Toeka Tokkel op studeer

3 06 2015

Scrapy soek die week stories oor Studente.  Been there, done that and got at least a 1000 T-shirts.  Goed, goed – ek oordryf oor die T-hemp hoeveelhede, maar net ‘n knippie.  Julle hoef nie te vrees nie, ek sal julle nie weer oor met al my studente stories verveel nie.

Daar is twee uiterstes waar dit naskoolse kwalifikasies aangaan.  Die eerstes dring daarop aan om iemand anders se kwalifikasie plat te slaan as onbenullig.  Die tweede groep moet opsluit weer hulle kwalifikasies in almal se kele afdruk.  Altwee is genoeg om ‘n mens na die toilet te jaag.

Ek gee toe dat ek meer na arrogant as nederig neig.  As iemand my vra of ek na skool gaan studeer het, sien ek geen rede om nie te antwoord nie.  ‘Ek het ‘n graad en ek is tans besig om aan my tweede graad te werk.’  Daar is mos niks verkeerds daarmee nie.  Ek het verskeie ander kwalifikasies ook, maar dit is te veel om op te noem.  Ek doen dus nie eers die moeite om daarna te verwys nie.

So dikwels staan iemand dan gereed om my my plek te wys.  “Ek het ook ‘n graad.  ‘n MA graad.” O, wee!!!  Party mense kom ook nooit oor die feit dat hulle swanger geraak het en skielik tot ‘n moeder verhef is nie.  Party vrouens sal selfs op die titel van vader aandring as niemand anders dit opeis nie.  Die blote feit dat jy iemand in die lewe gebring het, maak nie van jou ‘n goeie ma nie.  Dit is waar dat ‘n mens nie ‘n graad nodig het om ‘n goeie ma te wees nie, maar terselfde tyd verander ‘n graad nie die tipe ouer wat jy sal wees nie.

Die grappie is oud en was nog nooit regtig snaaks of skerp nie.

Mens kry ook die mense wat dink dat ‘n stukkie papier (of ‘n handvol papiere) hulle al die kennis en mag gee.  Die ironie is natuurlik hoe verder ‘n mens studeer, hoe kleiner raak die toepassingsgebied.  Dit maak jou ‘n spesialis of ‘n kenner van ‘n baie klein punt in ‘n baie groot skildery.  Jy weet beslis nie alles van die hele vakgebied nie en dit maak jou nie ‘n kenner op alles nie.  Al het jy 7 jaar studeer om ‘n dokter te word, beteken dit nie dat jy ‘n huis kan ontwerp nie.  Dit beteken nie eers dat jy ‘n hospitaal kan ontwerp nie.  Dit beteken eintlik net dat jy ‘n ietsie van snykunde en ‘n ietsie van medisyne weet.

Die ironie is natuurlik dat die mense wat hulle PhD’s en ander gevorderde grade op hulle voorkoppe dra, gewoonlik nie veel meer as dit het nie.  Hulle hoop natuurlik om almal so te intimideer, dat niemand agter kom dat die stukkie papier op wind gebou is.  Die wat regtig die aansien verdien, styg ver bo hulle papiere uit.

Breinvasbrand:  Waarna verwys Ivy League?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Thuli Madonsela.


Aksies

Information

23 responses

3 06 2015
scrapydotwo

Dis tog so waar oor al die kwalifikasies en papier wat sommige ouens so lekker onder jou neus druk. Ondervinding is belangriker as al die papiere saam. Dankie vir jou deelname. Die volgende onderwerp gee my grys hare. Bietjie ingewikkeld vir my! 😀

3 06 2015
Xena Phoenix

Jy wil my nie begin op ondervinding nie. Dit is ook nie die antwoord op alles nie. Dit vervang beslis ook nie in alle gevalle ‘n stukkie papier nie.

Bekwaamheid = Toepaslike Kwalifikasie + Toepaslike Vaardighede + Toepaslike Ervaring

3 06 2015
scrapydotwo

Ja, ja, ja ek weet dis nie net een ding nie. Die hele paket maak die sukses nie net een op sy eie nie.

4 06 2015
Olga

Kyk hier dink ek nou beslis aan my vriendinne. Of meer spesifiek twee spesifieke vriendinne. Hulle het eendag vir Homer gevra om vir hulle ‘n afdak teen betaling op te sit. Hy het dit van die hand gewys en ek het dit vreemd gevind maar daar gelaat. Toe oorreed hulle my om oom Ridder namens hulle te vra. Hy het gesê hy dal hulle gaan sien. Volgende wat ek van hulle verneem, het hy nes Homer gesê hulle moet iemand anders kry, hy sal raad gee waar hy kan. Toe kom die een se neef en kom doen die werkie vir hulle. Hy het die teëls van agter na voor gepak. Toe stry hulle met hom daaroor. Ek het gewaarsku, laat hom begaan en kyk hoe dit gaan. Die arme man het skaars sy gat gedraai, toe is hulle op die dak, die teëls af en hulle pak dit van voor na agter, want die man weet nie wat hy doen nie. Lang storie kort, elke keer as dit reën, kan daar net sowel nie ‘n dak wees nie. Homer en oom Ridder het my aangekyk en saam gesê “Sien, dis hoekom ek dit nie wou doen nie. Hulle weet mos alles beter.” Het toe die “vaardigheid gehad, maar nie die kennes daaragter nie.

3 06 2015
scrapydotwo

Ivy League is net vir bevoorregte studente om aan sekere aktiwiteite te kan deelneem, Dis in USA

3 06 2015
Toortsie

En tog… vir die meeste beteken daai stukkie papier tog iets… 😉

3 06 2015
Xena Phoenix

Ek het my self lomp uitgedruk.

Daardie stukkie papier beteken wel iets. Maar, professionele mense wat daardie papiertjie wapper asof die ‘n Amerikaanse vlag is, kruip dikwels agter dit weg om nie met ‘minders’ die saak uit te pluis nie. Dit is ‘n geval van ek het ‘n PhD / MBChB / ens; ek sê dit is so en hoe durf jy met my stry. Sulke mense kan gewoonlik nie stry nie.

Stel dit teenoor ‘n argument op feite. Waar iemand hulle PhD / MBChB / ens se kennis aanwend om ‘n saak op meriete te besleg. Hulle vrees nie debat nie en al sal hulle verloor, sien hulle dit as ‘n kans om verder te leer.

3 06 2015
Olga

Ivy league, dink ek, is ‘n instelling / unie/ groep / verband (of so iets) tussen agt universiteite in Amerika wat veral sport en dalk ook akademiese prestasie eer.

3 06 2015
Klip

Hier by ons is meer grade en sertifikate gekoop as wat hulle verdien is. Niemand vra vrae nie , want die wat moet vra se kwalifikasie sertifikaat is ook gekoop……………Ok, ek kan dit nie onteenseglik bewys nie , spandeer net so n paar minute in hulle teenwoordigheid……………wel ………wag ek het genoeg gese

3 06 2015
Xena Phoenix

En geen wonder die land is in donker gehul nie. Tussen die gekoopte papiere en die aanstellings op kleur en onverdiende bonusse . . . .

3 06 2015
Klip

Ivy league ……………. die vroulike tak van die vrymessellaars ( of koek versierders)

3 06 2015
Xena Phoenix

😉 Ek sou van die antwoord gehou het, maar toe bring jy koekversierders in.

3 06 2015
vinkieleuvennink

Interessant genoeg dink ek ons in SA koppel amper te veel waarde aan ons universiteitsgrade en is geneig om neer te kyk op werke/diplomas wat minder akademies georienteerd/meer tegnies van aard is. Ek vind hierdie hartseer. Baie van my vriende het nie universiteit toe gegaan nie en word gespot daaroor in ons klein plattelandse dorpie as ons almal bymekaar kom vir ‘n reunie. Tog, sit die meerderheid van hulle met meer geld en meer werksekerheid as baie van my ander vriende met akademiese, universiteitsgrade. Hierdie tegnies georiënteerde vriende bied dienste aan soos fotografie, kookkuns / sjefs , loodgieterswerk , elektriese installasie , motorherstelwerk, lugversorging en verkoeling , houtwerk , messelwerk, teëlwerk, verkope, vervoer, grafiese ontwerp , IT dienste , webwerf ontwerp, en juweliersontwerp om ‘n paar te noem. Ander vriende is entrepreneurs en begin hulle eie besighede en help so die land se ekonomie. Ek glo vas dat nie akademiese of tegniese opvoeding beter is as die ander een nie. Inteendeel, ons maak staat op mekaar. Hierdie land maak staat op albei opvoedings. Wat dink julle van die verskil tussen dié tipe naskoolse kwalifikasies en ons persepsies daarvan?

4 06 2015
Xena Phoenix

Wel, kan jy dink waar die mense wat hulle neuse vir loodgieters optrek sal wees as daar nie loodgieters is nie? Ek verstaan deesdae dat daar ‘n tekort aan ambagsmanne is omdat baie mense hulle neus daarvoor optrek. Die gevolg daarvan is dat hulle deesdae groot salarisse trek.

Toegegee, moet nie dink dat tegniese mense nie ook verwaand kan wees nie.

3 06 2015
Olga

Iemand het eendag gesê: “‘n Rooiseël is ‘n rooiseël. Raai wat? Daardie loodgieter, motormeganikus, elekrisiër, ketelmaker, …. spog ook almal met rooiseëls, net die MbChb, Phd ens nie waar nie?

Alvier my kinders het rooiseëls, geen twee op dieselfde sertifikaat nie.

4 06 2015
Xena Phoenix

Rooiseël. Slim manier om na ‘n naskoolse kwalifikasie te verwys.

3 06 2015
Klip

MB Chb……………. staan mos vir Mercedes Bens en Chev Bakkie?? hy skryf dit ook elke keer as hy sy handtekening maak , so asof ons nie weet wat se karre hy ry nie

3 06 2015
Olga

Hy moet jou darem herinner waarvoor jou betaling uhm, betaal.

3 06 2015
rondomtaliedraai

O mens jy moet nie praat nie. Jy besef ook nie dit by ‘n aftree oord gaan – mense praat en praat en praat van al hulle prestasies en die mense met die grade moet luister en die kop instemmend skud. Bv… praat en praat ‘n tannie oor haar musiek en kuns… dan kry sy nie die note op die sleutelbord nie en daar sit ‘n tannie met ‘n meestersgraad in musiek – stil en beskeie.

4 06 2015
Xena Phoenix

O aarde. Hoekom besef sulke mense nooit dat hulle hulle name weggooi nie? Hulle weet mos hulle jaag aan.

4 06 2015
rondomtaliedraai

Nee dis ‘n aanwensel. Hulle is aards selfsugtig

4 06 2015
4 06 2015
Kameel

Daardie stukkie papier gee aan die mens aansien. Dit laat my altyd dink aan die adelstand, en die gewone pleb. Miskien is dit nou se dae nie meer so erg as in my jonger dae nie. Met ampere aanbidding is daar gepraat van dokter so-en-so, of dominee sus-en-so wat by ‘n geleentheid gaan wees. Ek is verbaas dat daar nie kniebuigings voor hulle gemaak is nie. My rebelse gees het natuurlik in opstand hieroor gekom 🙂

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




%d bloggers like this: