Ek kry net my slippertjies, dan kom ek ook

12 08 2015

Scrapy praat die week oor pantoffels.

Op die oog af klink pantoffels half opgesmuk.  Dink ‘n bietjie daaroor.  Dit is veronderstel om skoene te wees wat jy dra wanneer jy nagklere aan het; dus oppad is om te gaan slaap.  Wanneer laas het jy met skoene aangeslaap?  Is daar dan enigsins nut aan pantoffels?  Ek meen, as jou voete koud kry of jy wil dit skoon hou, keer niks jou om die eerste, beste paar skoene (selfs onpaar as jy will) te gryp nie.  Dit sal ook die doel bereik.  ‘n Paar sokkies kan dit ook tegnies gesproke doen.

Tog, ons sou net ‘n tweedag week gewerk het as ons net gekoop het wat werklik nodig is.  Pantoffels skree gemak op die knusste, warmste manier.  Buitendien is pantoffels heel prettige skoene.  Dit moet wees as hulle die binnekant van die Herriemerrie stal wil sien.

Dit is genoeg om by swart, bruin en dalk room te bly vir wanneer jy in die openbaar gesien word.  Hier en daar kan jy uitspattige kleur aan jou voete verdra.  Die meeste van ons is hopeloos te inkennig om soos reënboë rond te loop.  As jy nie ‘n fat is nie, gaan dit waarskynlik belaglik lyk.

Daar is nie sulke drama waar dit by pantoffels kom nie.  Ek gooi sommer bedsokkies daarby in.  Hoe bonter, hoe beter.  Pantoffels is soos ‘n goeie vriend en watter goeie vriend het nie ‘n naam nie?  Ja, ek weet dat dit simpel is om skoene te doop, maar wie kan dit weerstaan as die pantoffels ‘n gesiggie het?  Op die oomblik hou my Maya’s my voete saans warm.  Wie kan raai hoe Maya lyk?

Mense kan nogal heel puntenerig raak was dit by hulle pantoffels kom.  Ek is nie groot in die somer op pantoffels nie.  Kaalvoet is soveel beter.  Buitendien skop ek gewoonlik my skoene by die deur uit.  Dit staan dan mooi reg as ek Laviga en Lispiek moet gaan smeek om in te kom.  Kaalvoet is lekker en kaalvoet is gesond, maar ek verkies nie om in die donker met my kaalvoete op ‘n padda te trap nie.

In die winter, moet my pantoffels my warm hou.  Dit is natuurlik gaaf as dit groot genoeg is om my bootie (bedsokkie) en / of pantoffelsokkie te kan akkomodeer.  My hakke moet toewees, wie soek net ‘n halwe warm voet.  Dit is ook besonders gaaf as die sole vir meer as een winter kan hou.

Hoe kies jy jou pantoffels?


Aksies

Information

18 responses

12 08 2015
rondomtaliedraai

Winter pantoffels is darem ‘n heerlikheid.

19 08 2015
Xena Phoenix

Behalwe in die somer. 😉

12 08 2015
scrapydo2.wordpress.com

Ooooo dis te lekker om snoesige warm voete te hê. Vandag kry mens darem die oulikste vorms. Geen wonder mens wil sommer met hul in die bed klim nie. Dankie vir jou slipper kuiertjie!🙂

19 08 2015
Xena Phoenix

As ek dit nou net in die openbaar kan dra.
😉 My suster skroom nie om pantoffels kerk toe te dra nie. Sy het ‘n spesifieke paar daarvoor.

19 08 2015
scrapydo2.wordpress.com

Jou suster se pantoffels is seker deftige pantoffels! Daar is n verskil tussen slof-slof pantoffels en netjiese pare!🙂

13 08 2015
13 08 2015
Toortsie

Om lekker warm en gemaklik saans in die winter te loop. In die huis natuurlik. Dis nie vir my skoene waarmee ek vinnig kan loop nie, of altans, nie die skaapvelpantoffels wat ek nou dra nie. Ek weet nie of ek weer skaapvel sal koop nie, hulle raak so pap en uitgerek. Op Bredasdorp word gansdonspantoffels verkoop. Ek dink dit sal my volgende pantoffelkopie wees.

13 08 2015
Olga

Gansdons vertel vir my lekker warm. Maaar…. eh, natuurlik sal ek dit nie kan dra met my allergie vir vere nie. Weet jy Toorts, ek wou nog altyd ‘n paar skaapvel pantoffies gehad het. Maar nou dat ek weet hulle raak pap en rek uit, sal ek dit maar ‘n bree mis gee, as ek ooit my grote teëkom. Daar is niks meer irriterend as wanneer mens goeie geld betaal en dis heerlik styf en knus en na die eerste was het dit voor jou uitgegroei nie.

13 08 2015
Toortsie

Ek het dalk te groot gekoop? Mens slofslof regtig daarmee.
Die dons is mos darem net vulsel en ver van neus af. Ek wonder of dit jou allergie sal affekteer?

13 08 2015
Olga

Maar natuurlik, oral waar die vere my liggaam raak, slaan ek uit. Dit was ‘n stryd om die hoenderhokke skoon te maak. Jy moes my soms gesien het, dan was voete, sommer tekkies en al in ‘n inkopiesak toegebind.

13 08 2015
Kameel

Toorts nou wat ek ouer word lees ek al meer verkeerd. Lees wat jy geskryf het as; “Ek weet nie of ek weer kaalvoet sal loop nie, hulle raak so pap en uitgerek.” WAT!!! wonder ek verstom. Met die tweede leesslag lees dit toe heel anderste. Wonder of ek bekommerd moet raak😯

19 08 2015
Xena Phoenix

Oe! Met goeie slippers gly jy mos sommer die huis vol.

13 08 2015
Olga

Oe, die ou diere goed lyk altyd so heerlik. Maar ai tog, ek sien al hoe ek in hulle lewe. Dan gaan die sool net gou verdwyn en ek goed de maai in raak vir die winkel waar ek hulle gekoop het. Ek het sulke tartan mansagtige platannatjies. Ai, teen die tyd dat ek tee gemaak het, is ek oor die algemeen te bly om te gaan stort en iets met steun aan te trek.

19 08 2015
Xena Phoenix

Hoekom hulle nie meer iets kan maak wat hou nie, gaan my verstand te bowe.

13 08 2015
ekmyselff

Dit moet net warm wees en my voete toe en warm hou, ek doen ook sommer maklik die “sokkies ding”
In die somer verkies ek ook kaalvoet.

19 08 2015
Xena Phoenix

Die nadeel is die bruin sole wat die arme sokkies ontwikkel.

13 08 2015
Kameel

As ek baie koud kry sal ek sommer vroeg al my pantoffels saam met kouse aantrek. Ek het sulke toe skaapvellerige pantoffels. Dink nie dit is die ware Jakob nie…. maar hulle hou al jare.

19 08 2015
Xena Phoenix

Ek loop maklik die hele dag daarin. Gaan beslis nie regte skoene aantrek as ek nie hoef nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




%d bloggers like this: