Na geboorte

5 05 2015

Skiet my, maar ek kan nie ‘n goeie samesweringsteorie (is dit Afrikaans vir conspiracy theory?) ignoreer nie.

Tensy jy in ‘n grot gebore is, weet jy teen die tyd dat Georgie Saterdag ‘n sussie gekry het.  Haar naam is Charlotte (vroulik vir haar oupa) Diana (haar ouma) Elizabeth (haar oumagrootjie).  Sy is al klaar ‘n sosiale vlinder, het vir die skare gewaai ‘n paar uur nadat sy gebore is.  En dit is veral vir die Russe te dik vir ‘n daaler om te sluk.

Blykbaar is dit onmoontlik vir ‘n vrou (dit is nou Charlotte se ma) om so goed te lyk ‘n paar uur nadat sy geboorte geskenk het.  Kate is blykbaar net te stralend en net te gemaklik vir iemand wat so pas ‘n kleintjie uitgedruk het.  Blykbaar het sy al haar babavet net na die bevalling verloor.

Wel, van geboortes het ek net teoretiese kennis.  Ek is egter van Afrika en hier kan vrouens die een oomblik onder ‘n boom kraam en die volgende oomblik verder stap terwyl die baba drink.  Ek is dus bereid om te aanvaar dat Kate ‘n Yster Aster is.

Die Russe twyfel.  Hulle reken dat Kate 3 dae voor die “amptelike” datum geboorte geskenk het of dat al die werk deur ‘n surrogaatma gedoen is.  Hulle spekuleer self dat Kate ‘n kunsmatige boepie gedra het.

Wat dink julle?  Het Kate hare op die tande of het iemand anders al die werk gedoen?

Terloops!  Beroepwedders dink nie dat William en Kate nog kinders gaan hê nie, maar, sou daar ‘n derde wees, sal sy glo Alice heet.

Breinvasbrand:  Watter lid van Prinses Charlotte se familie se middelnaam is Charlotte?

Breinlosbrand:  Olga was reg met makes the whole world blind.