Toeka Tokkel: Die wêreld, my kamera en ek

27 05 2015

P1330505

Scrapy krap die week in ons foto’s.

Mense wat my ken sal vir Scrapy kan vertel dat sy uiters dankbaar behoort te wees dat sy op ‘n eilandjie doer onder sit.  Sy is dus gevrywaar daarvan dat ek haar deur my duisende en duisende foto’s gaan sleep.  Daar sal wel ‘n paar noemenswaardige foto’s wees, maar die meeste was beslis nie die geheue werd wat op hulle vermors is en vermors word nie.

Dit spreek van self dat my kamera die eerste ding is wat ek in pak as ek iewers heen gaan.  ‘n Selfoon is maar net nie dieselfde nie.  Ek het seker ‘n Japanees onder my voorouers gehad, wat ek gaan erger as een wat die eerste keer ‘n leeu sien met my kamera te kere.  Almal weet dat jy 100 foto’s van ‘n voorwerp kan neem, sonder dat die kwaliteit watwonders is.  Dit is daardie een uitsondering wat dit regtig saamvat.

Goed, ek neem darem nie ‘n 100 foto’s van alles wat ek sien nie.  Net ‘n handvol, voordat ek na die volgende foto gaan soek.  Dit is dan min of meer hoe ek ‘n vakansie deur bring.  Spring van die een foto geleentheid na die ander.  Baie mense vind dit uitputtend, maar gelukkig toer ek meestal alleen.

Ek hou nie van my stem of my gesig nie.  Laasgenoemde is dus ‘n rede hoekom ek selde voor die kamera is.  Ek en my suster is nogal bekend vir die mal foto’s wat ons neem.  Ek is altyd die fotograaf en sy die model wat doen wat ander nie aan gedink het nie.

Op die oomblik behels my tegniek mik, druk en hoop vir die beste.  Eendag as ek groot is, sal ek ‘n ordentlike kamera koop.  Ek hoop ek het dan tyd vir ‘n behoorlike kursus.  Intussen laat ek dit my nie terug hou nie.  Tot vele bekendes se frustrasies.

Breinvasbrand:  Waar is die Nikon hoofkantoor?

Breinlosbrand:  Olga was reg met In Case of Emergency.