Is tuisbly nog ‘n opsie?

8 06 2015

Ek het eendag iewers gelees dat ‘n vrou trou vir sekuriteit.  Dit is dan seker ook die rede hoekom ‘n magtige (powerful) man vir die gemiddelde vrou baie aantreklik is.  Hoe meer mag hy het, hoe meer sekuriteit behoort sy te geniet.  Daar is vandag dan ook nog steeds baie mans en vrouens wat glo dat ‘n vrou se plig is om na hulle kinders om te sien.  Ek weet van vrouens wat in uitvoerende poste is, wat beplan om op te hou werk die dag wanneer die eerste jongeheer of jongejuffer sy / haar opwagting maak.  Daar is glo niks wat moedersorg kan vervang nie.

Goed en wel!  Die feit bly staan dat sprokies in boeke is en in die regte lewe is die ridders op die wit perde dikwels varke in foelie.  Daar word gesê dat ‘n mens moet trou sonder om iewers ‘n agterdeur oop te los.  Die idee is as daar nie uitkomkans is nie, sal jy alles in die stryd werp om getroud te bly.  Helaas, is ‘n huwelik ‘n verbindenis tussen twee mense.  Jy kan net jou eie optrede beheer.

So kom ons dan nou by Lina.  Lina het met Barend getroud en hulle het saam besluit dat sy nie hoef te werk nie.  Lina sal die huis versorg en na hulle 2.4 kinders omsien.  Vir 14 jaar lank was hulle doodgelukkig getroud, maar toe besef Barend dat daar baie jong vrouens is waarmee hy hom kon vermaak.  Lina was nie baie gelukkig daarmee nie.  Sy het egter nie veel van ‘n keuse gehad nie, sy was te afhanklik van Barend om haar eie potjie te krap.  Barend het egter moeg geraak vir die meulsteen om sy nek.  Hy besluit toe om van Lina te skei.

Waar laat dit Lina?

Ongeag hoe sy met Barend getrou het (met of sonder ‘n kontrak), kan sy nie vir die res van haar lewe onderhoud van hom verwag nie.  Ten spyte van die lewenstandaard wat sy geniet het as Mev. Barend, is daar niks wat hom gaan verplig om haar in die standaard te hou nie.  As Lina gelukkig is, sal sy onderhoud vir ‘n paar maande kry.  Dan gaan sy moet sien kom klaar.

Gaan werk klink maklik.  Lina het egter 14 jaar (of selfs meer) om in te haal.  Baie dinge kan in 14 jaar verander.  Selfs al was Lina ervare in haar beroep toe sy getroud was, gaan sy nie maklik as ervare gesien word na 14 jaar nie.  Die toepaslikheid van haar kwalifikasies (as sy gekwalifiseerd sou wees) kon in 14 jaar verander het.

Is dit die rede hoekom vrouens soms met slym trou (of getroud bly)?  Omdat dit die enigste manier is om kop bo water te bly?  Is dit die rede hoekom baie vrouens siende blind raak of horende doof?

Persoonlik glo ek dat die grootste fout wat ‘n vrou (seker ‘n man ook) kan maak is om finansieel afhanklik van iemand anders te word.  Die risiko is bloot net te groot.

Dan weer, ek is ‘n gebore enkeling.  Hoe voel julle daaroor?

Breinvasbrand:  Watter land, behalwe die Vatikaan, laat nie egskeidings toe nie?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Loxton.


Aksies

Information

21 responses

8 06 2015
HesterLeyNel

Ek het nog nooit opgehou werk vandat ek begin het nie en ek is baie bly daaroor, want omstandighede, politiek en siektetoestande het veroorsaak dat ek nou reeds 12 jaar lank die broodwinner is. Ek is besonder bly oor die feit dat ek verder studeer het en noudat ek amptelik “afgetree” het, gebruik ek nog steeds my kennis en kontakte om geld in te bring. Mens weet nooit wat die toekoms inhou nie. Dit lyk nie asof my kinders onherstelbare skade gely het as gevolg van my werkery nie. Daar is die ander kant van die saak ook – ek het my dogter aangemoedig om te werk en te studeer en nou weier sy om te trou, want sy het nie ‘n man nodig nie! Oepsie.

15 06 2015
Xena Phoenix

Ek dink dit is ‘n gesonde uitkyk. Jy moet nie trou omdat jy ‘n man / vrou nodig het nie. Jy moet trou omdat jy WIL trou.

8 06 2015
Olga

Wou reeds vra, hoekom sal ‘n vrou wie harself en haar gesin kan onderhou met ‘n meulsteen deur die lewe gaan? Sies.

Dalk die Filippyne?

15 06 2015
Xena Phoenix

Dit bring ons natuurlik tot ‘n volgende filosofiese stuk. Is trou nog die fondasie vir ‘n gesin. Indien wel, hoekom ‘n gesin bou sonder ‘n fondasie?

8 06 2015
Lewies Mymer

Amen.

8 06 2015
Kameel

Ek het kindgrootmaak bokant beroep gekies…. en ek voel nie dit was die verkeerde besluit nie. Dink nie daar is vandag baie vroue wat by die huis kan bly nie, die lewe het net te duur geword.

9 06 2015
Toortsie

Soos Kameel is ek ook nie spyt ek het kindgrootmaak bo beroep verkies nie. Ek het wel in my kantoor by die huis “gewerk”.🙂

15 06 2015
Xena Phoenix

Kameel, sal jy vandag dit weer kies as jy kon?

15 06 2015
Olga

Weet jy, jy vra dit wel van Sally, maar ek staan of val daarby, ek sal weer eerder my kinders wil grootmaak.

16 06 2015
Kameel

Ja Xena. Ek voel werklik ek het my roeping uitgeleef. Almal het my as beroepsvrou, en nie huisvrou gesien nie. Ek het nie my beroep gelos om ‘n punt te bewys nie…. dit is soos my lewe geloop het; toe ek voor ‘n keuse gestel was het ek geweet hierdie is die regte pad. En so sal ek weer doen.🙂

8 06 2015
rondomtaliedraai

Ek het nie die keuse gehad nie en vandag is ek bly daaroor.

15 06 2015
Xena Phoenix

Dit is beslis veiliger.

9 06 2015
scrapydo2.wordpress.com

Dit is maar n storie. Wil nou nie die manne wat wel goed hul familie onderhou te na kom nie maar…. Die vrou trek tog altyd aan die kortste ent as sy kinders het en moet versorg. Manne is geneig om baie maklik hul verpligtinge te ontduik.

9 06 2015
Toortsie

Baie waar!

15 06 2015
Xena Phoenix

Veral as daar iemand nuuts op die horison verskyn. Ek vind dit veral bekotsingswaardig hoe pa’s ewe skielik hulle plig teenoor hulle kinders wil ontduik as hulle skei.

15 06 2015
Olga

Dan ewe aanbied om die “goed” af te teken. Maar as die “goed” groot is, is hulle skielik hulle geliefde kinders. Drek. (Die pa’s nie die kinders nie.)

9 06 2015
Klip

Pay as you ???? of kontrak??? Soveel keuses…………….

15 06 2015
Xena Phoenix

Of sien kom klaar. 😉

11 06 2015
ekmyselff

varke in foelie… lekker lag ek.
Nee wat daar is GEEN guarantees in die lewe nie, bly ONAFHANKLIK, dit het ek ook nou al op die harde manier geleer.

15 06 2015
Xena Phoenix

😉 ‘n Mens moet seker met jou viand trou. As jy hom/haar op sy ergste ken, dan weet jy mos waarvoor jy jou inlaat.

15 06 2015
Daniël Bezuidenhout

Ierland is n herrie on in te skei. Maar waar ‘n wil is, is ‘n weg. Almal ken iemand verstrik in ‘n nare skym-huwelik. So hartseer

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




%d bloggers like this: