Toeka Tokkel: Versamelings

27 04 2015

Scrapy neus die week in mense se versamelings.

Ek kan nie met ‘n rein gewete ontken dat ek sentimenteel is nie.  Ek gooi ook nie sommer iets weg nie.  Dus het ek verskeie versamelings, te veel om te noem en te vervelig om te deel.  Ek sal dus met my kontroversiële versameling volstaan.  Ek versamel DVD’s.

Ek sal dalk nou nie ‘n winkel met my getal DVD’s kan oopmaak nie.  Terselfde tyd het ek ‘n hele klompie DVD’s wat ek maande (jare) lank voor gesoek het en/of moes invoer het.  Ek het selfs al probeer om my DVD se streek universieel te maak.  Ek is nie seker hoe suksesvol dit was nie.  Dus het ek nou nog nie probeer om ‘n streek 1 DVD te koop nie.  As ek wel verseker was dat ek dit kon kyk, was my versameling aansienlik groter.

Ek het nogal ‘n redelike verskeidenheid.  Daar van musiek blyspelle tot aksie flieks, van kinder en familie vriendelike genre tot goed wat sommige as kult sal beskryf.  Daar is die Oscar treffers en ‘n paar wat kritici met die grootste misnoë sal beskou.  Die meeste mense sal iets kykbaars in my versameling kan kry.  Wel, behalwe as jy net gruflieks kyk – ek hou nie van bloed, derms en wreedhede nie.

Soos julle weet gaan ek my oudste kind na ‘n seerower vernoem.  Hou maar eerder duim vas dat my oudste kind nie ‘n seun is nie.  Ek sal dus nou nie my neus optrek ‘piracy’ nie.  Soos bykans elke ander Suid-Afrikaner het ek ook ‘n hardeskyf of twee waarop ek ‘gesteelde’ reekse en flieks het.  Ek huiwer egter nie om ‘n storie waarvan ek hou (of ten minste waardeer) aan te koop nie.

Dit het niks te maak met my gewete nie.

Flieks en reekse word op die einde van die dag gemeet aan die hoeveelheid verkope.  Kykers ook, maar kykers betaal almal op een of ander manier.  Ek koop dus reekse en flieks as ‘n teken van waardering teenoor die mense wat in die projekte betrokke was.  Niemand hou daarvan om verniet te werk nie.  Almal hou van erkenning vir werk wat goed gedoen is.  Buitendien, is ‘n nagemaakte diamant ooit soos ‘n regte diamant?

Hoekom dan die gesteelde reekse?  Wel, ek weier om DSTV te kry (waarmee moet ek andersins my DVD’s koop?).  Ek wil darem eers kyk of ek van iets hou voordat ek dit aankoop.  Verder is daar ‘n paar reekse wat ek net nog nie te koop gekry het nie.  Die oomblik as ek dit raakloop, kyk ek nie eers na die prys nie.

Hoe voel jy oor DVD’s?  Besit jy eniges wat nie sommer in ‘n winkel beskikbaar is nie?

Breinvasbrand:  Watter toekenning word in dieselfde tyd as die Oscars uitgedeel vir swak vertonings?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Ceylon