Beskuldige: Geloof

15 11 2015

Frankryk het Vrydag die 13de gesien waarom ‘n mens liefs nie jou bed moet verlaat nie.  Daar was 6 aanvalle in en rondom die stad gewees.  Huidiglik staan die dodesyfer op 129 en 352 mense is ernstig beseer.  99 van die beseerdes is krities.  Onskuldige mense wat net ‘n konsert wou bywoon, sokker wou gaan kyk het of dalk maar net iets wou gaan eet het.  ‘n Groep mense wil niks meer as kollaterale skade is nie.  Hulle is net daar om iemand se mal ideologië te bevorder.

Ek het op Twitter bewus geraak dat iets in Frankryk gebeur het.  Aanvanklik het ek gedink dit is die herdenking van die Charlie Hebdo aanvalle, maar my nuuskierigheid het my gou genoop om verdere ondersoek in te stel.  Hoe dieper ek gekrap het, hoe meer het ek gekry om oor te herkou.  Nie soseer oor die aanvalle nie, maar eerder oor mense se reaksies daarop.

Netwerk 24 het geld gesoek, dus was ek op Maroela aangewesig.  Daar was die aanvalle afgemaak teen plaasaanvalle en dus as onbelangrik afgemaak.  Op Facebook het mense die aanvalle in Baghad, Pakistan ens. gebruik om mense te laat skuldig voel dat hulle enigsins geskok is oor wat in Parys gebeur het.  Diegene wat wel oor Frankryk omgegee het, het vir gebede gevra.  Dan was daar die faksie wat gesê het geloof het genoeg gedoen het.

Daar is al gesê dat geloof die voorloper oorsaak van oorloë is.  Dink ‘n bietjie daaroor.  Die Islamitiese Staat (IS) het ‘n Jihad verklaar en dit het onder andere na die Parys aanvalle gelei.  Niemand kan van Frankryk verwag om handjies gevou te sit nie, hulle het reeds oorlog verklaar teen die skuldiges.  Ek herinner julle dat Jihad ‘n heilige oorlog is.

Dit is niks nuuts nie.  Dit is ook nie geïsoleerd tot Moslems nie.  Na die dood van Jesus, is Christenne wat gevang was, dood gemaak.  Toe Christenskap die oorhand gekry het, het die Jode dit ontgeld omdat hulle Jesus gekruisig het.  Daar is vandag nog mense wat Jode vir dieselfde rede nie kan verdra nie.  Daar was die kruistogte wat veronderstel was om Christenskap te versprei.  Veronderstel, maar dit was eintlik ‘n verskoning om te vermoor en verkrag sover as waar daar gegaan is.  Daar is ‘n jarelange oorlog in Noord-Ierland tussen Protestante en Katolieke.  In 2015 het ‘n mal vent in Amerika mense gevra of hulle Christenne is en op ‘n bevestigende antwoord, hulle doodgeskiet.  Julle kry my punt.  Daar is ‘n rede hoekom geloof deur party mense met agterdog gejeën word.  Die Ou Testament is vol stories waar verskillende gelowe mekaar uitgeroei het.

Is dit geloof of is dit die mense wat die geloof beoefen wat blameer kan word?  Ghandi het gesê:  “I like your Christ, I do not like your Christians.  Your Christians are so unlike your Christ.”  So dikwels wil christenne God self wees, sonder dat hulle enige mandaat daarvoor het.  “Laat U wil geskiet.” beteken nie dat God se wil volgens ons wil moet geskiet nie.

Ek vind dit eintlik ironies hoe aggressief ateïste oor geloof is, juis omdat hulle die aggressie van gelowiges minag.  Iemand het eendag gesê dat die mens raak wat hulle haat.

Ek self is ‘n Christen, nou nie ‘n handboek voorbeeld van ‘n goeie Christen nie, maar ‘n Christen nietemin.  Ek glo in geloofsvryheid.  Geloof wat nie uit keuse beoefen word nie, beteken niks nie.  Geloofsvryheid gee my die reg om my geloof vrylik te beoefen, maar dit gee my nie die reg om my geloof op iemand anders af te dwing nie.

Dit is my mening, wat is jou mening?

Terug na Frankryk:  wat staan ons as nie-(ekstremistiese)Moslems te doen oor die naderende Jihad.  In 2001 was dit New York, 2004 Madrid, 2005 London en 2015 Parys.  Wat as dit in 2017 Johannesburg is?  Of as jy uiteindelik in Sydney uitkom om ‘n slagoffer van ‘n Jihad te word?

Wat staan die Westerse wêreld te doen?  Is daar ‘n ander uitkoms as om die Islamitiese Staat wortel en tak uit te roei?  Moet ons almal Moslems word of ten minste maak of ons is?  Is daar ‘n manier om die Jihad te keer, sonder om self ‘n oorlog te begin?

Ek weet nie.  Al wat ek weet is dat dit nie ‘n slegte plan is om vir vrede te bid nie.  Vrede in Frankryk, Amerika, die Midde-Ooste, Asië, Suid-Afrika – sommer vir die hele wêreld.  Laat ons instrumente van liefde en vrede word.

Breinvasbrand:  Wat het die Eiffel Toring en die Statue of Liberty in gemeen?

Breinlosbrand:  Olga, Daniël en Kameel was reg met “die sous nie werd nie.”