Wat is die datum?

29 05 2015

Party dae moet ‘n mens jouself vergewis dat dit nie 1 April is as jy koerant lees nie.  Hierdie week moes ek myself egter vra of die laaste week van Mei Gekkedag vervang het nie.

Dit het alles begin met ‘n groep wat beweer dat Medupi word deur die voorvaders vervloek.  Blykbaar word die nimmereindigende kragstasie bo-oor ou grafte gebou.  Die voorvaders rus dus nie meer in vrede nie en haal dit op ESKOM uit.  Hulle verdiende loon.

Die artikel noem ook dat verskeie munisipaliteite grafte hergebruik.  Dit opsigself klink na ‘n April grappie.  Die een munisipaliteit verhuur byvoorbeeld grafte vir 10 jaar.  Daarna word dit aan iemand anders verhuur.  Ander hergebruik die ongemerkte grafte en van die munisipaliteite sal selfs ‘n grafsteen verwyder om ‘n graf weer te gebruik.  Dit beteken basies dat vreemdelinge saam in een graf gegooi word.  Ons regering is ernstig met hulle pogings om die land te verenig.  Dink net;  ‘n Smith, Naidoo en Mkhwanazi wat vir altyd saam rus.

Internasionaal was die duiwel behoorlik los.  Amerikaners het aan die krap gegaan en daar is behoorlik in die FIFA hoofkantoor chaos gesaai.  7 beamptes (groot kokkedore) is in hegtenis geneem vir onder meer korrupsie.  Blykbaar het Suid-Afrika met $10 miljoen onder die die tafel in $10 000 tjeks verseker dat die 2010 Wêreldbeker hier gaan gebeur.  Die regering was vining om alles te ontken en ‘n skoon audit voor te hou.  Asof ‘n mens onder die tafel geld presies gaan dokumenteer.

Die kersie op die gekkeweek is natuurlik Nkandla.  Sug!  Almal kon dit natuurlik sien nadat Jacob Zuma so amptelik die opposisie getart het.

Natuurlik het Nkosinathi Nhleko bevind dat Zuma nie ‘n sent hoef terug te betaal vir die opgraderings aan Nkandla nie.  Zuma het eintlik die lottery gewen.  Die opgraderings is blykbaar ook nie klaar nie.  Verdere werk is nodig.  Die verduidelikings is lagwekkend en ‘n duidelike onderskatting van die publiek se intelligensie.  Tog verwag hulle dat ‘n mens dit moet glo.

Op die gekkenoot, laat ons eerder naweek hou en droom om ESKOM te pos.

Breinvasbrand:  Wie is die openbare beskermer?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Japan.  Meer spesifiek Tokyo.