gaan lees?)

15 06 2016
Xena Phoenix

Deesdae se stories gaan nogal oor die anti-held. Ons praat nou nie van helde wat voorheen sleg was of wat ‘n slegte kant het nie. Eerder oor mense wat nie helde moet wees nie. Ons volg reekse waar reeksmoordenaars, dwelmslawe ens die held is.

Behalwe nou dat goed wat verkeerd is, opgehemel word, is die meeste stories oor misdaadoplossing. Hoekom is daar nie meer ander tipe stories nie? Of kan die mens nie meer ‘n goeie storie sonder bloed, verrotting of geweld herken nie?

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




%d bloggers like this: