Oorbelletjies vir Babas

15 06 2015

Hoe meer dae, hoe meer dinge.

Ek was verstom om uit te vind dat daar mense is wat voel dat oorgatjies vir babas verban moet word.  Dit is glo baie wreed en vreeslik traumaties vir ‘n baba.  Slaan my dood met ‘n veer.

Ek het my eerste gaatjies gekry lank voordat ek ‘n jaar oud was.  Ja, hulle is nog steeds daar waar hulle ingeskiet is.  Ek kan om eerlik te wees niks daarvan onthou nie.  Die ervaring het my nie sku gemaak om nog ‘n stel gaatjies te kry toe ek 17 was nie.  Ek weet dit is nie seer nie.  Met die nodige versorging is dit ook nie ‘n infeksie bekommernis nie.  Ek wil argumenteer dat ek nie bang is vir naalde en harde geluide nie.  Ek dink egter nie dat die gaatjies inskietery enige iets daarmee te doen het nie.

Die eerste jaar van ‘n baba se lewe is maar traumaties.  Dit begin natuurlik wanneer die baba sy / haar snoesige, warm plekkie moet verruil vir ‘n emosiebelaaide, chaotiese wêreld waar alles harder en helderder is waaraan hy / sy gewoond is.  Daar is 7 biljoen van ons wat tans daardie trauma oorleef het.  Goed en wel, daardie trauma veroorsaak een of ander tyd ons dood.  Dit vat met party mense meer as ‘n 100 jaar om te sterf daarvan.

Die geboorteproses is regtig die mens se eerste kennismaking met trauma.  Ek is regtig nie so seker dat gaatjies skiet as ‘n trauma tel nie.  Goed en wel, niemand sal sê dat ‘n baba daarvan hou om die gaatjies te kry nie.  Hulle hou ook nie van ‘n nat doek nie.  Hulle hou ook nie daarvan om te gaan bad of om uit die bad te klim nie.  Hulle hou nie van aantrek nie en hulle hou nie van uittrek nie.  Wanneer daardie eerste tande verskyn (‘n proses waarvan hulle niks van hou nie), haat hulle dit as daardie tandjie geborsel moet word.

Dit is wel so dat dit alles goed is wat gedoen moet word en dat oorbelletjies iemand anders se gier is.  My punt is egter dat die reaksie wat ‘n baba toon wanneer die oorbelletjies ingeskiet is, minimaal of op die meeste soortgelyk aan van die ander goed is.  Dit is ‘n eenmalige ervaring, nie iets wat verskeie kere op ‘n dag voorkom nie.

Persoonlik glo ek nie dat die gatjies vir ‘n baba traumaties is nie.  Dit is in elk geval net so wreed as ‘n inspuiting, iets waaraan ‘n baba gewoond moet raak die eerste jaar.

Ek sal nog val vir die persoonlike keuse ding.  Daar is mense wat glo dat gaatjies eers ingeskiet moet word as ‘n meisie self daarvoor vra.  Dat dit haar reg is om haar ore gaatjie vry te hou as sy dit sou verkies.  Dit is seker ‘n regverdige stelling.  Ek het nog nie iemand ontmoet wat haar ouers verwyt het vir die gaatjies in haar ore nie.

Hoe voel julle?  Die Japanese het nie gedink dat die klein voetjies wreed is nie en die Kayan-Lawhi het nie gedink hulle lang nekke is wreed nie.  Aan die ander kant, daar is geen gesondheidsprobleme met die oorbelletjies nie en die babas word nie mismaak daardeur nie.  Wat is egter mismaak?  Wat is wreed?  Gaan skoene dra en hare vasmaak ook iewers in die toekoms verbied word?

Breinvasbrand:  Waar sal ‘n mens die Kayan-Lawhi vind?

Breinlosbrand:  1845

 


Aksies

Information

16 responses

15 06 2015
ekmyselff

Nee wat ek glo ook nie dit is nie.
Ek het soos n seun gelyk toe ek klein was, so my oorbelle het gehelp dat almal nie na my verwys as “hy/hom” nie.

17 06 2015
Xena Phoenix

Ek onthou ‘n artikel van Chester Williams jare terug. Hulle het so pas ‘n tweeling ryker geword, ‘n seuntjie en ‘n dogtertjie. Toe raak hy gatvol omdat almal na die dogtertie as ‘n seuntjie verwys. Sy het toe oorbelletjies gekry.

15 06 2015
Daniël Bezuidenhout

En hier naby my het ‘n vrou gewoon. Sy was mooier as ‘n mens! Rêgtig. Op fotos beeldskoon en dan ontmoet jy haar en staar sommer oopbek. En so het sy toe sommer 4 sulke kleintjies op ‘n ry. Dink haar man kon ook nie anders as om haar pragtig te vind nie…? En iedere kindjie is sulke kaalkoppies, selfs nader aan tweejaar was hulle nog blesserig. Dank die Vader vir oorkrabbetjies, want natuurlik het hulle op net EEN resep gewerk en die hele 4-samige kroos was fotokopieë van mekaar. Net een was regs een aweregs afgewissel. Seun-meisie-seun-meisie… dankie tog vir babaoorkrabbertjies.

17 06 2015
Xena Phoenix

LOL!! Dit laat my weer dink aan John Smith (hoekom kom al die rugbyspelers uit by oorbelle?). Nadat hulle die wêreldbeker gewen het, het hulle mos die strate ingevaar. Met vrouens en kinders en al. Die joernalis het gesien watter stewige baba John gehad het. Hy vertel toe die trotse pa “what a fine hooker the baby would be”. Die baba was ‘n dogtertjie, nie ‘n seun wat die joernalis gedink het nie.

15 06 2015
rondomtaliedraai

Nog nooit regtig daar oor gedink nie… is dit in dieselfde klas as besnydenis?

16 06 2015
scrapydo2.wordpress.com

Nou vra jy darem n vraag wat niks met mekaar uit te waai het nie!!!!

16 06 2015
rondomtaliedraai

Hoekom? Dis altwee ‘n fisiese ingrype – net die motiewe verskil?

17 06 2015
scrapydo2.wordpress.com

Besnydenis is bietjie erger en sensitiewer. Veronderstel om onder narkose te doen!

17 06 2015
Xena Phoenix

Dit is die verskil tussen ‘n klein operasietjie (vir ‘n 8 dae oue Joodse seuntjie) en ‘n inspuiting (soos die gatjies gemaak word). Tydens ‘n besnydenis word daar letterlik ‘n stuk vel afgesny. Oorbelletjies vra net gatjies. Dit bloei nie eers nie. ‘n Gatjie kan ook weer toegroei, daardie voorhuid groei nooit weer terug nie.

17 06 2015
Klip

My ma het toe per ongeluk die velletjie groot gemaak en hier sit ek vandag , met n gaaitjie in my oor…………

15 06 2015
Olga

Burma?

Weet jy, dis natuurlik weer ‘n lot vervelige, verveelde mense wie rede soek om asem te haal. As hulle sodanig iets suksesvol verban wil kry, kan hulle gerus bearbei om skelm staatsamptenare, presidente wie woeker uit die staatskoffers om hulle eie persoonlike wonings te laat (ha ha ha ha ha ha ha) beveilig, politisie wie sonder oorlog annekseer en name verander, paaie wat die belastingbetalers lankal gesponcor het en steeds betaal op allerlei manier om in stand te hou om maar ;n paar te noem, te laat verban. Dan kan hulle terugsit en tevrede voel dat hulle die lewe ‘n guns gedoen het. hulle moet meermale poep, dan gaan hulle met minder kak gedagtes sit.

Ek het hierdie vriendin wie al twee en sewentig is. Twee jaar gelede, vir haar sewentigste verjaardag, het haar elfjarige kleindogter vir haar laat oorbelle inskiet vir haar sewentigste verjaardag-geskenk. Sy het verlede jaar toe haar seun in Nieu Seeland vir haar ‘n paar oorbelle gestuur het vir haar verjaardag gesê sy wonder hoekom het haar ma nie al kleintyd gaatjies in haar ore laat maak nie.

17 06 2015
Xena Phoenix

LOL!! Ek kan net die persoon wat die gatjies moes insit se reaksie indink.

17 06 2015
Klip

Mev Klip wil vir my ander oor ook n gaatjie inskiet , maar hierdie keer met die .38 Special

17 06 2015
Xena Phoenix

Ek hoop sy is ‘n goeie skut?

17 06 2015
Olga

Hy kan nog daaroor kla, so Mev Klip weet aan watter kant kom die koeel uit.

16 06 2015
scrapydo2.wordpress.com

Kayan-Lawhi van Burma!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




%d bloggers like this: