Herinneringe

30 09 2015

Scrapy se huiswerk die week is herinneringe.

Die mens sal seker nooit weet wat regtig in ‘n dier se kop aangaan nie.  Wat dink hulle, wat vind hulle snaaks, wat onthou hulle?  Diere het tog seker ook herinneringe.  Hoe herleef hulle dit en hoe sal hulle dit met ander deel.  Dit is goed bekend dat diere droom, maar gee slegte herinneringe hulle ook nagmerries?

Toevallig dat Memory juis uit Cats uitkom.  Soos julle weet het die heks mos eendag met ‘n kat oor die skouer by die huis aangekom.  Voordat ek my oë kon uitvee, is die kat ingeburger, het sy my uit die bed geskop en staan sy aan die stuur van sake.  Die kat is ook op ‘n planeet van haar eie.  Daar was eendag ‘n groot geveg omdat sy wou gaan buite speel het terwyl dit hael.  Sy speel mos buite as dit reën en selfs as dit donderweer is.  Sy het nie so lekker besef dat hael seer maak nie en die hael was te groot dat sy persoonlike ondervinding kon gaan opdoen.

Al hou sy daarvan om in die reën te speel, geniet sy glad nie nat gras nie.  Sy hou ook nie van water nie.  Ek verstaan self nie die logika daar agter nie.  Toegegee, ek is nie welkom op die kat en heks se planeet nie.

Die kat was nog jonk toe iemand eendag die tuin natspuit.  Siende dat sy aan die stuur van sake staan, moes sy persoonlik self toesig gaan hou het oor die takie.  In die proses word sy toe per ongeluk raak gespuit.  Ons praat hier van 3 druppels maksimum.  Daar was nie eers ‘n nat kolletjie op haar nie.  Vererg die kat haar in ‘n ander haarstyl in.  Water is mos nie reën nie.

IMG_20150928_193940

Julle sal my nie glo nie, maar die kat onthou die dag asof dit ‘n groot trauma was.  Sy maak doodseker dat die ongeluk nie herhaal kan word nie.  As iemand net na die tuinslang kyk, hol sy om in die huis te kom.  Sy sal maar eerder later kom kyk of sy tevrede met die werk is.

Wat was vir julle diere ‘n goeie of slegte herinnering?

Breinvasbrand:  Wie het Cats gekomponeer?

Breinlosbrand:  Olga was reg dat Charles Darwin die vader van evolusie was.  Teilhard de Chardin was ‘n paleontoloog wat ook heelwat werk oor evolusie gedoen het.

Advertisements




Die Evolusiebom

29 09 2015

Daar is min dinge wat mense so warm onder die kraag maak as evolusie en / of die skepping.  Die evolusioniste is net so passievol as die kreationiste (ek het geen idee waar die vieslike woord vandaan kom).  Dit sal my beslis nie verbaas as dit eendag tot ‘n oorlog lei nie.  Elke kant is so hard besig om sy kant te verdedig sonder om die ander kant ‘n regverdige spreukbeurt te gee.

Dit is eintlik lagwekkend.  Dit word immers ‘n evolusieteorie genoem omdat dit nog nie ten volle bewys kon word nie.  Ek kan seker moedswillig wees en uitwys dat daar van ‘n skeppingsverhaal gepraat word.  Die punt wat ek egter wil maak is dat die Bybel nooit noem wat gebeur het toe God die aarde geskep het nie.  “In die begin het God die hemel en die aarde geskep.”  Die Bybel gee nie die besonderhede van hoe die aarde geskep is nie.  Daar is dus niks in die Bybel wat ‘n groot knal kon uitsluit nie.

Netso is daar niks wat moontlike evolusie uitsluit nie.  Dinge raak natuurlik nog meer interessant dat daar twee weergawes van die skeppingsverhaal in Genesis is.  Die uiteinde van die saak is dat daar niks in die Bybel is wat evolusie uitsluit nie.  Terselfde tyd is daar niks in evolusie wat ‘n God in geheel uitsluit nie.  Ja, albei kante van die munt gaan stry tot hulle blou in die gesig is of met geweld hulle punt gemaak het.

Evolusie, in ‘n neutedop, is die vermoë van ‘n organisme om oor tyd by hulle omgewing aan te pas.  Dit was die eerste keer opgemerk aan dieselfde tipe voël wat op verskillende plekke opgemerk is.  Daar is toe geargumenteer dat die voëls van die verskillende plekke verskillende fisiese eienskappe het om hulle te help om in die unieke habitat te oorleef.  So daar genoeg tyd verloop (gemeet in generasies, eeue of selfs millennia) sal die voëls uiteindelik twee verskillende spesies kan vorm.  Die aanname is toe na ander spesies uitgebrei en iemand het durf vra of die mens ook so tot stand gekom het.  Tot op hede kon daar natuurlik nog niks bewys word nie.

