Spinasie en Pampoen

24 02 2016

Scrapy wil die week gesels oor groente.  Ek is nou nie heeltemaal seker wat ‘n mens oor groente kan sê nie, maar ek skrik nie vir ‘n uitdaging nie.

Ek het nog nooit ‘n probleem met groente gehad nie.  Goed, blomkool lyk beslis nie lekker nie.  Nie eers as dit groen ingekleur is nie.  Ertjies lyk nie na kos nie en pampoen is nou nie my gunsteling nie.  Nietemin, ek eet hulle almal.  Ek sal vrywillig vir my van alle groentes in skep.  Selfs al is dit vaal gekook en lyk dit effens na kots.

Groentes kan seker diskriminasie skree as dit by restaurante kom.  Nou nie so hard soos vrugte nie, maar oor die algemeen word groente afgeskeep.  Ek praat nou nie van slaai nie, of dalk moet ek net tamaties (wat blykbaar vrugte is) en blaarslaai uitsluit.  Bittermin restaurante bied groente op hulle spyskaart aan.  Ek praat nou van groente as ‘n bykos.  Selfs die vegetariese etes is slaai en stysel, nie regtig groente nie.  Sou jy wel groente kan kry, is die keuse maar beperk.  Jy kry spinasie en pampoen – dit is al!

Goed, ek weet ‘n mens moet een rooi (oranje, geel) groente en een groen groente voorsit.  Kom ons vergelyk dit met vleis.  Jou keuse vir vleis berus basies op bees, skaap, vark, hoender en vis.  Die meeste restaurante het dit alles op hulle spyskaarte en jy kan kies uit verskillende snitte, gaarmaakmetodes en opdienings.  Alhoewel vleis duurder is, is dit ook gewoonlik die grootste porsie op jou bord.

As jy gelukkig genoeg is om groente te kry, kry jy basies “creamed spinach” en fyn pampoen (goed, eintlik botterskorsie, maar dit bly pampoen!).  Dit terwyl daar wortels, patats, boontjies, brokkoli, skorsies, kool, blomkool, brusselse spruite, beet, aspersies, eiervrug ens is.  Daar is ook ‘n magdom verskillende maniere waarop dit gaargemaak kan word.  Hoekom moet almal by spinasie en pampoen vashak?  Daar is niks verkeerd met spinasie en pampoen nie, maar regtig?  Elke restaurant, elke dag van die week.  Sou dit seer maak om dit af te wissel?  Om dalk ‘n groter keuse aan te bied?  Dalk pampoenkoekies met die pampoen maak?

Dit is seker maar ‘n saak van aanbod en aanvraag.  Ek is seker in die minderheid.

Watter groente sal julle graag op ‘n spyskaart wil sien?  Hou jy van groente?

Breinvasbrand:  Wie het sy krag geput uit ‘n blik spinasie uit?

Breinlosbrand:  IsiZulu.

 





Taal op TUKS

23 02 2016

Soos julle teen die tyd weet, is ek ‘n oud-Tukkie.  In ons eerste jaar was getalle sodanig dat daar ‘n groot Afrikaanse klas en ‘n groot Engelse klas vir al ons vakke kon wees.  In ons tweede jaar was dit gekombineerde klasse.  Bedoelende die klasse was veronderstel om vir beide Afrikaans- en Engelssprekendes voorsiening te maak.  Dit is dan gewoonlik waar die trein ontspoor het.

50 minute is lank, maar nie lank genoeg om al die inligting in Afrikaans en Engels oor te dra nie.  Siende dat almal wat Afrikaanssprekend was Engels kon verstaan, maar nie al die Engelssprekendes Afrikaans kon verstaan nie, is die klasse alles in Engels aangebied.  Bydraende faktore is dat die handboeke net in Engels beskikbaar was en dat van die terme bloot nie vertaal kon word nie.  In teorie kon ons in Afrikaans vrae vra, maar nie al die dosente (party was uitlanders) kon Afrikaans praat nie.

Ek is op die oomblik weer ‘n voorgraadse student.  Daar is egter een groot verskil.  Al die lesing materiaal (daar is nie lesings nie) is in Afrikaans en die meeste van die handboeke is ook.  Dit maak ‘n groot verskil.  Ek absorbeer, dink en redeneer baie vinniger in Afrikaans.  Hoewel ek nie rede gehad het om oor Engels te kla nie, is dit net soveel makliker in Afrikaans.  Ek is dus pro-moedertaal onderrig.  Ek het ook geen probleem om dit wat ek geleer het in Engels te kan uitdruk nie.

Tans is daar ‘n groot bakleiery oor Afrikaans op universiteite.  Dit is nie ‘n onderhandeling nie, maar ‘n eis.  Weg met Afrikaans of ons vernietig alles wat in ons pad staan.  Bloed het al oor die saak gespat.  Glo my, die oomblik wat die eis op universiteitsvlak toegestaan word, gaan dit vir skole geëis word.

Siende dat ek ‘n hele paar jaar terug ‘n Tukkie student was, weet ek dat niemand met Afrikaans hoef te worstel nie.  Soos ‘n kollega van my wie se kinders op Stellenbosch is sê:  “My kinders het op Stellenbosch graad gekry sonder dat hulle een word Afrikaans ken.  Dit is nie asof Afrikaans by mense se kele afgedruk word nie.   Wat kan gewen word om dit te verban?  Dit is ‘n politiese spelletjie wat daarop uit is om Afrikaanse mense ‘n pit te druk.

Ek verstaan dat baie van die studente wat in Engels swot, nie noodwendig Engels as moedertaal het nie.  Tog vra niemand om Zulu, Xhosa, Sepedi, Sotho, Tswana, Ndebele, Tsonga, Swati en Venda op universiteitsvlak te bevorder nie.  Dit gaan dus nie oor onderrigstaal nie.

Die onversetlikheid van die betogers is ook ‘n bron vir kommer.  Hulle weier om na rede te luister.  Hulle hits geweld aan en wil dan treur as hulle in geweld seer kry.  Moet daar net terug gestaan word dat hulle kan vernieting en aanrand soos hulle lekker kry?  Sonder enige gevolge?

Ek dink Suid-Afrika is op ‘n breekpunt.  2016 gaan bepaal of daar hoop vir Suid-Afrika is.  2016 gaan bevestig of Suid-Afrika behoort aan almal wat in die land woon en of sekere bevolkingsgroepe nog hier ‘n toekoms kan bou.

Breinvasbrand:  Watter taal is die meeste Suid-Afrikaners se huistaal?

Breinlosbrand:  Cisgender is mense wat lewe soos hulle geslag voorspel.  Nowathome en Olga was dus reg.





LGBTQIA

19 02 2016

Dit was seker veronderstel om eenvoudig te wees.  As jy ‘n man is, gaan jy ‘n vrou as ‘n maat kies en jou lewe met daardie vrou deel.  Omgekeerd was natuurlik ook waar.  Tog het dit nooit heeltemal so uitgewerk nie.  In baie kulture was dit aanvaarbaar dat ‘n man meer as een vrou kies.  Daar was ook kulture (ver in die minderheid) waar ‘n vrou meer as een man kon hê.  Ek is nie seker hoeveel sê sy in die saak gehad het nie.

Die basiese boustene was nogtans dieselfde.  Wag, amper laat ek julle bloos.  Kom ons volstaan by mans gaan saam met vrouens.  Dit het nooit heeltemal so gewerk nie.  Van die vroegste tye het party mans ander mans gekies.  Ek verstaan dat die dames in harems mekaar ook vermaak het.  Dit is nou nie asof hulle vry was om ‘n maat van hulle keuse te gaan soek nie.  Hoe dit ook al sê, duisende jare later en daar is baie mense wat gegrief word deur die gedagte van seuntjies en dogtertjies hoort saam.  Verder nog, party mense neem aanstoot met daar is seuntjies en daar is dogtertjies.

Ek gaan nou nie by die filosofie omtrent die onderskeid ingaan nie.  Die ‘uitgeworpendes’ het basies genope gevoel om hulle eie gemeenskap te begin.  In die 90’s is die gemeenskap LGB gedoop.  Van daar af het dit LGBT geword.  Almal (buiten heteroseksuele mense) het nog nie welkom gevoel nie, so het die LGBT, LGBTQ geword.  LGBTQ is later LGBTQI en nog later LGBTQIA ens.  Almal voel nog nie heeltemal tuis nie en gelukkig is daar 26 letters in die alfabet.  Wie weet in elk geval waarvoor staan LGBTQIA?  Of self LGBT?  Laat ek julle vandag ‘n bietjie help.

LGBTQIA

  • L:  Lesbeen
  • G:  Gay (ek het gedink gay is ‘n omvattende term vir gay mans en vroue.  Blykbaar is ek verkeerd)
  • B:  Bi-Sexual
  • T:  Transgender (met ander woorde, iemand wat eers een geslag was en toe ‘n ander geslag geword het)
  • Q:  Questioning / Queer (Iemand wat nie seker is wat hulle verkies nie.  Queer (ek sweer ek vertaal net, ek het nie die term gekies nie) verwys na iemand wat nie heteroseksueel is nie).
  • I:  Intersexual (mense wat basies altwee geslagte is)
  • A:  Asexual (so iemand wat nie seksueel is nie) of Ally (iemand wat simpatiek teenoor die LGBTQIA gemeenskap staan).

Sal ek vergewe word as ek sê dit is nogal ‘n mond vol?

Ek het nogal gedink dat Heteroseksueel, Homoseksueel en Bi-seksueel alle moontlikhede denkbaar kan dek.  Blykbaar is ek en die seining reg uit die donker eeue.  Dit is glo net die punt van die ysberg.  Mense kan glo die volgende seksuele voorkeur hê.

  • Heteroseksueel:  Dit is mense wat aangetrokke voel tot mense van die ander geslag.
  • Homoseksueel:  Mense wat aangetrokke voel tot hulle eie geslag.
  • Bi-seksueel:  Mense wat aangetrokke voel tot beide geslagte.
  • Panseksueel:  Pan beteken basies alles.  Panseksuele mense raak blykbaar eerder op ‘n persoonlikheid verlief, ongeag van die geslag.  Dit is dus nie dat hulle tot mans en vrouens aangetrokke voel nie, eerder dat geslag nie vir hulle saak maak nie.
  • Aseksueel:  Mense wat nie van dogtertjies of seuntjies hou nie.

Daar het julle dit.  In ‘n neutedop en vol mynvelde.

Breinvasbrand:  Wat beteken cisgender?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Loftus Versfeld.





Tuisdorp

17 02 2016

Scrapy neus die week oor ons Tuisdorpe.

Almal weet seker al dat ek myself as ‘n Pretorianer uitgee.  Ek is nou wel nie in Pretoors gebore of getoë nie.  Ek skree beslis ook nie vir die Blou Osse nie.  Nogtans is Pretoria die plek wat ek al langer as ‘n dekade huis noem.  Ek het basies na skool in Pretoria gaan swot en na swottings het ek in Pretoria begin werk.

‘n Vriendin van Johannesburg verkondig graag dat in Pretoria almal mekaar ken.  Growwe oordrywing, ek belowe julle.  Wat wel waar is, is dat Pretoria ‘n behoorlike stad is, met ‘n dorpsgevoel.  Ons geniet die voordele van die stadslewe, maar raak nog nie weg in die stads skaduwee nie.  Dalk is dit ‘n kwessie van identiteit?  Pretorianers is nog opregte mense, nie ‘n stuk masjienerie nie, maar ons kry nogtans dinge gedoen.

Een van die grootste voordele van Pretoria is die klimaat.  Dit is oor die algemeen sonnig, nie te koud of te warm nie en daar is selde wind.  Ons reën kom gewoonlik laatmiddag, maar dit is oor die algemeen opgeklaar teen die tyd wat jy wil braai.  Ek moet egter byvoeg dat ons huidige somer almal vir ‘n 6 slaan.  Niemand kan meer ‘n vinnige kykie na die hemel gooi en die weer voorspel nie.

Pretoria is gerieflik.  Jy kan gewoonlik al jou inkopies in ‘n 1 – 10 km radius doen.  As jy die dag avontuurlustig voel, kan jy doodeenvoudig jou radius vergroot.  Buiten die Gautrein, gebruik ek nie juis openbare vervoer nie.  Ek kan dus nie ‘n mening daaroor gee nie.  Mens sukkel nie met die Gautrein nie en dit kan baie tyd spaar as jy vinnig Johannesburg toe moet gaan.  Die grootste lughawe in Afrika is so te sê op ons agterstoep.  Verder hoef ons nie te reis vir ons mediese behoeftes nie.

As ‘n gebore plattelander, is die stad ‘n skatkis van geleenthede.  Ek kan byvoorbeeld nie net elke week kerk toe gaan nie, maar elke dag sou ek wou.  Boonop kan ek ‘n kerktyd kies wat my die beste pas, veral as ek die tye tussen die kerke met mekaar vergelyk.  Pretoria het heelwat opvoerings, maar dit is ook naby genoeg aan Johannesburg om daar iets te gaan bywoon.  Daar is restaurante vir elke smaak, gier of prysklas.  Boonop kan jy die weirdste belangstelling of stokperdjie hê, en jy sal iewers ‘n klub kan oopkrap.

Pretoria is bedrieglik groot.  Met die insluiting van Bronkhorstspruit, is Tshwane blykbaar een van die grootste metropole in die wêreld.  Nogtans, is die mense verdeeld soos die windrigtings.  Ek gaan eerder my voet uit my mond los en volstaan dat die Ooste, Noorde, Weste en Centurion (Suide) elkeen karakters uit eie reg is.

Ek sal maar moet sien waar die toekoms my sal neem.  Tot dan is ek heel gelukkig in Pretoors.

Breinvasbrand:  Watter bekende rugby stadion is in Pretoria geleë?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Lilymyn.





Wat word??

15 02 2016

Kommentaar op nuusberigte is seker maar ‘n wetenskap op hulle eie.  Dit is gewoonlik vermaaklik, op ‘n afgryslike, sepie-agtige manier.  Mens kan dikwels nie glo dat daar sulke mense daar buite is nie.  Iets wat my dikwels opval is hoe gatvol van die mense is oor berigte van moord en doodslag.   Dit gewoonlik op ‘n berig wat oor moord of iets dergliks gaan.  As daar nie daaroor berig word nie, het dit seker nie gebeur nie.  Hoe dit ook al sy, 2016 het nuus amper ‘n heel nuwe fase van verskriklik betree – sonder moord.

As ons net na die afgelope 10 dae kyk.  Daar was die vrou wat lewendig in ‘n vlak graf gekry is.  Gped, dit was amper moord.  Tog sal baie mense eerder verkies om vermoor te word as om lewendig begrawe te word.  Dit is een van die redes hoekom verassing so ‘n gewilde keuse is.  Yvonne Mnisi, Pretty Mabuza en Solomon Nyarenda het seker nooit gedroom dat ‘n gewone werksdag sou veroorsaak dat hulle meer as ‘n week begrawe sou word nie.  Hulle werk tog immers bogronds.  Tog, word daar al meer as ‘n week gespook om hulle uit dit gat waarin hulle skeepshouer gestort het uit te grou.  Benewens die feit dat hulle vergeval het (sonder beskerming), is dit noual meer as ‘n week dat hulle nie water of kos het nie.

Dit is dalk nie so traumaties soos om lewendig begrawe te word nie, maar ek moet die twee meisies noem wat genadeloos ‘vervolg’ is omdat hulle gesigte pers geverf was.  Die meisies het ‘n foto geplaas waar hulle gesigte swart gelyk het.  Hulle het hulle gesigte en arms pers geverf vir hulle koshuis se sterreruimpartytjie.  Al het dit vroeg-vroeg geblyk dat die berg ‘n molshoop was, was hulle ‘n weeklank in al die koerante en uit hulle koshuis geskors.  Hulle was ondermeer gedwing om ‘n gedikteerde verskoning op Facebook te plaas, moes hulleself verdedig teen leiersfigure wat meer belanggestel het aan hulle eie reputasie as om te luister en moes blykbaar self gaan wegkruip het van ‘n protesoptog.  Ek verstaan hulle gesinne oorweeg nou regsaksie.

Ek gaan volstaan met Highveld Steel.  Die maatskappy het doodeenvoudig Woensdag hulle mense sonder betaling huis toe gestuur.  Die voornemende kopers het geweier om aan die koop voorwaardes te voldoen en daar is doodeenvoudig nie geld om die werkers te betaal nie.  Highveld Steel was een van die groot werkgewers in Witbank en die sluiting van die maatskappy sal ‘n rippeleffek op die groter gemeenskap hê.  Daar word al reeds planne gemaak om kospakkies vir die mense te gaan uitdeel.  Mense, wat nou werkloos is, sonder dat hulle iets gedoen het om dit te verdien.

Wat met Highveld Steel gebeur het, kan so maklik met ander maatskappye ook gebeur.  Dit het trouens al Ellerines en 1time getref.  Die dae wat ‘n mens sekuriteit in ‘n werk gehad het, is verby.  Die regering maak dit ook so moeilik as moontlik vir ‘n maatskappy om ‘n bestaan te maak.  Ons praat dan nog nie eers van vakbonde nie.  Aan die een kant kort Suid-Afrika meer industrieë om werkloosheid aan te spreek.  Aan die anderkant, word beleggings afgeskrik met onredelike eise en hindernisse.  Nogtans wil die regering ekonomiese groei hê, terwyl hulle net meer en meer hindernisse in die pad plaas.

Helaas sal die sluiting van Highveld Steel nie ‘n omdraaipunt wees nie.

Watter onlangse nuus het julle naar, woedend of hartseer gemaak?  Wat was sover nog vir jou die skokkendste?

Breinvasbrand:  By watter myn in Baberton is drie mense na ‘n ineenstorting in ‘n skeepshouer begrawe?

Breinlosbrand:  Bilbo Baggins





Stokperdjies en koeitjies

10 02 2016

Scrapy se huiswerk die week gaan oor jou eerste stokperdjie.

Orals word mense deesdae gemaan om geld te spaar en om geld baie versigtig te bestee.  Noudie dag lees ek in ‘n artikel dat ‘n mens jou stokperdjies moet gebruik om geld in te samel.  Asseblief!  Wie gaan my betaal om my stokperdjie te beoefen?  Ek het nog nooit van iemand gehoor wat van lees geld maak nie.

In elk geval, ek is nie heeltemal so seker dat lees ‘n stokperdjie kan wees nie.  Ek is ook nie heeltemal so seker dat ek regtig ‘n stokperdjie het nie.  Ek het al oor die jare hier en daar iets probeer.  Tuinmaak het nie vreeslik lank gehou nie, want die uwe hou nie vuil hande nie.  Dit is min of meer dieselfde lot wat lapverf getref het.  Behalwe nou dat ek nie een kreatiewe been in my liggaam het nie.  Wat my dan nou al ooit laat dink het ek gaan van verf hou.  Ek het nog nooit van inkleur of teken gehou nie.  Ek het vir ‘n rukkie seëls versamel, maar daar was nie juis seëls om oor huistoe te skryf nie.  Ek het nou nog ‘n skulp versameling en ek geniet dit wel om skulpies op ‘n strand op te tel.  Nogtans sal ek dit nie ‘n stokperdjie noem nie.  Dit is verseker ook nie my eerste stokperdjie nie.

As dit nou regtig iets moet wees, is my stokperdjie seker analises.  Dit het natuurlik begin die oomblik wat ek die woordjie hoekom bemeester het.  Ek het ‘n geneigdheid om iets oop te kloof tot daar nou regtig niks meer is wat gekloof kan word nie.  Dit is dan seker ook waar my internetverslawing vandaan kom.  As daar iets my pad kruis wat my interesseer, gaan ek dit opswot asof ek ‘n tesis daaroor sal moet skryf.

Dit is natuurlik iets wat ek vandag nog doen.  Ek kyk gewoonlik met my selfoon TV.  Alles wat my interesseer word daar en dan gegoogle.  Raai hoekom wil niemand saam met my TV kyk nie.  As ek byvoorbeeld baie van die program hou, sal ek alles omtrent die produksie, die karakters, die akteurs, die karakters en akteurs se belangstellings, vorige projekte, nuwe projekte en natuurlik al die ‘weird & wonderful’ verwysings weet.

Natuurlik word al die inligting wat ek kry deeglik oordink vir patrone, ooreenkomste en verskille.  Hoekom?  Eintlik maar net om myself mee te vermaak.  Seker ook maar in ‘n mate besig hou.

Breinvasbrand:  In Lord of the Rings, watter Hobbit het die ring oorspronklik opgetel?

Breinlosbrand:  Martin Luther King is doodgeskiet.  HesterLeyNel was dus reg.

 





Wat is die reëls van rassisme?

9 02 2016

“Enige aap kan dit sien!”

Dit is ‘n welbekende uitdrukking.  Ek vermoed ek kan dit selfs ‘n idioom noem.  Ek het redelik onlangs die sin effens geirriteerd geuiter oor iets wat iemand droog gemaak het.  Dadelik het die persoon met wie ek gepraat het gaan loer wie moontlik in die gang is.  Na dese is aap nie meer ‘n word wat gebruik kan word nie.

2016 het met ‘n ontploffing begin.  Skielik is rassisme met mening op die voorgrond en dit is wys dat almal weer onthou hoekom ‘n mens twee ore en net een mond het.  Wel, dit is seker waar die probleem ontstaan.  Jy mag dalk net een mond hê, maar jy het 10 vingers.  Dit is daardie einste 10 vingers wat op sosiale media jou graf gaan grawe.  Nie jou mond nie.

Ons het almal al as kleuters geleer om nie mense name te noem nie.  Dit is seker ‘n goeie beginsel om as ‘n volwassene te onthou, veral waar jy iemand met jou rekenaar / selfoon te skel.  Om verder te gaan en ‘n hele bevolkingsgroep (skuldig en onskuldig) met ‘n dier te vergelyk is bloot net dom.  Dit is nie asof dit eers in 2016 ‘n kwessie geword het nie.  Tog is daar ‘n paar goed wat my laat sidder.

Eerste ding is die dat enige kritiek sommer as rassisme gesien word.  As jy kritiek uitspreek teenoor mense se gedrag en die groep mense is almal van dieselfde bevolkingsgroep, is dit outomaties rassisme.  In plaas dat die probleem geidentifiseer word sodat dit opgelos word, word dit nou onder ‘n rassisme gordyn weggesteek.  As niemand hulle monde daaroor kan oopmaak (of hulle vingers kan opwarm) nie, bestaan dit seker nie.

Tweedens was daar vanjaar al defnitiewe aanslae op vryheid van uitdrukking gemaak.  Vryheid van uitdrukking is die hoeksteen van enige demokrasie en dit behoort tot die uiterstes beskerm te word.  Snaaks hoe alle bevolkingsgroepe bereid is om dit “op te gee” sodat hulle hoef te luister na wat hulle nie wil hoor nie.  Toegegee, vryheid van uitdrukking beteken nie dat jy nie verantwoordelik gehou kan word vir jou uitsprake nie.  Dit mag ook nie gebruik word om geweld ens. aan te hits nie.  Nogtans moet jy vry te kan wees om kritiek te kan uitspreek of om idees te kan deel.

Derdens dink ek alle redelike mense is siek oor hoe die ‘reëls’ aangepas word afhangende wie die beskuldiges is.  Terug na Januarie, het ‘n paar mense hulle inkomste verloor omdat hulle uitsprake gemaak het wat ‘n bevolkingsgroep aanstoot gegee het.  Ek kan die ongelukkigheid oor van die uitsprake insien, maar ek dink in die ekonoom se geval is die dam onder die eend uitgepluk.   Tog was daar weinig in die openbaar gesê oor die blatante haatspraak wat in reaksie op die voorvalle gesê is.  Net die week is daar op ‘n Universiteits gebou “F### White People” aangebring.  Geen stappe gaan geneem word nie, want dit is vryheid van uitdrukking.  Goed en wel.  Ek sal egter werkloos wees as ek iets soortgelyks op my huis se dak gaan verf – al behoort die huis aan my.  Die FW de Klerk stigting het klagtes gelê teen 46 haatspraak gevalle.  Raai wie is die nuwe Hitler in die land?

Dit is om die minste te sê kommerwekkend.  Niemand kan rassisme goed praat nie.  Tog moet daar onderskei word teenoor regverdige kritiek (net van toepassing op die mense wat op daardie punt ‘skuldig’ is) en werklike rassisme.  Vryheid van uitdrukking behoort op dieselfde manier op almal toegepas te word en dit moet ten alle koste beskerm te word.

Intussen hoop ek dat daar onafhanklike kandidate in Pretoria gaan staan vir die verkiesing.  Ek is nie op die oomblik lus om DA te stem nie.  Tot tyd en wyl hulle almal oor dieselfde kam gaan skeer.

Breinvasbrand:  Hoe is Martin Luther King dood?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Creed.

 

 





Eerste keer toe ek dit sien

2 02 2016

P1360609

Vanaf die oomblik dat ek ‘n verskoning gekry het om Philadelphia toe te gaan, het ek een doelwit gehad.  Natuurlik het die doelwit niks te doen gehad met die verskoning om daar te kom nie.  Ek wou die Philadelphia kunsmuseum gaan besoek het.  Soos julle weet is ek mos nie juis ‘n kunsliefhebber nie.  Baie van my vriende is en deur die loop van tyd het ek wel ‘n ding of twee op getel.  Nogtans was die binnekant van die kunsmuseum nie in my beplanning nie.

Ek wou die Rocky trappe met my eie oë gaan beloer het.  Die Rocky standbeeld ook.  Beide was nou nie so indrukwekkend soos dit in die flieks gelyk het nie.  Onfiks soos ek is, kon ek ook die trappe opdraf.  Die standbeeld is ook maar effentjies.  As ‘n 100 mense jou nie wys waar die standbeeld is nie, kan jy dit maklik miskyk.  Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek is bly dat ek dit self kon sien.  As ek more terug gaan Philadelphia toe, gaan kyk ek weer.  Dit is net kleiner as wat ‘n mens jou voorstel.  Die Statue of Liberty ook, maar dit is ‘n storie vir ‘n ander dag.

So land ons toe by die Rocky trappe op.  10 minute later het ons al die foto’s geneem wat die lig toelaat (dit was al donker), maar toe is dit moeite om terug te gaan.  Siende dat ons toe juis by die Kunsmuseum is, besluit ons toe om te gaan rondneus.  Ons het mos nie iets om te verloor nie.  Buitendien is die museum tot laat oop.

Merries en hingse, was dit museum ‘n verrassing.  Toegang is nogal stewig as ‘n mens dit omskakel rand toe.  Die kassiere vra ons egter om self ons prys te bepaal.  Ek hak toe nogal af met $2 en net so is ons almal vir $2 in by die museum (lw:  nie $2 elk nie).  Ons word vriendelik uitgenooi om foto’s te neem en versoek om ons sakke in die “cloak room” te laat.

Persoonlik kon ek nog nooit verstaan het hoe mense ure lank kan toustaan om na ‘n paar muwwe skilderye te gaan kyk nie.  Ek was al in Suid-Afrika in ‘n kunsmuseum, maar dit het nou nie my sokkies op en af gerol nie.  Ek kon vir die eerste keer die aantrekkingkrag insien toe ek langs ‘n skildery van die vroeë 1600’s staan.  Daar was boonop skilderye wat uit die 1400’s kom.

Jan van Riebeeck het in 1652 in die Kaap geland, ‘n datum wat ek geleer het die dag is wat Suid-Afrika ontstaan het.  Hier staan ek toe in ‘n kamer vol skilderye, wat ouer is as Suid-Afrika.  Die skilderye lyk nie eers oud nie.  Dit spreek seker vanself, Scrapy, maar vir die eerste keer het kunsmuseums op my prioriteitslys gestyg.

Daar was natuurlik die insident met die Van Gogh en sekuriteitsbeamptes wat vining nader gedraf het, maar ek sal dit los vir ‘n ander dag.

Breinvasbrand:  Vir watter fliek het Sylvester Stallone sy eerste Golden Globe gewen?

Breinlosbrand:  Gustav Eiffel het beide die Statue of Libery en die Eiffel toring ontwerp.  Olga was dus reg.