In vandag se dae . . .

25 05 2015

Noudie dag tel my ma ‘n selfoon in ‘n openbare kleedkamer op.  Daar was vir ‘n oomblik kop gekrap oor wat ‘n mens daarmee moet doen.  Ons kon die foon darem ontsluit en kyk vir ‘n ICE nommer.  Daar was nie een nie, maar daar was darem ‘n “Home” nommer.  My ma het toe die nommer geskakel en gereël dat die eienaar haar selfoon op ‘n openbare plek kon kom haal.  So gesê en so gedaan.  Die eienaar was ‘n student en die “home” was natuurlik waar haar ouers gebly het.

Die volgende dag het haar ma Mev. Phoenix toe weer gekontak.  Sy het my ma se bankbesonderhede gesoek om ‘n ‘klein’ beloning oor te betaal.  My ma het die beloning van die hand gewys.  Dit was immers mos nie haar selfoon om te hou nie.  Die student se ma was stom geslaan.  Sy kon nie glo dat daar in vandag se dae nog eerlike mense is nie.  Volgens haar was die selfoon nogal duur en sy kon nie verstaan hoe my ma dit terug kon besorg sonder om ‘n beloning te verwag nie.  Ek dink die arme vrou herstel nou nog van die skok.

Is eerlike mense regtig vandag eerder die uitsondering as die reël?  Is eerlik ooit die regte woord om te gebruik?  Optelgoed is mos hougoed, maar dit is nie afdwingbaar nie.  Niks dwing jou mos om dit te hou nie.  Jy kan mos nie verwag dat ‘n ander jou goed moet terug gee wat hulle opgetel het as jy nie dieselfde vir ander gaan doen nie.

Ek moet erken, die mensdom het my nogal selde teleurgestel.  Dit is nie van persoonlike ondervinding dat ek nie maklike vertrou nie.  Ek het al my selfoon in ‘n winkel verloor.  Ek het dit dadelik geskakel toe ek dit vermis het en die persoon wat dit opgetel het, het geantwoord.  Sy het by die winkel gewerk.  Een van die kliente het dit opgetel en ingegee.  Twee minute later het ek weer my selfoon gehad.  Ek het al my handsak in ‘n kleedkamer vergeet.  Ek het dit terug gekry, minus R170 wat die skoonmaker vir beloning gehou het.  Ek het nie eers omgegee nie, dit was minder moeite as om nuwe alles te kry.  Ek het al my beursie op ‘n bus verloor en terug gekry sonder dat een sent weg was.  Ek moes wel verduidelik het hoekom ek twee mense se kredietkaarte het.  Ek het selfs al my motorsleutels op ‘n lughawe verloor en dit terug gekry.

Ek weet dus dat sulke dinge vandag nog gebeur.  Al het ek ook al my agterent gesien deur goeters te verlê, het ek meer gereeld as wat ek verwag het my eie persoonlike goed terug gekry.

Glo jy dat daar nog eerlike of selfs goedgesinde mense is?  Het jy al jou goed terug gekry wat jy verloor het?  Het iemand jou al gehelp wanneer jy dit nie verwag het nie?

Breinvasbrand:  Waarvoor staan ICE in ICE nommer?

Breinlosbrand:  Olga en Kameel was reg met Hemelvaart.