Wat is die datum?

29 05 2015

Party dae moet ‘n mens jouself vergewis dat dit nie 1 April is as jy koerant lees nie.  Hierdie week moes ek myself egter vra of die laaste week van Mei Gekkedag vervang het nie.

Dit het alles begin met ‘n groep wat beweer dat Medupi word deur die voorvaders vervloek.  Blykbaar word die nimmereindigende kragstasie bo-oor ou grafte gebou.  Die voorvaders rus dus nie meer in vrede nie en haal dit op ESKOM uit.  Hulle verdiende loon.

Die artikel noem ook dat verskeie munisipaliteite grafte hergebruik.  Dit opsigself klink na ‘n April grappie.  Die een munisipaliteit verhuur byvoorbeeld grafte vir 10 jaar.  Daarna word dit aan iemand anders verhuur.  Ander hergebruik die ongemerkte grafte en van die munisipaliteite sal selfs ‘n grafsteen verwyder om ‘n graf weer te gebruik.  Dit beteken basies dat vreemdelinge saam in een graf gegooi word.  Ons regering is ernstig met hulle pogings om die land te verenig.  Dink net;  ‘n Smith, Naidoo en Mkhwanazi wat vir altyd saam rus.

Internasionaal was die duiwel behoorlik los.  Amerikaners het aan die krap gegaan en daar is behoorlik in die FIFA hoofkantoor chaos gesaai.  7 beamptes (groot kokkedore) is in hegtenis geneem vir onder meer korrupsie.  Blykbaar het Suid-Afrika met $10 miljoen onder die die tafel in $10 000 tjeks verseker dat die 2010 Wêreldbeker hier gaan gebeur.  Die regering was vining om alles te ontken en ‘n skoon audit voor te hou.  Asof ‘n mens onder die tafel geld presies gaan dokumenteer.

Die kersie op die gekkeweek is natuurlik Nkandla.  Sug!  Almal kon dit natuurlik sien nadat Jacob Zuma so amptelik die opposisie getart het.

Natuurlik het Nkosinathi Nhleko bevind dat Zuma nie ‘n sent hoef terug te betaal vir die opgraderings aan Nkandla nie.  Zuma het eintlik die lottery gewen.  Die opgraderings is blykbaar ook nie klaar nie.  Verdere werk is nodig.  Die verduidelikings is lagwekkend en ‘n duidelike onderskatting van die publiek se intelligensie.  Tog verwag hulle dat ‘n mens dit moet glo.

Op die gekkenoot, laat ons eerder naweek hou en droom om ESKOM te pos.

Breinvasbrand:  Wie is die openbare beskermer?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Japan.  Meer spesifiek Tokyo.





Toeka Tokkel: Die wêreld, my kamera en ek

27 05 2015

P1330505

Scrapy krap die week in ons foto’s.

Mense wat my ken sal vir Scrapy kan vertel dat sy uiters dankbaar behoort te wees dat sy op ‘n eilandjie doer onder sit.  Sy is dus gevrywaar daarvan dat ek haar deur my duisende en duisende foto’s gaan sleep.  Daar sal wel ‘n paar noemenswaardige foto’s wees, maar die meeste was beslis nie die geheue werd wat op hulle vermors is en vermors word nie.

Dit spreek van self dat my kamera die eerste ding is wat ek in pak as ek iewers heen gaan.  ‘n Selfoon is maar net nie dieselfde nie.  Ek het seker ‘n Japanees onder my voorouers gehad, wat ek gaan erger as een wat die eerste keer ‘n leeu sien met my kamera te kere.  Almal weet dat jy 100 foto’s van ‘n voorwerp kan neem, sonder dat die kwaliteit watwonders is.  Dit is daardie een uitsondering wat dit regtig saamvat.

Goed, ek neem darem nie ‘n 100 foto’s van alles wat ek sien nie.  Net ‘n handvol, voordat ek na die volgende foto gaan soek.  Dit is dan min of meer hoe ek ‘n vakansie deur bring.  Spring van die een foto geleentheid na die ander.  Baie mense vind dit uitputtend, maar gelukkig toer ek meestal alleen.

Ek hou nie van my stem of my gesig nie.  Laasgenoemde is dus ‘n rede hoekom ek selde voor die kamera is.  Ek en my suster is nogal bekend vir die mal foto’s wat ons neem.  Ek is altyd die fotograaf en sy die model wat doen wat ander nie aan gedink het nie.

Op die oomblik behels my tegniek mik, druk en hoop vir die beste.  Eendag as ek groot is, sal ek ‘n ordentlike kamera koop.  Ek hoop ek het dan tyd vir ‘n behoorlike kursus.  Intussen laat ek dit my nie terug hou nie.  Tot vele bekendes se frustrasies.

Breinvasbrand:  Waar is die Nikon hoofkantoor?

Breinlosbrand:  Olga was reg met In Case of Emergency.

 





In vandag se dae . . .

25 05 2015

Noudie dag tel my ma ‘n selfoon in ‘n openbare kleedkamer op.  Daar was vir ‘n oomblik kop gekrap oor wat ‘n mens daarmee moet doen.  Ons kon die foon darem ontsluit en kyk vir ‘n ICE nommer.  Daar was nie een nie, maar daar was darem ‘n “Home” nommer.  My ma het toe die nommer geskakel en gereël dat die eienaar haar selfoon op ‘n openbare plek kon kom haal.  So gesê en so gedaan.  Die eienaar was ‘n student en die “home” was natuurlik waar haar ouers gebly het.

Die volgende dag het haar ma Mev. Phoenix toe weer gekontak.  Sy het my ma se bankbesonderhede gesoek om ‘n ‘klein’ beloning oor te betaal.  My ma het die beloning van die hand gewys.  Dit was immers mos nie haar selfoon om te hou nie.  Die student se ma was stom geslaan.  Sy kon nie glo dat daar in vandag se dae nog eerlike mense is nie.  Volgens haar was die selfoon nogal duur en sy kon nie verstaan hoe my ma dit terug kon besorg sonder om ‘n beloning te verwag nie.  Ek dink die arme vrou herstel nou nog van die skok.

Is eerlike mense regtig vandag eerder die uitsondering as die reël?  Is eerlik ooit die regte woord om te gebruik?  Optelgoed is mos hougoed, maar dit is nie afdwingbaar nie.  Niks dwing jou mos om dit te hou nie.  Jy kan mos nie verwag dat ‘n ander jou goed moet terug gee wat hulle opgetel het as jy nie dieselfde vir ander gaan doen nie.

Ek moet erken, die mensdom het my nogal selde teleurgestel.  Dit is nie van persoonlike ondervinding dat ek nie maklike vertrou nie.  Ek het al my selfoon in ‘n winkel verloor.  Ek het dit dadelik geskakel toe ek dit vermis het en die persoon wat dit opgetel het, het geantwoord.  Sy het by die winkel gewerk.  Een van die kliente het dit opgetel en ingegee.  Twee minute later het ek weer my selfoon gehad.  Ek het al my handsak in ‘n kleedkamer vergeet.  Ek het dit terug gekry, minus R170 wat die skoonmaker vir beloning gehou het.  Ek het nie eers omgegee nie, dit was minder moeite as om nuwe alles te kry.  Ek het al my beursie op ‘n bus verloor en terug gekry sonder dat een sent weg was.  Ek moes wel verduidelik het hoekom ek twee mense se kredietkaarte het.  Ek het selfs al my motorsleutels op ‘n lughawe verloor en dit terug gekry.

Ek weet dus dat sulke dinge vandag nog gebeur.  Al het ek ook al my agterent gesien deur goeters te verlê, het ek meer gereeld as wat ek verwag het my eie persoonlike goed terug gekry.

Glo jy dat daar nog eerlike of selfs goedgesinde mense is?  Het jy al jou goed terug gekry wat jy verloor het?  Het iemand jou al gehelp wanneer jy dit nie verwag het nie?

Breinvasbrand:  Waarvoor staan ICE in ICE nommer?

Breinlosbrand:  Olga en Kameel was reg met Hemelvaart.





Toeka Tokkel

20 05 2015

Scrapy, Scrapy, Scrapy – wat het ek nog nie oor musiek gesê nie?  Almal weet teen die tyd dat wanneer ek die emmer op 133 gaan skop, gaan hulle “No-one but you” op my begrafnis speel.  Die liedjie van Queen (minus Freddie vir voorhandliggende redes) staan ook bekend as “Only the good die young”.  Maak maar julle eie afleidings.  Ek kan enige tyd ‘n tesis van ABBA skryf, al was hulle tyd basies verby toe ek gebore is.  Ek is net so groot aanhanger van Queen.  Moet net nie van Tannie Tina vergeet nie.  Daar is ook baie alleenstaande liedjies, wat enige tyd ‘n huppel in my stap kan sit.  Ek sal hulle nie weer vandag herhaal nie.  Ek moet egter erken dat ek noudie dag die eerste keer van Slim Whitman gehoor het by Hestertjie.

Op die einde van die dag, hoef niemand namens musiek te praat nie.  Musiek praat vir hulle self.  Ek sal dus ‘n paar musiek nommers neerplak wat julle hopelik saam met my kan geniet.

(Ek kry nie ‘Ek en my kitaar nie’).

 





O Gaats!

14 05 2015

. . .  as julle die eufenisme sal verskoon.

Ek weet nie of dit ‘n naam het nie, maar dit verdien wragtig een.  Daardie oomblik wat jy besef die lewe het jou ‘n moersleutel gegee.  Die tydstip wat jy besef jy is geskroef.  So erg dat jy sommer ‘n kalender raadpleeg om te verseker dat dit nie Vrydag die 13de is nie.

Ken julle sulke oomblikke?  Dit is soos om skyf te skiet en dan te besef jy het ‘n mens dood geskiet.  Gou vining in die wildtuin iets uit jou kattebak te haal en dan te besef daar staan ‘n vuilbaard agter jou.  Miskien self onthou dat hulle altyd die blou draad knip in die flieks en dan besef dit laat die klok net vinniger loop.  Presies soos dit in die flieks ook gebeur, maar helaas onthou jy dit eers nadat die lyntjie geknip is.

Goed, goed my voorbeeld is dalk ‘n bietjie te wild.  Dink eerder aan ‘n dringende vroeë oggend afspraak wat jy nie kan mis nie.  Jy besef dan jou kar is vasgeparkeer en jy kan net mooi niks daaraan doen nie.  Dalk ‘n duik skop in die kar wat droog gemaak het, of beter nog die bestuurder aanrand.  Waarvoor jy in die eerste tyd nie tyd het nie en in die tweede plek jou net mooi niks gaan help nie.

Daar is dan basies twee keuses.  Kies waarmee jy jou polse wil optert vir ‘n smaaklike ete of aanvaar die uitdaging.  Laat is mos beter as nooit, nie waar nie?  Kreatiewe denke maak mense miljoenêrs.  Daar is bittermin goed wat net een kans het.  Behalwe as jy summier opgee as die lewe jou ‘n morsige poets bak.

Het jy al sulke “O gaats!” dae gehad?  Wie het toe gewen?  O gaats of jy?  Vertel ons ‘n bietjie van jou O gaats dag.

Breinvasbrand:  Watter Christelike Feesdag word vandag, 14 Mei 2015, gevier?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Rude.





Toeka Tokkel: Ouersvra

12 05 2015

Scrapydo se uitdaging die week gaan oor Ouersvra.

Ek het redelik onlangs my mening oor ouersvra gegee.  Daar is geen sin daaraan om dit te herhaal nie.  Die punt waarby ek vandag wil uitkom dat dit net tande het by mense onder 18 wat wil trou.  As die ouers nie tot die huwelik instem nie, sal daar dus geen troue wees nie.

Iemand het my noudie dag vertel dat dit streng gesproke ongrondwetlik is.  Ons grondwet verhoed enige diskriminasie ten opsigte van geslag en seksualiteit.  Die probleem is dat net hetroseksuele mense kan trou wanneer hulle jonger as 18 is as hulle ouers natuurlik daartoe instem.  ‘n Homoseksuele tiener moet maar wag tot hy / sy mondig is om ewige trou aan ‘n ander te sweer.

As ek die storie reg het, kon net meisies bo die ouderdom van 16 met hulle ouers se toestemming trou.  Mans kon eers van 18 af met die toestemming van hulle ouers trou.  Wel, tot die dag wanneer hulle 21 geword het, waarna daar geen toestemming meer nodig was nie.  Tegnies kon jy onder 16 en 18 respektiewelik trou, maar net as een of ander minister daartoe ingestem het.  Die mondigingsdatum is intussen verlaag na 18.  Ek weet egter nie of die manlike ouderdom ook verlaag is nie.  Die wet is diskrimineer dalk nie net op seksueliteit nie, maar ook op geslag.  Dit is nou as iemand dit die moeite werd ag om hof toe te sleep.

Waaroor ek egter nuuskierig is hoe om dit reg te stel?  Die een manier is natuurlik om almal tussen die ouderdom van 16 en 18 toe te laat om met ouerlike toestemming te trou.   Aan die ander kant; in vandag se tyd en ruimte; wie de duiwel wil op 16 of selfs jonger trou?

Sal ‘n 16 jarige getroude meisie of seun toegelaat word om skool by te woon?  Hoeveel 16 jariges is finansieel onafhanklik?  Het hulle die geestelike volwassenheid en vermoë om hulle tot ‘n huwelik te verbind?

Behoort daardie vergunning nie in geheel geskrap te word nie?

Ek het noudie dag ‘n onderhoud gesien waar die vrouens gewonder het wat die regte ouderdom om te trou is.  Die een het 27 voorgestel en die ander 39.  Wat reken jy is ‘n goeie ouderdom om te trou?  Of as ouderdom nie saakmaak nie, aan watter vereistes moet voornemende paartjies voldoen voordat hulle allerhande groot beloftes maak.

Van die os op die jas – heteroseksuele mans trek verder aan die kortste ent wanneer dit by huwelike kom.  ‘n Vrou en ‘n homoseksuele man kan hulle van (insluitende enige van wat hulle in die verlede gehad het) behou, hulle maat se van aanneem of hulle van met hulle maat se van kombineer.  ‘n Heteroseksuele man moet sy van behou of spesiale toestemming kry om sy van te verander.  Dit is moontlik, maar net met baie meer moeite.

Breinvasbrand:  In watter liedjie sing Magic! van ‘n pa wat nie wil ja sê dat sy dogter kan trou nie?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Wimpy.





Koffie Connoisseurs

11 05 2015

Ek was die afgelope naweek verstom hoe groot kapsule koffie skielik geraak het.  Orals waar ek my voete gesit het, was daar ‘n promosie op ‘n geskikte kapsule koffiemasjien.  Mense het ook heel opgewonde gespring om hierdie wonderwerkies op te raap.  Skielik is almal ‘n koffie-connoisseur.  Nee, ‘n fynproewer is net so af soos ‘n koppie flou Frisco.

Is ek die enigste een wat verstom is oor die skielike koffiesnobs wat Suid-Afrikaners geword het?  Moet my nie verkeerd verstaan nie.  Daardie kapsulekoffies is ongelooflik lekker.  Teen ten minste R11 ‘n kapsule (elektrisiteit, suiker, melk en beker gebruik uitgesluit) verwag ‘n mens ook niks anders nie.  Toegegee, ek weet nie of die goedkoper R11 koffies (by jou huis) net so lekker as die Nestle Dolce Gusto’s gaan proe nie.  Tog, solank dit uit ‘n kapsule kom, is al wat ‘n connoisseur is gelukkig.

Kom ons weer nou sommer bar.  Baie van die connoisseurs sal hulle hande saamslaan en hulle erfporsies verruil vir ‘n bord boerekos.  Laat ek vertaal.  Van die connoisseurs reken die beste kos op aarde is opgekookte vaal papperasie wat met botter en suiker gegeur is.  As jy werklik avontuurlik wil wees, gooi jy ‘n tikseltjie kaneel in.  Die papperasies word dan verkieslik met droog, smaaklose fotostaatvleis bedien.

Klink dit nou regtig na mense wat puntenerig is oor wat hulle drink?  Indien wel, moet ek aan ‘n patent werk waarmee koffie met suiker en botter gegeur word.  Ek sal kan aftree en die res van my lewe my mond net aan kapsule koffie sit.  Dit sommer emmersvol kan uitdeel.

Is hierdie nuwe neiging net ‘n mode?  Iets wat mense kan oortuig hulle is nie platvloers en / of kommin nie?  Of is Suid-Afrikaners regtig gesteld op hulle koffie?  Is ek net suur omdat ek nie Nestle Dolce Gusto kan bekostig nie?

Wat is vir jou ‘n lekker koppie koffie?

Breinvasbrand:  Met watter advertensie het die man foreign gepraat met cappuccino?

Breinlosbrand:  Sheldon Cooper.





Toeka Tokkel: Huis

6 05 2015

Scrapy mymer die week oor huise.

“The Blindside” begin met ‘n vertelling van hoe ‘n huisvrou haar begroting aanwend.  Die eerste tjek word volgens die fliek uitgeskryf om die dak oor die gesin se koppe te verseker.  Die dak is dan ook gewoonlik die grootste uitgawe in menige huishoudings.  Dit is seker meer korrek om te sê dat dit die geval is vir gevestigde, verantwoordelike mense.  Ek het egter al gelees dat die meeste jong mense eerste wiele aanskaf en dan ‘n huis.

Hierdie was seker die norm wat ek wel gevolg het.  Dit is nou nie dat ek elke jaar ‘n ander kar gekoop het nie, maar ek het beslis ‘n hele klompie jare meer aan my kar as aan my huis spandeer.  Ek het aanvanklik by ‘n tannie loser, voordat ek in ‘n klein tuinwoonstel ingetrek.  In die woonstelletjie het ek amper vasgegroei.  Nie omdat ek verknog aan die gehuggie was nie, bloot net omdat ek my nie juis kon steur oor waar ek slaap nie.

Wat is ‘n huis tog in elk geval?  Verskillende mense sal ‘n verskillende omskrywing daarvoor gee.  Vir my was dit basies ‘n plek waar ek gebad, geslaap en soms geëet het.  Dit was dan ook omtrent al wat ek by die huis gedoen het.  Daar was nie juis ‘n rede om huistoe te gaan nie.  Sou ek besluit het om Durban toe te gaan, was daar niks wat my gekeer het nie.  Siende dat ek tog ‘n verantwoordelike persoon is, sou ek net moes sorg dat ek betyds vir werk die volgende dag was.  Mits ek my huur betaal het, was die eienaar ook tevrede.

Ek het later ‘n kamermaat gekry, met die idee dat ons ‘n groter plek sou kry.  Eenvoudig in teorie, maar dit is wragtig sonde as ‘n mens kyk wat meenthuise se huur kos.  Daar was dus net een genade:  Ons sou moes koop.  Ook makliker gesê as gedaan, maar waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg.  Skielik het ek meer as drie vertrekke gehad.  Ek en my kamermaat het elkeen ons eie pad gevolg, dus was die huis nog steeds net ‘n plek om te bad, slaap en soms te eet.  Mens kan elders slaap en sommer ook bad, dus was daar steeds geen rede om huistoe te gaan nie.

Dit is toe die eerste klok van oujongnooiskap lui en ek vir my ‘n kat aangeskaf het.  Skielik was daar iemand wat heeldag alleen by die huis was en geselskap gesoek het.  Sy moes kos kry, versorg word en uitgelaat word.  Daar is toe skielik ‘n rede om op ‘n redelike tyd huis toe te gaan.  Die moontlikheid van elke aand uitgaan is ook nek omgedraai.

Mens sal dink dat dit ‘n onvergeeflike beperking op vryheid is.  Tog, skielik was daar ‘n rede om huis toe te gaan.  Daarmee het die dak oor my kop ‘n tuiste geword.

Breinvasbrand:  Wie is Leonard Hofstadter se kamermaat?

Breinlosbrand:  Prinses Charlotte se tannie Philippa (Pippa) Middleton se middelnaam is Charlotte.  Haar ma se middelnaam is ook Elizabeth.





Na geboorte

5 05 2015

Skiet my, maar ek kan nie ‘n goeie samesweringsteorie (is dit Afrikaans vir conspiracy theory?) ignoreer nie.

Tensy jy in ‘n grot gebore is, weet jy teen die tyd dat Georgie Saterdag ‘n sussie gekry het.  Haar naam is Charlotte (vroulik vir haar oupa) Diana (haar ouma) Elizabeth (haar oumagrootjie).  Sy is al klaar ‘n sosiale vlinder, het vir die skare gewaai ‘n paar uur nadat sy gebore is.  En dit is veral vir die Russe te dik vir ‘n daaler om te sluk.

Blykbaar is dit onmoontlik vir ‘n vrou (dit is nou Charlotte se ma) om so goed te lyk ‘n paar uur nadat sy geboorte geskenk het.  Kate is blykbaar net te stralend en net te gemaklik vir iemand wat so pas ‘n kleintjie uitgedruk het.  Blykbaar het sy al haar babavet net na die bevalling verloor.

Wel, van geboortes het ek net teoretiese kennis.  Ek is egter van Afrika en hier kan vrouens die een oomblik onder ‘n boom kraam en die volgende oomblik verder stap terwyl die baba drink.  Ek is dus bereid om te aanvaar dat Kate ‘n Yster Aster is.

Die Russe twyfel.  Hulle reken dat Kate 3 dae voor die “amptelike” datum geboorte geskenk het of dat al die werk deur ‘n surrogaatma gedoen is.  Hulle spekuleer self dat Kate ‘n kunsmatige boepie gedra het.

Wat dink julle?  Het Kate hare op die tande of het iemand anders al die werk gedoen?

Terloops!  Beroepwedders dink nie dat William en Kate nog kinders gaan hê nie, maar, sou daar ‘n derde wees, sal sy glo Alice heet.

Breinvasbrand:  Watter lid van Prinses Charlotte se familie se middelnaam is Charlotte?

Breinlosbrand:  Olga was reg met makes the whole world blind.