Waardigheid kom nie met rooi karre nie

11 05 2016

Ek is altyd verstom oor hoe onkundig (die regte woord is eintlig ignorant) mense oor armoede is.  Ek was byvoorbeeld eendag by ‘n seminaar oor menshandel gewees.  Die een vrou het opgespring en verkondig dat sy armoede ken.  Na die tweede wêreldoorlog kon haar familie nie suiker bekostig nie.  Hulle kon darem wel elke aand met ‘n vol maag lekker warm slaap.

Vroeër vanjaar was daar ook baie gemor oor die dagbesoekers by die strande.  Daar was verduidelik dat die dagbesoekers die hele jaar lank spaar om op die een dag hulle voete by die see te kom afspoel.  Dadelik het iemand hulle self verdedig dat hulle ook die heel jaar spaar.  Daar is ‘n verskil.  Die tweede groep kan darem akkomodasie vir verskeie nagte, akkomodasie en betroubare vervoer bekostig.

Dit is eintlik ironies, dat die meerderheid van die wêreld se bevolking brandarm is, maar dat diegene aan die anderkant nie eintlik die konsep van arm begryp nie.  Ek gaan nie met oogklappe deur die lewe nie, maar selfs ek kan met tye onkant betrap word oor hoe arm mense kan wees.

Vroeër vanjaar het ek ‘n artikel gelees waarin gemor was oor belasting op tampons.  Die argument is dat vrouens nie ‘n keuse het of hulle wil menustrueer nie.  Hulle moet!  Dus is dit onregverdig om belasting – veral luukse belasting – op die ware te hef.  Dit was ‘n Britse artikel en blykbaar is daar nie belasting op kondome nie, omdat dit as ‘n noodsaaklike item beskou word.  Dit is ‘n baie interessante debat, maar wat het dit te doen met armoede?

Dit kan nogal ‘n gesukkel wees as die tannie met die rooi karretjie jou onverhoeds betrap.  Vir die bevoorregtes, is dit ‘n irritasie.  As jy nie voorsiening gemaak het nie, kan jy vinnig ‘n plan maak as dit moet.  Al moet jy belasting daarop betaal.  Wat as jy egter nie doekies of tampons kan bekostig nie?  Mens moet eet ook en dit is nie juis aptytlik nie?

Dit is presies die lot wat glo 2.1 miljoen meisies en vroue in Suid-Afrika raak.  Hulle probeer maar oor die wegkom met gras, blare, papier of selfs gebruikte doekies (nie noodwendig hulle eie nie).  Die probleem is so erg dat hulle tot 5 dae ‘n maand (het ek iewers gelees) eerder by die huis moet bly en klaar bloei.  Hulle mis dus tot 5 dae ‘n maand werk en / of skool.  Dit help natuurlik nie om die nodige sanitêreware te kan bekostig nie.

Behalwe nou vir die idee van gebruikte doekies, maar die hele idee my naar.  Die tannie is nou geen plesier om te onthaal nie, maar dit behoort nie jou lewe tot ‘n stilstand te bring nie.

Wat kan ‘n mens daaromtrent doen?  Ek verstaan dat daar groepe is wat herbruikbare doekies ontwikkel het.  Jy was dit glo soos dit gebruik word.

Dit laat my nou natuurlik oor weggooidoeke wonder.  Niemand gebruik mos meer gewone doeke nie.  As jy egter nie sanitêreware kan bekostig nie, wat doen jy dan as ‘n baba opdaag?

Breinvasbrand:  Wie het die eerste moderne tapons gepatenteer?

Breinlosbrand:  Olga was reg met 30 Junie 1921.





Verarming in werking

9 05 2016

Ek bly langs ‘n huurhuis.  Klokslag, elke jaar Oktober, kry ek nuwe bure.  Presies op die 1ste Oktober.  Hoekom?  Die huur word elke jaar met 10% opgestoot.  Die inwoners kan dan nie meer die huur bekostig nie en gaan soek dan na ‘n ander heenkome.  Natuurlik na ‘n effens goedkoper plekkie wat waarskynlik ook ‘n ‘swakker’ huis of in ‘n slegter buurt sal wees.  Kortom, hulle lewensstandaard neem jaar na jaar af.  Hulle word dus stelselmatig armer en armer.

Ek is geen ekonoom nie.  Soos ek die storie verstaan is inflasie die gemiddelde koers waarmee pryse verhoog word.  In Suid-Afrika staan dit blykbaar op 6% (min of meer).  Ek wonder dikwels hoe word daar op 6% bereken.  Huur gaan oor die algemeen met 10% op – die maksimum wat huur mee kan styg.  Elektrisiteit styg jaarliks met meer as 10%.  As Eskom hulle sin kry, sal dit nader aan 20% wees.  Elke keer as die petrolprys styg, styg die prys van kos en gebruiksware.  Daar was boonop nou ‘n droogte, dus is suiwel, groente, vrugte en vleis deur die dak.

Om ‘n inflasie van 6% te kry, moet die styging van ander ware laer wees om op te maak vir die goed wat met meer as 6% styg.  Dit voel net skeef.  Wat het net met 6% toegeneem?  Ek is nie juis groot op inkopies doen nie.

In elk geval, dit is net een kant van die munt.  Salarisse neem gewoonlik net toe om inflasie te dek.  As jy gelukkig is, ek het al baie gehoor van mense wat in jare geen verhoging gekry het nie.  Buitendien, die eerste hap uit jou salaris gaan vir die regeringskoffers.  Jou salaris styg dalk (as jy gelukkig is) met 7%, maar gewoonlik eindig daar minder as 7% ekstra in jou rekening.

Maak nie saak hoe ek daarna kyk nie, dit bly ‘n gemors.  Of het ek heeltemaal die kat aan die stert beet?

Hoe maak jy die beste gebruik van elke 100c in ‘n Rand?  Hoe sit jy vir inflasie ore aan?

Breinvasbrand:  Wanneer het die Reserwe Bank geopen?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Absalom.