Op skool was ek geleer dat evolusie die duiwel se werk is.  Om enigsins oor evolusie te dink, kom daarop neer dat jy glo dat die mens uit die aap ontstaan het.  Siende dat die mens na God se beeld geskep is, argumenteer evolusioniste dus dat God ‘n aap is.  Natuurlik met die ontdekking van Homo Naledi was daar gou oproepe van onder meer Vavi dat hy nie ‘n aap is nie.

Persoonlik is ek nie oortuig dat alles van een gemeenskaplike selletjie ontwikkel het nie.  In elk geval nie sonder ‘n besonderse goeie Wetenskaplike wat Almagtig is nie.  Terselfde tyd kan ek nie evolusie in geheel ontken nie.  Neem die mens byvoorbeeld.  Hoeveel mense word deesdae sonder verstandtande of selfs oogtande gebore?  Hoeveel mense se verstandtande moet uitgesny word.  Is dit alles die oorblysels van iets wat onnodig geraak het?

Ek is dus nuuskierig om Homo Naledi van nader te gaan beskou.  Terselfde tyd vermoed ek dat hulle nooit die bewys sal kry dat dit die mens se voorganger was nie.  In elk geval nie in my tyd nie.

As ek verkeerd is, wat maak dit saak?  Die Bybel het immers nooit ‘n stap vir stap verklaring gegee van presies hoe die mens gemaak is nie.

Hoe voel julle hieroor?

Breinvasbrand:  Wie is die vader van evolusie?

Breinlosbrand:  Olga was reg met London.





Vinnige kontant

28 09 2015

Ek het die naweek so ‘n bietjie in die boendoes gaan wegkruip.  Sondagoggend het ek vergeet dat ek in die Boendoes is en ek stop toe op die Gauteng manier by ‘n Stopteken.  Ek moet dit seker beskryf vir die van julle wat nie bekend met Gautengse ryreëls is nie.  In Gauteng maak ons gewoonlik net of ons Stop.  As dit veilig is, ry ons.  Ons het nie tyd om ‘n hele drama rondom die stop op te voer nie.  Tensy daar natuurlik ‘n verkeersbeampte in die omgewing is.  Dit is natuurlik ‘n ander storie.

Dit was egter nie net van die Boendoes waarvan ek vergeet het nie.  Ek het van die verkeersbeamptes ook vergeet.  ‘n Fout wat ek vining besef het toe ek klaar gedraai het.  Die poephol het vir my gewaai en ek moes hom toe maar geselskap hou.  Laat ek eers die poephol beskryf.  Hy het al in die vorige bedeling gewerk en is beslis nie as ‘n kwota aangestel nie.  Diegene wat ons graag wil glo eerbaar, opreg en hardwerkend is.

Ek word eers heel kopskuddend ingelig dat hy my naweek gaan bederf.  Ek is bly hy besef dit, al was dit tegnies gesproke ek wat nie ‘n hele opvoering van ‘n stop gemaak het nie.  Hy vra my of ek weet wat ek verkeerd gedoen het en ek erken my oortreding sonder ‘n sweem sarkasme.  Hy vra my bestuurderslisensie en gaan haal sy boeteboekie.  Ek word gewys dat die boete R750 is.  Ek het nie veel kommentaar daarop nie, dit is nie asof die verkeersowerheid my gevra het wat ‘n geskikte boete is nie.  Ek kan hulle dalk raad gee oor strafbare oortredings.

Die poephol mik-mik om te skryf en wil weet of ek van die omgewing is.  Nee, ek is nie en ek is oppad kerk toe.  Hy mik-mik weer om te begin skryf.  “R750 is baie geld.” merk hy op.  Jip, ek kan nogal baie met daardie geld doen.  Hy sug en mik om weer te skryf.  Ek wil al aanbied om namens hom die boete te skryf, toe kry ek my lisensie terug sonder ‘n dagvaardiging.

Sien?  As ‘n verkeersbeampte my lisensie vra, kry hy/sy net my lisensie.  Daar is nie ‘n bloupapiertjie wat daarmee saam kom nie.  Ek weet mens smeek vir afslag by ‘n landdros, nie by die poephol wat jou skryf nie.  Ek vat eerder ‘n boete / dagvaardiging as om ‘n ooreenkoms onder die tafel aan te gaan.  Selfs al word ek met toesluit gedreig, soos wat al in die verlede gebeur het.

Sies tog!  Die poephol moes maar iemand anders kry wat hom admin sou spaar vir ‘n fooitjie.

Ek haat korrupsie en weier om aan enige korrupte bedrywigheid deel te neem.

Kla jy oor korrupsie al moedig jy korrupsie onderlangs aan?  Of wen jou beurs altyd wanneer jy tussen ‘n boete en etensgeld moet kies.

Breinvasbrand:  Waar was die eerste tipe verkeerslig in 9 Desember 1868 in gebruik geneem?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Amba.





Alle paaie gaan na Rome

24 09 2015

Scrapy praat oor paaie die week.  ‘n Onderwerp wat my laat rooi sien, veral as ek in Moerse Potholes soos ‘n dronk mens moet ry om my bande te beskerm.  Dan, in plaas om die paaie reg te maak, wil hulle mos nou die spoedgrens verlaag om padsterftes te voorkom.  Kom ek kots eerder ‘n volgende dag daaroor.  As ek daaraan dink, wil ek sommer gaan 200 km/h ry uit protes.

Kom ek vertel julle eerder ‘n ander storie.  Ek vermoed eintlik ek het dit reeds gedoen, vergewe my maar as ek julle verveel.

Ek moet een dag my ma en haar suster in Johannesburg ontmoet.  Hulle is al ‘n paar dae lank in die Goudstad en is al so effens uitgekuier.  My tannie bly boonop nie in Suid-Afrika nie en is eintlik lus om so ‘n bietjie rond te neus.  Dit vat dus nie lank nie, toe skiet ons deur Pretoors toe.  In my kar, hulle kar was by die hotel.  So is ons skaars op die N1 (vroeg middag) en ek maak die grappie dat ons moet Bloemfontein toe gaan.  My ma se ander suster bly daar.

Ek was die enigste een wat gedink het die grappie is snaaks.  Ek is sonder meer as mal gediagnoseer en Bloemfontein was heeltemal te ver.  Ons gaan gooi al die toeriste draaie in Pretoors en gaan kamp by Mugg & Bean uit.  Natuurlik kuier ons toe heeltemal te lank.  Dit was al na middernag toe ons terug Johannesburg toe in die pad val.

Teen die tyd is alles natuurlik al snaaks.  Ek maak toe die fout om dieselfde flou grappie van die middag te herhaal.  “Kom ons gaan Bloem toe!”  My metgeselle het nog steeds nie die grap ingesien nie.  Nee!  Dit is toe vir hulle sommer ‘n plan.  Ten spyte daarvan dat my Tannie die volgende middag ‘n afspraak het.

Wie is ek om te stry?  As hulle in die vroeë oggendure Bloemfontein toe wil gaan, dan neem ek hulle Bloemfontein toe.  Dit is in die middel van die pad en dit is die ideale verskoning om ‘n bietjie voet in die hoek te sit.  Dit was knap voor 4 toe ons op die derde suster se deur drempel opdaag.  Of wat ons gedink het haar deur moet wees.  Sekere mense het mos nie haar telefoon geantwoord nie.

Ons het nogal die vermoede gehad dat vreemde mense nie geamuseerd sou wees as ons ongenooid by hulle wou kuier nie.  Ons pluk toe maar my neef telefonies uit sy bed om die regte nommer te kry.  Terwyl hy uit die bed is, kan hy sommer my karsleutels wat ek in my kar toegesluit het kom haal.

In elk geval, so kuier ons toe al te lekker in Bloemfontein.  Na ‘n vroeë ontbyt moes ons weer in die bad val om teen 14:00 weer in Johannesburg gewees.  Almal het saam gestem dat dit ‘n mal idee was, maar niemand het dit al ooit ‘n slegte plan genoem nie.





Die alewige skottelgoed

16 09 2015

Scrapy se toeka tokkel die week is skottelgoed.  Beslis nie my gunsteling onderwerp van bespreking nie.

Soos ek reeds al verduidelik het:  Xena Phoenix is nie die skoonste of netjiesste mens ooit nie.  Inteendeel, ek kan maklik aan ‘n Olimpiade vir luiheid deelneem en baie goed daarin vaar.  Helaas, vind ek die kat se manier van skottelgoed was nie baie aanvaarbaar nie.  Sy is ook nogal puntenerig oor watter skottelgoed sy sal was.  Ons het toe maar tot ‘n vergelyk gekom dat ek dit maar eerder sal was voordat sy in die versoeking kom om die taak oor te neem.  😉

Grappies op ‘n stokkie.  Ek haat dit as daar vuil skottelgoed die wêreld volstaan.  Ek het eendag ‘n braai by my huis gehad.  Teen die einde van die aand, was elke glas wat ek besit vuil.  Glo my, ek het verskeie kere deur die loop van die aand skottelgoed gewas, maar een van my gaste het himself elke keer aan ‘n skoon glas gehelp.  Ongelukkig het hy nie sy vuil glas kom omruil vir ‘n skone nie.

Ek glo in ‘n een beker, een bord, een bakkie ens. aanslag per persoon.  My skottelgoed is in die minimum, hoewel ek gewoonlik die reël oortree.  Dit is nogal ‘n probleem as jy jou glas gebruik vir jou vitamienpil, maar ook gou water wil drink.  Ek was dus gewoonlik een keer ‘n dag skottelgoed.  As ek in die nag iets oorkom en vreemde mense my huis moet inkom, gaan hulle lekker kan skinder.  Ek was gewoonlik in die oggend net voordat ek ry skottelgoed.

Dit is natuurlik ‘n taak wat ek uit noodsaaklikheid verrig.  Niemand kan daarvan hou om skottelgoed te was nie.  As jy eet en drink, gaan jy skottelgoed maak.  Party mense trou met ‘n skottelgoedwasser, ander los dit vir die feetjies en dan is daar die ape wat altyd met die skottelgoed opeindig.   Die enigste manier om skottelgoed te vermy, is om nie te eet nie.  Dit is ook nie so onmoontlik soos wat jy dink nie.

Prahlad Jani het blykbaar sedert 1940 nie nat of droog oor sy lippe gehad nie.  Hy het nie eers ‘n toilet nodig nie.  Hy produseer wel uriene, maar skei dit nie uit nie.  Hy was al vir 15 dae sonder kos en water toegesluit en het oorleef sonder dat hy ooit die toilet hoef te gebruik het.  Hy reken sy Hindu godin sorg vir hom deur ‘n gat in sy verhemelte.  Ander mense reken dat sy liggaam aangepas het aan langdurige gebrek aan kos en water.  Hy is egter baie gesond.

Hoe dit ook al sê:  hy maak nie skottelgoed nie en hy het ook geen rede om ooit ‘n toilet te was nie.  Hy maak my amper jaloers.  As kos nou nie so lekker was nie.

Breinvasbrand:  Aan watter godin het Jani sy lewe gewy?

Breinlosbrand:  Olga was reg met “Ek wil jou nooit weer sien”.





Is dit hoe trots jy op jou taal is?

14 09 2015

imagesCAYER6AD

Ek moet seker begin om te erken dat ek nie groot op tale is nie.  Dit was my swakste vakke op skool.  Daar was ook geen sprake dat ek ooit tale my beroep sou maak of verder daarin sou studeer nie.  Dit is ‘n vreeslike omslagtige manier om te beken dat ek beslis nie taalkundig perfek is nie.  Ek is seker die laaste een wat kan vingers wys.

As jy logika in reëls soek, gaan doen eerder Wiskunde of Wetenskap.  Daar is nie altyd logika in taalreëls nie.  Daar is nie eers noodwendig ‘n eenvormige reël nie.  Nogtans, is daar reëls wat toegepas moet word.  Een van die sodanige reëls is die dubbele ontkenning in Afrikaans.  As dit te hoogdawerend is, daar moet altyd twee NIE’s in ‘n sin wees.  Geen teen ook as nie.

Ek kan nog verstaan dat ‘n koerant adverensie nie altyd plek het vir die tweede NIE nie.  Tog sien ek deesdae dat bykans alle Afrikaanse nuusbronne die twee NIE vergeet.  Van Netwerk 24 waar daar verwag word dat jy vir swak Afrikaans moet betaal tot Maroela Media wat so vreeslik trots Afrikaans is.  Dit laat my altyd na die tweede NIE gaan soek en frustreer my grensloos omdat daar nie ‘n tweede NIE is nie.  Is joernaliste nog Afrikaans magtig?

Nie dat my taalvaardighede my ooit ‘n geskikte joernalis sal maak nie.  Dalk moet ek by die gepeupel bly.  Die trotse Afrikaners wat so hard vir Afrikaner regte baklei op elke platform wat hulle kry.

As jy ‘n trotse Afrikaner wil wees, moet jy ten minste soos ‘n trotse Afrikaner klink.  Geen redelike volwassene sal ‘n argument van ‘n kleuter ernstig opneem nie.  As jy dan soos ‘n kleuter skryf, hoe kan jy verwag dat iemand jou ernstig gaan opneem.  Ek het simpatie met ‘n moedswillige sleutelbord en spell check, maar daar is ‘n duidelike onderskeid tussen tikfout en spelfout.  Een spelfout is nog gangbaar, maar die herhaaldelike verkeerde spelling van ‘n eenvoudige word?  Jy leer mos al op laerskool wanneer dit ‘n i of ‘n u, ‘n v of ‘n f is.

As jy nou opsluit moet vloek, dan is dit die F.  Ek verstaan!  Daardie les was nie op die skoolbanke gedek nie.

My niere word nog steeds met anglisismes vergruis, maar ek het al daaroor gekerm.

Is jy ‘n Taal-Nazi?  Wat dryf jou teen die mure uit?  Is daar vandag nog plek vir taalreëls en spelreëls? Wat van leestekens? Hoekom is dit warm, maar darem?  Watter reëls maak vir jou geen sin nie?

Breinvasbrand:  ‘n Baie gewilde liedjie van André Schwartz het ook die tweede nie weggegooi.  Watter liedjie is dit?

Breinlosbrand:  Olga was amper reg.  “God vergewe ons baie, maar God vergewe ons nie die kwaad wat ons ´n kind aandoen nie.”





Waar is die antwoorde?

10 09 2015

Ek het nog altyd beplan om vir Scrapy ‘n paar woorde oor soek te skribbel.  Nie dat ek noodwendig geweet het wat ek wil griffel nie.

Die afgelope paar weke was nie juis goed vir die kinders van Suid-Afrika nie.  Net om ‘n paar voorvalle te noem. . .  Daar was die 3 dowe meisies wat in ‘n brand in hulle koshuis dood is.  ‘n Verdere 50 meisies is beseer soos hulle uit die boonste verdieping gespring het om van die vlamme te vlug.

Daar was die 4 jarige meisie wie se ouma haar vroeg oggend alleen gelos het om iemand te gaan besoek.  Haar ma was ‘n halfuur later by die huis.  Te laat vir die meisie, wat eers verkrag was en toe aan ‘n boom gehang was om dood te gaan.

Dan was daar die man wat besluit het om sy 4 seuns (die jongste was maar 4 jaar oud) keel af te sny.  Asof dit nie erg genoeg was nie, het hy boonop dat die jongste sy ma bel sodat sy kan hoor wat gebeur.  Die man het homself ook prober keel af sny, maar dit lyk asof hy in die trunk sal kan gaan verrot.

Ek sal volstaan by die 8 jarige meisie wat na ‘n brand in haar ouer huis aan haar wonde beswyk het.  Haar 1 jarige boetie het ook lelik seer gekry in die brand.  Die brand was in ‘n regte huis, 10 uur die aand.  Nie waar ‘n mens gewoonlik ‘n brand sal verwag nie.

Tragedies!

Natuurlik waar daar tragedies is, is daar vrae.  Nie noodwendig altyd regverdige vrae nie, maar nogtans iets wat mense kan help om te verstaan.  Of dan ten minste iemand vir die voorval verantwoordelik te hou.  Amper asof die tragedie versag word hoe meer mense vir die voorval aan die pen gery kan word nie.  Daar is ook natuurlik die vrae wat gebruik kan word om soortgelyke tragedies in die toekoms te voorkom.  Vrae waarvoor daar antwoorde is.

Daar is ook egter met tragedies die vrae wat nie antwoord het nie.  Dit maak nie saak waar jy die antwoorde gaan soek nie, die antwoord gaan ons as mense bly ontwyk.  Hoekom my kind?  Wat besiel iemand om ‘n kleuter te verkrag?  Hoe kan ‘n man sy eie kinders doodmaak?  Hoe bang moes die kinders nie gewees het nie?  Gaan daar genade vir die onskuldige kinders wees?  Gaan die genade genoeg wees?

Iewers in my lewe het ek ‘n kursus in filosofie gehad.  ‘n Filosoof is iemand wat die vrae vra en dan die antwoorde gaan soek.  Helaas is dit nie altyd so maklik nie.

Breinvasvrand:  Volgens Dalene Matthee:  “God vergewe ons baie, maar . . . “?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Bertha.