O Gaats!

14 05 2015

. . .  as julle die eufenisme sal verskoon.

Ek weet nie of dit ‘n naam het nie, maar dit verdien wragtig een.  Daardie oomblik wat jy besef die lewe het jou ‘n moersleutel gegee.  Die tydstip wat jy besef jy is geskroef.  So erg dat jy sommer ‘n kalender raadpleeg om te verseker dat dit nie Vrydag die 13de is nie.

Ken julle sulke oomblikke?  Dit is soos om skyf te skiet en dan te besef jy het ‘n mens dood geskiet.  Gou vining in die wildtuin iets uit jou kattebak te haal en dan te besef daar staan ‘n vuilbaard agter jou.  Miskien self onthou dat hulle altyd die blou draad knip in die flieks en dan besef dit laat die klok net vinniger loop.  Presies soos dit in die flieks ook gebeur, maar helaas onthou jy dit eers nadat die lyntjie geknip is.

Goed, goed my voorbeeld is dalk ‘n bietjie te wild.  Dink eerder aan ‘n dringende vroeë oggend afspraak wat jy nie kan mis nie.  Jy besef dan jou kar is vasgeparkeer en jy kan net mooi niks daaraan doen nie.  Dalk ‘n duik skop in die kar wat droog gemaak het, of beter nog die bestuurder aanrand.  Waarvoor jy in die eerste tyd nie tyd het nie en in die tweede plek jou net mooi niks gaan help nie.

Daar is dan basies twee keuses.  Kies waarmee jy jou polse wil optert vir ‘n smaaklike ete of aanvaar die uitdaging.  Laat is mos beter as nooit, nie waar nie?  Kreatiewe denke maak mense miljoenêrs.  Daar is bittermin goed wat net een kans het.  Behalwe as jy summier opgee as die lewe jou ‘n morsige poets bak.

Het jy al sulke “O gaats!” dae gehad?  Wie het toe gewen?  O gaats of jy?  Vertel ons ‘n bietjie van jou O gaats dag.

Breinvasbrand:  Watter Christelike Feesdag word vandag, 14 Mei 2015, gevier?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Rude.