Mof en Mat

24 08 2015

Dit is nogal interessant dat almal wat graag (wil) reis, graag Switserland wil besoek.  As Heidi se tuiste, omring met skouspellende berge en vredige mere, wie wil stry?  Jy kan jou horlosie stel volgens die treine en Switserland is boonop bekend vir sjokolade en kaas.  Helaas is die Rand effens lig in die broek teenoor die Switserse Frank, maar dit is hoekom daar nie pryse op drome is nie.

Ek was bevoorreg genoeg om in Switserland te gaan draai.  Raai wat is die een ding wat my opgeval het vanaf die oomblik wat ek deur die terminaal is.  Honde!  Honde op die lughawe, honde op die stasies, honde in die treine, honde op die busse, honde in die parke en honde in die winkels.  Orals waar jy ookal gegaan het, was die mens se beste vriend welkom.  As die arme brak nou regtig nie welkom was nie, was daar ‘n plek waar die hond veilig kon wag.

In Suid-Afrika sal baie van ons onsself uitgee as diereliefhebbers.  Ons eis bloed as ‘n dier in ‘n parkeerde kar gelos word en ons eis marteling as ‘n dier mishandel word.  Natuurlik moet daar daarteen opgetree word, maar waar is diere in Suid-Afrika regtig welkom?

Gestel nou jy moet jou hond gou veearts toe neem.  Oppad terug van die veearts, moet jy stop vir melk.  Geen winkel laat diere toe nie.  Wat staan jou te doen?  Ignoreer die winkel se reëls of los die hond vir ‘n paar minute in die kar?  Dit is nie net winkels nie.  Jou hond mag nie saam met jou op die Gautrein klim nie.  Jou hond mag nie saam met jou na ‘n restaurant toe gaan nie.  Daar is selfs parke en strande wat honde nie toelaat nie.  Reis jou hond saam met jou, het baie van die russtasies langs die pad geen geriewe vir jou hond nie.  Dan praat ons nie eers van katte nie.

Is Suid-Afrika, waar die meeste mense ‘n troeteldier of meer het, troeteldiervriendelik?  Wie se skuld is dit?  Is ons te higiënies-behep vir ons eie goed?  Is ons diere goed genoeg opgelei om nie ‘n ergenis vir almal te wees nie.  Ek het geen probleem as ‘n hond by ‘n restaurant tafel eet nie, mits hy ‘n mes en ‘n vurk kan gebruik.  Indien nie, is sy plek onder die tafel waar hy nie bedel nie.  Niemand gaan tevrede wees as die hond sy been teen alles lug nie.  Versorg ons die diere na behore?  Niemand wil kos vol hondhare koop nie en niemand gaan iets wil koop wat na stink hond ruik nie.

Is daar ‘n middeweg?

Hoe voel julle?

Breinvasbrand:  Wie het Lassie geskep?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Worsie.


Aksies

Information

16 responses

24 08 2015
Toortsie

Dit was vir my ook opmerklik dat die diere so orals, is, selfs op ‘n beesskou is daar baie mense met honde.
Hier by ons is OPVOEDING ‘n groot probleem. Sodra mense gaan weet hoe om hulleself, hulle kinders en diere te beheer, glo ek, sal die plekke oopgaan vir diere.
Terloops, my broer het ‘n PUG gehad wat orals saam met hom gegaan het, ook restaurante toe. Ek dink hy het maar by die troeteldiervriendelike plekke gaan eet, of anders het die restauranteiernaars hom geken? Donna was dood tevrede om op die vloer te sit en sy kossies te eet. Ek wonder net as daar 10 honde is, of ek nog gemaklik sal wees om daar te eet?

25 08 2015
Xena Phoenix

Ek onthou toe ek groot geword het, was daar ‘n swart man wat altyd ‘n kruiwa met ‘n trop honde gestoot het. Ek kan egter nie onthou dat daar ooit probleme met sy honde was nie. Hulle het gewoonlik buite vir hom gewag.

Baie van die sogenaamde diereliefhebbers wil net ‘n babadier hê. Hulle vergeet die babas word groot en moet “opgelei” word om te kan inskakel. So end hulle met ‘n swetterjoel diere op, wat hulle nie kan hanteer of beheer nie.

26 08 2015
Olga

Of wat soos Lapman, sommer aan mense afgesmeer word. Die vrou wou hom sommer aan die eerste die beste swarte gegee het. Ek kon egter sien dat my BB se hart seer gekry het by die blote gedagte daaraan.

24 08 2015
HesterLeyNel

Ek dink die verskil is dat honde in Europa meesal binneshuis grootword en dus gewoond is om hulleself te gedra in kleiner ruimtes en tussen mense. Hier by ons is hulle gewoond aan groot ruimtes waar hulle hardloop en speel (en lekker vuil word in die proses). Die meeste mense assosieer ook hulle honde met sekuriteit – laat die hond agter om die huis op te pas. Dit veroorsaak natuurlik ook dat die honde meer territoriaal word; hulle is meer geneig om te baklei om “hulle” eiendom te beskerm.

25 08 2015
Xena Phoenix

Dit is ook seker ‘n geldige punt. Die honde daar is ook metgeselle en nie noodwendig waghonde nie.

Ek sidder vir die mense wat bang vir hulle eie waghonde is. ‘n Hond wat buite beheer is, is ‘n gevaar.

25 08 2015
HesterLeyNel

Ja ek loop maar lig vir hulle. As ons Genis stout raak, tel ons hom so in sy harnas op en dra hom saam soos ‘n handsak.

24 08 2015
Olga

Ek dink sy was gebore. Maar Eric Knight het ‘n storie geskryf.

Elk geval, Sussietjie is ook baie territoriaal. Sy beskou die hele Olga as haar terrein. Nes my meid, Bessie, neem ek haar ook oral saam. Of dan amper oral. Daar kan twintig honde in die restaurant wees, solank hulle hulle gedra en nie die kos uit my mond kyk nie, is ek tevrede met hulle. Ek het eendag by een van die koffiekroeë in ons dorp koffie gedrink. Daar het ‘n dame met ‘n Yorkie gesit en ontbyt eet. Die verdomde hond het saam met haar uit die bord gesit en vreet. Kyk, dis waar ek die streep trek. Hond het ‘n bak in ‘n skinkbord. Die plekmatjie bly altyd nat, anders sou ek elke dag ‘n skoon een ingesit het, maar hond vreet nie uit my bord nie. Lê nie op my bank nie! Lê nie op my bed nie. Sussietjie het twee komberse in my slaapkamer. Sy weier om op een van die twee te lê. Sy het ‘n matras en ‘n duvet hier by Sally. sy stoot die matras onder die bunkbeddens in en dan slaap Lapman al te heerlik daarop.

25 08 2015
Xena Phoenix

Ek het al ‘n hond gehad wat saam gegaan het kerk toe. En sy het haar heel stigtelik in die kerk gedra.

24 08 2015
Olga

Jou foto hierbo sal my noolste Nolie groen van jaloesie maak. Maar weet jy wat nog? Die ou Suid Afrika was nie naastensby so anti hond soos die nuwe Suid Afrika nie. Mens kan sien mense in beheer was nie bang vir honde nie. Daar is natuurlik ‘n sekere groep mense wie soos diere tekere gaan as jy dit durf waag om ‘n hond in hulle ou winkels te bring. Hulle winkels is dan vuiler as my hond.

25 08 2015
Xena Phoenix

Te kiembewus is ook nie ‘n goeie ding nie. Mens moet higienies wees, maar ‘n bietjie kieme is ook goed.

26 08 2015
Olga

Honde is nie juis voorstanders van bbbee nie. Dis die rede hoekom hulle nie honde in hulle winkels wil hê nie.

24 08 2015
ekmyselff

Nee ek wil nie saam n hond in n restaurant eet nie, dankie!
Ek weet ook nie of diereliefhebbers in SA die “bollie” van honde sal optel nie…..
Maar ek dink tog daar moet meer geriewe wees soos by vulstasies wanneer mens met jou diere kinders bv see toe wil gaan en jy moet stop vir piepie, kos en water… weereens moet die bollie opgetel word en daar dromme daarvoor wees.
Sommige mense het net honde en dit is hulle kinders, dit maak dit moeilik.

25 08 2015
Xena Phoenix

Was jy nog nooit by ‘n braai waar die honde tussen die stoele, tafels geslaap het nie? Dit is maar dieselfde. 😉

Mens kry die vulstasies met die geriewe vir honde. Maar dit is in die minderheid. Baie mense reis met hulle diere.

24 08 2015
ekmyselff

Ek hou van Mof en Mat, ek het jare terug twee goudvisse gehad en hulle was Spons en Dons

25 08 2015
Xena Phoenix

Onthou jy Mof en Mat se kendeuntjie?

26 08 2015
scrapydo2.wordpress.com

Honde is maar soos kinders. Hul kort ook n sterk hand om hul in toom te hou. Partydae wens ek net ek kan die ou buffel wat met sy groot hond in die straat loop en nie die bolle optel nie, dit in sy eie broek gooi dat hy kan ruik en voel hoe dit is as jy die sypaadjie as toilet gebruik. Hy het twee hande om skoon te maak die hond nie!. Dis ook meestal die groot honde wie se hope nie opgetel word nie. My hond gaan kuier saam as daar vriende is met honde. Hul hou hulself besig en ons kuier lekker. Eet doen woef tuis nie in n winkel of eetplek nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




%d bloggers like this: