Totsiens, Ena Murray

4 06 2015

Ena Murray is vanoggend rustig in haar slaap in Mosselbaai oorlede.  Anders as wat Netwerk 24 verkondig, was sy op 27 Desember 1936 gebore en was sy dus 78.

Ek het nog altyd ‘n sagte plekkie vir tannie Ena se boeke gehad.   Ek het die meerderheid van haar boeke seker al op laerskool gelees en soos julle nou al weet is dit nie benede my om dit weer (of oor en oor) te lees nie.  Daar is soveel van haar boeke wat my al kliphard laat lag het.  Haar karakters het nogal die geneigdheid om hulle self in die vreemdste situasies in te wurm, waaroor ‘n mens net kan lag.

Ek meen, dink net aan Junior van Saal 7.  Wie steel ‘n foto van iemand, wys dit vir almal rond as jou kêrel, net om die volgende dag in die kêrel vas te loop.  Wat dan daarop aandring om jou verloofde te wees en jy kan nie juis stry nie.  Daar was Katryn wat haar vererg omdat ‘n ploert haar soos ‘n kind behandel en dan wil sy hom op sy neus laat kyk.  Net vir ‘n dag of twee, maar dan raak die ploert sommer haar voog ook.  Elke is weer ‘n pediater wat haarself ‘n trolliejoggie hou om haar oupa te leer ken.  Dan praat ons nie eers van die tweeling wat vir hulle pa ‘n vrou uit ‘n tydskrif bestel nie.  Dit is mos nie hulle skuld as hulle seker vergroeisels nie kan vergiftig nie en hy dan ‘n stiefma wil nader sleep nie.

Hoewel baie van haar stories ligsinnig was, was daar ‘n paar wat aansienlik donkerder was.  Ek sal altyd “Plekkie in die Son” as een van die beste boeke ooit in Afrikaans voorhou.  Dit sit nie in enige een se rok om al daardie trauma in 129 bladsye in te druk en dit geloofwaardig te maak nie.  Ander boeke wat ek kan vermeld onder die vandaal is “Stuur groete vir Pappa” en “Vyf vir Vreugde”.

Ek het al in artikels omtrent haar gelees dat sy ‘n tannie met ‘n vlymskerp sin vir humor was.  Sy was aanvanklik ‘n verpleegster, dit is dus die oorsprong van die vele hospitaal verhale.  (Ek wonder nogal wat sy van Grey’s sou dink.)  Sy het maar soos “people in the olden days” ge-dot-dot-dot by stomende tonele.  In 33 jaar het sy 131 boeke geskryf.  Ek het eendag gelees dat sy in die tyd nie ander boeke gelees het nie, omdat sy bang was sy pleeg dalk per ongeluk plagiaat.  Sy het afgetree toe sy artritis ontwikkel het en het uitgesien daarna om haar tyd met lees te verwyl.  Sy was tweekeer getroud, maar het nie kinders gehad nie.  (Ek skryf op geheue, skree as ek aanjaag).

Sy was verseker een van die mees gewildste Afrikaanse skrywers al sal letterkundige snobs seker hulle neuse vir haar werk optrek.  Ek hoop haar boeke tref die mark met ‘n golf, want ek het verseker ‘n paar wat ek moet gaan by koop.

Wat is jou gunsteling stories van Ena Murray?

Breinvasbrand:  Waar is Ena Murray gebore?

Breinlosbrand:  Ivy League is ‘n sport liga waaraan 8 universiteite in die Ooste van Amerika deelneem.  Die universiteite het ook ontwikkel in instellings wat bekend is vir akademiese uitnemendheid.  Olga was dus reg.


Aksies

Information

15 responses

4 06 2015
Olga

Loxton in die Kaap iewers

Baas van Babilon Die Kluisenaar van Abendruhe Die weduwee van iewers (Dalk ook van Loxton. 😉 ) Gasheer van Drakeneiland Kaalvoet Katryntjie, Eensaam op Wegdraai. Ai, te veel om op te noem.

Mag sy salig rus.

8 06 2015
Xena Phoenix

Jy het nogal ‘n voorliefde vir die intense romans. 😉 Ek het nog altyd gedink Kaalvoet Katryntjie smeek vir ‘n opvolg.

8 06 2015
Olga

Ai, wat nou nie sal gebeur nie. Ek kon nog nooit insien hoe vrouens vir sulke baasspelerige moere kan val nie.

4 06 2015
rondomtaliedraai

Ek het ook op ‘n stadium alles waarop ek my hande van haar kon lê. Dis nou ook weer ‘n era wat verby is.

8 06 2015
Xena Phoenix

Ek gaan beslis ‘n poging aanwend om ten minste al my gunstelinge aan te skaf. 😉 My kinders sal dit seker ook geniet voordat hulle letterkundige snobs word.

8 06 2015
rondomtaliedraai

Dis soos Barbara Cartland Ek het gelees en gelees

4 06 2015
seegogga

i it nie y wat ie Soekie boeke ook geskryf het nie? Ek was mal aaroor op skool. Het ook haar aner boek baie geniet.

5 06 2015
HesterLeyNel

Nee, ek dink dit was Ela Spence.

5 06 2015
seegogga

o ja nou onthou ek dankie Hester.

8 06 2015
Xena Phoenix

Hester is heeltemal reg. Ek is nou nog geskok dat die Noot-vir-Noot deelnemers nie dadelik die antwoord gesnap het op Topsy Smith en Anton Goosen nie. 😉 LOL!! Eintlik moes hulle kon snap op Bettie Naude en Anton Goosen (Topsy Smith het ook onder Bettie Naude geskryf – dit is nou natuurlik die Saartjie boeke).

5 06 2015
Sonlig

Maanlig oor die Amasone – seker dié dat ek so ‘n obsessie het om Suid-Amerika te besoek. Hoop net daar is nog iets van die woud oor om te sien.

8 06 2015
Xena Phoenix

Dit is daardie einste Maanlig oor die Amasone wat my altyd laat snork as daar vertel word watse goeie navorsing Murray altyd vir haar boeke gedoen het. As ons weer koffie drink, sal ek jou die hele storie vertel. In ‘n neutedop, die amptelike Amasones was Grieks. Die ontdekkers wat die Amasone woud gedoop het, het vrouens langs die mans sien veg en toe aan die mitologiese Amasones gedink.

6 06 2015
Daniël Bezuidenhout

Is netso die skriffel snobs sal hulle neuse optrek. Whoww 131 boeke in 33 jaar. Ek salueer haar!

8 06 2015
Xena Phoenix

😉 Ek is seker op die beste van dae ‘n snob, maar ek het nog altyd ‘n waardering gehad vir Ena Murray se 7 stories.

8 06 2015
Kameel

Het op hoërskool haar boeke gelees. Weet net ek het baie daarvan gehou. Sjoe, so baie boeke in 33 jaar…. sy was voorwaar begaafd.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




%d bloggers like this: