Do your worst

19 08 2015

Daar was vanjaar meer as een geval waar ‘n skoolmeisie selfmoord gepleeg het as gevolg van boelies.  Normale, gesonde, suksesvolle en aantreklike kinders wat nie juis boelies iets op ‘n skinkbord aangebied het nie.  Nogtans kon die boelies hulle minderwaardig en ongeskik vir die lewe laat voel.  Tot so ‘n mate dat die dood na die enigste uitweg gelyk het.

Natuurlik is daar nou oproepe, eise en pleitdooie dat boelies in die bek geruk moet word.  Hoog tyd, maar nogtans te laat vir diegene wat reeds hulle eie lewe geneem het.  Dalk, net miskien, help dit dat ander kinders nie so desperaat raak nie.  Miskien vorm ons ‘n generasie wat in die toekoms net in liefde en vrede gaan saam woon.

Iets moet gedoen word.  Vraag is wat?

Boelies floreer op die vrees wat hulle inboesem.  Dit laat hulle magtig en onbestrokke voel.  Sterk.  Selfs dalk genadeloos.  Natuurlik is dit nie gesond of reg om te boelie nie.  Dit behoort stopgesit te word.  Gaan oppassers en ‘huursoldate’ die gewensde effek het?  Of gaan dit eerder ‘n boelie verder bemagtig en meer gevaarlike (maar subtiele) maniere om te boelie laat ontwikkel?

Ek het dit al van te vore gesê en ek sê dit weer:  die enigste manier om ‘n boelie te stuit, is as die slagoffer hom/haar stuit.  In ‘n fisiese boelie verhouding is dit maklik.  Slaan die grootste, gemeenste boelie ‘n bloedneus en maak van hom ‘n tjankbalie.  Dit is nou nie heeltemal moontlik met die sosiale media of afkrakende boelies nie.  Mens kan hulle seker in gelyke munt terug betaal, maar gaan dit die slagoffer enigsins as mens bevorder?

Dalk is dit ‘n tyd vir ou clichés.  Stick and stones may break my bones, but words would never hurt me.  Nou nie heeltemal die waarheid nie, maar dalk moet kinders leer wie se menings tel en dat die oorgrote meerderheid se menings of verklarings wind is.  Iets waaraan jy jou afvee.  Beslis nie die tyd en moeite werd om daaroor te wroeg nie.

Deur die nonsens met die minagting te behandel wat dit verdien (dink water op ‘n eend se rug), word die boelie ontwapen.  Sonder die slagoffer se vrees / reaksie, is daar geen ‘wins’ uit boelie uit nie.

Klink eenvoudig, maar helaas.  Wat reken julle wat moet met die boelie situasie op skole gedoen word?  Wat van die boelies in die werksplek, verskaffers of selfs die wat hulle self vriende noem?  Hoe moet die slagoffers bemagtig word om hulle self teen die boelies te beskerm?

Breinvasbrand:  Aan watter parlementslid het vermoedelik Riah Phiyega  die volgende sms gestuur?  “I am black, proud, capable and get it clear you can take nothing from me eat your heart out.  I am not made by you and can not be undone by you”

Breinlosbrand:  Olga was reg met Bruce Willis.


Aksies

Information

13 responses

19 08 2015
scrapydo2.wordpress.com

Boelies is oral, diere wêreld het ook boelies. Hul word egter goed reggesien deur die leiers van groep. Dis net mense wat nie n boelie mag reghelp nie. Dis maar minderwaardigheid wat boelies voortbring. Dis n hartseer en ernstige onderwerp wat nie sommer opgelos kan word met vandag se media gebruik nie

21 08 2015
Xena Phoenix

Partykere dink ek die mensdom het te beskaaf geword.

21 08 2015
scrapydo2.wordpress.com

Dis moontlik maar ek dink mense kan te maklik ander afkraak soner om te blik of te bloos. Dis baie wreed omdat daardie persoon presies weet wat hy/sy doen.

19 08 2015
Nikita

Boelies is mense wat sleg voel oor hulself en daarom moet hulle iets doen of sê sodat ander oor hulself moet sleg voel. Dus, die boelie moet [ook] gehelp word, hy of sy HET ‘n probleem. ‘n GROOT probleem. Deel van daardie probleem is om homself/haarself te aanvaar soos hy/sy is. Daar is baie meer wat ek kan sê, maar dis die belangrikste. Gaan grawe in daardie boelie se lewe dieper in, jy sal ‘n wurmnes oopskrop van probleme waarmee daardie persoon sit.

21 08 2015
Xena Phoenix

Dit is ook waar. Dikwels was die boelie die een wat geboelie was. Dit is so jammer dat soveel mense hulle eiewaarde aan iets / iemand anders meet.

19 08 2015
rondomtaliedraai

Gemene mense is regtig vir my ook ‘n probleem en dit voel soms of hulle net van krag tot krag gaan Hulle het baie vriende Hulle kry baie geleenthede en hulle het gewoonlik genoeg/baie geld. Niemand kan sê die lewe is maklik nie!

21 08 2015
Xena Phoenix

Dit laat my weer aan Lord of the Flies dink. Die mens bly eintlik ‘n barbaar, dit vat nie veel om hom / haar na ‘n barbaar te laat terug keer nie. Jy kan die mens uit die wildernis haal, maar nie die wildernis uit die mens nie.

21 08 2015
rondomtaliedraai

Dis ongelukkig waar

19 08 2015
Olga

Was dit nie aan Dianne Kohler Barnard van die DA gestuur nie?

Ewentwel, boelies wie met woorde boelie kan geignoreer word. Maar die boelie wie slaan? Weet jy, ek onthou lank terug en ver weg in die tuisdorp, het ‘n apteker se seun ‘n skrikbewind by die hoërskool gevoer. ‘n Vriendin se seun het gereeld deurgeloop. Dan kom hy met ‘n bloedbesmeerde hemp by die huis, dan is die hemp geskeur. Eendag het hy weer ingeklim, bloed besmeer, lip stukkend ens. Sy ma het sy vriend gevra wat gebeur het, want die seun het altyd gelieg, maar daar is ‘n verskil tussen val en teen die muur vasloop en boelie skade. Toe het die vriend vertel. Sy het direk na die apteek gery, die pa vertel wat sy seun gedoen het. Hy het op sy beurt die seun geroep en gevra: “Het jy hom geslaan?” Die seun het erken jy het. Waarop die pa voor al die kliënte gesê het: “Nou hoekom het jy so ‘n kak job gedoen? As jy dit reggedoen het, het sy ma nie kom kla nie. Maak klaar wat jy begin het.” Net daar, in die apteek, voor al die kliënte het die klein drek die kak uit my vriendin se seun geslaan. Wel, die aand toe sy pa tuis gekom het, het vriendin hom vertel wat gebeur het. By die apteek gekom, was pa en seun by hulle huis. Die slagoffer en sy pa het na die huis gegaan. Nadat my vriendin se pa gevra het “Hoekom het jou seun my seun geslaan? Dit gaan mos lank aan.” Die pa het weer vir sy seun gesê: “Jy het ‘n kak job gedoen.” Die boelie het dadelik sy vingers geknak en glimlaggend op Boetie afgestap. Toe het hy die verrassing van sy lewe gekry. Want toe donner Boetie se pa die apteker dat hy op sy dronk bene nie bly staan het nie. Weet julle wat? Dit was die laaste. Hy het nooit weer ‘n kind geboelie nie.

20 08 2015
Nikita

hi Olga, dis juis nou die probleem. Hierdie kind se pa is die sak wurms in daardie gesin. Dis jammer dat ouers hulle kinders so opvoed, want daardie einste boelie gaan sy kinders so opvoed. Gaan kyk ook na die oupa en hy was tien teen een ook so tipe mens gewees. Ek voel jammer vir daardie mense – hulle weet nie van beter nie en is so gemaak en so gelaat staan. ‘Arm’ mense. Arm in die sin van ‘nie van beter weet’ en nie ordentlik opgevoed nie.Het geen gevoelens vir ander mense nie en sal soos ‘n stootskraper oor enige iemand rol. Ek is bly hy het sy eie medisyne teruggekry, dit het hom natuurlik laat dink – hopenlik!

21 08 2015
Xena Phoenix

Soos reeds genoem, gee die boelie ‘n bloedneus. Daardie apteker het getender en gekry. Wonder hoeveel kliente wat gesien het, het hom daarna weer gebruik?

19 08 2015
Olga

Dan ook weer, was daar die gesin van die tuisdorp. Hulle het getrek, later het ons ook getrek. Toe loop ons mekaar weer eendag raak in Ermelo van alle plekke. Ewentwel, my kinders was toe al jong volwassenes, hulle kleuters was toe al oppad hoërskool toe. Ons het toe gereeld kontak gehad. Sal die vrou my vertel dat as sy nie van ‘n man of vrou hou nie, dan betaal sy haar jongste seun om die mense se kinders by die skool te slaan. Nodeloos om te sê, ons het nie meer kontak nie. Ek het haar ook vertel dat Spoeg en Plak (sy noem mense graag spoeg en plak) is soos Spoeg en Plak doen.

21 08 2015
Xena Phoenix

So die geboeliede moet dus die boelie se ma of pa gaan aanrand?

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




%d bloggers like this: