Toeka Toekel: Skeepskatte

22 04 2015

Scrapy se uitdaging vir die week is diere.

Snaaks genoeg word katte oor die algemeen verbind met vroue eienaars.  Dus was ek nogal verbaas toe ek nou die dag van skeepskatte hoor.  Daar is tog seker ‘n rede hoekom hulle seeMANNE genome word.  Veral in die tyd toe skeepskatte floreer het.

Katte is blykbaar baie aanpasbare diere en aard gewoonlik baie goed op skepe.  Daar was hulle hoofdoel natuurlik om rotte en muise te vang.  ‘n Eeu of twee gelede het knaagdiere toue en seile ernstige skade berokken.  Hulle het natuurlik ook die kosvoorraad van die skeepslui en die vrag wat gedra is vernietig.  Boonop was hulle ook draers van dodelike siektes gewees.

Katte was verder ook iets huisliks aanboord.  Baie mense het hulle as geluksbringers op die skip beskou.  Dus was die katte op die hande gedra, wat die kieterjasies natuurlik soos ‘n handskoen gepas het.  Party, soos Convoy, het selfs hulle eie hangmatte gehad.

As hoë skeepslui het hulle natuurlik ook al die belangrike gaste ontmoet.  Verskoon my.  Baie bekende mense het die voorreg gehad om DIE kat van die skip te ontmoet.  Kyk net hoe moet Winston Churchill vir Blackie van “HMS Prince of Wales” groet.

Blackie en Convoy is natuurlik nie die enigste bekende skeepskatte nie.

Simon van “HMS Amethyst” het in 1949 die bevelvoerder van die skip geselskap gehou tydens die Yangtze Voorval.  Die Chinese het die skip aangeval en Simon is ernstig beseer in die bomaanval wat die bevelvoerder gedood het.  Simon was erg gebrand, maar hy kon kruip om hulp te gaan soek.  Die medici het hom gekry, vier stukke skrapnel verwyder en Simon het tot almal se verbasing die dood gekul.  Hy het sy pos as rotvanger volgestaan in die maande voordat die skip kon ontsnap.  Met sy terugkoms in Engeland, was Simon bevorder tot “Able Seacat”.  Dit het egter nie beteken dat hy kwarantyn vry kon spring nie.  In kwarantyn is hy aan ‘n virus infeksie dood.  Simon het ‘n eervolle Vloot begrafnis gekry.

Jan Wilson se kat kon netsowel “Unsinkable Sam” gewees het.  Sam was aanvanklik ‘n Duitser wat diens gedoen het op die “Bismarck”.  In 1941 het die skip na ‘n geveg gesink en net 117 van die 2201 bemanningslede het dit oorleef.  Sam was een van die bemanningslede en die “HMS Cossack” het hom gered.  Dit is elke kat vir homself en Sam het geen problem gehad om skielik ‘n Brit te word nie.  Die “HMS Cossack” was deur ‘n torpedo getref en 159 bemanningslede het gesterf.  Sam was nie een van hulle nie.  Hy is oorgeplaas na die “HMS Royal Ark” gesink het.  Raai wie het weer oorleef?  Sam het toe maar besluit om nie weer sy lewe aanboord te waag nie en hy het toe maar eerder ‘n pos aanwal aanvaar.

Jenny was die kat op die Titanic.  Daar is twee weergawes oor wat met haar gebeur het, maar ek gaan met my gunsteling weergawe ploeg.  Jenny is van die Titanic se susterskip, Olympic, oorgeplaas nadat sy kleintjies gekry het.  Jenny het kort voordat die Titanic Southampton moes verlaat besluit dat die skip nie haar teenwoordigheid werd was nie.  Toe vat sy haar kinders een vir een van die skip af.  Die Ierse laaitie wat na haar moes omsien was toe wys genoeg om ook sy tassies te bak.

Emmy van “RMS Empress of Ireland” wou niks weet om by die huis te bly nie.  Die 28 Mei 1914 kon niemand haar oortuig het om op die skip te klim nie.  Die skip moes sonder haar uitvaar.  Die skip het die volgende dag met ‘n ander skip gebots en meer as ‘n 1000 mense is dood.

Vandag word daar nie meer regtig van skeepskatte gebruik gemaak nie.  Hulle word nie meer as higiënies gesien nie.  Tog is daar blykbaar ‘n kat wat Hollandse skepe verkies.  Hy sal afklim om te gaan rondsletter op land.  Die skepe sal dan hom soms agterlaat.  Dan vaar hy maar met ‘n ander skip, tot hy weer ‘n Hollandse skip kan kry.

Daar is nog vele ander katstories, te veel om hier te noem.  Google gerus maar shipcats.

Breinvasbrand:  Waarheen het die skip gevaar waarop Jan Wilson se kat gesit is?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Theodore Roosevelt.


Aksies

Information

19 responses

22 04 2015
vuurklip

Bid jou dit aan! ‘n Seekat!

23 04 2015
Xena Phoenix

LOL!!

Daar is selfs ‘n storie van ‘n skip wat ‘n baba katjie in die middel van die oseaan sien swem het. HUlle het hom natuurlik opgetel en hy het hulle mascot geword.

Daar is ‘n ander storie waar die skip vergaan het. Daar was net een reddingsboot wat gered kon word. Hulle het soveel as hulle maters gered en het toe begin wegroei, toe iemand besef het hulle het nie die kat nie. Hulle kon toe darem die kat ook kry en het hom gered. Toe was daar amper vuisgeslaan oor wie die kat gaan vashou. Hulle reken die kat hulle by hulle verstand gehou.

22 04 2015
rondomtaliedraai

Dankie – dis baie interessant

23 04 2015
Xena Phoenix

Ek het ook so gedink. Ek wonder hoeveel van die manne het voor dit katte gehaat. 😉 Ek wonder ook hoeveel van hulle het na hulle tyd op die skip gesorg dat hulle altyd ‘n kat het.

23 04 2015
rondomtaliedraai

Ek het gevind dat daar min mense is wat regtig van diere hou en nie katte nie.

22 04 2015
Olga

Na Ceylon. Ek hoop hy het darem daar ‘n teetjie gedrink.

23 04 2015
Xena Phoenix

Ek dink die skip het vergaan voor dit.

23 04 2015
Olga

Too bad. So sad.

22 04 2015
Olga

Wie sal nou dink ‘n kat sal uit eie vrye keuse see toe gaan?

23 04 2015
Xena Phoenix

En dit geniet? Daar is die een kat wat glo altyd koeëls probeer vang het as daar geveg was. Hy kon nooit een raak gevang kry nie, maar die koeëls kon hom ook nie vang nie.

23 04 2015
scrapydotwo

So kattermaai die katte oorsee sonder om te betaal. Baie interessante vertellings. Nie geweet kate was so oulik nie. Mens hoor tog meer van skeepshonde.

23 04 2015
Xena Phoenix

Katte IS nog steeds so oulik. 😉

Honde sal basies enige plek toe gaan en dit geniet. Vat baie meer om ‘n kat te beindruk.

23 04 2015
scrapydotwo

Stem saam. Hul kan mens sommer ignoreer ook as hul so voel.

24 04 2015
Xena Phoenix

Jy weet mos . . . Katte erken net hulle eie gesag.

23 04 2015
23 04 2015
Kameel

Liewe, wys jou ‘n mens is nooit te oud om te leer nie. Dankie, dit was interessant. Slim kat wat haar kleintjies van die Titanic afgehaal het🙂

24 04 2015
Xena Phoenix

Daar is helaas ook ander weergawes. Ek wonder of die Ier haar toe aangeneem het?

23 04 2015
Tannie Frannie

Onthou ek nou ‘n flitsie uit my kindertyd: ‘n pragtige, stewige gemmerkat op ‘n vissersboot…

24 04 2015
Xena Phoenix

Baie welkom!

Oe! Ek wonder wat daardie kat se storie is.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




%d bloggers like this: